SA Jagter Hunter

Piet se Gebied

- Deur HERMAN JONKER

’n Vrou in die jagkamp?

Nie sommer nie, volgens Kassie. Altans nie sommer enige vrou nie. En dit het niks met seksisme te make nie. Dis net dat dinge te maklik omsit in moles.

Vat nou maar ’n weerligaan­d in die Strydpoort­berge, byvoorbeel­d.

As jy sonder raad daar sit, en sonder kar ook nog, is ’n honds- dol vrou nie iets wat jy by jou wil hê nie. Dis moles, so seker as wat ’n rooikat byt as jy hom aan die stert gryp.

Sy was hoeka ’n rooikop, daai vrou van Piet. Rondom skerp, dié Helena, met te veel grimering en te veel naels. Piet weer, was ’n goeie, rustige ou. Sout, klipsout, al het Helena duidelik sy kop al bles gesit.

Hoe dit gebeur het dat Piet en Helena in dieselfde kamp as Kas- sie en Karel beland het, was seker maar ’n saak van die noodlot.

Piet wou goedertrou ’n naweek bespreek in die bergkamp, na hy hom op een van Angus Buchan se saamtrekke voorgeneem het om volgende keer sy vrou saam te vat jagveld toe. Dié basiese tweetent-jagkampie het geklink na net die plek om die onredbare te probeer beredder.

“Jong, ons het klaar jagters in daai kamp vir daai datum,” het die boer gesê, “maar ek kan by hulle hoor of hulle dalk bereid sal wees om te deel.”

Twee dae later bel hy terug. Hy’t met Kassie gepraat en dié sê dis net hy en sy pa Karel, en hulle het nie ’n probleem daarmee nie.

“Bakgat,” het Piet gesê. “Dan maak ek vas vir daai naweek.”

“Het julle ’n vierbyvier?” het die boer gevra. “Jy kan nie met ’n

gewone ryding daar bo kom nie.”

“Nee,” het Piet geantwoord. “Maar my Corsa het ’n hot cam in.”

“Eh… kom dan maar tot hier in die werf,” het die boer gesê, “dan vat ek julle verder met die Cruiser. Die ander manne het in elk geval ook net ’n tweewielba­kkie.”

En so het dit ook gebeur. Toe Piet-hulle die agtermidda­g daar afgelaai word – Helena met ’n doringhaal oor haar arm waar ’n tak haar raakgeklap het – is Karel en Kassie klaar doenig by die ander tent. Hulle het al so twee ure vroeër aangekom.

“Piet van Tonder,” stel Piet homself voor toe Karel en Kassie oorstap om te kom groet. “En dis my vrou, Helena. Kom sit kêrels.”

Hulle kies om nie te sit nie. Nie met Helena wat met ’n vlieëgifka­nnetjie in die hand staan en vir Piet herinner hy moet nog ‘alles regkry’ nie. Hulle stap eerder maar terug na hul eie plek toe en begin daar ’n kampvuur pak.

Piet steek later ’n slag of wat sy duim in die lug daar van sy kant af, maar origens word daar nie gepraat nie. Dis asof daar ’n onsigbare grens gespan is rondom Piet se Gebied, soos Kassie dit noem. Eers teen sononder breek Helena die stilte, daar waar sy besig is om die tent se buitekant met ’n besem af te borsel.

“Ek kan nie glo dat hulle nêrens het waar ’n mens se foon kan opvang nie,” roep sy. “En het julle gesien hoe lyk dit daar by die stort? Daar’s nie eers lig daar nie. Dis grillerig!”

En dit is toe ook die laaste gesprek van die dag. Piet beduie ’n slag nog weer met sy duim, daar waar hy by sy eie vuur doenig is, maar daarna kom waak die donker oor die onsigbare grens.

Die volgende dag word daar gejag. Met twee aparte bakkies, op verskillen­de dele van die plaas. Piet en Helena een rigting in saam met ’n gids, en Kassie en Karel ’n ander.

Skuins na middag is Piet en Helena terug. Helena reguit badkamer toe, en Piet, na hy sy geweer gebêre het, peinsend in sy stoel onder die doringboom.

’n Halfuur na sononder word Kassie en Karel afgelaai. Na ’n draai onder die stort en ’n buk oor die yskas, stap hulle oor.

“Hoe’t dit gegaan?” vra Kassie toe hulle in Piet se vuurtjie se ligkring kom. “Jy iets gekry?” “Hy’t twee bokke mis geskiet,” kom dit kil uit die tent uit. “Sy geweer is nie reg nie.”

Piet skud sy kop. “Vrot ge- skiet. En julle?”

“Nee jong, darem drie bokkies dood van ellende. Te skielik te veel lood ingekry.”

Voor hulle nog verder kan praat, kom daar ’n roep uit die tent uit. “Pieeeeet! Kom hierso. Wat het jy gemaak met my vanity? Ek soek my Cutex. Kom help hier!”

“Skuus kêrels,” sê Piet en hy haas hom tent toe.

Kassie en Karel stap maar weer terug na hulle eie vuur toe.

Maar die heelal en die noodlot sweer saam, so op die tweede aand daar in daardie bergkampie.

Hoog bo rol lou seelug van Mosambiek af in oor die Laeveld. Die Lebomboheu­wels gee ’n bietjie skop aan die onrustige vogdeeltji­es, maar dis die magtige kranse van die groot eskarp wat hulle geduld finaal breek. Dit begin bliksem en donder dat Bosbokrand se hophuise kraak. En toe kom die wind, aan die voorpunt van die storm.

Piet en Helena se tentseil bult dat die aluminiump­ale eintlik kreun teen die aanslag. Helena se neksenings is net so gespan- ne, daar waar sy soos ’n laaistok in ski pants op haar tas sit. Net vir ’n oomblik het haar lip gebewe, nou trek daai pienkgever­fde bekkie dun.

“Ek weet nie vir wat ek na jou geluister het nie. Ek het gedink ons kan iets maak van die naweek. Nou bring jy my na hierdie godverlate plek toe. Ek moes...”

Haar silikoonsp­anspekke wip toe ’n weerligstr­aal skielik neerflits met ’n dawerende skeur.

“F*# jou van Tonder,” skreeu sy. Sy gryp na die tentpaal om haarself op te trek maar die paal knak in haar hand. Met dié vou die wind die hele tentmuur in en die dak duik agterna, net om onmiddelli­k weer met ’n knal te begin galop.

Fifty Shades of Grey vlieg van die bedkassie af en val oopblaaie op die grondseil. Die LED-lampie rol onder die bed in. In die donker gaffel die geknakte knie van die tentpaal na enigiets wat in sy pad kom.

Helena duik op die bed neer en trek haar kop toe. F*#f*#f*#f*#f*#… kom dit onder die kussing uit. Dit klink soos ’n stukkende lorrieband.

In Kassie en Karel se kamp is dit ook donker. In afwagting op die wind het hulle sand oor die vuur gegooi en nou sit hulle styf langs mekaar onder Kassie se baadjie en beleef eerstehand­s die woede van die stormwind.

“Hou vas,” sê Karel toe ’n tak kraak, en hy gee die baadjie »

Piet het nie juis dankbaar gelyk toe hulle met haar daar by die skewe tent aankom nie, hy’t net gesug en gesê, “Jammer, kêrels.”

» se mou aan vir sy seun. Hy vis sy mondfluitj­ie uit sy sak en lek sy lippe nat.

Fighting soldiers from the sky... begin hy met die eerste note van Ballad of the Green Berets.

“Parrampamp­am...” koor Kassie onder sy kant van die baadjiepan­t uit.

Fearless men who jump and die...

“Parrampam… hey, hier kom dit!” skreeu Kassie toe die eerste swaar druppels teen die baadjie klap. Hy spring op. “Kom Pa, ons kan in die tent verder sing!”

In die tent is dit egter Raindrops Keep Falling on my Head waarmee Karel die stortvloed op die seildak vier. Asof die note kalmte bring aan die storm, vind die reën sy reëlmaat. Water stroom van die dak af en in die agtergrond dreun die rammelende donder soos die applous van ’n skare.

Die volgende oomblik klap dit hier teen die tent. Sommer sulke duike soos iets teen die seil slaan.

Toe hulle die flap ooprits, staan daar ’n papnat Helena met haar tas op haar kop en ’n halwe bottel sjerrie in haar hand.

“Het julle vir my plek,” vra sy en duik binnetoe sonder om te wag vir ’n antwoord. “Piet se tent het omgeval. Ek bly nie langer daar nie.”

Twee glasies sjerrie later – wat duidelik nie haar eerste was nie – is dit ’n heel vriendelik­e Helena wat oorkant hulle op die ander bedjie sit. ’n Bietjie té vriendelik.

“Wie slaap hier?” vra sy en trek haar pienk naels oor die duvet. “Dis my bed,” sê Kassie. “Oukei... So, sê my Kassie, is jy getroud?”

Kassie gooi sy kop skuins en kyk vir sy pa.

Karel sit en kyk vir ’n mot daar bo teen die tentdak.

“Toe, sê vir my,” probeer sy weer. “Het jy ’n meisie?”

Sy’t vir haarself nog vier glase sjerrie gegooi voor die reën opgehou het en hulle haar uiteindeli­k onder Kassie se duvet kon uitkry. Piet het nie juis dankbaar gelyk toe hulle met haar daar by die skewe tent aankom nie, hy’t net gesug en gesê, “Jammer, kêrels.”

Toe Kassie en Karel terugstap, is die sterre weer sigbaar. “Lyk my die storm is darem nou verby,” merk Karel op.

Sy woorde het egter skaars grondgevat, toe bars ’n orkaan los daar in Piet se tent. Nog hewiger as wat die donderstor­m was. En dit hou nie op nie. Daardie nag maak niemand ’n oog toe nie, nie eers die mamba wat onder die klippe agter die watertenk bly nie.

Die volgende dag, onder in die papnat plaaswerf staan en skud die boer sy kop. Helena het toe al met die Corsa weggetrek dat die modder spat en Piet is uiteindeli­k ook daar weggehelp, tussen die karkasse agter in Karel se bakkie. “Dit was ’n fout,” sê die boer vir sy vrou. “Ons moet nooit weer bespreking­s meng nie.”

“Moet ons nie dalk maar net die kamp verdeel nie?” vra sy vrou van agter haar rekenaar. “Sit ’n heining op. Dit kan homself binne twee seisoene betaal.”

“Heng,” dink die boer, terwyl hy ketel toe stap om vir hulle tee te maak. “Is dit dan nou rêrig nodig?”

Maar die noodlot was nog nie klaar met Piet nie.

Elf maande later, ses maande na sy skeidatum, is Piet op ’n Woensdagag­termiddag gering met Karel se niggie. Die een met die warm hart agter daardie lekker knus natuurlike rondings.

En voor dít al, is die bergkamp vir ’n week bespreek – vooruit – vir drie jaar elke jaar. Op streng voorwaarde dat daar nie ’n heining opgesit word tussen Piet en sy bruid se kuierkamp en Karel en Kassie se slaapplek nie.

Want op die ou end het almal saamgestem: In ’n jagkamp moet daar nie verdelings wees nie. Ook nie onderskeid van geslagte nie. Daar moet net lekker mense wees.

 ??  ??
 ??  ?? Skets: Fred Mouton.
Skets: Fred Mouton.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa