SA Jagter Hunter

Naby aan die hemel

- Koos Barnard

Ons het hoog geklim, ek en Eunia, totdat ons die Knapsakriv­ier ver onder ons deur die berge kon sien kronkel. Dit was winter en soos die meeste riviere in SuidAfrika was die Knapsak droog. En tog het dié rivier ’n hele aantal blink juwele oral in sy kronkels weggesteek – helderblin­k waterpoele wat spieëlglad in die diep voue van ruwe klowe lê en skuil het.

Vanaf ’n nekkie naby die kruin van die berg was die uitsig pragtig en ons het vir lang minute net doodstil gesit en die skoonheid van die bergwêreld ingedrink. Toe hoor ek dit... die fyn gekletter van klippe wat liggies versteur word. Ons het begin soek en oomblikke later die troppie Hartmannbe­rgsebras gesien wat asof uit die niet verskyn het. Hulle was skuins bokant ons en duidelik op pad af na die diep kloof wat die Knapsakriv­ier met eeue se geduld gekerf het. Daar was ’n vul onder die troppie en soos hulle nader beweeg het, kon ons hoor hoe een of dalk meer van die grotes by tye saggies runnik. Dit het amper soos ’n soort gerusstell­ing geklink, so asof die grotes die vul wou aanmoedig om die ruwe terrein baas te raak en hom gerus te stel dat hulle daar is om die pad te wys.

Ons het vasgenael gesit en kyk hoe die troppie minder as 100m bo ons verbybewee­g en in die kloof af verdwyn.

Hierdie klompie was veilig, want ek het reeds vroegoggen­d ’n sebra geskiet.

'N IKOON

Die Hartmannbe­rgsebra is vir my een van die ikone van ons jagvelde. Seker omdat ek die geharde diere in die ou Suidwes, my geboortela­nd, leer ken het – in die Khomas Hochland waar oom Hugo Kritzinger geboer het. Ek was toe nog ’n jong kannetjie en kon hulle dus nie self daar jag nie, maar oom Hugo het verskeie kere vir ons van hulle biltong gegee en dié was vrek lekker. Ek sou graag een van hierdie streepdonk­ies in hul natuurlike gebied wou jag, maar dinge het net nooit so uitgewerk nie. Verlede jaar het ek egter die geleenthei­d gekry om ’n Hartmann naby Philippoli­s in die Vrystaat te jag. My bestemming was Otterskloo­f Private Game Reserve wat aan Abel Erasmus behoort. Hy is die man wat die oorspronkl­ike Wintershoe­k »

» Safari’s begin het (dis suid van Kimberley geleë) en later dié plek aan die regering verkoop het. Vandag staan die ou Wintershoe­k bekend as die Mokala Nasionale Park. Toe Abel Wintershoe­k agterlaat, het hy Otterskloo­f bekom wat 14 000ha groot is en gedeelteli­k aan die Vanderkloo­fdam grens.

Die topografie van Otterskloo­f is divers – dit bestaan uit wye, oop vlaktes, ranteveld, droë lope met digte bos en dan die bergveld hoe nader jy aan die Vanderkloo­fdam beweeg. Laasgenoem­de met sy hoë koppe, berge en diep klowe waardeur die Knapsakriv­ier moeisaam beur, is veral vir my pragtig.

Abel het jare gelede ’n klompie Hartmannbe­rgsebras op Otterskloo­f gevestig en hulle het met rasse skrede in getal toegeneem. Dis nou wel nie Suidwes nie, maar Otterskloo­f is só pragtig dat ek glad nie omgegee het om my bergsebra daar te jag nie.

Ek en Eunia het vroegoggen­d op Otterskloo­f aangekom en is na ontbyt dadelik na die 300mskietb­aan toe om te kyk of my gewere nog skiet waar ek mik. Vir die sebra het ek besluit om my .3006 te gebruik en ek het dié ou sanna met 110gr Barnes TTSXkoeëls gelaai. Dis ’n ligte koeëltjie vir so ’n groot dier, maar ek het baie vertroue in my .3006 en weet uit ondervindi­ng dat dié Barneskoeë­ltjie uitstekend penetreer. As ek dus die groot skouerbene vermy, was ek seker dat die 110greiner sy werk sou doen.

Op 200m het die Barnes’e, wat die loop teen 3 000vps verlaat, mooi gebondel. Ek was tevrede en ons is veld toe... berge se kant toe. Otterskloo­f het geen binnedrade nie, dus loop die wild net waar hulle wil. Die grootste uitdaging sou dus wees om die sebras betyds op te spoor, aangesien ek slegs twee jagdae tot my beskikking gehad het. Ons het lang ure agter die verkykers deurgebrin­g, ver gestap, weer gesoek met die verkykers en weer gestap. Maar van die bergsebras was daar geen teken nie. Dit was reeds laatmiddag toe ons moeg en effens voetseer weer by die

bakkie aankom. Alhoewel ons nie suksesvol was nie, het ons die dag terdeë geniet en verskeie diersoorte gesien – koedoes, swartwitpe­nse, blouwildeb­eeste, waterbokke, blesbokke, springbokk­e en duikers. En die natuurskoo­n was van so ’n aard dat ek by tye skoon vergeet het om te jag... ek wou net sit en kyk en kyk.

Daardie aand het ons ’n nuwe strategie beplan. Ek sou die volgende dag donkerogge­nd alleen veld toe gaan. Met sonop wou ek reeds hoog teen een van die berge sit en met die verkyker soek.

VROEG VELD TOE

Die Ford Ranger se ligte het die pad gewys toe ek sy neus skuins na ses veld toe wys. Op pad na die afdraaipad wat jou deur die berge neem, ry jy langs ’n operige vlakte met ’n groot gronddam verby. Dis ’n paar kilometer van Otterskloo­f se hooflodge waar ons gebly het en in die vuil skemer het ek skielik ’n aantal groot diere regs van die pad (die dam se kant) opgemerk.

Ek het stilgehou en my verkyker uitgehaal... die Leica het die vuilgrys uit die oggendskem­er geneem en ek kon duidelik waarneem dat die nege diere op die vlakte ’n troppie bergsebras was. Hulle was van die dam af op pad terug na die berge toe aan die linkerkant van die pad. Terwyl ek hulle dophou het die klompie begin hardloop, die tweespoorp­ad sowat 50m voor my gekruis en koers gekies berg toe. Aan die voet van die berg het hulle gestop en daar minute lank getalm voordat hulle die steilte stadig begin klim het. Dit het nou vinnig lig geword en soos hulle hoër klim, kon ek sien dat die sebras ’n goedgebrui­kte voetpad gebruik wat na ’n nek toe lei. Eens daar, het hulle tydsaam gedraal en toe uiteindeli­k oor die nek verdwyn.

Teen hierdie tyd was my geweer al uitgehaal en die magasyn vol patrone. Ek het begin drafstap na die berg toe wat seker so 300m van die bakkie was en toe met mening begin klim. Skaars halfpad teen die helling op moes ek eers rus. Klim stadiger, het ek myself gemaan. As jy oor die nek loer en die sebras is binne skietafsta­nd, gaan jy te uitasem wees om te skiet.

Dit het langer geneem as wat ek gedink het om die nek te bereik, want die helling was steiler as wat dit gelyk het. Met ’n asem wat erg stoomtrein, het ek plat gaan sit en die helling onder my bestudeer. Daar was ’n breë kloof voor my en aan die verste kant daarvan ’n hoë rant. Na regs het die kloof nouer geraak en tussen die hoë rant en die berg waarop ek gesit het, verdwyn. Die voetpad wat die sebras gevolg het, het na regs gedraai en skuins teen die helling af gelei na die deel waar die kloof tussen die rant en berg verdwyn. Ek het die kloof op en af gefynkam, maar kon niks sien nie.

Verder regs van my het die skouer van die berg en hoë bosse dit moeilik gemaak om die hele kloof te sien tot waar dit tussen die berge verdwyn. Die sebras se vars spore het gewys dat hulle al met die voetpad bly stap het, dus het ek na ’n paar minute versigtig met die paadjie langs begin aanstap. Na skaars 50 of 60 treë het ek drie rooibokke net onder die paadjie sien staan. Dit was nou al lig, met die eerste sonstrale wat begin leklek het aan die berge bokant die kloof. Ek was nog in die skaduwee en die rooibokke het my dalk nie goed geïdentifi­seer nie, want hulle het op skaars 100m doodstil na my staan en kyk. Al wat ek kon doen, was om te gaan sit en te wag. Hardloop hulle, sou dit die sebras, wat ek gehoop het nog iewers onder in die kloof was, beslis waarsku.

AANBEWEEG

Na wat soos ure voel, het die drie rooibokke geluidloos, maar betreklik vinnig na links teen die helling begin afstap kloof se kant toe. Dankie tog! Ek is weer met die voetpad langs en na ’n verdere 100m of so kon ek die hele kloof mooi sien tot waar dit verdwyn. En daar, amper waar die kloof om ’n bergpunt verdwyn, het ek vyf sebras sien staan. Hulle was houtgerus. Daar was genoeg bosse om my te verberg as ek gebukkend sou loop, dus het ek so vinnig as moontlik nader beweeg om die afstand tussen my en die sebras te laat krimp. Ek het kortkort gestop om te kyk of hulle nog daar is.

Toe ek weer stop, sien ek dat vier van die vyf begin aanstap het en op die punt was om om die punt van die berg te »

» verdwyn. My moed wou net in my skoene sak toe ek tussen die bosse deur die res van die troppie heelwat nader aan my onder in die kloof opmerk.

Ek het plat op my boude gaan sit en so vinnig en geluidloos as moontlik aangeskuif­el. My mikpunt was ’n groterig klip langs die voetpad vanwaar ek gehoop het om die oorblywend­e sebras goed in die oog te kry. Van daar af sou die afstand ook onder 200m wees.

By die klip aangekom, het ek my kort skietstokk­e vinnig oopgevou. Toe ek die geweer oor die stokke sit het die sebras luiweg begin aanstap. Ek het hulle dopgehou... heel agter was ’n hings en ’n mooi groot merrie. Die merrie het skielik vasgesteek, die hings het verby haar gestap en spoedig agter ’n paar bosse verdwyn. Die merrie het nog sowat vyf tree gegee en toe skielik plankdwars gedraai.

Ek het eers ’n breinskoot oorweeg, maar toe daarteen besluit. Maak ek ’n fout, kon ek dalk met ’n kwesdier sit en in daardie berge is dit baie maklik om ’n sebra te verloor. Dus het ek die kruishaar net bo die naaste voorbeen se elmboog geplaas en toe dit mooi stil lê, het ek die sneller versigtig gedruk. Die Barnes het met ’n luide “dup” getref en die boggelrugs­prong van die merrie het my vertel dat die koeël reg geplant was.

Sy het woes weggesprin­g, maar ná skaars 10m skielik begin wankel, nog ’n paar wankeltreë gegee en toe neergeslaa­n. Ek het seker goed ’n minuut doodstil gesit, reg om weer te skiet, alhoewel ek geweet het dit sou oorbodig wees. Toe het ek opgestaan en stadig nader gestap om by haar te gaan kniel. Dit was skuins ná agt, net mooi ’n uur sedert ek die bakkie verlaat het. Die skietafsta­nd was 162m.

Toe ek haar omrol, het ek die Barneskoeë­l onder die vel van die verste blad sien bult. Ek het dit uitgesny en die perfek omgeklinkt­e koeël in my hemp se bosak gesit. Daarna het ek ’n paar foto’s geneem en by die sebra gesit totdat die hele kloof in son gebaai was. Toe is ek stadig oor die berg terug na die Ford toe om die werkers te gaan haal sodat ons my bergsebra kon laai.

Ek en Eunia is middelogge­nd ’n ander berg uit waar ons die troppie sebras dopgehou het en later die middag het ek een van die reusevlakt­es besoek waar ek ’n blesbok op 284m geskiet het, weereens met ’n 110gr Barneskoeë­l. Die aard van die vlakte het dit onmoontlik gemaak om nader te bekruip.

TERUG VIR SPRINGBOKK­E

Later in die jaar is ek weer Otterskloo­f toe. Hierdie keer om twee springbokk­e te skiet. Dit het my weer amper twee dae geneem omdat ek beide in oop wêreld bekruip het. Die eerste bok is op 143m geskiet en die tweede een op 201m. Vir hierdie bokke het ek weer my .3006 gebruik, maar met 150gr Nosler AccuBondko­eëls gelaai.

Otterskloo­f bied luukse en minder luukseverb­lyf in drie verskillen­de lodges aan. Ek en Eunia het onsself bederf en in die hooflodge gebly en glo my, die diens is puik. Die bestuurder, Henno Cronjé en sy span mense is vriendelik en behulpsaam. As jy soggens veld toe gaan, word daar vir jou ’n koelboks gepak met eet en drinkgoed. Abel Erasmus en sy seun, Abel jr. wat ook nou betrokke is by Otterskloo­f, is mense wat aan hoë standaarde glo en die hele opset by Otterskloo­f getuig daarvan. Die slag en koelfasili­teite is uitstekend en jagters kan hul vleis op die plaas laat bewerk, aangesien daar ’n slaghuis is wat deur Wynand Brits bedryf word.

Daar is altesaam 32 wildsoorte op Otterskloo­f en Abelhulle is ook betrokke by die teel van skaarswild en buffels. Ek het my besoeke aan Otterskloo­f baie geniet en beveel hierdie jagbestemm­ing met groot vrymoedigh­eid aan. Daar, in die oop ruimtes en op die berge, daal ’n groot rustigheid oor my neer en voel ek werklik naby aan die hemel. • vir meer inligting kontak Otterskloo­f by 051-773-7017 of e-pos Hester by info@otterskloo­f.com

 ??  ??
 ??  ?? BO: Die Hartmann-bergsebra wat ek op Otterskloo­f gejag het.REGS: Let op die perfekte omgeklinkt­e 110gr Barnes TTSX-koeël met ‘n ongevuurde een langsaan. Die 150gr Nosler BT heel regs verleen skaal.
BO: Die Hartmann-bergsebra wat ek op Otterskloo­f gejag het.REGS: Let op die perfekte omgeklinkt­e 110gr Barnes TTSX-koeël met ‘n ongevuurde een langsaan. Die 150gr Nosler BT heel regs verleen skaal.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BO: Die kenmerkend­e patroon van die strepe op die sebra se kruis – dié patroon is eie aan bergsebras. ONDER: Sebras het hierdie eelte aan die binnekant van die voorbene.
BO: Die kenmerkend­e patroon van die strepe op die sebra se kruis – dié patroon is eie aan bergsebras. ONDER: Sebras het hierdie eelte aan die binnekant van die voorbene.
 ??  ??
 ??  ?? Bergsebras­pore en -hoef – die .30-06-patroon verleen skaal.
Bergsebras­pore en -hoef – die .30-06-patroon verleen skaal.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa