Bospos – Sê jou sê
E-pos na Eunia.Barnard@media24.com of slakkepos na Privaatsak X202, Pretoria 0001
EERSTE JAG VIR SPIER-DISTROFIELYER
In Augustus 2014 het vriende my genooi om saam met hulle ’n jagnaweek mee te maak. Dit was my eerste Bosveld-ervaring en dit was ook uniek omdat ek ’n spierdistrofielyer is. Ek maak permanent gebruik van ’n rolstoel en met die hulp van dié toestel is ek in ’n mate dan redelik mobiel. Die feit dat ek gestremd is, laat my vir niks terugstaan nie en ek soek gedurig na nuwe horisonne om te ontdek. Nooit het ek gedroom dat ek aan ’n jagaktiwiteit sou kon deelneem nie!
Ek en ’n gestremde vriend is die Donderdag reeds saam met ons vriende na Thutlwa Game Lodge in die Waterberge. Ek was vreeslik opgewonde oor die vooruitsigte wat die naweek sou inhou.
Die Vrydagoggend is ons op die Land Cruiser gehelp… en daar gaan ons toe! Na die jaggewere akkuraat ingestel is op die skietbaan, het ons die kans gekry om van die Land Cruiser af, met die bystand van my vriend, na ’n teiken te skiet met ’n .270-geweer. My eerste probeerslag was ’n kolskoot op 100m. Dit was só cool!
Die ongelyke pad in die veld het vir lekker opwinding gesorg terwyl ons gery en soek het na rooibokke en vlakvarke. Ons het natuurlik ander wild ook gesien. Soms het ons lekker gelag oor die jagondervinding en al die aanpassings wat gemaak moes word om by ons behoeftes te pas.
Ons het selfs die rare geleentheid gehad om van naby te sien hoe ’n veearts ’n buffel se wond behandel.
Saans het ons om ’n vuur gesit en gesels en kon so af-en-toe hoor hoe die heïnas roep.
En soggens kon ons vroeg saam met die bos ontwaak – daar is niks so lekker soos die vars oggendlug van die bosveld nie.
Nou ja, dis net nog ’n bewys dat gestremdheid nie ’n struikelblok hoef te wees om die lewe te geniet en nuwe uitdagings die hoof te bied nie.
Dankie aan my vriende vir die geleentheid en blootstelling aan die natuur en jag. Die jag-gogga het my nou behoorlik gebyt!
MELISSA LEONARD (27 JAAR) • Melissa wen ’n Safari & Outdoorgeskenkbewys ter waarde van R500.
DIE POSKANTOOR-WOLHAARSTORIE
Hy kyk my vas in die oë. Verbasing, teleurstelling en ongeloof is duidelik sigbaar op sy gesig oor my wolhaarstorie. Ons het ’n goeie verhouding van dag een af, help mekaar en deel ons kennis. Tot vandag toe kon hy op my woord staatmaak, maar nou is die twyfel regoor sy gesig geskryf. Die frons op sy gesig vorm diep klowe (soos dié waar ’n mens NIE koedoes loop skiet nie – tensy jy net die horings wil hê).
Ek begin weer verduidelik en probeer hárd om die vertroue te herstel…
Van die begin van die jaar af, het ek slegs een SA JAGTER/ HUNTER-tydskrif ontvang – nogal teleurstellend vir my as nuwe lid van die vereniging. Nou is die winter verby, HuntEx is verby... Maar SA Jagters (SAJWV) bevestig en stuur bewyse dat die pos uitgegaan het, en na die regte adres. Hulle belowe om dit weer aan te stuur.
Weke gaan verby, want die poskantoor strike mos weer. En uiteindelik, ’n ruk gelede ( tot ons verbasing) kry my vrou ’n strokie in die posbus. Daar is ’n pakkie om te gaan afhaal... En werklik, ek ontvang ses uitgawes van die SA JAGTER/HUNTER. Ek gooi dit langs die toilet neer, sodat ek ongestoord kan navorsing doen.
My oggendroetine is normaalweg eenvoudig. Opstaan, koffie, toilet, bad, aantrek en werk toe...
En toe begin my moeilikheid! Ek blaai vinnig elke oggend deur my nuwe tydskrifte, sien al die begeerlike items. Allerhande artikels soos: Dodging Buffalo and bullets, Identifisering en oorsake van hoë druk, Bokspog, Waaragtig, Swaer? en vele meer, gryp my verbeelding aan. As ek almal moet noem, gaan dit ontaard in ’n gesamentlike inhoudsopgawe.
Tussen al die top-artikels, staan een vir my soos ’n paal of liewer, daai Franse toring, bo water: Die wetenskap van ’n ware biltongjagter. Aanvanklik het ek na die eerste paar sinne my so half vererg, want ek het iets heeltemal anders verwag. Maar die beeld van iemand wat ’n stukkie biltong aan flarde skiet, tot daar waar ek wil begin om ’n lys name aan die “homo sapiens PARASITICUS” te koppel, het veroorsaak dat ek telkens stukke oor en oor moes lees. Soms was dit weens vlymskerp droë humor, en soms was dit omdat ek my plek verloor het omdat ek eers die giggeltrane moes afvee. Bravo, uitstekend!
Nou ja, meneer die redakteur en jy, skrywer van die biltongjagter-artikel, tesáme met die afsterwe van die poskantoor, is julle die hoofoorsaak dat ek nou hier voor my baas moet staan en bieg waarom ek drie opeenvolgende oggende laat is vir werk!
“Sien Meneer nou? Dis die poskantoorstaking wat veroorsaak dat ek laat is vir werk” (al is ek ’n werknemer by ’n oliemaatskappy).
Dankie vir die goeie artikels en vlymskerp humor! Mag die poswese tog asseblief die boeke een-een aanstuur, sodat ek nie weer in die moeilikheid beland nie!
JAN BESTER