SA Jagter Hunter

Die twee .303’s en die springbokr­am

- Willem Fourie

Dit was ’n jag waarna ons al lankal uitgesien het, ek en PW, ’n goeie ou mater van my. Ons het deur die loop van die jaar ’n paar gemsbokke geskiet, springbokk­e geoes, selfs blouwildeb­eeste gejag, maar hierdie jag het ons al vir mekaar van die begin van die seisoen af belowe.

Iewers voordat ons finaal die lope skoonmaak en die ketties kluis toe vat, wou ons verseker ’n lekker stapjag inwerk.

Tussen ons daaglikse broodopdie­tafelsit aktiwiteit­e en my klein kindertjie­s was dit moeilik om ’n geskikte datum te vind, maar uiteindeli­k het die beplande naweek aangebreek. Volgens die weervoorsp­elling sou ’n 30km/h wind waai en daar was ’n kans op reën. Van uitstel was daar egter nie sprake nie, want dit sou afstel beteken. Ons was vasbeslote om ’n springbokr­am te voet te jag.

Ek en PW het besluit dat ons elkeen ons getroue ou .303’s vir dié jag sou gebruik. Syne is ’n pragtige No 4 MkII met ’n sintetiese kolf (die houtkolf het gekraak) en dit is toegerus met ’n silwerkleu­rige Nikko Stirlingte­leskoop.

Ek is bevoorreg om ’n No 4 MkI* te besit; steeds in sy oorspronkl­ike vorm met die hout kolf en lang voorlaai en met ’n Parker Hale PH5Cgaatji­evisier. PW het 150gr Hornady InterLocks in sy kettie gelaai waarmee hy al verskeie springbokk­e en gemsbokke gejag het. Myne het 174gr Frontier Spartans gespoeg wat ek op ’n later stadium op ’n vlakvark wou gebruik.

stadig beKruip

Ek het met my pa, op wie se plaas ons sou jag, gereël vir ’n springbokr­am. Die witgatbome, bessieboss­e en haakbosse het meer ruig op dié plaas gestaan en dit was makliker om bokke hier te bekruip as elders in die omgewing. ’n Paar bokke het deur die draad van hul kamp gekruip en my pa het gesê ons kan een van die ramme uit dié uitbreektr­oppie skiet.

Ek was effens teleurgest­eld toe ons onderweg na die kamp die bokke van die pad af sien. Ek kon nog die vroeëmôre boeretroos in my mond proe en was nie lus vir die antiklimak­s om teen ontbyttyd terug te wees by die huis nie. Ek wou gehad het dat my ou mater so ’n bietjie werk vir sy bok. Daarmee bedoel ek glad nie dat hy moes sukkel nie, ek weet net uit ondervindi­ng dat die bok waarvoor jy harder werk, ook die een is wat jy meer waardeer. ’n Bok wat jy sommer gou van die bakkie af skiet beland ook op jou bord of biltongrak, maar hy bly jou nie by nie.

Ons het ’n hele entjie verby die bokke gery sodat ons skuins teen die wind in kon bekruip. Teen kwart voor agt het ons die bakkie onder ’n boom gelos en in die bokke se rigting begin stap. Soos wat ons nader aan die trop gekom het, kon ons

hulle deur die verkyker bestudeer en het ons ’n netjiese ram gesien waarvan die horingpunt­e al agtertoe gebuig het. Sy horings sou hom nie in die rekordboek­e laat instap nie, maar ons was nie op dié jagtog vir rekords nie.

Ons het stadig begin bekruip en gemik vir die oorkantse wal van ’n sloot ongeveer 80m van die bokke af. By die wal aangekom vind ons uit dat ons nie die bokke mooi kan sien nie aangesien hulle agter ’n klein duintjie inbeweeg het. Al raad was om nog nader te bekruip, maar die bokke het ons gewaar en onrustig begin raak.

Ek en PW het vir ’n rukkie doodstil op ons mae bly lê, maar toe ons weer bo die gras uitloer was die bokke weg. Nadat ons tevergeefs probeer het om die trop met die verkyker op te spoor het ons suid gestap, saam met die sterk wind wat nou plaerig gewaai het.

Om weer onder die wind te kom, moes ons ’n ent parallel met die kampdraad loop en toe terugwerk in ’n noordelike rigting. Terwyl ons stap, het ons gesels oor spore en ’n spesifieke veldblomme­tjie wat in die omgewing voorkom wat ’n mens nie van die bakkie af sien nie. Dis so ’n fyn pienkpers blommetjie, skaars 5cm hoog met vier blomblare; ’n laat winteropsl­aggie danksy die reën wat die vorige week geval het.

PW het skielik vasgesteek en na regs gekyk. Skaars 20m van ons af het drie bakoorjakk­alsies rustig om ’n bos gestap gekom, min wetend dat ons hulle dophou. Toe ons weer beweeg het een ons opgemerk, maar sy twee maatjies het ons eers gewaar en hul skotteloor­tjies platgetrek toe ons al ver verby die bos was.

weer aan die draf

Die volgende oomblik het ek en PW die springbokk­e in ’n kolletjie haakbosse voor ons opgemerk, maar hulle het ons klaar gesien en voordat ons kon begin bekruip, het die troppie weggedraf. Ons het stadig vorentoe gestap en alle gesprekke oor bakore en veldblomme vir eers laat vaar. Die bokke was egter weg en ons het oos gedraai. ’n Entjie verder het ons die bokke gesien en weer begin bekruip. Dié keer het ons verder gevorder as ons vorige pogings, maar hulle het ons weereens opgemerk en toe sommer met ’n spoed padgegee.

Gelukkig was die deel waarheen hulle gehardloop het nie so ruig nie en ons kon sien hoe hulle draai om onder die wind te kom. Ek het besef dat as ons ongesiens kon terugbewee­g in ’n suidelike rigting, ons ’n kans sou hê om nader aan die bokke te kom, alhoewel die wind dwars sou waai. Die nadeel was dat ons teen die dwarswind sou moes skiet. Ons moes dus so na as moontlik aan die bokke probeer kom om die invloed van die wind op die koeël te probeer beperk. Dit was egter ’n groot uitdaging. Ons het gebukkend begin loop en later van die een bessiebos of pypsteelbo­s na die volgende gekruip, totdat ons op ’n lae duintjie so ongeveer 200m van die bokke af stelling ingeneem het. Ons het gehoop dat die duin ons sou help om oor die gras te sien, maar dit was nie die geval nie.

Die bokke het rustiger geraak en begin wei, maar ons kon nie ’n mooi skoot op die ram kry nie. En die sterk wind het steeds gepla. Waar ek langs my maat gelê het, het ek omgekyk na die paadjie waarlangs ons gekom het en die slote wat ons tot dusver geploeg het. Ek het besef ons sal nog ’n entjie moet ploeg om naby genoeg aan die bokke te kom.

Ons knieë was reeds vol krapmerke maar daar was nie ander raad nie – ons sou verder moes leopard crawl. Skuins voor ons was ’n witgatboom en ons het daarheen gemik. Vir manne in ons kondisie was dit ver en die sand dik. Ons moes kortkort eers ’n bietjie bly lê... net om die bokke kans te gee om rustig te bly, jy weet. Die voordeel van die sterk wind was dat hulle nie ons geploeg deur die gras of ons jaende asems kon hoor nie.

By die witgatboom gekom, het ons stadig oor die gras geloer. Die springbokk­e was agter ’n klomp bessieboss­e en nog onbewus van ons en ons kon steeds nie die ram sien nie. Ek en PW besluit toe om nóg nader te kruip tot by ’n volgende witgatboom. Dié boom was meer ruig en ons sou regop kon staan agter hom. Die geseil, geploeg en gehyg het weer begin en by die boom aangekom, het ons deur die verkyker na die ram gesoek. Die troppie het intussen in die gras gaan lê; net twee bokke het nog gestaan en wei. Die afstandmet­er het 118m gewys tot by die bok wat regs van die trop gestaan het. Die ram het ook in die gras gelê, maar ons kon nie sien watter kant sy lyf was nie en daar was ander bokke rondom hom. Die tak wat as stut gedien het, het só in die wind gewieg dat ’n kopskoot ’n te groot risiko was.

angstig wag

Al wat ons kon doen was om te wag vir die ram om op te staan. Dit het egter nie gebeur nie. Ek het voorgestel ons kruip nog nader, want op 80m kon ons dalk ’n skoot uit ’n ander hoek kry. PW se gesigsuitd­rukking het egter duidelik gewys hy is bang die bokke hoor ons. Toe besluit ons op ’n ander plan. Ek sou met ’n wye draai regs om beweeg tot by ’n boom so 50m van die bokke af. Daar sou ek die bok skiet indien ek ’n skoot kry. As hulle my egter sien en opstaan, sou PW regstaan en die ram skiet.

My geseil, geploeg en gehyg het weer begin. Dié keer baie stadig. Dit was natuurlik glad nie omdat ek moeg en lyfseer was nie, bloot sodat die bokke my nie moes sien nie, verstaan. »

» Ná wat soos ’n uur gevoel het, was ek uiteindeli­k by die boom en kon ek stadig oor die gras loer. As ek toe die bokke die skrik op die lyf gejaag het sou ek baie vies vir myself gewees het.

Die ram het steeds tussen die ander bokke gelê, daar was dus geen kans op ’n skoot nie. ’n Kameeldori­ngboom nader aan die bokke, maar verder na regs onder die wind, kon dalk ’n beter kans bied en ek het daarheen geseil. Daar gekom was dit egter dieselfde storie.

Ek het begin om om die boom beweeg, maar toe gewaar die bokke my en staan skielik op. Vanwaar ek gelê het, kon ek nie die ram sien nie en was bevrees dat die bokke weer sou weghardloo­p.

In my gedagtes het ek gepleit: Asseblief mag die ram só staan dat PW ’n skoot kry. Asseblief PW, skiet! Asseblief!

Toe klap die skoot en ek kon duidelik hoor dis ’n treffer. Die bokke het weggesprin­g, ’n entjie gedraf en vasgesteek, maar ek kon nie die ram tussen hulle sien nie. PW het opgestaan en begin stap in die rigting waar die bokke gestaan het. Ek het sy voorbeeld gevolg en kort voor lank die bok op die grond sien lê.

PW het verduideli­k hoedat hy, toe die bokke opstaan, self agter die boom moes uitstap om ’n skoot te kry. Hy het toe sommer so uit die vuis geskiet. Werklik ’n baie netjiese skoot in die omstandigh­ede. Ek en my vriend het blad geskud. Dit was net na elfuur – ons het ’n bietjie meer as drie ure gejag.

Ná die fotosessie het ons die springbok bakkie toe gedra. Ons bekruipery het ons byna reg rondom die kamp geneem en die bok is uiteindeli­k geskiet nie ver van waar ons die bakkie gelos het nie. Die oggend se aktiwiteit­e het egter sy tol geëis en die draery het ook in sarsies verloop.

Terug by die huis het die ram 26kg uitgeslag. Toe kon ons ook sien waar die InterLock naby die rugwerwels getref het. Daar was ’n bietjie skade aan die rugbiltong en die bokant van die een rib, maar die belangriks­te was dat die bok dadelik gedood is.

Die maatband het gewys die bok se horings was netnet duskant 14”. PW het egter steeds besluit om ’n skouermont­ering van dié ram te laat maak. Dis nie altyd die lengte van die trofee nie, maar die herinnerin­ge aan die jag wat dit die moeite werd maak.

As ons eendag die ram teen die muur sien, sal ons terugdink aan daardie dag tussen die witgatbome en die bessie en pypsteelbo­sse. Ons sal altyd onthou hoe hard ons moes seil, ploeg en hyg voordat ons sukses kon behaal.

 ??  ?? PW met die ram waarna ek in die artikel verwys. Let op na sy netjiese .303.
PW met die ram waarna ek in die artikel verwys. Let op na sy netjiese .303.
 ??  ??
 ??  ?? Hier sit ek by PW met my .303 in sy oorspronkl­ike vorm.
Hier sit ek by PW met my .303 in sy oorspronkl­ike vorm.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa