Die Ruger en die rooibok
Van D Dirty Harry tot in die Bosveld, die .44 M Magnum bly ’n kaliber wat die verbeelding g aangryp.
Die droogte het die bos geknou, waar gras moes wees was daar net rooi sand en die meeste bosse was byna blaarloos. Iewers voor my het twee rooibokramme vir mekaar diknek gemaak – hul geblaas en diep keelgeluide het hulle weggegee. Dit was al laat in die jaar, paartyd moes eintlik al verby gewees het, maar die afgelope klompie jare het die wild se seisoene, nes die reënseisoene, deurmekaar geraak.
Alhoewel die bos steeds redelik ruig was, het die kaal bosse my laat wonder of ek naby genoeg aan die bokke sou kom, want ek was gewapen met my .44 Magnum Ruger Super Blackhawk-rewolwer. Met dié handwapen wou ek nie skote verder as so 60m waag nie en dan ook net as ek ’n goeie rus het. Vir daardie doel dra ek skietstokke saam wat ek vanuit die sitposisie gebruik.
Ek en my vrou, Eunia, het die vorige middag reeds ’n draai gaan stap en wel op ’n troppie rooibokke afgekom. Ons het hulle eerste gesien en plat gaan sit. Die bokke het in ons rigting beweeg, maar ongelukkig was die veld te oop en hulle het ons gewaar voordat die naastes binne my skietafstand was. Nadat ons lang sekondes vir mekaar gekyk het, het een ooi alarm gemaak en die troppie het laat spaander.
Nou was ek versigtig aan’t beweeg in die rigting waarin ek laas die ramme hoor blaas het. Die probleem in boswêreld is dat die onderste deel van die bosse en bome op baie plekke net stamme sonder blare is. Takke en blare begin eers min of meer op die mens se ooghoogte. Dit bring soms mee dat die bokke jou bene kan sien as jy stap maar jy nie die bokke kan sien nie – tensy jy die hele tyd gebukkend loop om onderdeur die takke te kan kyk.
Op my ouderdom wil jou rug nie meer aldag so aanmekaar “gevou” raak nie, dus het ek maar kort-kort gaan staan, onderdeur die takke geloer en dan weer normaal aangestap. Ek het egter voetjie vir voetjie beweeg. Hoe stadiger jy beweeg, hoe beter is die kans dat wild jou nie sal opmerk nie. Behalwe vir jou reuk, is beweging die ding wat jagters die meeste weggee.
BOKKE IN SIG
Na ’n ruk kon ek die rooibokke deur die takke sien beweeg. Twee dinge was aan my kant. Die bome het effens minder geraak en die bosse meer, baie waarvan die takke tot by die grond gereik het. Alhoewel die takke kaal was, was die bos dig genoeg om redelike goeie dekking te verskaf. Verder was die rooibokramme só doenig met mekaar dat hulle nie baie bedag was op wat om hulle aangaan nie. Dit het my die geleentheid gegee om ongesiens nader te sluip.
Eens naby genoeg aan die twee, kon ek ook ’n paar ooie sien. Die bosse was nou laag genoeg dat ek bo-oor hulle kon kyk as ek regop staan. Ek het dus half gebukkend vorentoe beweeg, my oë soekend na die ramme. Dit het vir ’n goeie minuut of twee doodstil geraak. Een ram het links weg beweeg... maar die ander een het in my rigting begin stap. Dit het my die geleentheid gegee om half agter ’n bos uit te kom en plat te gaan sit met die skietstokke voor my opgestel.
Toe die ram om die laaste bos kom, was hy ongeveer 45m weg. Hy het my gesien, maar kon my nie mooi eien nie, seker omdat ek gesit het. Die wind was ook in my guns. Dus het die rooibok my met ’n uitgerekte nek gestaan en betrag. Ek het die Ruger se haan oorgehaal en die ram het half geskrik vir die sagte klik-klik daarvan. Tog het hy bly staan.
Die Aimpoint se rooi kolletjie het oor die ram se bors gedans. Hy het effens skuins na my toe gestaan en ek het gemik waar die bors en nek bymekaar aansluit. Toe die rooi kolletjie se woeste gedans bedaar, het ek die »
» sneller gedruk. Die 200gr Nosler-koeël, aangedryf deur 11.5gr MP200, het die ram hoog die lug in laat boggelspring en hy het vervaard voor my verby gehardloop.
Ek het opgespring en hom agterna gekyk totdat hy sowat 30 treë verder tussen die bosse verdwyn het. Links van my het die bos gedruis soos die ander rooibokke die hasepad kies. Toe dit stil raak, het ek nog sowat vyf minute gewag en toe stadig op die ram se duidelike hardloopspoor aangestap. Hy het ongeveer 70m verder gelê. Ek sou later uitvind dat die koeël skuins bo-oor die hart is sonder om die groot are te raak. Dit het egter ’n groot gat in die long gemaak, die lewer deurboor en is toe verder in die pens in. Die 200gr Nosler het egter opgebreek. Ek het ’n stuk mantel in die lewer gekry, maar die res van die koeël het in die pens verlore geraak.
DIE LEGENDE
Die .44 Magnum is een van daardie kalibers wat die verbeelding aangryp (of dit het toe ek ’n jongeling was – vandag is daar veel kragtiger rewolwerkalibers). “I know what you’re thinking: ‘Did he fire six shots or only five?’ Well, to tell you the truth, in all this excitement I’ve kinda lost track myself. But this being a .44 Magnum, the most powerful handgun in the world and would blow your head clean off, you’ve got to ask yourself one question: ‘Do I feel lucky?’ “Well, do you Punk?” So vra Dirty Harry Callahan (Clint Eastwood) aan ’n krimineel nadat Dirty Harry ’n paar booswigte doodgeskiet het en hy en die oorblywende een mekaar konfronteer. Diegene wat jongmanne was in die 1970’s en 1980’s sal nog die Dirty Harry- rolprente goed onthou. In die 1970’s was die .44 Magnum wel nog die kragtigste rewolwerkaliber in produksie en die polisieman Dirty Harry Callahan het gereeld booswigte daarmee van kant gemaak.
Ek is seker baie van julle onthou nog die amper epiese woorde van Harry in die 1983-rolprent, Sudden Impact. ’n Booswig druk ’n handwapen teen ’n kelnerin se kop en dreig om haar te skiet. Harry Callahan mik na hom met sy Smith & Wesson Model 29 .44 Magnum en sê: “Go ahead, make my day”.
Dit kon dus nie anders nie, nadat ek gesien het hoe Dirty Harry met boosdoeners afreken, móés ek net ’n .44 Magnum hê. ’n Foto in Magnum- tydskrif se jaarboek van 1980/81 van die destydse mesmaker Piet Grey, wat met sy Ruger Super Blackhawk skiet, het dié begeerte net verder aangewakker.
Ek was toe nog ’n student op Stellenbosch en toe daar later boonop ’n artikel oor Ruger se New Model Super Blackhawkrewolwer in die Magnum verskyn, het ek die pragtige dubbelbladfoto van die twee rewolwers wat by die artikel geplaas is, teen die muur bo my koshuisbed vasgeplak. Ek het toe reeds geweet dat ek eendag net so ’n .44 Magnum-rewolwer sou besit. Min het ek egter geweet dat ek later vir Magnum as vryskut en vanaf 1997 tot Maart 2013 »
» as voltydse joernalis sou werk.
Die eerste .44 Magnum Ruger Blackhawk waarmee ek egter geskiet het, het aan ’n Stellenbosse dosent, Leon de Stadler, behoort. Nodeloos om te sê, na daardie enkele skoot was ek verlore. Toe Jacques Arzul van Gun O’ Clock in Stellenbosch my boonop eendag ’n paar skote met sy Smith & Wesson Model 29 laat skiet, was die koeël deur die kerk. Ek moes net die nodige fondse bekom om my .44 te kon koop.
Na my studentejare is ek weermag toe en tydens my eerste sewedae-pas het ek by Hugo van Zyl Sports in die Paarl aangeklop en my eie Ruger New Model Super Blackhawk gekoop. Met my volgende naweekpas, skaars ’n maand later, kon ek dié pragstuk gaan haal.
DIE EERSTE EEN
Die .44 Magnum is geskoei op ’n verlengde .44 Special-dop. Elmer Keith, die baie bekende Amerikaanse rewolwer- en geweer-entoesias (ghoeroe is seker ’n beter woord) wat gereeld met sy .44 Special-rewolwers gejag het, was een van die mense wat onderskeidelik vir Smith & Wesson en Remington aangemoedig het om ’n geskikte rewolwer in .44 Magnum te vervaardig, asook ammunisie daarvoor. Die eerste Smith & Wes- son Model 29 in .44 Magnum is op 15 Desember 1955 vervaardig en op 19 Januarie 1956 bekendgestel. Dit was te koop teen $140.
Ruger het hulle eerste .44 Magnum-rewolwers in November 1956 begin bemark. Die eerstes, wat geskoei was op Ruger se Blackhawks in .357 Magnum, het bekend gestaan as die Flattop, want die visier is nie beskerm deur “ore” aan die agterkant van die raam nie. Vanaf 1962 tot 1972 het Ruger die sogenaamde Three-screwmodelle gemaak – so genoem weens die aantal skroewe wat op die raam sigbaar was.
Hierdie ouer modelle was nie geskik om met ses patrone te laai en dan te dra nie, aangesien die hamer of haan direk op die slagpen gerus het en die skoot dus kon afgaan as die rewolwer op sy hamer val of ’n harde stamp op die hamer ontvang. Om dit aan te spreek het Ruger in 1973 ’n sogenaamde transfer bar- sisteem (skuifstang of -balkie) ontwerp wat verhoed dat die hamer in direkte kontak met die slagpen kom as dit in die rusposisie is. Van toe af is hierdie modelle die New Model Rugers genoem.
Die Super Blackhawk wat toe bekend gestel is, het ’n groter greep gehad, die silinder was nie gegroef nie en die agterkant van die snellerbeuel is haaks in plaas van rond gemaak. Die greepgedeelte is ook van staal in plaas van aluminium gemaak.
Met my Ruger New Model Super Blackhawk het ek heelparty bokke in die Noord-Kaap, waar ons vanaf 1985 tot in Maart 1998 gebly het, geskiet. Ek het eers die rewolwer met sy oop visiere gebruik, later ’n teleskoop daarop gemonteer en toe nog later sy loop, wat 7½” lank was, laat korter sny tot 4⅝” en hom weer met oop visiere gebruik. Met dié kortloop het ek jare lank gejag, meestal duikers, springbokke en blesbokke, wat ons in die digte vaalbosveld naby Daniëlskuil bekruip en op kortafstand geskiet het. Ook ’n jakkals wat ek met ’n fluitjie ingeroep het, het voor dié .44 Blackhawk geval. Die grootste bok wat ek met daardie rewolwer geskiet het (sy loop was toe al korter gesny) was ’n gemsbokbul. Ek het fabrieksammunisie van Norma gebruik wat met hul 240gr-koeël gelaai was.
Soms vang ’n mens onbesonne dinge aan en nadat ons vir ’n paar jaar in Durban gebly en ek vir Magnum gewerk het, het ek die Blackhawk verkoop. Skaars ses maande later was ek spyt. Maar soms glimlag die geluksgodin vir jou.
NOG EEN
Teen die einde van 2012 stap ek een oggend by Alan Henry se winkel, The Natal Gun Company in Amanzimtoti, in en daar lê toe ’n New Model Super Blackhawk in .44 Magnum op sy toonbank, glo een wat hy uit ’n boedel gekoop het. Nog voordat ek die Ruger opgetel het, het ek geweet dat ek dit sou koop. Die rewolwer was in ’n uitstekende toestand en ek het dit teen ’n weggeeprys gekry.
Ons het vroeg in 2013 na Pretoria verhuis en sedertdien het ek op geweerjag gekonsentreer met die gevolg dat ek min kans gekry het om met die Ruger vertroud te raak. Toe ek dit uiteindelik meer dikwels begin gebruik, was my oë al te swak om die oop visiere goed raak te sien. Dus het ek ’n Aimpoint dotsight op die Ruger laat monteer nadat Numenor in Pretoria vir my ’n spesiale montering gemaak het.
Ek het die Aimpoint vir ’n jaar of wat gebruik en in 2016 die rooibok gejag waarvan ek in die inleiding vertel. Die Aimpoint werk uitstekend, maar ek was ook nuuskierig om weer ’n teleskoop op die Blackhawk te probeer en het in Mei 2017 ’n 2-6x32 Bushnell-teleskoop met Warneringe op die Ruger gemonteer.
Kort daarna het ek besluit om met verskillende koeëls te eksperimenteer. Ek wou die ligste koeël gebruik wat goed genoeg penetreer om wild tot in die hartbeesklas te kan jag. Swaar koeëls, gelaai teen maksimum lading was nie ’n opsie nie, aangesien die monteerbasis slegs deur twee skroefies aan die raam vasgehou word. Met die swaarder koeëls skiet die Ruger ook veel hoër en die Bushnell-teleskoop se vertikale verstelling is te min om die swaarder koeëls op my verkose afstand van 45m te kan instel.
In volgende maand se uitgawe bespreek ek die koeëls wat ek getoets het, asook die penetrasietoetse wat ek met sommige van hulle gedoen het.
Die rooibokram is gejag naby Mafikeng op ’n konsessie wat deur Omega Safari’s bedryf word. Dirkie Loubser van Mafikeng en sy vennote is in beheer van die konsessie wat aan ’n plaaslike stam behoort. Johan Grobbelaar, die professionele jagter en sy vrou, Chanél, bestuur die jag en die lodges op dié konsessiegronde. SA JAGTER/HUNTER het al vantevore daar gejag en tydens ons besoeke was die diens altyd baie goed en die wild volop. Dis ’n lekker plek om te jag – die terrein bestaan uit plat, oop grasveld en digte bosvelddele. Ons beveel Omega Safari’s met vrymoedigheid aan. * Vir besprekings kontak Chanél Grobbelaar by 083-2525853.