SA Jagters se hofaansoek teen die Minister van Polisie
Teen hierdie tyd is dit reeds redelik wyd bekend dat SA Jagters besluit het om ’n hofaansoek te bring teen die Minister van Polisie oor die hernuwing van Vuurwapenlisensies. Artikel 24 van Wet 60 van 2000 soos gewysig, bepaal dat alle “nuwe lisensies” wat sedert 2006 uitgereik is, hernu moet word. Hierdie hernuwingsaansoek moet ingevolge die Wet ingehandig word minstens 90 dae voordat die bestaande lisensie verval.
In beginsel handel die hofaansoek met die grondwetlikheid van die Polisie en die Sentrale Vuurwapenregister se standpunt dat waar ’n lisensie verval het en daar nie betyds ’n aansoek om hernuwing van die lisensie ingedien is nie, die wapen ingehandig moet word by die naaste polisiestasie vir vernietiging.
Die Wet maak op sigself geen spesifieke voorsiening vir so ’n besluit nie en magtig die Polisie ook nie om so ’n besluit te neem nie.
Sedert 2011 het ongeveer 175 000 of dalk selfs meer vuurwapenlisensies reeds verval waarvoor daar nie aansoeke om hernuwing ingedien is nie. Die meeste van hierdie wapens is handwapens, aangesien die lisensie vir ’n selfverdedigingswapen, wat bykans uit- sluitlik handwapens is, slegs vir vyf jaar geldig is. Dit het grootliks gebeur omdat eienaars van hierdie vuurwapens doodgewoon vergeet het dat dié lisensies ’n beperkte leeftyd het van slegs vyf jaar en nie na die vervaldatum opgelet het nie.
Hierdie wapeneienaars is geensins kriminele nie, hulle het geen kwade bedoelings gehad nie en het doodgewoon vergeet van die hernuwing van die lisensie. Net so is die wapens ook nie in enige kriminele optrede gebruik nie en is daar geen kwade bedoelings met die wapens nie.
Dit gebeur gereeld dat mense vergeet van die vervaldatums van voertuiglisensies en bestuurderslisensies wat elkeen ook ’n beperkte leeftyd het. In hierdie gevalle word die lisensie hernu indien die persoon ’n administratiewe boete betaal en word die individu nie van sy eiendom (die motor) ontneem nie.
Verder het die Polisie en die SVR sedert 2011 elke lisensieaansoek wat laat ontvang is, selfs so lank as vyf jaar nadat die lisensie verval het, ontvang, geprosesseer en die lisensie hernu, indien die eienaar aan die gestelde vereistes voldoen. Daar is letterlik duisende gevalle waar sulke laat aansoeke vir hernuwing van lisensies aanvaar is en die hernuwings van die
lisensies uitgereik is.
In Februarie 2016 het die waarnemende Kommissaris van Polisie egter ’n instruksie uitgereik aan alle polisiestasies om geen laat aansoek vir die hernuwing van ’n wapenlisensie in ontvangs te neem nie en om die betrokke aansoeker in te lig dat hy/sy onwettig in besit van die wapen is. In opdrag van die waarnemende Kommissaris word die wapeneienaar dan ook ingelig dat die wapen by die Polisie ingehandig moet word.
SA Jagters is van mening dat hierdie optrede van die Polisie nie wettig kan wees nie en het daarom besluit om die Hofaansoek te bring in ’n poging om die Wet gewysig te kry om die leemtes in die Wet reg te stel. Die hofaansoek is voorberei, geliasseer en die hofstukke op die onderskeie partye beteken. Die Hooggeregshof in Noord-Gauteng (Pretoria) sal hierdie aansoek op 25 en 26 April 2017 aanhoor.
Die koste van hierdie hofaan- soek is baie groot en word ten volle gedra deur SA Jagters en die lede van die Vereniging. Uiteraard sal elke wapeneienaar van wie ’n lisensie reeds verval het of nog gaan verval bevoordeel word indien SA Jagters ’n gunstige uitspraak sou kry in die hofaansoek.
SA Jagters wil daarom ook ’n geleentheid skep vir alle wapeneienaars om by te dra tot die koste van die hofaansoek waaruit hulle in alle geval bevoordeel kan word. Die Vereniging wil egter nie bloot net bakhand by die publiek gaan bedel nie. Daar is besluit om die insameling van bydraes tot die Regshulpfonds te doen by wyse van ’n donasie waarin elke persoon wat ’n by- drae maak tot dié fonds die kans sal staan om in ’n gelukkige trekking een van ’n aantal baie goeie pryse te wen.
Om ’n bydrae te maak tot die Regshulpfonds van SA Jagters en terselfdertyd outomaties in te skryf vir die trekking is uiters maklik. Gebruik die meegaande bankbesonderhede en betaal elektronies ten minste R100 in die Regshulpfonds se rekening. Vir elke R100 of veelvoude van R100 wat inbetaal word, sal daar vir die betaler ’n elektroniese kaartjie geskep word. Hierdie kaartjies word almal in ’n trekpoel geplaas en op 31 Maart en 26 April, die dag waarop die hofaansoek aangehoor word, sal die wenners dan getrek word. Jagpakkette word op 31 Maart getrek en die ander prys op 26 April.
Ons herhaal: Bydraes kan gedoen word deur bedrae in veelvoude van R100 elektronies oor te plaas na die bankrekening van SA Jagters se Regshulpfonds. As verwysing vir elke betaling moet jy die letter K en jou selfoonnommer verskaf.
SA Jagters sal die trekking doen en die gelukkige wenners van die pryse dan inlig deur die selfoonnommer wat jy as verwysing voorsien het, te skakel.
Die bankbesonderhede as volg: Die naam van rekening/houer: SA Jagters Regshulpfonds Bank: ABSA Takkode: 632005 Rekeningnommer: 134305406 Verwysing: K + selfoonnommer (niks anders nie) • Gaan kyk gerus na die advertensie op bladsy 51 van hierdie uitgawe van SA JAGTER/ HUNTER om meer inligting oor die beskikbare pryse en die borge te kry.
Gee ‘n donasie vir SA Jagters se Regshulpfonds en staan ‘n kans om een van ‘n aantal uitstekende prys te wen.