Hoe om QuickLOAD te gebruik Deel I
Ons kan partymaal nogal spook om ’n goeie lading te kry wat skoot na skoot sy kant bring. Daarom is enige hulp om dit makliker en met minder onkostes gedoen te kry, baie welkom. Daar is heelwat metodes wat suksesvol gebruik kan word om ladings te ontwikkel maar sommiges vereis ’n hoë mate van ondervinding om die kaf van die koring te skei.
QuickLOAD is ’n baie handi- ge rekenaarprogram wat gebruik kan word om vinniger, goedkoper en waarskynlik makliker (lees: met die skiet van minder patrone) by akkurate ladings uit te kom. QuickLOAD kan ook gebruik word om vas te stel wat die effek op koeëlsnelheid is wanneer iets aan die patroon verander word, soos byvoorbeeld totale patroon-lengte (TPL) of deur die een tipe koeël met ’n ander te vervang, ensovoorts.
Ek dink dis hier waar QuickLOAD van groot waarde kan wees. Dit kan baie van die raaiwerk oor ladings uitskakel.
Voordat ek QuickLOAD begin gebruik het, was ek baie skepties daaroor. Ek was heilig oortuig dat geen rekenaarprogram akkurate ladings kan bereken nie. Ek moet egter vandag prontuit erken dat ek totaal verkeerd was. Hoe meer ek QuickLOAD gebruik, hoe meer geniet ek dit. Dit werk uiters goed.
Maar... net so goed soos wat QuickLOAD kan wees, net so gevaarlik kan dit wees. Onthou, voer ’n program met swak inligting... moet dan nie teleurgesteld wees as hy jou dieselfde guns bewys nie. Dit is uiters gevaarlik om QuickLOAD net so uit die boks te gebruik en wonderlike en veilige resultate te verwag. QuickLOAD verg sinvolle insette om sinvolle en betroubare resultate te lewer.
In hierdie reeks artikels gaan ek stap vir stap verduidelik hoe om QuickLOAD te gebruik om betroubare, sinvolle resultate daarmee te behaal. Dit gaan ’n uitgebreide reeks wees wat in verskillende opeenvolgende uitgawes sal verskyn. Ek mag dus vorentoe dikwels verwys na of staatmaak op inligting wat reeds in vroeëre artikels verskaf is. Maak dus nou seker dat jy die uitgawes bewaar vir verwysing.
1. INSTALLASIE VAN DIE QUICKLOADPROGRAM
Die installasie van die QuickLOAD-program op ’n rekenaar behels dieselfde stappe as vir bykans enige ander program wat in Windows geïnstalleer word.
Klik op Install for All Users en bevestig dat dit nie gekies is nie soos in foto 1. Dit is sodat die QuickLOAD-dokumente in jou eie My Documents Folder gestoor word en jy weet waar om dit te kry.
2. QUICKLOAD SE SKERMUITLEG
In foto 2 sien ons dat die QuickLOAD-skermuitleg vier blokke beslaan. Blokke 1 en 2 is gebruikersinsette en blokke 3 en 4 toon die uitset van verwerkte data. In blok 1 moet jou eie geweer en patroon se inligting ingevoer word. In blok 2 dui jy die dryfmiddel se inligting aan. Die verwerkte resultate word met syfers in blok 3 en grafies in blok 4 vertoon.
3. MEET VAN JOU EIE GEWEER EN PATROONINLIGTING VIR BLOK 1
Om te verseker dat QuickLOAD se berekeninge betroubaar is, MOET jy die looplengte van jou eie geweer, asook jou eie ammunisie-afmetings in blok 1 van QuickLOAD invoer. Ek is seker ons almal ken die ou rekenaar gesegde: Junk in, junk out. Meet dus korrek. 3.1 Die meet van jou geweer se looplengte. Onthou, sodra die koeël die dop verlaat, is die kamer (met die leë dop daarin) deel van die looplengte. Daarom gaan ons ’n stok voor in die loop indruk tot teen die slotgesig, om die looplengte te meet. Bevestig ALTYD dat daar geen patrone in die loop of magasyn van die geweer is nie, en die geweer dus veilig is, voor jy daaraan werk.
Klamp die geweer stewig in ’n bankskroef vas. Maak die slot toe sonder om die sneller te ontspan. Die slagpen moet teruggetrek bly, sodat dit nie teen die stok se punt vasdruk en die meting benadeel nie. Druk die stok versigtig voor by die loop in tot teen die slotgesig. Met ’n skoonmaakstok moet die jag altyd verwyder word, sodat die stok ’n groot plat voorpunt het om teen te meet.
Die bekende metode om merkies op die stok te maak voor by die loop se kroon, werk nie vir my so goed nie. Hoe haaks maak jy die merke, hoe dik is die merke en hoe mooi beheer jy om presies tot op die merk te meet? Daarom gebruik ek ’n stopper/ bush, wat met ’n sluitskroef aan die stok vasmaak soos in foto 3.
Draai die stopper se sluitskroef deeglik vas, terwyl die stopper stewig teen die kroon, en die stok stewig teen die slotgesig vasgedruk word. Verwyder die stok versigtig. Meet die maksimum looplengte akkuraat. Ek vind dat ’n lang staalliniaal goed werk, terwyl die stopper teen die een punt van die liniaal vasdruk, en die mate by die stok se punt afgelees word, 558mm soos in foto 4. 3.2 Die meet van die totale maksimum patroonlengte. Kom ons meet met die stokmetode die maksimum totale patroonlengte, TPL in kort, vir die koeël wat ons wil gebruik. Daarvoor het jy ’n tweede skoonmaakstok en ’n tweede stopper nodig (of jy kan ’n hout- dowel van korrekte deursnee gebruik).
Ek vind dit makliker om die koeël met ’n knyptangetjie/ tweezer van agter in die loop te laat inval. Bevestig visueel dat die koeël mooi, punt vorentoe, in die loop lê.
Klamp die geweer stewig in ’n bankskroef vas. Gebruik nou die tweede skoonmaakstok en plaas dit, sonder ’n jag, van agter in die kamer en druk die koeël liggies teen die lande vas. Sit nou ’n tweede stopper voor aan die skoonmaakstok waarmee jy die looplengte gemeet het – hierdie stopper sal nou op sy beurt weer teen die kroon van die geweer vasgedruk en vasgeklamp word. Druk die meetstok met die twee stoppers (waarvan die een steeds stewig vasgeskroef is van toe jy die looplengte gemeet het) versigtig voor by die loop in tot teen die koeël se punt. Ry die koeël effe heen en weer tussen die twee stokke om te bevestig wanneer dit nét aan die lande raak, sonder om dit onnodig hard in die lande in te forseer.
Hou nou die meetstok teen die koeël se punt, terwyl die koeël liggies van agter deur die ander skoonmaakstok ondersteun word.
Skuif dan die tweede stopper (wat nog nie vasgedraai is nie) tot dit ook teen die kroon druk en draai dit stewig vas. Verwyder die stok versigtig. Nou het jy twee stoppers wat ’n entjie uitmekaar op die skoonmaakstok vasgeskroef is (sien foto 5).
Neem nou die mate tussen die twee stoppers om die totale patroonlengte te kry. Dit word as volg gedoen: Eers neem jy »
» die mate oor die buitekante van die stoppers (die verste ente), 88.42mm in hierdie geval. Meet dan die dikte van die stopper verste weg van die loop af; 15.09mm vir die regter stopper in ons voorbeeld se geval. Die maksimum TPL is 88.42 – 15.09 = 73.33mm.
Maksimum TPL kan ook met apparate gemeet word, soos met Hornady se OAL-gauge of die Mamba TPL-meter, wat die proses vergemaklik en in staat is tot akkurater en meer herhaalbare metings (sien foto 6). Hierdie metings is dikwels met kleiner as 0.05mm herhaalbaar. 3.3 Besluit nou as volg op die TPL waarvolgens jy jou patroon gaan laai (die gelaaide TPL-mate word in QuickLOAD ingetik): • Meet die maksimum TPL
vir jou wapen en komponente
akkuraat; • Druk die koeël in die dopnek in soveel as die deursnee/ dikte van die koeël (bv. 6mm vir .243, ens.). Onthou die boat tail word hiervoor buite rekening gelaat. Die boat tail druk dus in sommige gevalle dieper verby die aansluiting van die nek en skouer in die dop in. Indien die dopnek korter is as die koeëldeursnee, word die koeël die lengte van die nek in die dop ingedruk; • Indien nodig, maak die TPL korter tot die patroon in jou geweer se magasynkas pas (effens korter) sodat die koeël se punt nie teen die voorste wand van die magasynkas vasdruk en beskadig word nie; • Indien nodig, maak die TPL nog korter tot die sprong na die lande minstens 0.5 tot 1.0mm is. In die volgende artikel gaan ons voort met die neem van metings vir QuickLOAD. Lekker skiet! * Kontak Cassie via sy webblad www.mamba-reloading.co.za.