Countryaand om DBV te help
Terwyl Billie Forrest, bekende Countrysanger se stem oor die luidprekers speel, kuier gaste heerlik by die DBV Countryaand saam. Dié aand, met Jessie Boston en Sonicka van der Westhuizen wat ook op die verhoog was, is onlangs ten bate van die DBV gehou.
Anita Blignaut, nuutverkose voorsitter van die DBV Polokwane raad, verduidelik aan gaste waarom dit belangrik is om gereeld skenkings aan die DBV te maak.
“Toe Mollie Hawken oorlede is, is haar geld in ‘n trustrekening inbetaal. Die bepalings van die rekening is dat 60% van die opbrengs per kwartaal na die DBV gaan en 40% vir bejaardesorg. Dit werk vir ons uit op so R155 000 per maand, waar ons uitgawes R240
000 is. Die verskil maak ons op deur geldinsamelingsfunksies en skenkings.”
Sy verduidelik verder dat die
DBV se werk nie net met honde en katte is nie, maar dat hulle regoor die Capricorndistrik met diere soos donkies, perde, beeste, skape en selfs hoenders werk. Hulle besoek gereeld landelike gedeeltes waar hulle toesien dat diere nie mishandel word nie.
“Sou ons by iemand kom wat hulle dier mishandel, kan ons nie die dier net eenvoudig verwyder nie. As ons nie die eienaar kan oortuig om hom aan ons te oorhandig nie, dan moet ons ‘n magistraat nader en ‘n lasbrief kry. Dit is ook om hierdie rede dat ons aandring dat mense hulle diere laat steriliseer. Die geld wat ons inkry dek brandstof, lone, medikasie en kos.”
Aan die einde van die aand is daar ‘n veiling gehou waar Riaan Smit en Jacques Pelser van BB Motorgroep en Sorina en Neethling Steenkamp ruim bydraes gemaak het.
Blignaut sê die aand was ‘n reuse sukses.
“Daar was 270 gaste en ons het R40 000 met die veiling ingesamel. Ons het verder R22 000 met die kaartjieverkope ingekry, en altesaam R62 000 se wins gemaak.”