Dooierus – Jagters en vuurtoringwagters
Hierdie load shedding van Eskom is op die ou end nie so ’n slegte ding nie. Ja, natuurlik het dit ’n impak op ons vermoë om dinge gedoen te kry. Dis immers ampère wat die wêreld om sy as laat draai en wanneer hulle eensklaps opdroog, ruk byna alles waarmee ons besig was tot stilstand. ’n Mens skrik skoon as die magtelose kragloosheid op jou toeslaan.
Maar wat ’n mens eintlik bangmaak, wanneer die hyskraan halfpad loop hang met ’n vrag beton en die ligte verdwyn skielik in die donker en die radio raak stom en die yskas hou op rammel en die wasmasjien verstik en die rekenaar staak by driekwart afgelaai, is dat jy dan dink aan hoeveel ander mense op daardie einste oomblik ook die president se naam ydelik gebruik, en jy dan besef hoe ernstig ons nasionale bok in die pens gekwes is.
Wie en wat word nie alles geraak nie? En wie is daar hoegenaamd wat nie geraak word nie? Is daar ooit iemand? Wel, die armstes, miskien. Dié wat na aan die grond leef en nie kragafhanklik geraak het nie. Hulle word miskien nie geraak nie. Wie nog? Skepe ter see? Dasseneiland se vuurtoringwagter?
O, die mense wat op afgeleë plase bly, seker. Hulle het mos in elk geval nie Eskom nie, so hulle maak maar self ’n plan. En kampeerders in die wildernis, natuurlik, en seker ook enigeen wat op daardie stadium êrens buite in die veld met ’n projek of ’n taak of iets besig is. Hulle word waarskynlik ook nie juis geraak nie.
OK, so wie is daar wat op afgeleë plase kampeer en buite in die veld besig is? Ons, natuurlik! Jagters! Waar kan ’n mens dan nou lekkerder sit en load shed as teen ’n rantjie êrens, ná ’n lekker dag in die veld, terwyl jy met ’n koue enetjie in die hand kyk hoe die son sak oor ’n wye, wye landskap? Jy sit lekker loslit daar, met ’n dorp se liggies wat doer in die verte eeneen begin
Dis hoekom ek sê die hele load shedding ding is eintlik nie so sleg nie.
aangaan, so asof hulle jou probeer herinner aan huis en werk en al die gejaagde dinge wat tuis weer op jou wag.
Onder by jou kamp hang die biltongdrade vol. ’n Windjie vanaand sal net die ding wees om daai vleise bietjie aan te help, sit en dink jy. Jy lek jou vinger nat en hou hom in die lug om te probeer peil van watter kant af die aandluggie kom. Dan sluk jy die laaste bietjie bier uit jou blikkie en kyk vir oulaas oor die vlak voor jy opstaan om te gaan vuur aansteek. Skielik, terwyl jy nog vir hulle kyk, verdwyn die dorpsliggies net. Poef. Weg.
Dit moet wraggies alweer beurtkrag wees. Die arme mense! Net mooi die tyd wan neer almal ligte nodig het, wanneer aandete aan die kook is, die kinders televisie kyk, pa in die garage doenig is, en die ouens rugby oefen onder die spreiligte waarvoor die klub twee jaar lank worsbroodjies verkoop het om geld in te samel. Ai!
In die koel skemer van die aand stap jy rantaf na jou kamp toe. Langs die pad pluk jy ’n paar droë grassies en ’n handvol fynhout. By die kamp kry jy jou grondvuurtjie lekker aan die gang, dan sprinkel jy jou geheime muti oor die braairibbetjie, vou jou stoel oop en dan gaan sit jy. Jou tent met jou kooi net hier neffens, lantern aan die boom, voete na die vuur en oë na die maan.
Hmmm... Jy kreun behaaglik en rêeeeeek jouself uit en dan sê jy – sommer hardop vir jouself “nou sit ek darem lêeeeeekker. Eskom se moer.”
Ja, dink net; dis net ons jagters en die bosboere en die armes en die vuurtoringwagters wat nie hande in die lug gooi en liederlik aan die vloek raak die slag wanneer Jan van Riebeeck die krag afsit nie. En ons is nogal ’n interessante lotjie bymekaar as ’n mens daaroor dink. Almal na aan die aarde, almal geanker, almal – weliswaar minder of meer so – gestroop. Nogal ’n lekker gelykmakende gedagte, nè?
Maar dan besef jy, wanneer jy so luister na die yskas vol lekkertes wat daar in die bakkie staan en brom, en jy kyk al jou kampgeriefies so deur, dat dit met die armes waarskynlik nie so lekker gaan nie. En jy besef ook dat die boere hier heeljaar met enjins en laaiers en sonpanele moet regkom, terwyl jy volgende week terug is by lugreëling en ’n mikrogolf.
En dan dring dit tot jou deur, daar waar jy so lekker agteroor sit terwyl die ribbetjie sy eerste sissende druppe begin drup, dat die jagter eintlik die enigste ware bevoordeelde is van Zuma se Donker Uur. Ons, en miskien die vuurtoringwagters, maar ek kan nie namens hulle praat nie.
Dis hoekom ek sê die hele load shedding ding is eintlik nie so sleg nie. Want dit voel darem wraggies salig om ’n slag die uitverkore, onbenadeelde, spesiaalbegunstigde ontvanger van iets van regeringskant af te wees.
’n Bietjie erkentlikheid hiervoor is dan seker in orde.
Dankie daarom, eerbare President van ons geliefde land, dat u in al u wysheid en onbaatsugtigheid, met u onmeetbare versiendheid en insig, in hierdie tye spesiaal aan ons gedink het. Sulke toewyding stem ons weereens tot diepe dank en nadenke. As blyk van waardering stuur ek daarom vir u ’n pakkie heerlike hiënabiltong. (Dis nogal besonder geurig – kom van my vriend Kallie se plaas af waar die koelkamer se masjinerie opgepak het na ’n kragonderbreking.)
Geniet dit!