SA Jagter Hunter

Dooierus – Hoesê?

- Deur HERMAN JONKER

Kyk ’ n bietjie mooi na ’ n koedoe as hy so staan en luister. Daardie twee bakore van hom – kyk hoe draai hy hulle; een dié kant toe, die ander een daai kant toe, om beter te kan hoor.

Ek wens partykeer ek kon dit ook doen.

Soos baie ander jagters s’n, is my ore ook al in hulle hoesê in geskiet van nie altyd gehoorbe-skerming dra wanneer die skote klap nie. Veral nie in my jongbullet­jie dae nie. Toe het ons mos gedink net sissies dra sulke goed.

In die army het hulle vir ons sulke taai proppies gegee wat van was gemaak was. Jy was veronderst­el om dit te brei en dan in jou ore te druk, maar ons het uitgevind hulle maak ’n lekker kers as jy hulle uitrol en die punt aan die brand steek. PW se melkbaardk­rygers was mos vreesloos – wat sal ’n mens jou dan nou steur aan ’n 7.62 se klap? En donderbuis­e en kanonne en sulke goed was mos lekker pret, hoekom sal ’n mens hulle nie wil hoor nie?

Hoe sê jy? O, die kerse? Ja, dié het ons as lig gebruik om poker te speel saans in die tent.

Dan was daar natuurlik jagte, ook daardies waar dinge soms so skielik gebeur dat jy onverwags ’n skoot in die oor kry, partykeer sommer nog van jou beste vriend. Dan staan jy daar met die swerm bye in jou brein en jy wonder of jy hom nie met ’n piksteel moet slaan nie, net sodat hy ook kan voel hoe dit voel.

Ekskuus? Ja, seker maar ’n ongeluk, ja.

En toe koop ek ook mos nog op ’n stadium vir my ’n roer met ’n tromprem aan die loop, voor ek geweet het so ’n ding is ’n werktuig van Satan. Toe’s dit nie net ek wat na ’n jag vir ’n week lank na sonbesies loop en luister nie, maar almal wat saam met my was ook.

Wat… vliegtuig van Japan? Nee man; Satan!

Met die jare moes al daardie kopskote wat my getref het seker maar die stiebeuelt­jies van my aambeeldji­es af laat foeter het of iets, want deesdae moet ek lippe lees in enige raserige plek. Ek kan mos nou nie my ore draai soos ’n koedoe nie.

Maar ’n mens sou dink dat sulke gehoorskad­e darem ’n voordeel ook kan hê in die sin dat steurende geluide mos darem minder steurend behoort te wees. Moenie glo nie. Kopskote maak jou ore so onverdraag­saam vir lawaai soos ’n kobra vir koppiekrap. Daardie kettingsaa­g wat hier onder jou kantoorven­ster knetter is niks minder irriterend wanneer jou ore raakgeskie­t is nie, eerder meer so. ’n Lugdrukboo­r laat jou voel of jou hipotalamu­s trampolien­spring op jou medulla oblongata. En die bure se laaitie wat so op en af jaag op sy raserige vierwiel laat jou summier dink aan gewelddadi­ge kindermoor­d in die hoop dat dit tot ewige, salige stilte kan lei.

’n Mens sou ook dink jy sou nie sagte geluide kon waarneem as jou gehoor aangetas is nie. Wel, op my jare weet ek nie of ek nog die sagte ritsel van satyn onderkleer­tjies so mooi kan hoor nie, maar daar’s een geluid wat ek nooit mis nie. Of dit met my gehoor te doen het of met die aard van die geluid weet ek nie. Seker maar laasgenoem­de, want dis onmiskenba­ar.

Jy lê daar, kombers opgetrek tot onder jou baard, skapies mooi getel, linkerbrei­n al half in lala-land, en dan hoor jy dit. Fyntjies.

Okei, dink jy, kalm nou, hy sal weggaan.

Hy gaan nie weg nie. Die steurendst­e van alle steurende geluide kom nader, jy hoor hom in die donker. Peil kan jy nie, want jy kan mos nie jou ore draai soos ’n koedoe nie.

Oraait, dan’s daar net een raad: Wag dat hy kom sit.

Nou lê jy daar, wang boontoe gedraai, jou hand reg om te klap. Vyftien minute en vyf selfmoordk­lappe later het jy hom. Jy voel hoe val sy slap karkas hier in jou oog.

Maar slaan jy een dood is daar mos klaar weer ’n ander een gekloon.

Nog sewe klappe later besluit jy – tot hiertoe. Jy vlieg uit die bed, sit die lig aan en loop haal die kannetjie insekdoder in die kombuis. Nou sal jy die wetter wys!

Jy kry hom, na jy eers jou bril in die eetkamer moes loop soek. Doer bo teen die plafon sit hy. Jy mik, maar die kannetjie gee net so ’n leë kuggie soos ’n blaasoppie met bronchitis wat sy laaste asem uitblaas.

Nou gryp jy enige ding wat byderhand is om mee te gooi. Eers die kussings, maar hy loop sit elke keer net weer op ’n ander plek. Dan jou kep, maar dis mis, twee keer. Teen dié tyd blaf die hond al op die agterstoep. Einde raad gryp jy een van die cowboy-stewels wat jy in Colorado gekoop het en gooi hom daarmee. Mis – net-net, maar ’n hele stuk gipspleist­er val in stukke op jou bed.

Dit dryf jou ballisties. Goed, dink jy, wat sal dit wees, .410 of twaalfboor? En wat sou die beste wees, nommer 5-hael of nommer 9?

Heng nee, keer jy jouself, netnou skiet jy net sy agterpoot af. Dan liewer ’n enkele soliede loodsabot om die vervloekst­e ding heel te vermorsel.

En dan tref dit jou, net toe jy dink aan kluis oopsluit: Oorproppie­s. Want dis mos nie soseer die muskiet wat jou pla nie, dis sy geluid.

Oorproppie­s, ja. Gits, pleks jy lankal daaraan gedink het!

Hy gaan nie weg nie. Die steurendst­e van alle steurende geluide kom nader, jy hoor hom

in die donker.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa