Verhoging van minimumloon ‘n slag vir werkloosheid
Die Minister van Arbeid, Thulas Nxesi, het onlangs aangekondig dat die minimumloon vir arbeiders vanaf 1 Maart met 6.9% verhoog word.
Dié aankondiging is met gemengde gevoelens ontvang, maar die oorwegende gevoel onder werkgewers is dat dit werkloosheid sal bevorder. Die verhoging beteken dat werknemers nou R23.19 per uur moet ontvang terwyl huishulpe met ‘n drastiese verhoging van 21.5% nou ook dieselfde bedrag sal verdien. Werkgewers word ook nie toegelaat om werksure te verminder nie.
Voorstaanders van die minimumloon is van mening dat dit werknemers se lewensstandaard sal verbeter, armoede sal teëwerk, ongelykhede sal uitskakel en werkers se gemoed sal lig. Cosatu se woordvoerder, Sizwe Pamla, het die verhoging verwelkom en sê dat dit baie werkers se lewens sal verbeter.
“Dit sal lei tot ‘n uitsonderlike verhoging vir die 892 000 huishulpe, wat oorwegend vroulik is, en dit behoort ook die lewens van 800 000 plaaswerkers te verbeter,” meen hy.
Teëstanders van die minimumloon sê egter dat dit armoede en werkloosheid sal bevorder omdat laagbesoldigde werkers nie meer werk sal kry nie.
AgriSA waarsku dat boere die proses van meganisasie en gebruik van arbeidsbesparende tegnologie sal versnel ten einde arbeidskoste te verminder en uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, noem dat die landbousektor 3% van die bruto binnelandse produk bydra en tans ongeveer 900 000 werksgeleenthede skep.
Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor arbeid, sê die verhoging sal die reeds rampspoedige werkloosheidskoers net verder verhoog. “Werknemers en werkgewers moet toegelaat word om oor lone te onderhandel en ooreen te kom in ag genome bekostigbaarheid en ander faktore soos werksure en die soort werk wat verrig word. Waar vasgestelde lone afgedwing word, sal werkgewers genoop word om dié werkers wat hulle nie meer kan bekostig nie af te lê en dit sal tot groter werkloosheidskrisis in die land lei. Meer werkloosheid sal lei tot verdere maatskaplike probleme soos toename in misdaad, toenemende druk op die staat en ander vergrype,” meen Denner.
Volgens Denner is die verhoging van die minimumloon vir plaaswerkers eweneens ontydig en ondeurdag in ag genome die huidige ramptoestande wat regoor die land weens vloede en ander skade heers. “Die landbousektor het geweldige skade gelei weens hierdie verskynsels, en het reeds vir minder werksgeleenthede in die landbousektor gesorg. Verhoogde finansiële druk sal die situasie net vererger.”
‘n Plaaslike megaboer het aangedui dat arbeid ‘n gegewe is in die landboubedryf en dat hy nie werkers gaan aflê weens die verhoging nie.
“Ons het die verhoging verwag en daarvoor begroot, maar ons sal beslis ernstig oorweeg om vakante poste te vries en meer effektief van die bestaande arbeidsmag gebruik te maak en meganisasie en ander innoverende metodes in te stel.
Werkgewers se reaksie op die drastiese verhoging van die minimumloon vir huishulpe is uiteenlopend. “Alles word duurder en almal moet kan lewe,” sê ‘n inwoner wat bedags werk en nie sonder ‘n huishulp kan regkom nie. ‘n Groot aantal werkgewers het egter aangedui dat dié verhoging die finale slag is. “Ek kan dit net nie meer bekostig nie en elkeen in die huis sal maar moet inspring om die huishulp se pligte oor te neem.”