SA Jagter Hunter

Massingir se buffels

- Cobie Kemp

Aan die begin van die 2014rugbys­eisoen sit ek en kopkrap, maar die somme wil net nie klop nie. Ons moet vir ons kinders geleenthed­e bied en die uitdagings is groot, want die staat perk sy subsidies aan skole al hoe meer in. Een van Hoërskool Ben Vorster, in Tzaneen, se getroue ondersteun­ers en borge is Pieter Scholtz wat ’n mede-aandeelhou­er is in ’n 5 000ha-konsessie in Mosambiek se Gaza-provinsie, so 25km suid van die Massingird­am.

’n Gedagte kom skielik by my op en ek kontak vir Pieter. Om ’n lang storie kort te maak; ons besluit om kaartjies vir ’n buffeljag in sy konsessie te verkoop. Driehonder­d kaartjies sou verkoop word teen R1 000 stuk.

Die trekking het op 23 September 2014 plaasgevin­d tydens die skool se rugbydinee en soos “Murphy” dit wil hê, wen Tienie

Prinsloo die jag, maar hy jag nie. Tienie het egter goedgunsti­glik ingestem dat ons sy kaartjie kan opveil en die bod word op Liezel Slump en haar man Heiko toegeslaan. Hulle besluit dat hul seun, Heiko jr. die skietwerk sal doen.

Ons ontmoet Heiko-hulle op 6 Oktober 2014 en op pad Massingir toe slaap ons oor in die Mopaniekam­p in die Kruger Nasionale Park. Daardie aand eet ons dik rump steaks en braaibrood­jies. Winston Churchill het nie verniet gesê nie: “There is a supreme excellence in simplicity.”

Die volgende oggend ontmoet ons vir Riaan, die konsessie-eienaar by die Giriyondo-grenspos. Met die formalitei­te afgehandel aan beide kante van die grens, stoot ons aan. Die pad deur die Limpopooor­grenspark stel teleur, maar dis darem ’n pad, beter as dié wat die ou ivoorjagte­rs van ouds moes trotseer. Dis 70km tot by die dorpie Massingir waar die dam is, daarna nog 25km tot by Mooiplaas. Dis gou duidelik dat die plek profession­eel bedryf word. Die opset is netjies en niks stel teleur nie. Michelle, Riaan se vrou, is ’n voorslag en staan vir alles reg van halfvyf soggens af tot saans laat. Altyd vriendelik en spontaan.

in die veld

Ons ry laatmiddag ’n draai deur Mooiplaas en sien ’n bateleur wat water drink by ’n suiping en daarna sy akrobaties­e vlug (tot ons vermaak). Daar is oral visarende wat roep en ’n geelbekwou kom sit skaars 30 treë voor ons langs ’n suiping. Deur die diep sandveld beïndruk die liggroen lentekleed van die peulmahoni­es. Hulle staan in skrille kontras met die dorheid van die grasveld. Daar het nog geen reën geval nie en die wêreld is dor en droog. Op pad terug na ons kamp toe, Hardekoolk­amp, kom sit ’n grootoorui­l in die sterk skemer in ’n droë hardekoolb­oom met die volmaan reg agter hom; ’n ware “Kodak-oomblik”.

Ons besluit om die volgende more om vyfuur te begin jag. Eduard Scholtz is ons profession­ele jagter. Sommer spoedig nadat ons begin stap het, besef ek dat ons ’n hele paar spore in die sand sal moet trap om ’n buffel geskiet te kry. As jy te voet soek, is 5 000ha nogal groot. Die jag is inspannend en later baklei ek kaalvuis met my kop. Die wêreld is warm en bedompig – ná elfuur in die oggend raak dit moeilik om te stap. “Dis nie so erg nie, julle is net te sag,” redeneer ek met myself. Ek berus in die wete dat hoe harder ons werk, hoe lekkerder gaan dit wees om agterna die storie te kan vertel.

Ná die oggendsess­ie gaan rus ons en ek sukkel teen drieuur uit my chalet; dit voel asof jy in ’n bakoond instap. Ons loop ’n groot ou alleenlope­rbul net voor sononder raak, maar hy is nie verniet so oud nie. Al toon sy spoor dat hy dalk sy regtervoor­been seergemaak of gebreek het, bly hy ons ontwyk en kry ons hom net nie onder skoot nie. Ons besluit om die volgende oggend terug te keer en verder na hom te soek.

Toe ons die aand ná sonsonder by Hardekoolk­amp inry, kom die maan stadig deur die bosveldbom­e op... in skarlakenr­ooi gewaad geklee. Dit skyn pragtig deur die hardekoolv­eld van Mooiplaas. Blood moon. Is dit dalk ’n voorspelli­ng van die sukses wat ons as jagters gaan behaal oor Syncerus caffer caffer. Of is dit dalk ’n voorbode van hierdie gedugte teenstande­r se triomf oor ons? Net die tyd sou leer.

weer Probeer

Die miswolke kom die volgende oggend uit die ooste aangedryf op ’n ligte briesie en Mosambiek se Gaza-provinsie begin asemhaal. Dis koel en ek het sommer aangevoel dat daar iets gaan gebeur. Ons was vroeg reeds op die buffels se spoor. Ná bykans 5km se stap, kom ons op ’n trop van sowat 20 buffels af. Hulle was skaars 30 treë weg, maar het steeds nuuskierig »

» nader gekom. Daar was egter nie ’n mooi bul onder hulle nie en toe die buffels met ’n gekraak van takke deur die bosse wegbars, het ons geweet ons moet maar net weer probeer.

Halfdrie die middag klop Eduard aan my chalet se deur. Die “spotters” wat ons oral in die konsessie uitgeplaas het, het ’n trop van bykans 60 buffels oos van die kamp gewaar. Ons spoel gesigte af, gryp die gewere en bestorm die Cruiser! Bykans 4km van die kamp af gewaar ons die trop. Ons moet eers verbyry, die wind in ons guns kry en dan te voet nader beweeg om ’n mooi bul uit te soek. Ons los die voertuig so 3km van waar ons die buffels gewaar het en begin stap. Die treë word een vir een afgetel en die afwagting is groot.

Heiko jr. dra my .458 Winchester Magnum, want dis waarmee hy gaan skiet. Ek het al eland, sebra, blouwildeb­ees en koedoe in die stof laat byt sonder enige probleme. Ek gebruik 450gr Swift A-Frame sagteneus-koeëls, gelaai voor 73gr S321-kruit wat ’n trompsnelh­eid van 2 170vps lewer. My .470 Nitro Express is gelaai met 500gr soliede, geelkoperk­oeëls, aangedryf deur 102gr S365. Dit lewer 2 180vps by die tromp. Die lope snake eye (reguleer perfek) op 50m ongeag of jy soliede of sagteneus-koeëls skiet. Hierdie twee roere is inderdaad gedugte teenstande­rs waarmee selfs ’n opponent soos die Afrika-buffel rekening moet hou!

Toe ons verby die trop gery het, het ons twee bulle gewaar, een van so ses jaar met ’n goeie horingwydt­e, maar nog nie op trofeestan­daard nie en ’n ouer bul wat ons op so nege jaar oud geskat het. Dis in hom wat ons belanggest­el het. Met ons vertrek uit Letsitele het ek vir Heiko jr. Kevin Robertson se boekie, Buffalo Shot Placement and Trophy Evaluation, gegee om te bestudeer sodat hy homself deeglik kon voorberei op sy skootplasi­ng. Dis ’n uitstekend­e boekie, beslis die beste hulpmiddel vir enige voornemend­e buffeljagt­ers.

Ons beweeg versigtig nader toe die trop weer in sig kom. Ná ’n ruk spoor ons die ou bul op, hy is heeltemal onbewus van ons teenwoordi­gheid. Met harte wat in ons kele klop, beweeg ons nader. Dan raak die trop van ons bewus en die buffels trek laer in ’n halfmaan, skaars 70 treë van waar ons staan. Nogal intimidere­nd.

onder skoot

Heiko jr. maak gereed, ons wag... uiteindeli­k beweeg die bul in ’n oopte in, skaars 60 treë van waar ons staan. Eduard gee ’n fluit wat die bul plankdwars laat vassteek. Heiko jr. lê aan. Die .458 Winchester Magnum bulder, die bul se voorbene ruk op en hy probeer vorentoe spring, maar ploeg neus in die grond so vier treë vorentoe. Ons staan gespanne en wag dat die res van die trop moet padgee, maar hulle doen dit nie, draai net al om die gevalle bul. Dis veral die ou koeie wat hul misnoeë te kenne gee en blufstorml­ope op ons uitvoer, soms tot so naby as 15m. Ek dink ’n paar broeke het erg gebewe!

Uiteindeli­k beweeg die buffels ’n bietjie weg en ons gaan nader, maar dan loop die trop ons weer storm, sommer so van verskeie kante af. Eduard skiet ’n skoot met sy .458 Winchester Magnum reg in die grond voor die buffels en dit laat hulle weifel. Die astranthei­d van die trop laat ons klein en bang voel.

Dan beweeg hulle weg en ons kan uiteindeli­k nader gaan. ’n Meer perfekte skoot kon Heiko nie skiet nie. Latere ondersoek sou toon dat die koeël deur die brachial plexus-area skuins van voor gedring en die hoofslagaa­r reg aan die bokant van die hart afgeskiet het. Die Swift A-Frame het toe verder gepenetree­r deur die longe en teen die verste bladbeen gaan vassteek. Koeëlprest­asie was baie goed – die Swift het 95.7% van sy massa behou en perfek omgeklink. Dis inderdaad ’n produk wat ek met groot vertroue kan aanbeveel!

Nadat ons genoeg foto’s geneem het, is ons terug kamp toe en daardie aand het ons die buffeljag weer en weer om die vuur herleef en vir mekaar oorvertel. Pa Heiko en ma Liezel was natuurlik trots op Junior wat sy trofee met ’n enkele skoot en met respek en nederighei­d op die Gazavlakte van Mosambiek kom opeis het.

Volgende jaar doen ons dit weer, want so skep ons mylpale op ons lewenspad waarnatoe ons kan afdraai as die lewe in die toekoms moeilik raak.

Dankie Riaan en Michelle van Massingir Safari’s vir die profession­ele wyse waarop julle ons behandel het, maar ook vir jul menswees en spontane gasvryheid. Dankie aan Eduard, ons vermaaklik­e profession­ele jagter en ook aan my vriend Pieter Scholtz. Sonder hom sou die hele projek nie moontlik gewees het nie. Aan Heiko, Heiko jr. en Liezel ook ’n dankie dat ek in julle droom kon deel.

• Indien daar lesers is wat belangstel om aan ons volgende buffeljagl­oting deel te neem gedurende 2015 kan hulle my kontak by 082 370 1332 of e-pos cobie.kemp@minnaar.co.za

 ??  ??
 ??  ?? BO: Heiko Slump (links) en Heiko jr. wat die skietwerk gedoen het. ‘n Trotste pa en seun. ONDER: Die Swiftkoeël wat ons uit die buffel herwin het. Dit het perfek presteer.
BO: Heiko Slump (links) en Heiko jr. wat die skietwerk gedoen het. ‘n Trotste pa en seun. ONDER: Die Swiftkoeël wat ons uit die buffel herwin het. Dit het perfek presteer.
 ??  ?? Die son sak na ‘n dag se harde jag.
Die son sak na ‘n dag se harde jag.
 ??  ?? Die maan het een aand bloedrooi oor ons kamp opgekom.
Die maan het een aand bloedrooi oor ons kamp opgekom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa