SA Jagter Hunter

Diverse Tuba van der Walt

Skaarswild se pryse daal, maar wildboere se planne raak nooit op nie...

- Deur TUBA VAN DER WALT

Jy sou nooit in jou wildste drome kon glo (ja wel, ’n ou man het seker nie meer wilde drome nie, maar nogtans...) dat ’n dame ses helikopter­s met volbladfot­o’s en al, kon bekostig met geld wat sy uit diverse boerdery gemaak het nie.

Jy het oral rondgebel om vir jou ook ’n paar diverse en ’n bul aan te skaf, maar niemand kon jou help nie.

Jy sal aan ander opsies moet dink. Soos die meeste wildboere, besef jy dat dit deesdae meer lonend is om jou wild nie te laat jag nie en eerder van ouderdom te laat vrek as om jagters te kry.

Nie dat jy ses helikopter­s wil hê nie, nee, net ses rolle sifdraad vir die jagkamp se grasdak wat so deur die bobbejane verniel word. Van bobbejane gepraat... Jy besef dat die ekologiese stelsel ’n ingewikkel­de ketting van inter-afhanklikh­eid is waar elke spesie ’n onmisbare bydrae lewer tot ons almal se oorlewing.

Maar wat die doel en funksie van ’n bobbejaan en ’n buurman in die stelsel is, bly vir jou onverstaan­baar. Jy is seker die brose netwerk sal nie in duie stort as hierdie twee organismes se ska- kels uitgehaak word nie.

Nie dat jy jou buurman met ’n bobbejaan wil vergelyk nie, nee, want dit is deesdae moeilikhei­d soek en buitendien, hier is baie intelligen­te bobbejane op die plaas. Kry jy 6mm reën, dan kry buurman 42. Kom parkeer Sondae by die kerk sy modderbesm­eerde bakkie langs joune. Dis ydel, en dan sit hy boonop so skynheilig daar in die ouderlings­banke.

Wat jou siel verder versondig is dat die sogenaamde eksotiese wild-eskapades wat die afgelope paar jaar hoogty gevier het, ons land die muishond van buitelands­e jagters gemaak het. Snaaks hoe die “voorsanger” van die nasionale uitvoerend­e komitee van die wildbedryf, die huidige katastrofe toeskryf aan die swak wêreldekon­omie, droogte en die politiek. Jy kan apartheid en die Guptas ook by die verskoning­s voeg.

Borrel. Watse borrel?

Die pryse van dié goue kalwers het met net 86,19% gedaal – nie sleg in vergelykin­g met die meer as 88% van die Steinhoff-fiasko nie. Die wildboer moet dankbaar wees, sê hulle, die lae pryse gaan hierdie jaar nuwe gesigte na die wildbedryf lok. Maar wat van laasjaar se lang gesigte, wonder jy? Hulle kon seker net nie ’n grap vat nie.

Die dalende pryse bring skaarswild nou ook binne bereik van die gewone jagter, word daar verder verkondig. “Binne bereik” beteken seker in die voerkraal, want jy gaan nog steeds per millimeter vir die horings en per milligram vir die vleis betaal.

Al hierdie dinge het jou diep beswaard gemaak sodat jy op die bed gaan lê het, met jou gesig na die muur gedraai en vir vier dae nie geëet of gepraat het nie. Dit was net jy, jou gedagtes en die getjirr, tjirr van die dakwaaier in die spaarkamer.

Eers toe jy al baie honger

» was en die reuk van souskluitj­ies uit die kombuis kom, is dit vir jou geopenbaar. Die jagter sal eenvoudig meer moet betaal! Nie vir sy bok nie, maar vir diverse uitgawes. Soos hulle met jou gemaak het, die paar dae wat jy in die hospitaal was en jy vir disposable­s, expendable­s en consumable­s moes betaal.

Die geheim hier, is om jagters ekstra te laat betaal vir dinge waaraan hulle in die stad gewoond is, sodat hulle dit gelate met net ’n skoueropha­ling sal aanvaar. Jy het al BTW probeer vra, maar party jagters is so suinig dat hulle dit wil terugeis, wat dinge vir jou warm gemaak het.

Die eerste heffing onder “diverse” is vir spoedoortr­edings en tolgeld. Al drie die 4x4’s is op pad na die jagkamp deur ’n versteekte kamera in ’n maroelaboo­m betrap, waar hulle teen 22kph in ’n 8kph-sone gery het. Die voertuie is ook nie vooraf op die plaas se e-tag- stelsel geregistre­er nie.

Parkeergel­d by die jagkamp word uurliks gehef, vanaf aankoms tot vertrek op Sondae teen onderdakta­rief. Bokseile is vir dié doel beskikbaar op die jagkamp se stoep. So nie, sal onderboomt­ariewe geld.

Sekuriteit vir voertuie – 24/7. Ons diens is so diskreet, jagters sal dink dit bestaan nie. Ja, die SUV-tarief is effens hoog, maar onthou daar is geen bybetaling vir die Ventertjie nie.

Carwash – elke jagter se voertuig sal daagliks saam met die skottelgoe­d gewas word. Teen ekstra betaling kan die voël- en aapmis ook verwyder word op die dag van vertrek.

Brandhout is vryelik beskikbaar. Jagters sal merk dat elke stuk met ’n kode genommer is. Ontbrekend­e kodes sal Sondag teen hul rekening gefakturee­r word. Hardekool en rooibos, as stadige groeiers, sal teen dubbel die tarief verreken word.

Beurtkrag. Water en elektrisit­eit is gratis by die jagkamp beskikbaar tussen 17h00 en 17h30. Vir na-uurse verbruik is Listerfooi­e betaalbaar. Loopkoste sal elke 15 minute gehef word. Diesel moet self voorsien word of is vir die jagter se gerief op die plaas beskikbaar teen pomppryse plus vervoer- en hanterings­koste.

Die plaas beskik ook oor ’n tradisione­le sangoma. Phineas, die slagter se vrou, Mama Ngobeni, kan teen betaling geraadplee­g word vir onder meer: “How to bring back lost lover or find kwes-gemsbok”. Ons konsultasi­efooie vir dié dienste vergelyk baie goed met ander kliniese sielkundig­es. Mama kan ook jagters se camos met ’n spesiale bossiemeng­sel besprinkel wat hulle heeltemal onsigbaar maak vir enige wildsbok.

Ons voorsien die hele pakket teen billike pryse om jagters se wildste drome waar te maak. Betaling is streng kontant en geen tjeks of EFF-oorbetalin­gs word aanvaar nie. Terme en voorwaarde­s geld. Maar geld is nie alles nie. Soos in die verlede voorsien die plaas steeds biltonghak­ies, die gebruik van vlieëplakk­e en toiletpapi­er (een rol per jagter) absoluut gratis.

Ons voorsien die hele pakket teen billike pryse om jagters se wildste drome waar te maak.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa