In my visier
Dit was ’n lang, warm dag en ek was bly vir die effense lafenis wat die koeler aandbriesie gebring het. Die doringhoutvuur se rokie het luiweg sterre toe gekronkel terwyl die dag vir oulaas op die horison gehuiwer het voor hy kooi toe gaan. Die donker het stilletjies deur die bome nader gesluip tot die nag swart rondom my gelê het. Dit was doodstil behalwe vir die gerusstellende “prrrrpprrrp” van die skopsuiltjies en die vriendelike geknetter van die vuur.
En toe, skielik, het daar uit die donker ’n gevlekte ooruil diep gesteun. Dis ’n geluid wat normaalweg ’n diepe vrede oor my bring, maar op hierdie aand het dit my half swaarmoedig gemaak. Miskien omdat ek die hele dag lank al gestoei het met vraagstukke waarvan ek die antwoorde glad nie ken of kan voorspel nie.
Daar is ’n hewige gebrom in ons wildbedryf. Soos ek verlede maand genoem het, is dit duidelik dat die wet van die ou Transvaal hierdie jaar en seker ook in die afsienbare toekoms op die loer lê vir die jagter. Wild is duur en baie jagters mor. Wildboere daarenteen vra dat hulle, wat vir baie jare aan die agterspeen gesuig het, die geleentheid gegun moet word om ook ’n slag pap te skep.
Almal is bewus daarvan dat wildtelers deesdae groot bedrae geld spandeer aan en maak uit die intensiewe teel van gewone wild, skaarswild en kleurvariante. En dis hieroor dat die manne aan weerskante van die draad vuiste bal vir mekaar. Jagters voel hulle word uitgebuit, wildtelers sê dis hoog tyd dat mense die ware waarde van wild besef. Sommige mense meen die teelbedryf is ’n ekonomiese borrel wat gaan bars en selfs Anton Rupert het gewaarsku dat jy nie jou spaargeld daarvoor moet gebruik nie. Wildboere sê dat die huidige oplewing in die wildmark deur vraag en aanbod gereguleer sal word en dat pryse wel sal daal namate die mark versadig word. Hou goeie moed, sê hulle, julle sal weer bekostigbare wild kan skiet in die toekoms.
Behalwe vir die ongelukkigheid oor die buitensporige wildpryse is daar ook diegene wat voel dat sekere metodes van die wildtelery en die hele aspek rondom die kleurvariante nie altyd tot voordeel van ons wild se biodiversiteit en ons aansien as jagbestemming is nie. Die SAJWV voel so sterk daaroor dat die president en hoofuitvoerende beampte onlangs ’n persverklaring uitgereik het. Daarin bevraagteken hulle sekere aspekte van die teler/wildbedryf, waarsku teen die gevare van sekere boerderymetodes wat telers volg en vra hulle dat die staat moet ingryp om die bedryf te reguleer.
Ek deel die SAJWV se bekommernis oor sekere aspekte van ons wildbedryf, maar ek wonder of hulle nie eers met mense soos WRSA om ’n tafel moes gaan sit het en die saak probeer uitpluis het nie. Is daar genoeg gedoen in die verlede om die SAJWV se standpunt aan WRSA en ander wildboere oor te dra? En het WRSA genoegsaam gereageer op die vrae wat die SAJWV in die verlede gestel het?
As jy enige boer rooi wil laat sien, moet jy die woorde “boerdery” en “staat” in dieselfde asem noem. Die grondkwessie en staatsinmenging is deesdae hoogs emosionele onderwerpe. My vraag is of ons die staat, wat oral in die spervuur is oor korrupsie, swak diens, nepotisme en ’n hele klomp ander negatiewe goed, moet probeer insleep in ons wildbedryf.
Jagters, wildboere en jagtersvereni-gings sal moet hande vat in die toekoms. Ons sal mekaar in die oë moet kyk en reguit praat. Almal sal dalk ’n toegewing of twee moet maak, maar bowenal sal ons moet laer trek en saamstaan. Anders stel ons die hele wildbedryf in gevaar en kan ons dalk eindig met ’n situasie waar die staat in die toekoms eensydige besluite neem namens die jagter én die wildboer. Of is ek nou heeltemal te swartgallig?