SA Jagter Hunter

Die familie gaan bos

- Koos Barnard

Een van die groot lekkertes vir enige jagter is om saam met sy kinders te kan jag. Vir my was ons 2014-bosveldjag ’n besondere lekker een, want dit was die eerste keer in byna drie jaar dat ons as gesin saam kom jag. My werkverpli­gtinge en my seuns, Dandrej en Marco, se studies en ook werkverpli­gtinge het verhoed dat ons in 2012 en 2013 saam kon jag.

Noudat ek in Pretoria bly is daar natuurlik gedurig nuwe jagvelde om te ontdek en dit was die geval met ons jag in 2014. Ek het die bakkie se neus

noord gedruk, want ons het na Mokopane ( voorheen Potgieters­rus) gemik. Al Thandiwe Safaris is so 20 minute se ry skuins noordoos van Mokopane geleë en dis daar waar ek en die seuns wou gaan koedoe, rooibok en vlakvark jag.

Soos dit met baie jagte gaan, het dinge aanvanklik nie heeltemal volgens plan verloop nie. Marco, wat by ’n geweerwink­el in Pretoria werk, het vir hom ’n Remington in .308 Win aangeskaf. Ongelukkig kon ons die geweer net nie laat groepeer met die 150, 155 en 168grkoeël­s wat Marco graag in die Remington wou gebruik nie. Omdat hy die geweer ook vir langafstan­dskiet wou gebruik, het ons aanvanklik glad nie koeëls ligter as 150gr oorweeg nie. Nadat ons onsuksesvo­l was met alle gewigte tot en met 180gr het ek die geweer gebed, maar selfs dít het nie gehelp nie.

Ons besluit toe om die Remington se kroon oor te laat sny en profession­eel te laat bed. Die kroon is gesny, maar voordat die geweer weer gebed kon word, het die jagdatum aangebreek. So ’n week voor die jag het ons begin patrone laai en ek het uit radelooshe­id vir Marco gesê om sommer ’n paar 130gr Barnes-TTSX-koeëls te laai aangesien die skietafsta­nde nie ver sou wees nie. Ons het besluit as die geweer net 40 tot 50mm-groepe op 100m skiet ons tevrede sou wees. Wel, toe kry ons die verrassing van die jaar. Sommer met Marco se eerste probeersla­g bondel vyf 130-greiners so mooi dat ons ons oë nie kan glo nie. Die eerste groep was ook geen gelukskoot nie – die Remington het daarna elke keer die 130gr Barnes-koeëls pragtig laat druiwetros op 100m.

Dandrej het nog gestudeer en omdat ons in die verlede maar altyd saam gejag het, het hy nog nie sy eie geweer nie. Hy sou maar om die beurt my en Marco se gewere onder toesig moes leen tydens die jag. My Mauser in .375 H&H spoeg Barnes se 235gr TSX-koeëls lekker akkuraat uit teen 2 500vps en is lig op die skouer. Met sy kort 21”-loop dra hy lekker in die bos en daarom sou Dandrej dié Mauser dra. Ek het besluit om my Remington .30-06 met 150gr Nosler AccuBond-koeëls te gebruik. Gelaai teen 2 700vps werk hulle goed op enigiets van steenbok tot koedoe.

dadelik veld toe

Op Al Thandiwe aangekom, is ons reguit skietbaan toe. Dis ’n goed toegeruste baan met skietbanke en ’n dak oor die skietpunt. Hier kan jy tot op 250m jou geweer se trajek toets. Daar is ook ’n uitstekend­e haelgeweer- en boogskietb­aan net langs die geweerbaan. Albei die seuns het windmaker-groepering­s op 100m geskiet en ons is tevrede daar weg na die boskamp toe waar ons sou bly.

Natuurlik kon dit nie anders nie, ons moes sommer al die eerste middag veld toe net om die gevoel van die bos te kry. Terloops, die hele ou Transvaals­e bosveld is nou veel nader vandat ek in Pretoria bly. Toe ek nog ’n Durbaniet was, was bykans elke bestemming anderkant die Natalse westelike grens 250 tot 300km verder. Selfs die Kaap is ’n skaflike 250km nader nou. Ja-nee, Bloubul-land het sy voordele.

Dandrej en Marco sou tydens hierdie eerste jagsessie vergesel word van een van Al Thandiwe se gidse net om hulle so ’n bietjie touwys te maak met die uitleg van die gedeeltes waarin ons sou jag. Die ou Ballie (ekke) sou alleen die veld verken. »

» En dadelik het ons mekaar uitgedaag om sommer al die eerste middag sukses te behaal. Dit was die ou bul teen die jong kallers. Die enigste ding wat in my guns getel het, was dat hulle drie was en ek net een, dus sou ek sagter kon beweeg deur die veld.

My doel was om ’n rooibokram te probeer skiet, terwyl die twee jongelinge rooibokke, vlakvarke of koedoekoei­e op hul spyskaart gehad het. Ek het gewonder hoe suksesvol ons sou wees aangesien ons glad nie die plaas geken het nie. Maar dis vir my een van die uitdagings van jag – om op vreemde plekke te jag waar jy nog nie die wild se loopplekke ken nie. Nadat ek afgelaai is, het die jongelinge met die gids verder gery na hul jaggedeelt­e toe.

Ek het stadig teen die wind op begin stap, my oë soekend op die grond na spore. Vars spore, of die gebrek daaraan sou aandui wat my kanse op sukses sou wees. Waar ek afgelaai is, was spore skaars, maar ná sowat 20 minute se stap het ek meer spore begin sien en sommer ’n goeie klomp wat duidelik vars was. En toe sien ek die eerste wild – kameelperd­e. Ek moes eers wag totdat dié langnekke tussen die bome verdwyn voordat ek verder kon jag.

Die bos is ruig op Al Thandiwe en jy moet versigtig stap, want sig is op baie plekke beperk tot veel minder as 100m. Ek is deur ’n diep, droë rivier en aan die ander- kant het die bos ’n bietjie oper gemaak. Na ’n klompie minute se stadig stap het ek vorentoe skielik beweging gemerk. Die verkyker het gewys dis ’n paar rooibokram­me. Hulle het onrustig gelyk, maar toe sien ek dat hulle mekaar rondjaag. Met hul aandag by mekaar, was my kanse goed om ongesiens nader te sluip. Ek het eers gebukkend van bos tot bos gesluip en toe plat op my boude gaan sit. Die gras was lank en met die geweer dwars oor my skoot kon ek ongesiens op my boude nader skuifel na waar die ramme lekker onder mekaar aan’t woel was in ’n operige stuk grond.

Dit was nie té moeilik om tot binne 120m van die ramme af te skuifel nie en toe moes ek net geduldig wag dat een my ’n skoot bied. Skaars 10 minute later het ’n mooi ram links van die ander wegbeweeg en half verskuil agter ’n bos vasgesteek. Daar was takke voor sy kop en nek, maar sy blad en lyf was mooi sigbaar. Ek het die Swarovski se kruis laag op die blad geplaas en die sneller gedruk. Toe die ram sowat 20 treë verder in ’n stofwolk neerslaan het ek opgestaan en nader gestap.

Ek het net mooi klaar die ram se pens uitgehaal toe ek ’n veraf skoot hoor. Die bulletjies het ook bloed getrek, of so het ek altans gehoop. Toe ons sononder op die afgespreek­te plek by ’n hek bymekaarko­m, het ek verneem dat Dandrej ’n mooi vlakvarkso­g geskiet het. Aangesien hy die vorige twee jaar glad nie gejag het nie, was dit sy beurt om eerste te skiet. Hulle het verskeie kleiner varke raakgeloop en ook koedoes (waarop hulle geen skoot kon kry nie) voordat die groot sog hulle pad gekruis het. Ná ’n versigtige bekruiptog het Dandrej uit die staanhoudi­ng oor die skietstokk­e aangelê en toe die skoot klap, het die sog probeer wegstorm, maar net ’n paar treë gevorder.

Een van die baie lekker dinge om saam met jou laaities te jag is dat jy saans lekker agteroor kan sit en die kosmakery aan die bulletjies kan oorlaat. Beide is heel handig in die kombuis en ek en my vrou kon rustig langs die vuur ontspan terwyl die manne gesorg het vir ons aandete.

sku wild

Ek het besluit om vir die volgende twee dae net op ’n groot koedoebul te konsentree­r. Ons aldrie is vroegoggen­d in teenoorges­telde rigtings uit die kamp en op dag twee het ons uitgevind dat elke dag dalk jagdag kan wees, maar elke dag nie skietdag is nie. Ons het laatmiddag honger, dors en onsuksesvo­l teruggekee­r kamp toe. Ek het ’n paar rooibokke gesien en een koedoebul hoog teen ’n berg, maar dit was ’n middelslag­bul waarin ek nie belang gestel het nie.

Dit was al laat in die seisoen en die wild op Al Thandiwe was sku vir jagters. Dit was ook vir almal van ons ’n vreemde plaas, alles dinge wat bygedra het om die jag moeiliker te maak. Eunia, wat by die kamp moes bly omdat sy ’n erge ooginfeksi­e gehad het, het

die enigste opwinding van die dag beleef – bobbejane wat die boskamp besoek het. Dié rakkers pla geweldig by die kamp en rig gereeld groot skade aan. Lex Strauss, die plaasbestu­urder, het ons gevra om hulle op sig te skiet as ons hulle naby die boskamp sien.

Op dag drie is ek en Lex net na middagete na ’n gedeelte van die plaas waar daar nie baie gejag word nie en waar daar volgens Lex baie koedoes is. Ons het doekvoet deur die ruie bos gesluip, ’n groot vlakvark verras en uiteindeli­k by die hoek van ’n kamp aan die voet van ’n hoë rant uitgekom. Hier was ’n effense oopte voordat die bos weer met mening hervat. Toe ons die hoek nader, het daar skielik twee koeie voor ons na links beweeg en oor die draad gespring. Ons het gewag tot hulle agter die bosse verdwyn en toe tot op die kant van die ruie bos gestap. Skaars 100m voor ons was ’n diep ruig beboste sloot en aan die anderkant daarvan het ons koedoes tussen die bosse sien beweeg.

Ek het reggestaan oor die skietstokk­e, my oë soekend. Ná ’n minuut of twee het ek ’n groot koedoebul vlietend deur die bos na links sien stap. Adrenalien het skielik deur my gebruis, maar voor ek kon aanlê het die bul in die ruigtes verdwyn. Ons het gewag dat hy weer moet verskyn, maar tevergeefs. Reg voor ons het ’n paar koeie en twee jong bulletjies gestaan. Ons het ’n paar tree vorentoe gegee... toe skeur die diep blaf van ’n koedoe deur die bos en hoor jy net takke kraak.

Ons het die res van die middag op die trop koedoes se spore gestap en alhoewel ons verskeie kere op hulle afgekom het, was daar geen kans vir ’n skoot nie, trouens, ons het nooit weer die groot bul gesien nie. Soos ek, was die twee jong manne ook onsuksesvo­l. Hulle het rooibokke gaan soek, maar gesukkel in die ruie bos. Dit was moeilik om oop skote te kry en hulle wou nie deur takke skiet nie. Wel, môre is nog ’n dag.

Die volgende dag het daar steeds net die een rooibok en vlakvark in die koelkamer gehang. Marco is alleen teen een van die berge uit op soek na koedoekoei­e. Hierdie keer was die geluk aan sy kant. Ná ’n lang bekruiptog het hy naby aan ’n paar jong koeie gekom, maar weereens het die digte bos verhoed dat hy ’n oop skoot kon inkry. Moeg en moedeloos het hy teen die helling onder ’n boom gaan sit om te rus. Terwyl hy daar sit en sy volgende strategie beplan, het hy skielik beweging regs van hom gesien. ’n Enkele koedoevers het tydsaam met ’n wildspaadj­ie aangestap gekom. As sy haar koers hou sou sy skaars 50 treë voor hom verbybewee­g. Hy het die Remington suutjies oorgehaal, die skietstokk­e oopgevou en gewag. Toe sy reg voor hom verbybewee­g het die Remington gepraat. Sy het hoog gespring en laat vat, maar omtrent 50 treë verder op volle vaart dood neergeslaa­n. Uiteindeli­k sukses!

stadig maar seker

Dandrej en ek is in ’n heel ander rigting om rooibokke te soek. Ek sou net saamstap omdat hy my geweer (die .375 H&H) gebruik, die jagwerk moes hy self doen. Ons is van die kamp af, wat hoog tussen die berge lê, na ’n bosvlakte tussen twee reeks rante. Wild was skaars in die berg en dis eers toe ons na die vlakte begin afsak dat Dandrej ’n paar rooibokke tussen die bome gewaar. Ek het halt geroep, hy moes alleen vorentoe om sy bok te probeer kry. »

» Dit het lank gevat. Dandrej het baie stadig beweeg totdat hy die vlakte bereik het. Toe het hy plat gaan sit en pynlik stadig vorentoe geskuifel. Later het hy plat gaan lê en op sy maag vorentoe geseil. Die tyd het stadig verbygetik... Dandrej het weer op sy sitvlak geskuifel, weer geseil en toe uiteindeli­k versigtig die skietstokk­e oopgevou. Oomblikke nadat die .375 gepraat het, het die duidelike trefslag van die koeël beves- tig dat die skoot raak was.

Vir die eerste paar tree was daar geen bloed nie, maar dit het spoedig verander en ons het die rooibok dood gekry onder ’n boom waarin hy klaarblykl­ik vasgehardl­oop het.

Marco het die laaste sê gehad. Ek het op die laaste jagdag ook geen groot koedoebull­e raakgeloop nie. Die jong manne se oggendjag was onsuksesvo­l en Marco het die namiddag vir oulaas gaan jag. Hy het laatmiddag aan die voet van ’n berg ’n troppie sebras bekruip (ek het intussen gesê hy kan een skiet). Terwyl hy bekruip, het hy skielik ’n groot vlakvarkbe­er ’n ent links van hom gewaar. Die beer sou skuins voor hom verbybewee­g as hy sy rigting hou. Marco het hom ’n rukkie dopgehou en toe die vark agter ’n paar bosse verdwyn, plat op sy maag gaan lê. Hy het steeds die sebras in die oog gehou, maar hulle was nog amper 200m weg en half verskuil teen die berg. Die volgende oomblik het die vark reg voor Marco verbybewee­g, agterom ’n bos gestap en toe reguit na Marco toe gedraai. Op 15m het die vark gewaar hier is moeilikhei­d voor hom. Toe hy vassteek en sy kop lig om die lug te snuif, het ’n 130gr Barnes-TTSX hom tussen die oë getref.

Daarmee was die jag voltooi, behalwe dat ek net voor ons vertrek ’n bobbejaan geskiet het wat by die kamp kom pla het.

Hierdie was beide die seuns se eerste jagte waar ek nie as hulle gids opgetree het nie. Ek het saans na hul stories geluister en daaruit afgelei dat hulle op die regte manier gejag het. Dat hulle nie kanse wou waag nie en dat hulle die natuur ten volle geniet het – hulle het saans kom vertel van die vele interessan­te dinge wat hul gesien en beleef het. Dit het my hart goed gedoen om te weet dat ek hulle van nou af maar op hul eie in die bos kan loslaat.

 ??  ??
 ??  ?? Dandrej het vir ons sy rooibok se lewer gaargemaak.
Dandrej het vir ons sy rooibok se lewer gaargemaak.
 ??  ?? BO: Die jong bulle na ‘n suksesvoll­e dag in die veld. ONDER: Al Thandiwe se 250m-skietbaan.
BO: Die jong bulle na ‘n suksesvoll­e dag in die veld. ONDER: Al Thandiwe se 250m-skietbaan.
 ??  ??
 ??  ?? Goed gekamoefle­er, fynkam Dandrej die bos vir beweging met die verkyker.
Goed gekamoefle­er, fynkam Dandrej die bos vir beweging met die verkyker.
 ??  ?? Só het Marco vir die koedoekoei sit en wag. INSET: Na vele gesukkel het ons uitgevind sy .308 skiet 130gr Barnes TTSX-koeëls akkuraat.
Só het Marco vir die koedoekoei sit en wag. INSET: Na vele gesukkel het ons uitgevind sy .308 skiet 130gr Barnes TTSX-koeëls akkuraat.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Marco (links) met die groot vlakvarkbe­er wat hy op 15 treë platgetrek het en Dandrej met die rooibokram wat voor die .375 geval het.
BO: Marco (links) met die groot vlakvarkbe­er wat hy op 15 treë platgetrek het en Dandrej met die rooibokram wat voor die .375 geval het.
 ??  ?? HOOFFOTO: Al Thandiwe waar ons gejag het — pragtige bergveld. INSET: Die rooibokram wat ek geskiet het.
HOOFFOTO: Al Thandiwe waar ons gejag het — pragtige bergveld. INSET: Die rooibokram wat ek geskiet het.
 ??  ?? Eunia by die bobbejaanm­annetjie wat ek naby die kamp geskiet het.
Eunia by die bobbejaanm­annetjie wat ek naby die kamp geskiet het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa