SA Jagter Hunter

VAN PHALABORWA TOT WÊRELDEND

- Deur KOBIE NAUDÉ

Ons jagters weet mos dat ’n jagtog nie net gaan oor doodmaak en biltong nie; daar is veel meer daaraan verbonde. So begin ons jaarlikse tog Namibië toe wanneer die eerste smous by die myn op Phalaborwa opdaag met die nuwe jaar se kalenders. Dit moet daardie een wees met die kaart van Suidelike-Afrika – net dat ons herinner kan word waar Wêreldend presies is – doerrr... net suid van Sossusvlei so tussen die Tsarisberg­e en die Namib-Naukluft Nasionale Park se rooi duine.

Hoekom sal enige regdenkend­e mens elke jaar 2 300km ver aflê net om te gaan jag? Ons groepie het dit al vele male vir onsself gevra en die antwoord is altyd dieselfde; enigiets anders gaan net nie dieselfde wees nie! Wêreldend is nie net nóg ’n plaas nie, sy eienaar, Jabes du Toit, is ook spesiaal. Jy kan daar gaan koe- does jag in die kliprante (as jy wil sukkel) of gemsbok en springbok in die vlaktes waar die kortbeenbo­esmangras waghou. Maar op Wêreldend skiet ons partymaal meer skote met die kamera as met die doodmaakgo­ed – soms tot groot frustrasie van Jabes.

die bePlanning

Terug by die kaartkalen­der – die eerste meeting is sommer vroeg in die nuwe jaar op Kopskoot Ewald se stoep (ek weet nie waar kry hy dié naam nie, want hy sukkel ook maar). Koekies Bezuidenho­ut, die administra­tiewe beampte sal dan ’n lysie na vore bring oor die lesse wat ons die vorige jaar dalk geleer het. ’n Bakkie gekerfde gemsbokbil­tong word moedswilli­g tussen ons geplaas net om seker te maak ons onthou nog. Die lysie, biltong en beplanning dien as genoeg motivering om die nuwe jaar met groot geesdrif aan te pak, want Juliemaand gaan ons weer Wêreldend toe.

Die vrieskaste wat saam gaan se volumes word weer uitgewerk om seker te maak die liters is genoeg vir die kwotas vleis. Die petrolprys word fyn dopgehou want die begrotings moet klop, maar ons glo as daar net petrol is om in te gooi is dit al klaar ’n bargain. Die vrieskaste word elke jaar net meer, smaak dit my, want die groot lekker is om die kwaliteitv­leis wat Namibië bied, met soveel as moontlik van ons vriende te kom deel.

Party manne in die span glo daar moet elke jaar verbeter word op die gehalte van die ammunisie. Soms is dit nuwe koeëlfabri­kate of doppe, ander kere weer of die trompsnelh­ede van die koeëls vinniger of stadiger moet wees. Feit is, elke Saterdag word daar iets getoets op die skietbaan. Die ander wyses onder ons, dié wat kan skiet, torring nie aan dit wat werk nie en hoef dan ook nie die wind, son of wie weet wat alles die skuld te gee wanneer dit kampvuurty­d is en ons feite uitruil nie. Wanneer al die toetswerk gedoen is, word die gewere ingestel, op 200m natuurlik, want niks op Wêreldend staan duskant die 280m-merk nie. Mik jy dan met die eerste strepie ondertoe van die 14x-vergroting Leupoldtel­eskoop, val jou koeël presies daar waar jy wil hê hy moet land op 300m. Met ’n ingestelde geweer en 50 patrone (net vir ingeval die wind hierdie jaar in die woestyn waai) is ons dan oorgehaal.

Koekies van admin sorg dat al die vleispermi­tte vir die inen uitvoer betyds in Pretoria »

» afgehaal word en Kopskoot sorg dat die geweerperm­itte betyds met die hulp van ’n kontak by die SAP D op Phalaborwa voltooi word. Dit spaar baie tyd op die grens by Nakop en Ariamsvlei. Die Toyota Quantum sonder sitplekke word gelaai met drie vrieskaste en Kopskoot se bakkie dra die ander een en sleep ook die Ventertjie wat elke jaar spog met nuwe hubs, “want die Namib is mos ver,” volgens Kopskoot.

Die generators vir die vrieskaste (daar is nie “Eskom” op die plaas nie) word getoets deur dié van ons wat darem so ietsie weet van fire by die wire. Ons moet omtrent alles saamvat aangesien daar net ’n bed en wasplek is. Manne wat die vyfster-tipe verblyf verkies en nie van vleiswerk hou nie, is gelukkig nie deel van ons groep nie. Ja, dié weeklange tog is nie net ’n jol nie, maar ook harde werk.

die uittog

So pak ons dan die tog aan met al ons goete en natuurlik die padkos wat Lana altyd vir ons maak – so ’n ou vleisdinge­tjie en dan ook melktertji­es. Dis vir die manne wat hou van dwarslepel­s, soos Koekies sal sê. Die Quantum ry voor en Kopskoot agter met die Toyotabakk­ie wat kort-kort oor die twee-rigting radio’s herinner dat ons moet kole gooi, die woestyn is ver. Die radio’s verskaf groot vermaak en saam met Tolla se stories en die Klipwerfor­kes sorg dit vir ’n kortpad Wêreldend toe. Ongelukkig kan Kopskoot se bakkie net so 200km op ’n slag doen voor ons sy dors weer moet les, maar ons gee nie om nie, want dis veiliger om kortkort te stop.

Die grensposte is gewoonlik nie ’n probleem nie, danksy Koekies en sy papiersist­eem. Dis ook altyd deel van die tog om by Grünau se Country Lodge oor te slaap – die akkommodas­ie is altyd waarde vir geld. Die unieke familiekro­eg vanwaar jy jou aandete bestel, bly iets besonders. Vroeg die volgende dag eet ons ontbyt by Keetmans se Wimpy en dan word die week se voorrade op Mariental aangekoop.

Op Maltahöhe word die voertuie en jerrykanne volgemaak om seker te maak die vleis kom gevries terug. Voor ons die Tsarisberg­pas afgaan, word daar altyd gestop net om mekaar te herinner waar ons nou eintlik is en wat voorlê. Onder in die Tsarisvall­ei laat die groot kameeldori­ngs met versamelvo­ëlneste en geel grasvelde jou vinnig gryp na die kamera, en dan is ons nie meer haastig nie, want Wêreldend is net om die draai reg langs die grootpad op pad Sossusvlei toe. Die wêreld hier is prentjiemo­oi.

Die afpak- ding geskied gewoonlik vinnig, want elkeen weet al wat om te doen. Dan is dit gewere check op 300m. Die skyf word sommer teen die draad aan die anderkant van die grootpad geplaas. Ja, ons skiet oor die grootpad, want hier is mouterkarr­e skaars!

Die volgende twee dae skiet ons die kwota vol en daar is altyd ’n persoon agter die afstandmet­er om te meet hoe ver die bokke staan. Dis altyd spesiaal om die skiet van ’n eerste bok met iemand te kan meemaak. So was dit Ds Martin se beurt van, “daar val hy” en die stukkie rou lewer eet in die veld. Dinge wat jou altyd sal bybly. Elke jaar moet Jabes ons herinner om die gemsbok op sy regtersy te draai voordat jy die pens uithaal – dis net soveel makliker dan. Daar in die Namib word die binnegoed in die veld gelos vir die ongedierte­s wat dan hopelik die skaap en bokkies vir ’n wyle met rus sal laat.

Jabes se bestuursve­rnuf agter die Uri se wiel in daai woestyn bly ’n wonderwerk, daarvan getuig die hordes duinejaagt­rofees in sy huis. Saam boer is ook deel van die tog. Waterlekke regmaak waar die gemsbokke die pype oopgrou en dit met daai groot woestynloo­pvoorvoete stukkend trap, dis alles redes vir die teruggaan Namib toe. Die fairy- sirkels met al die hipoteses oor waar dit vandaan kom, herinner ons om nooit te dink dat ons dôners grand is en alles weet nie.

vleiswerk

Met die kwota bokke platgemaak, begin die groot vleiswerk. Intussen sal Jabes ’n klompie springbok-rugfilette steel en in die geheim pekel, dan koud rook met nat rooihoutsp­linters (soos hulle die kameeldori­nghout daar noem). Dit word as ’n verrassing aan ons gegee net voor ons vertrek. Ons proe net ’n bietjie daaraan en die res van dié carpaccio gaan deel ons by die huis met spesiale mense. Vir my is dit die beste vleis ooit! Om die vleiswerkt­afels geniet die Namas ( wat help met die slagwerk) die Afrikaanse musiek en Tolla-grappies meer as ons. Hulle praat mos soos ons, so anders as die swart tale waaraan ons hier in die Republiek gewoond is.

Ons groep manne hou van vleis en niks van mors nie en so is die afkook van bene deel van die proses. Die ongeveer 10kg-afkookvlei­s per gemsbok is een van die skatte wat ons terugbring, want almal weet hoe dit proe in ’n pastei. Die biltong is na so drie dae mooi winddroog en word dan in die materiaals­akke gestop vir die lang pad huis toe. By die huis maak ons maalvleis en Kameelhout- boerewors van al die blokkiesvl­eis en dan begin die groot geniet – elke keer wanneer ons die kwaliteit Namibvleis deel met vriende. Ons glo dit proe so lekker omdat dit is so lekker is om deel te wees van hierdie jaarlikse tog. Soos Kopskoot altyd sê: “Hierdie is ’n ander TV.”

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO LINKS: Op Wêreldend kan jy pragtige foto’s neem. BO: Hier staan Quinton du Preez, Koekies Bezuidenho­ut en Kopskoot Ewald by ‘n paar bokke wat platgetrek is.
HOOFFOTO LINKS: Op Wêreldend kan jy pragtige foto’s neem. BO: Hier staan Quinton du Preez, Koekies Bezuidenho­ut en Kopskoot Ewald by ‘n paar bokke wat platgetrek is.
 ??  ?? So lyk ons span: Kobie Naudé, Koekies Bezuidenho­ut, Kopskoot Ewald en Johan Ewald.
So lyk ons span: Kobie Naudé, Koekies Bezuidenho­ut, Kopskoot Ewald en Johan Ewald.
 ??  ?? Hier span ons uit vir ontbyt iewers tussen Grünau en Keetmansho­op.
Hier span ons uit vir ontbyt iewers tussen Grünau en Keetmansho­op.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa