’n Literêre hoogtepunt in ’n vreemde jaar
‘Die kleinste ramp denkbaar’, Francois Smith se nuwe roman, verskyn vyf jaar ná sy topverkoperdebuut, ‘Kamphoer’. Louise Viljoen vermoed dit gaan een van hierdie vreemde jaar se literêre hoogtepunte wees.
Die kleinste ramp denkbaar
deur Francois Smith. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R310.
Francois Smith se tweede roman begin met die stelling dat die hoofkarakter, Gustav van Aardt, lank daaraan gedink het as “’n storie oor ’n goeie dokter en ’n slegte polisieman” en ook dat die verhaalgebeure gelei het tot sy besluit om ná 27 jaar weg te gaan van die dorp waar hy grootgeword en later gewerk het. Die waarheid van hierdie stelling word egter stelselmatig ondergrawe deur die roman wat daarop volg.
Teen die tyd dat die roman begin, bly Van Aardt alleen op die dorp waar hy ’n dokterspraktyk het. Sy vrou het hom verlaat en sy seun woon êrens in die buiteland van waar hy meewarige boodskappe aan sy pa stuur. Die gebeure speel hulle uit oor die loop van drie dae en begin wanneer Van Aardt op ’n Vrydagoggend by sy spreekkamer kom en die polisieman Frans Schuin daar aantref, in ’n koorsdelirium wat hy later eien as die gevolg van ’n bosluisbyt. In sy hand klem Schuin ’n papiertjie met die naam en telefoonnommer van sy kollega sers. Portia Klaas.
Die verskyning van Schuin, met sy reputasie vir geweld en intimidasie, in sy spreekkamer is die sneller vir ’n bestaanskrisis by Van Aardt. Hy raak geobsedeer daarmee om uit te vind waarmee Schuin en Klaas besig was toe die polisieman siek geraak het. Dit bring hom as afsydige buitestander (sy vrou het gepraat van sy “paracetamol-infused snobbishness”) in aanraking met dorpsmense wat hy nooit werklik leer ken het nie. Dit neem hom ook na dele van die dorp, soos die township en armoedige buitewyke, waar hy nooit kom nie. Wanneer Schuin homself ontslaan uit die hospitaal, begin die dokter na hom soek en lei dit hom onder meer na die plaas waar hy self grootgeword het.
Presies waarom Van Aardt so gekwel is oor Schuin en dit waarmee hy en sy kollega besig sou wees, bly onduidelik. ’n Mens vermoed dat hy in Schuin iets van homself sien, iets verontrustends wat diep in sy eie psige begrawe lê. Dit word mettertyd duidelik dat die gebeure hom forseer om die “glinsterende leegheid” van sy lewe te konfronteer en dit waarna hy self teen die einde van die roman verwys as sy desperaatheid, weerloosheid en ellendigheid.
Die titel sê iets oor die betreklikheid van hierdie verhaal oor ’n wit man wat in psigiese nood verkeer. Vergeleke met rampe soos hongersnood, armoede of oorlog lyk die eksistensiële krisis van Gustav van Aardt waarskynlik na “die kleinste ramp denkbaar”. Hy is in talle opsigte een van die bevoorregtes op die dorp: goed opgelei, gekultiveerd, in ’n bestendige beroep en relatief welvarend. Die roman bied egter ’n skrynende blik op die punt waarby so ’n bestaan jou kan uitbring: eensaam, neerslagtig, emosioneel verkil tot op ’n punt waar jy smag na enige teken van gevoel. Dit blyk uit sy presiese, liggaamlike waarnemings van veral vroue dat hy ’n intense liggaamshonger ervaar, ’n behoefte aan fisieke nabyheid en emosionele inlewing.
Hy het ook ’n besonder komplekse verhouding met die dorp waar hy woon. Enersyds is die dorp vir hom “godveragtelik” in sy vervallenheid; andersyds voel hy besitlik daaroor. Dit blyk uit die episode waarin hy saamry met Ojeda, die Kubaanse dokter by die hospitaal, wanneer hy ’n pasiënt by haar armoedige tuiste gaan aflaai. Hy vertel vir Ojeda ’n gruwelike maar onwaar verhaal oor Schuin wat tydens die Bosoorlog
Die roman bied geen maklike verklarings of eenvoudige verskonings nie.
’n Kubaanse soldaat gemartel het, waarskynlik om uiting te gee aan sy frustrasie dat Ojeda gemakliker met die dorpsmense omgaan as hyself. In ’n moment van onredelike woede voel hy (bl. 153): “Dis sy dorp hierdie. Dis sy fokken land hierdie, en dis die ding wat Ojeda moet besef, dis sy land hierdie en die kak wat hier gebeur, is syne en dis nie vir ’n donnerse Kubaan om hier in te kom en in die pikgitdonkernag in ’n township in te fok nie.” Die keersy is dat hy besef Ojeda is vir hom soos ’n “toergids [wat hom] op ’n nagtelike avontuur deur sy eie dorp gevat het” (bl. 148).
Net so vervul Thys Teise, die nutsman by die dorp se Landbousentrum, die rol van gids en begeleier vir Van Aardt wanneer hy Schuin gaan soek in die omliggende distrik. Teise is in talle opsigte die teenoorgestelde van die hoogs opgeleide, welvarende dokter, maar is uiteindelik die een wat hom soos ’n besorgde en verstandige ouer weglei van ’n futiele terugkeer na die verlede.
Alhoewel Die kleinste ramp denkbaar nie ’n ek-vertelling is nie, word die gebeure volledig vanuit die perspektief van die hoofkarakter weergegee. Die leser ervaar hom dus enersyds vanuit sy binneste, maar daar is ook ’n element van bevreemding omdat daar deurgaans na hom as “hy” of “Van Aardt” verwys word. Dit is ’n vertelmodus wat sowel afstand as intimiteit sinjaleer; as sodanig is dit ’n spieëlbeeld van die man wat homself isoleer, maar tog hunker na omgang met ander. Die taalgebruik funksioneer as barometer van die hoofkarakter se wisselende gemoedstemmings: Soms is die vertelling afstandelik, ander kere registreer hy situasies en mense in die fynste (dikwels mediese) besonderhede en by geleentheid verklap die kru taalgebruik sy beklemming en gespannenheid.
Ten slotte is dit ’n aangrypende roman oor ’n man wat deur onverwagte gebeure gedwing word om sy eie beperkinge te konfronteer, al bied dit geen maklike verklarings of eenvoudige verskonings nie. Selfs al lees ’n mens dit as ’n allegorie van die wit man se situasie in Suid-Afrika, neem dit nie weg van die uitnemende konkreetheid waarmee Van Aardt as feilbare en kwesbare mens geteken word nie. Die effe oorlade styl wat in Smith se debuut Kamphoer (2014) soms gehinder het, is hier presies gepas en onder beheer. Die roman roep ook Afrikaanse styl- en stemmingsgenote op, soos die romanskrywer Ingrid Winterbach en die digter Gilbert Gibson, asook Damon Galgut se roman The Good Doctor (2003).
Ek vermoed Die kleinste ramp denkbaar gaan een van die literêre hoogtepunte van hierdie vreemde jaar wees.
■
Louise Viljoen is ’n afgetrede professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.
Plek van poue: ’n Gotiese roman deur Henriëtte Linde-Loubser. Uitgewer: Lapa. Prys: R250.
Soos Stela, die hoofkarakter in dié indrukwekkende Gotiese roman, vind hierdie resensent poue ook fassinerend: Skoonheid en vrees ’n aks van mekaar.
Daar is eenvoudig iets aan dié pronkende voëls, wat ook bloedstollende gille kan uiter en giftige slange kan vreet sonder dat hulle iets daarvan oorkom. Hulle is ’n kombinasie van asemrowende estetika en die vreemd onthutsende en daarby verteenwoordigend van die alsiende oog.
Poue kyk na buite, hiperbewus van hoe hulle ook fyn dopgehou word. Verder verveer hulle jaarliks en word só ’n simbool van ewige lewe, hergeboorte en vernuwing.
Skrywers van D.H. Lawrence tot Jojo Moyes het al die simboliek van die pou in hul fiksie ontgin en nou verskyn LindeLoubser se Plek van poue, wat as ’n liefdesbrief aan die Gotiese roman beskryf kan word. Met verskeie gepubliseerde kortverhale op haar kerfstok lewer dié skrywer, ’n bibliotekaris van beroep, ’n debuut waarmee sy ten volle munt slaan uit die ryk betekenismoontlikhede van haar titel – ’n bietjie soos Jaco Fouché se Die ryk van die rawe (1996).
Voordat die verhaal begin, gee die skrywer erkenning aan Victoria Holt (wat ook onder die name Eleanor Hibbert, Philippa Carr en Jean Plaidy geskryf het), ’n meester van die Gotiese roman. Dit is met dié leidraad oor Linde-Loubser se eie karakter as bibliofiel en student van die Gotiese wat ’n mens dié debuut moet benader. As liefhebber van die genre het hierdie resensent veel gevind om hom in te verkneukel.
Dit sou die skrywer ’n groot onreg aandoen om veel van die magdom fyn detail en volgehoue spel met die konvensies van die genre te verklap. Die jong onderwyseres Stela (haar naam beliggaam “Klip” eerder as die meer eksotiese Rosetta) verloor haar ouers kort ná mekaar. Sy is geen leëkoppie nie en word omgepraat om skool te hou vir Margie, dogter van Robert Montrose. Met eggo’s van Charlotte Brontë se Jane Eyre word Stela van Stellenbosch na Knysna en die see verplaas, en gaan sy tuis op die onheilspellende plaas Pavo, ofte wel die “Plek van poue”.
Van meet af aan word die leser ingetrek en veel meer as net ’n toeskouer van Stela se geestesreis: Die skrywer skep ’n sterk vrouehoofkarakter wat in haar eie opvattings en ervarings begin twyfel en waar die foutlyne tussen verantwoordelikheid, plig, romanse en sielsgeluk dalk net noodlottig kan wees. Lesers sal vertroud wees met die boustene van die Gotiese roman, wat die klem plaas op ’n beklemmende atmosfeer; die moontlikheid van die bonatuurlike; geestesongesteldheid; ’n moontlik onbetroubare verteller; broeiende, mistige landskappe; ’n kasteel; die belangrikheid van briewe en verskillende vorms van kommunikasie; wandade van die verlede; en gruwelike, versteekte geweld.
Lesers sal vinnig van Stela hou en omgee oor haar doen en late, maar daar is ook ’n magdom ondersteunende karakters – helpers en antagoniste, met die skeidslyn tussen die twee dikwels lekker duister – wat die verbeelding aangryp. Saam met Montrose en Margie is daar ’n Chinese kok, ’n preutse maltrap van ’n huishoudster en ’n dwerg wat belangrike rolle vertolk in eie reg. Die karakter van Alan is een van die aangrypendste en waarvan lesers liefs so min moontlik moet weet voordat hulle die roman lees.
Plek van poue onderskat nooit die leser nie. Geloofwaardigheid en realisme binne die konvensies van die genre word nie ingeboet om spanning te skep nie. Soos grense tussen lig en donker en skyn en werklikheid vervaag hou Linde-Loubser die vertelling sekuur en gestroop, ondanks die raak beskrywings, pittige en skerp dialoog en haar oopskryf van interne en eksterne bronne van konflik.
Menige skrywer sou waarskynlik gestruikel het om alles bymekaar te bring, maar tog pas al die legkaartstukkies uiteindelik mooi. Ek lees ’n slim, implisiete verkenning van gaslighting raak – beslis ’n pluimpie!
Hoewel die skrywer soos ’n pou sou kon pronk met passasies mooiskrywery is
Plek van poue juis so treffend danksy die volwasse, beheerste intelligensie wat hier aan die bod kom.
■ Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
‘Plek van poue’ deur Henriëtte LindeLoubser is ’n pronkstuk van ’n debuut wat hulde bring aan die Gotiese roman, skryf