Jagters se wangedrag pla
Die vennootskap en gesonde verhouding tussen jagters en wildplaaseienaars is uiters belangrik om die toekoms van jag, soos individuele jagters en lede van die SAJWV dit ken, te verseker.
Indien die jagter en die wildplaaseienaar na ’n jagtog tevrede is en elk voel dat hulle waarde vir geld gekry het, was die transaksie suksesvol en lei dit soms tot ’n lewenslange vriendskap.
Redelik vanselfsprekend? Ongelukkig nie! Daar vind gebeure op jagplase plaas wat my onrustig stem en die kosbare verhouding tussen jagters en wildplaaseienaars kan bederf. Al hoe meer wildplaaseienaars waarmee ek te doen kry, is baie ongelukkig met die gedrag van spesifiek SuidAfrikaanse jagters op hul plase. Hoe groot die groep “probleemjagters” is, is moeilik bepaalbaar, maar wat hulle besig is om te veroorsaak, word goed beskryf deur die spreekwoord: Een vrot appel bederf die hele kas. Die Engelse weergawe vanuit die ou Latynse spreekwoord is nog meer spesifiek: The rotten apple injures its neighbours.
Ek wil, vir die nodige perspektief, dit duidelik maak dat baie jagters (hopelik die oorgrote meerderheid) verantwoordelik optree wanneer hulle wildplase besoek. Indien jy ’n verantwoordelike jagter is, lees verder sodat jy kan verstaan wat besig is om te gebeur en hoe die wangedrag van die probleemjagters jou en jou kinders se jagtoekoms kan benadeel.
WAnGeDrAG
Voorbeelde van wangedrag is van so ’n aard dat jy wonder waar die mentaliteit van hierdie “jagters” vandaan kom – tree hulle ook so op in hul daaglikse handel en wandel? Die universele beginsel is dat die jagter die gas van die wildplaaseienaar is en hom/haarself daarvolgens behoort te gedra. Die feit dat jy betaal vir die wild en die jag verander niks aan die beginsel nie.
’n Universele klagte is drankmisbruik. Dit laat jagters dikwels onbeskof en arrogant optree, net soos straatboewe. Boere kla ook oor skade aan hulle eiendom deur jagters wat onder die invloed van drank was. Drank word dikwels ook gebruik op jagvoertuie terwyl vuurwapens hanteer word.
Nog iets wat wildboere dwars in die krop steek, is onveilige vuurwapenhantering – dikwels gepaardgaande met drankgebruik. Dit kan lei tot die afvuur van nalatige skote, wat moontlik tragiese gevolge kan hê.
Sommige jagters ontken ook hul kwesskote en weier dan om vir die wild te betaal. Of hulle probeer die gidse omkoop om stil te bly. Dan is daar jagters wat nie na kwesbokke wil soek nie – hulle is bereid om daarvoor te betaal, maar wil dadelik ’n ander bok probeer jag.