WÊRELDEND ’N LEKKER PLEK
Ek kon nie glo iemand anders jag ook op Wêreldend nie (Februarieuitgawe: Phalaborwa tot Wêreldend). My swaer, Tobie en Jabes du Toit (van Wêreldend) is al vir baie jare vriende. Tobie jag gereeld daar en as Jabes iets nodig het wat skaars is, vat my swaer dit vir hom met die volgende jag... soms in ruil vir bokke.
Ons was in Mei 2013 daar. Tobie het toe juis vir Jabes ’n nuwe silinderkopstuk vir die Uri saamgeneem. Op Wêreldend kan jy duidelik sien ’n boer móét ’n plan maak. Alles in die plaashuis word deur ’n massiewe sonpaneel en ’ n magdom batterye aangedryf. Die koelkamer werk met ’n Listerdieselenjin.
Jabes se sogenaamde bestuursvernuf agter sy Uri se stuurwiel kom van jare se tydrenne en op die plaas staan sy Sandmaster langs die huis.
Ek was verstom om te sien daar is feitlik geen plantegroei nie – slegs hier en daar ’n ou kameeldoring of witgatboom. Tog is Wêreldend op sy eie manier mooi en vol lewe – daar draf bedags ’n magdom bakoorjakkalsies rond.
Ons het in die duine gejag. Jabes het ’n unieke manier om gemsbokke op te laai: Hy ry agteruit tot teen die bok en trek dan teen volspoed weg. Die Land Cruiser grawe sodoende tot op sy as in die sand in. Die bok word gelaai en Jabes trek normaal in 4x4 weg. Hy het ook ’n interessante manier om springbokke te laai: Die bene booor die boonste tralie en terug deur die volgende een. So hang die bok aan sy eie bene en is daar nie bloed op die bakkie se bak nie.
As dit nie vir die afstand was nie, het ek beslis meer gereeld op Wêreldend gekom.