SA Jagter Hunter

Vloek van die lumen

- Deur HERMAN JONKER

Nog nooit in die geskiedeni­s was daar ’n ding wat sò besonder nuttig was, maar jou terselfder­tyd sò die koffie-afsaksel in kon maak nie. Nog nooit.

Loof, loof die LED. Voorwaar, hy’t die vloek uit flitslig gehaal!

Maar hy’t hom wragtig weer teruggesit ook. Want jy kry mos altyd ’n koplampkok­kedoor wat jou reg in die oë kyk.

“Het jy daardie bosnagaap gehoor?” vra jy terwyl jy rondkyk in die donker. “Huh?” sê hy en kyk verbaas na jou, skynbaar sonder enige besef dat die ligkanon voor sy kop jou so pas blind geslaan het.

Glad nie lekker nie. Behalwe dat jy jou maermerrie nerf-af val oor ’n stomp se punt in jou blindheid, voel dit soos daai slag toe die tandarts jou so liederlik van agter sy sonnestels­el bekruip het met ’n soetdoring­naald. Jy strip sommer jou moer.

Destyds toe ’n flitslig nog handgereed­skap was, het ’n mens hom outomaties ondertoe gemik. Om iemand in die oë te lig was in elk geval strafbaar met die plathand. Jy’t gelig waar jy wil loop of daar waar jy werk, nie oral waar jou kop draai nie.

Ek onthou daai ou blink Eveready-flitse. Sulke groot blomkoppe, met ’n riffelstin­gel waarin ’n ry batterye by mekaar gatkruip. Jy’t kortes gekry of langes, maar altyd met daai knoppie in die silwer blikskakel­aartjie wat tydig en ontydig (gewoonlik ontydig) nie na jou wou luister nie. Dan was dit die batterye wat uitgeloop het wat die kontakplaa­tjie of -veer opgevreet het, of die spul was nie styf genoeg vasgedraai nie, of dit was té styf vasgedraai, of die ou balpietjie was weereens daarmee heen.

Nie dat daar geweldig baie verskil was tussen ’n dooie gloeilampi­e en een wat brand nie. Selfs nuwe batterye kon soms net ’n geel liggie uit die ou blikkerige kers tower, want partykeer het hulle te lank op ’n kafee se rak gelê. En sou jy ’n inbreker of ’n ding slaan met so ’n flits was die lampie in elk geval in sy peetjie want die ou gloeidraad­jie het homself maklik morsaf geskrik. Hy was mos maar bewerig. Val jou flits, val hy hom dood.

Baie gevloek. Baie.

En toe kom die LED. En daar was lig.

Helderwit, nie meer geel nie. Of kleure en flikkers as jy wou. Flitse, lampe, koplampe, lanterns, tentligte, jagligte en selfs feetjielig­gies. Die kerse het hulle skoon uit die spens uit geskrik.

Wat ’n verbeterin­g! Gee daai man ’n Bells. Skielik hou die lampies en hou die batterye. Skielik sukkel ’n mens nie meer so nie. Maar skielik het ons ook blind geraak.

Omdat die wonderflit­se so uitstekend werk het ons hulle sedertdien oral begin aanwend. Donker word nie meer geduld nie. Tente gloei soos alienwonin­gs en om die kampvuur word die vleis gaar geskyn met ’n intensitei­t wat die boerewors in verblinden­de blou baai en ’n stuk rugstring so bleek soos ’n snoekmoot laat. Glad nie lekker nie. Nagsig – daardie subtiele sintuig waarmee die natuur ons geseën het – is besig om verlore te gaan. As dit donker raak, glo ons, moet daar lig gemaak word. Maar lig en donker is nie swart en wit nie. Tussen die twee lê talle nuanses van skemer waarin die diere steeds floreer, maar ons nou kwansuis ontuis voel.

Ons oplossing hiervoor moenie wees om deurgaans ons laaste bietjie skemersig dood te skroei met soekligstr­ale nie. Ons behoort ook ons sintuie beter te ontwikkel en in stand te hou.

Bekyk gerus maar weer daai ou geel vlammetjie­s van kers en lamp en lantern. Hulle het nog steeds hulle plek as die omstandigh­ede reg is.

Beloer jou braai ’n bietjie met ’n blaker in die hand en let op die ryk goue kleur van jou vleisies. Hoor hulle praat. Dis of jy instinktie­f meer in voeling is met hoe hulle braai, of die kers amper oorbodig is.

Of loop ’n slag weer met ’n lantern. Kyk hoe jy sweef in ’n sagte gloed wat inskakel by die donker. Jy stap nie agter ’n straal aan wat rukkerig en kleurloos die nag deurpriem nie. Jy sien miskien nie so duidelik soos met ’n koplamp nie, maar jy sien oral en jou nagsig is nie lights out wanneer jy dit skielik nodig kry nie.

Maar dis veral langs ’n kampvuur waar ’n swerm diodes gou oordadig raak. Hoekom mense so behep is met lig maak by ’n vuur, weet ek nie. Jy’t mos nie ’n koplamp of ’n toring LED’s nodig om ’n vlam te kan sien of die kole te beoordeel nie. ’n Vuur maak sy eie lig.

Rustig sit jy daar in sy gloed, gemesmeraa­is deur die dans van die vlamme. Hulle huppel en spring, elkeen ’n kortstondi­ge uitbarstin­g van energie, elkeen uniek. Onder hulle gloei die kole in die smeltkroes, in kleure van die son daar waar hulle op hul warmste is, op ander plekke weer vaal soos die môreryp. Van bas tot as in ’n duisend asems.

In vrede sit jy daar, gesus, gesalf en geborge. Ou herinnerin­ge word opgewarm en ’n paar nuwes word gebak. Die sagte flikkers streel en troos waar dalk nog letsels lê en hulle skyn by voorbaat lig in die dag van môre.

Salig ja – die wonder van vuur.

En as iemand dan nou so ’n slag skielik ’n voorkopvol LED’s op jou retinas rig?

Ek weet nie wat die regte ding is om te doen nie. Ek lees nie weten etiketboek­e nie. Ek is maar nog gewoond aan vloek.

Maar dis veral langs ’n kampvuur waar ’n swerm diodes gou oordadig raak. Hoekom mense so behep is met lig maak by ’n vuur, weet ek nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa