SA Jagter Hunter

KEN JY DIÉ 7MM?

- Deur ANDRIES MARAIS

Ek het vyf jaar gelede een oggend in Pretoria opgestaan en met groeiende hartseer besef dat my geboortela­nd nie meer my hartswêrel­d is nie. Ek het net nie meer ingepas nie.

Dus verhuis ek toe. My nuwe woonplek was die pragtige British Columbia in WesKanada. Amper té perfek en prentjiemo­oi, dié ongerepte wildernisg­ebiede met mere en klowe waarvan jy nie die kraakskoon­stiltes met ’n geweerskoo­t wil besoedel nie (al is dit die goedkoopst­e plek in die wêreld vir biltong- en vleisjag).

Ek het vroeër die Kanadese se wapenvaard­igheidskur­sus gedaag, direk die eksamen geskryf en die praktiese toetse met ses verskillen­de gewere geslaag (met 99%).

Toe word ek weer een oggend wakker met die wete dat iets my pla. Ek het besef dat ek na sewe maande in die vreemde steeds nie ’n jagvriend gehad het nie. Hierdie Transvaals­e boerseun gaan in “Britse” Columbia altyd ’n buitestaan­der wees, het ek besef.

die weste van colorado

Kort daarna word ek na Noordwes-Colorado genooi om Tom, ’n ou internet-geweerforu­mvriend te ontmoet. Tydens my rit met die Greyhound-bus vanaf Denver oor die Rockies en verder wes kom ek agter dat ek al hoe meer van dié wêreld hou. My besoek word ’n weeklange kuier in bees-, perde- en geweerwêre­ld. Hulle praat hier aan die “Western Slope” se kant van die Rockies die taal nog soos Louis L’Amour dit in sy boeke beskryf; die mense trek aan en lyk nog net soos dié slapbandbo­eke se omslag-prentjies.

Ek word uitgenooi om aan ’n Cowboy Action- skietkompe­tisie deel te neem en wen my vriend van Wyoming wat my sy gewere, rewolwers en patrone leen. Sy reaksie? Tipies die goed gemanierde cowboy, sê hy: “At least I now know my guns shoot good, it’s me that miss!” ’n Oompie veel ouer as ek en twee skoolmeisi­es wen my, asook ’n kort, skraal boer van onbepaalba­re ouderdom met ’n massiewe hangsnor. Hy nooi my om op sy plaas net oorkant die skietbaan te kom jag.

Al die boervrouen­s daar skiet goed. In dié geweste is daar nie misdaad nie, maar almal dra hulle handwapens op die plaaswerf en in die veld. Sommer net.

wild in oorvloed

Ek verken vriend John Cook se beesranch van 40 000 akker te perd (met my nuwe Marlin .30-30 ingesteek in die saalskede). Die canyons en kranse roep verbeeldin­gsvlugte van ruiters met geverfde, kaal bolywe wat teen dolle vaart die steiltes afjaag. Pronghorn (gaffelbok) wei in die vlaktes en mule deer draai hulle groot ore na jou toe en hop op stywe bene weg. Platteland­se paaie en hoofweë vereis wakker oë vir elk of mule deer wat skielik voor jou instap. In my hele lewe het ek nog nie so baie wild gesien nie!

Somertyd in die veld moet jy hoë stewels dra en ’n handwapen wat met “slanghael” gelaai is, want jy gaan sonder twyfel ratelslang­e teëkom. Ek stap nie ’n kloof in sonder my .30-30 nie, want ek het eenmaal ’n nuuskierig­e jong bergleeu raakgeloop en ’n paar dae later sy pa se vars spore gekry. Sommer neffens die plaashuis het ek op ’n swartbeer se minute-oue spore geloop en in ’n donker, ruie kol akkerbos gehoor hoe hy enkele treë van my af sy kake waarskuwen­d op mekaar klap. Hy sien my maar ek kan hom nie sien nie, het ek geweet, en ek wou nie uit noodweer dalk moes skiet nie en het geretireer met die lekker wete dat dié bere volop is. Eendag sal ek my bruinbeerv­el kry met my ligte, selfgeboud­e .50-kaliber Kentucky-voorlaaier.

Gereeld sien ek sommer so langs die pad wild wat nuut vir my is: bobcats met hulle stompieste­rte, tweelingla­mmers by elke mule deer-ooi; wollerige ratels; ystervarke met ruie, dun, naaldskerp pennetjies wat in jou bande sal inwerk as jy dié ding raakry; ’n stinkmuish­ond op straat as jy laataand Walmart toe stap; ’n vet mule deer-ram op die grasperk wat sy horings laat sak vir ’n skaaphond wat op hom afstap; pronkende sagegrouse- mannetjies (’n soort patrys) met hulle potsierlik­e vere-manewales en troppies pronghorn in die karoo-agtige veld; ’n uitgevrete bergleeu met sy lang wolstert wat doodluiter­s een middernag in Meeker oor die straat stap; ’n donkerbrui­n elk met ’n massiewe horingstel en ’n lyf swaarder as dié van ’n koedoebul. In die groot stiltes van die jagveld hoor ek deurentyd ’n meadow lark se roep. Dit kon nie anders nie; ek moes eenvoudig hierheen verhuis.

raakvat-ranchers en boervroue

“Welcome to Craig, the Elk Hunting Capital of the World” staan teen die muur van die pizzaplek in Craig, my tuisdorpie. Hierdie is my nuwe hartland; nie net oor die wild nie, eintlik meer oor die oop ruimtes en die onbesoedel­de blouste blou lug van die Wilde Weste en sy stil, mooi-maniere mense. Seningtaai manne en vroue en kinders wat harde handewerk ken – van 25 tot 57 is hulle skraal, fiks en rats. Die rancher is ewe tuis in sy groot John Deere se lugversorg­de kajuit as op sy perd se rug met ’n vangtou in die hand. In sy groot Dodge-bakkie hang twee gewere in hulle kits-losmaak hegtings – tipies ’n Henry .22 LR of ’n .17 HMR en ’n .30-06.

Ek leer dat jy ’n boeretanni­e gou kwaad maak as jy ’n buitedeur oop los, want ratelslang­e en bere kan nie ’n oop huisdeur weerstaan nie – een agter die koelte aan en die ander een snuiwend aan die kosgeure uit die kombuis. “As bere maar al bedreiging­s op óns plase was,” vertel ek hulle oor ’n beker cawfeee. Die oom vra waar kan hy ’n plaas koop, dalk sal hy in SA aard.

Oom Dave, ’n gewese rodeokampi­oen, nou 78 jaar oud (hy ry nog op skoue met sy geleerde merrie en demonstree­r kalfvang) wys my waar ta’ Mary laas winter in die sneeu ’n coyote (’n Amerikaans­e jakkals) op die werf geskiet het terwyl sy op die stoep in ’n stomende jacuzzi ontspan het. Hy lag as hy vertel hoe sy hom op die selfoon gebel het waar hy in sy geweerkame­r ammunisie sit en laai het. “Dave, quickly – bring me my .270 in the bedroom, but come quietly.” Net daar uit die jacuzzi uit skiet sy hom met haar Ruger. Sy het ook ’n .243, ’n 20 boor-haelgeweer, ’n Ruger Vaquero .357 en die mooiste klein Henry-hefboomaks­ie .17 HMR.

Nou waarmee gaan ek ’n elkbul jag, wonder ek, of daardie pronghorn op 250 treë skiet? En ek wil ook regtig graag ’n coyote se vel met ’n winterpels hê. Die oopvisier Marlin .30-30 is my kortafstan­d-drageweer vir die bos; ek skiet nie graag verder as 80 treë met oop visiere nie.

Ek wou nie weer ’n .243, .270, .308 of .30-06 koop nie. My ideaal was nou ’n inheemse Amerikaans­e geweer in ’n egAmerikaa­nse kaliber – iets wat ek nog nie vantevore besit het nie.

die 7mm-soektog

Lankal al wou ek ’n 7mm hê – maar nie ’n dikdopmagn­um met ’n rif om die dop nie. Die 7x64 Brenneke was aanloklik, maar dis nie ’n Amerikaans­e kaliber nie en die Amerikaner­s ken hom glad nie. Dan maar ’n 7x57, want hy het darem die Amerikaner­s tot hul sinne geruk in Kuba, so daar is ’n sterk kulturele verband. Maar dié hét ek reeds gehad – ’n 1893 boereMause­r wat destyds via Chile op pad na Genl. De Wet en sy manne deur ’n Amerikaans­e oorlogskip onderskep is. Vriend Tom het dié geweer op die internet iewers in Texas raakgeloop.

Later praat ek met Tom oor die 7x64 Brenneke. Hy ken dit nie maar gaan slaan sy boeke oop en wys my ’n SAAMI-skets: “Is this it?” vra hy en lees my die dopafmetin­gs, maar wys nie die naam nie. Alles is in duime en ek gebruik my selfoon om »

» dit na millimeter­s te verwerk. “Indeed it is,” sê ek, “but then again, not quite exactly, I don’t understand”. Toe wys hy my die naam: .280 Remington, ’n kaliber wat ek glad nie ken nie.

Tom vertel my van dié kaliber se agtergrond. Die .280 Remington is nou amper 60 jaar oud maar die meerderhei­d mannetjies agter geweertoon­banke het nog nie een gesien nie, en baie het nog nooit eers van hom gehoor nie – die resultaat van die belaglikst­e bemarking-mistasting­s in Remington se geskiedeni­s.

Die .280 Remington is in 1957 bekend gestel en is in wese ’n tweeling van die 7x64 Brenneke. Soos die .270 Winchester is die .280 Remington op die .30-06-dop gebaseer en was aanvanklik die 7mm-06 genoem. Die dopskouer is net 1.27mm vorentoe geskuif om te verhoed dat mense ’n .280 Remington per abuis in .270-geweer laai. Om een of ander rede is die .280 aanvanklik deur Remington teen veel laer druk gelaai as wat sy ontwerp toelaat en het dit nie dieselfde trompspoed gelewer met dieselfde gewig koeëls as die .270 Win nie. Hierdie agterstand teen die .270 Win het verseker dat die .280 nooit in die VSA behoorlik uit die blokke sou kom wat gewildheid betref nie.

Om verkope te stimuleer laai Remington toe die .280 ’n bietjie warmer, herdoop hom na die 7mm Express Remington en adverteer hom as ’n ware bielie van ’n 7mm. Maar toe word hy verwar met die 7mm Remington Magnum, tot so ’n mate dat die 7mm-benaming in 1981 geheel en al onttrek word, die Express- titel is ook verwyder en toe noem hulle hom weer .280 Remington. Hierdie keer het hulle die .280 tot sy volle potensiaal gelaai, maar die spreekwoor­delike koeël was deur die kerk – die mense het steeds onthou dat hy voorheen stadiger as die .270 Win was. En om alles te kroon was daar handelaars wat nog ammunisie gehad het wat gemerk was as 7mm Remington Express. Chaos!

Vandag is daar steeds baie mense wat nie dié kaliber ken nie alhoewel Remington, Ruger en ook Sako gewere maak vir hom. Tog blyk daar hernude belangstel­ling in die .280 Remington te wees. Met die groot verskeiden­heid geweerkrui­te wat in die VSA beskikbaar is kan die ballistiek­e van die 7mm Remington Magnum byna met die .280 geëwenaar word. En die .280 is nie so giftig op lope soos die 7mm Rem Mag nie. As ’n voorbeeld, kyk na Nosler se tabelle vir sy prestasie: 150gr 3 152vt/sek 160gr 2 995vt/sek 168gr 2 852vt/sek 175gr 2 760vt/sek

Die 175gr-koeëls het ’n gemiddelde seksionele digtheid (SD) van .310 en ’n gemiddelde ballisties­e koëffisiën­t (BK) van .520. Vergelyk die .280 Rem se 175gr-koeël teen 2 760vt/sek met die .30-06 se 180gr teen 2 700vt/sek, ’n .271 SD en gemiddelde BK van .500.

Gelaai met 180gr-koeëls het die .30-06 my nog nooit in die steek gelaat nie en die .280 Rem met 175gr-koeëls doen eintlik beter.

Iemand vra my anderdag oor ’n 7mm-08 maar vir my sal hy nooit wees wat sy Mauser-oupa, die 7x57, is nie. Vriend Tom het ’n .260 Remington (6.5x51) – ’n vreeslike lekker pronghorn/ springbokg­eweer met sy 140grkoeël – maar vir my is dit net ’n groei-gestremde 6.5x55 Sweedse Mauser. Ek weet goed hoe loop

laasgenoem­de se 160gr-rondeneuse deur ’n koedoe se knoppe.

Ek het baie van Tom se Ruger M77 in .280 Remington gehou al het die 22”-loop my gepla. As die loop nou net 24” lank was, sou dit die perfekte geweer gewees het. Maar ten spyte van die korter loop begin ek die internetve­rkope deurkyk vir ’n geweer in .280 Remington. In die hele VSA was daar net een houtkolf-Remington te koop in dié kaliber en ’n paar gewere van vlekvrye staal met swart sintetiese kolwe. Ek het egter ’n houtkolf-Ruger M77 Mk II gesoek en niks anders nie.

my hartgeweer gevind

En daar, ná twee weke, verskyn hy vanuit Kansas op die veilingbla­d. Ek bel die verkoper en vra uit. Dit is uit ’n boedel en ons kom ooreen oor die prys en die geld word oorgeplaas. Tien dae later lewer die poskantoor hom by my woonplek af en ek sit dadelik af skietbaan toe met ’n pakkie 150gr Remington-ammunisie wat ek vroeër by Walmart gekoop het. Die geweer groepeer toe heel goed, maar nie so uitstaande soos my Musgrave Vrystaat-model .308 met PMP-ammunisie nie.

Herlaai is die antwoord en na nekvorming laai ek die doppe met ReLoader22 en 160gr Speers. So 2.5gr onder die voorgestel­de maksimum lading skiet die Ruger skielik vierskootg­roepe van kleiner as ’n halfduim op 100 treë. By 1gr duskant die voorgestel­de maksimum kan ek voel hy skop waarneemba­ar meer, maar die koeëlgate sit nóg nader aan mekaar. Ek was beïndruk want skieters op geweerforu­ms is oor die algemeen krities oor die Ruger M77 se van-die-rak-af akkuraathe­id.

Met my lading is die dop net mooi vol kruit tot teen die koeëlbasis, die druk is nog nie riskant nie en ek weet ek is by die beste spoednode vir akkuraathe­id. Die dopvolume teenoor kaliber van die .280 Remington is ooglopend perfek vir die prestasie wat jy daaruit kry as jy sy kruit slim kies.

Vriend Don in Nevada hoor van my geweer en kom kuier vir sy familie in Colorado en bring sy splinternu­we veergewig Winchester Model 70 in 7mm Remington Magnum saam. Hy het toevallig ook ammunisie met Speer Deep Curl 160grkoeël­s. Ons gaan skietbaan toe en zero albei gewere 1.5” hoog op 100 treë. Albei skiet kleiner as halfduim-groepe. Toe stel ons die Winchester se teleskoop vier klieks links en die Ruger s’n vier klieks regs. Ek skiet met sy geweer en hy met myne na die kol op 200 treë.

Dit was my eerste skote ooit met ’n 7mm Rem Magnum. Behalwe vir die .375 H&H hou ek nie van “belted magnums” nie, maar daardie dikdop-sewe is régtig ’n lekker skietgewee­r. Terugskop is niks meer as die .280 s’n nie, maar dalk het die goeie ontwerp van die Winchester se kolf iets hiermee te doen. Tog, soos my Oupa sou sê: “Koop sal ek hom nie koop nie” – hy raas te veel en gebruik te veel kruit – en daardie onnodige rif om die dop sal my alewig na die draaibank toe laat mik.

Ons stap vorentoe en gaan kyk. Daar lê albei kalibers se sub-MOA groepe effens bo die 200 treë-lyn – daar is geen verskil in die hoogte van die groepe nie. Don vergelyk een van die .280 se doppe met dié van sy 7mm Rem Mag. “I am impressed,” sê hy, en die res van die twee pakkies patrone skiet ek met sy geweer en hy met myne na plastiek 500mlwater­bottels op 200 treë en 4 liter-melkbottel­s op 300 treë. “These darn guns can’t miss,” sê hy naderhand met ’n lekkerkry-glimlag toe ons die bottels skoot vir skoot tref.

Ja, ek het ’n nuwe hartgeweer in my nuwe hartland, hier in die ver, oop Wilde Weste van Colorado.

 ??  ?? BO: Tipiese Colorado jagveld. REGS: Elk-spore op die bevrore Yampa-rivier in my dorp.
BO: Tipiese Colorado jagveld. REGS: Elk-spore op die bevrore Yampa-rivier in my dorp.
 ??  ?? ‘n Beerpaadji­e in die bos.
‘n Beerpaadji­e in die bos.
 ??  ?? Jong cowgirls help om beeste in te ent en te merk.
Jong cowgirls help om beeste in te ent en te merk.
 ??  ?? Ruger M77 Mk II.
Ruger M77 Mk II.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa