Polokwane Observer

Andrew laat epilepsie hom nie onderkry nie

- Maretha Swanepoel

Andrew Vogt (51), of Drew soos sy vriende en familie hom noem, was maar ses maande oud toe hy met epilepsie gediagnose­er is.

“Ek het koue gevang en siek geword. Wat eers net ‘n verkoue was het later in breinvlies­ontsteking omgesit. Ek het baie medisyne gekry wat my gesond gemaak het, maar ek was verlam aan my regterkant.”

Drew werk tans by Clover en vertel met medikasie is sy aanvalle redelik onder beheer.

“Na elke aanval wat ek as jong kind gehad het, het my regterkant verder verlam. Teen die tyd wat ek vyf jaar oud was, kon ek nog nie loop nie en my ma het gesê ek kan nie skool toe gaan as ek nie kan loop nie. Daar het ek besluit om sterker as die epilepsie te wees, en myself geleer loop.

“Ek was regs aangelê en op ‘n dag kon ek nie soos al die ander kinders in die klas gewerk het nie. Die juffrou het na my toe gekom en gevra wat fout is en toe ek vir haar sê my regterhand wil nie die potlood optel nie, het sy vir my gesê ek moet die ander hand gebruik. Ek het besef ek moet maniere kry om dinge anders te doen.”

Drew vertel die tipe aanvalle wat hy kry is ‘n tonies-kloniese aanval. Dié tipe aanval behels ‘n verlies aan bewussyn en erge spiersamet­rekkings.

“Ek kry dit gewoonlik snags wanneer ek slaap en ontspanne is. As kind het ek met tye elke halfuur ‘n aanval gehad, maar soos ek ouer geraak het, het ek met medikasie begin eksperimen­teer sodat die aanvalle kon verminder. In 2007 het my lewer begin probleme gee as gevolg van al die medikasie, en daarna moes ek weer van voor af planne maak.”

Drew vertel ten spyte van die uitdagings wat epilepsie meebring, lewe hy ‘n normale lewe. Hy het ‘n vrou en twee kinders en was vir baie jare ‘n swaarvoert­uigbestuur­der.

“My pa wou my na ‘n inrigting stuur, maar ek wou nie gaan nie. Ek gebruik nie epilepsie as verskoning nie. Die lewe het vir elkeen van ons ‘n pakkie gegee en ons moet dit dra.

“Epilepsie moet jou nie keer om jou drome waar te laat word nie. Ek is ‘n selfopgele­ide pastoor en stel baie belang in argeologie.”

Hy sê hy kan aanvoel wanneer hy ‘n aanval gaan kry. “Ek begin ‘n vreemde sensasie in my rug, nek en kop voel. Dit voel amper asof my brein met elektrisit­eit gelaai is. Ek sal dan diep, stadig en rustig begin asemhaal en myself

kalmeer.”

 ?? ??

Newspapers in English

Newspapers from South Africa