TWEE VRIENDE ONTMOET NA JARE
’n Onvergeetlike jagervaring saam met ’n Amerikaanse handwapenjagter...
My groot passie vir handwapenjag het my deur die jare duisende kilometers laat aflê en my baie interessante mense laat raakloop. So het ek ook baie goeie vriende gemaak as gevolg van dié handroere.
Ernie Bishop, ’n Amerikaanse handwapenjagter het ek vier jaar gelede ontmoet op ’n Facebook-groep vir handwapenjagters. Ek en hy kon gesels oor alles wat verband hou met jag
en handwapens. Ons (wat beide aan handwapenkoors ly) het altyd gehoop om mekaar eendag in lewende lywe te kan ontmoet en saam te kan jag – ’n groot onwaarskynlikheid.
Toe Ernie my egter vertel van sy beplande handwapenjag by Big Water Safaris in Philippolis, en my boonop saamnooi, was ek in die wolke! Ernie jag onder meer met ’n Franken-Ruger .357 Magnum wat gebou is deur Bayside Custom Gunworks in Amerika en hy wou graag dat ek die wapen toets. Ek het dadelik my beplanning gedoen, Big Water Safaris gekontak en my jag saam met Ernie bevestig.
VRYSTAAT TOE
’n Paar dae nadat Ernie in Johannesburg geland het, het ek bitter vroeg (en bitter koud) een oggend in die pad geval Philippolis toe. Blykbaar is -10 ˚C niks buitengewoon vir hierdie Vrystaatse dorpie nie! By elke hek wat ek moes oopmaak, het die snerpende poolwind deur my jas gesny.
Die oomblik van waarheid het aangebreek toe twee goeie vriende vir die eerste keer mekaar se blad kon skud. Dit was vir beide van ons ’n oorweldigende oomblik. Ernie se sterk, vreemde Amerikaanse aksent en sêgoed was ’n aanpassing aan die begin, maar sommer gou het ons die taalprobleem oorkom.
Na ’n lekker koppie koffie en ’n vinnige kyk na die wapens wat Ernie uit Amerika saamgebring het, moes ons gereed maak vir die eerste jagsessie. Thinus was ons gids vir die dag en toe ons Land Rover se kant toe staan, toe weet ek: Die tyd het uiteindelik aangebreek...
VURIG EN VINNIG
Tydens die kort rit na die jagkamp het ons land en sand gesels oor ditjies en datjies. Vroeër het een van Ernie se wapens my aandag getrek – ’n pragtige 7mm Dakota-pasmaakpistool. Aan die dop in sy patroonhouer kon ek sien dat dit ’n aardige klomp kruit sal kan hou en die monster van ’n tromprem op die pistool was ook ’n teken van groot aksie.
Ons het ’n paar maal afgeklim wanneer ons die springbokke gewaar het, maar weens die groot oop vlaktes kon ons nie ’n skietkans kry nie. Alhoewel die wapen ’n springbok gemaklik tot op 400m kon plattrek, wou hulle net nie stil staan nie. Toe Ernie ’n 300m-skoot op ’n springbokram waag, het hy met ’n haarbreedte gemis. Ek vermoed die senuwees het geknaag weens my teenwoordigheid. Toe die skoot klap, is my vermoede bevestig: dié handroer is haastig, want die 180grkoeël het binne ’n oogwink die 300m-merk bereik.
KOEDOEJAG
Om die springbokke ’n blaaskans te gee, het Thinus besluit dat ons eers na koedoes moet gaan soek omdat Ernie se jagpakket ook ’n koedoe insluit. Omdat die klowe in die bergagtige deel van hierdie enorme 33 000ha-eiendom die plek is waar die koedoes gewoonlik bedrywig is, het Thinus die Land Rover bergwaarts gestuur.
Reeds op pad af in die kloof, het Thinus twee koedoes aan die voet van die rant onder ons gesien. Hulle het ons gewaar, in die kloof afgehardloop en is teen die oorkantste rant uit. Thinus het beduie dat Ernie moet regmaak vir ’n skoot indien die koedoes sou stop. Die afstandmeter het op kort duskant 300m geflits. Ernie het sy skietstokke reggekry en die monster van ’n 7mm Dakota op die skietstokke laat rus. Hy het sy teleskoop verstel vir ’n ver skoot en toe aangelê.
Toe die koedoes vir ’n oomblik stop, druk Ernie die sneller. Van die terugslag het die pistool van die skietstok af gespring. Die skoot het hard in die kloof weergalm en ons kon hoor hoe die 180gr-koeël die jongerige koedoebul tref. Dit het na ’n goeie skoot geklink, maar Thinus het gesien dat die skoot effens laag was. (Op ’n later stadium het ons agtergekom dat Ernie ’n verkeerde verstelling gemaak het wat sy wapen effe laag laat tref het.)
Die koedoes is verder teen die rant op. Thinus het opgevolg met ’n versekeringskoot (ingeval die koedoe dalk ’n slegte skoot ontvang het). Daarna is hulle agter die bosse in en skielik kon ons net een koedoe sien weghardloop. Een moes geval het. Thinus het oorbeweeg na die oorkantste rant, deur die kloof en ek het weer aan ons kant verder gestap om te kyk of ek »
» dalk die koedoe gewaar.
Ernie het gereed gesit en wag met sy 7mm oor die skietstok. Toe sien ek ’n wit voorwerp teen die oorkantste rant, ongeveer 50 treë voor Thinus. Ek het hom die plek beduie en toe die koedoe skielik opstaan, kon Thinus hom doodskiet. Ernie en Thinus het ’n paar maal al na koedoes gesoek voordat ek op die plaas aangeland het en miskien het ek vir hom geluk gebring. En ek kon saam met ’n goeie vriend sy eerste koedoe in “Africa” (met ’n handwapen) jag.
Ernie se skoot het nie genoeg skade gemaak nie, maar tog was sy skietvernuf met die handwapen in die kol – as die verstelling reg was, het die koedoe net daar in sy spore neergesak. Die skoot was net ’n paar duim te laag. Ek was baie beïndruk en ek kon sien dat hy ’n uitstekende langafstandskut is (wat uitstekende groeperings skiet).
Ons het ’n paar foto’s geneem terwyl ons vir die herwinningspan gewag het om die koedoe te kom laai. Op daardie stadium kon ek en Ernie nog nie veel gesels nie en ons het gebrand om meer oor mekaar uit te vind. Maar op pad terug lodge toe vir ’n vinnige middagete, moes ek eers die wapens toets wat Ernie al die pad van Amerika af gebring het. Was dit nie vir sy besoek aan Suid-Afrika nie, sou ek nooit hierdie tipe wapens kon skiet nie, want hulle is nie hier beskikbaar nie en is boonop nog ’n fortuin werd ook.
OP DIE SKIETBAAN
Op die skietbaan was ek aanvanklik baie skrikkerig vir die 7mm Dakota omdat ek sommer kon sien dat dié patroon na moeilikheid lyk: ’n 180-greiner teen 3 000vps in jou handpalm – gróót moeilikheid!
Ernie het begin deur twee skote op ghongs te skiet en my toe nader geroep vir my lot. Ek was glad nie gemaklik met die situasie nie. Ek het in die veld gesien dat die wapen parmantig in jou hand is wanneer die skoot klap. Ernie het my pro- beer gerusstel, maar toe hy die meganisme aan my verduidelik, merk ek vir die eerste keer dat hy linkshandig is... Die greep is vir hóm gemaak en ek is regshandig! Met die vatslag het dinge nie lekker gevoel nie en ek was bekommerd dat my greep nie stewig genoeg sou wees vir die linkerhand monster nie, en dít boonop met net een hand! Ernie het die duikbottel van ’n patroon in my hand gestop terwyl hy my (met sy sterk Amerikaanse aksent) belowe dat alles OK sal wees. Regtig?
Ek het maar my pose gehou en die patroon in die kamer gevoer. Ernie het gesê ek moet mik vir sy skoot se merk op die 300m-ghong. Dit was moeilik om rustig te bly met ’n dinamietkers (waarvan die lont reeds brand) in jou hand. Ek kon net aan die ergste dink! Die werkers wat naby die stoor was, het vinnig ’n ent weggestaan... Hulle het geweet hier kom ’n ding!
Ek het aangelê en stadig die sneller gedruk. Die slag was oorverdowend, die terugslag ’n harde skerp stamp wat byna my pols verstuit het en boonop bitter seer was. Ek is gewoond aan my 500 Nitro Express se skop, maar met hóm kan ek met my ander hand aan die voorste kolf ook vashou en my greep sodoende versterk.
Ek kon die skokgolf teen my gesig voel. My skoot het presies op Ernie se merk getref op 300m. Die 7mm Dakota is in ’n heel ander liga – dis bitter akkuraat en het ’n skop soos ’n mal perd met tromprem en al. Ernie was gemaklik om springbokke op 400m te jag met sy 7mm Dakota en die reikafstand op die baan was volgens hom heelwat verder, ongeveer 800 jaarts. Aan die diere se skietwonde kon ek sien dat die wapen nie gebruik word om iets vir die pot te skiet nie – hy maak nogal ’n blad seer en veroorsaak hopeloos te veel vleisskade.
Ons het ook geskiet met sy .357 Magnum Franken-Ruger, gebou uit ’n standaard Rugerrewolwer, maar met ’n lang loop toegerus vir super akkuraatheid. Hiermee het hy vlakvarke en ook springbokke op relatiewe kort afstande gejag: Die springbok op 80m en varke op 40m. Beide wapens was ongelooflik akkuraat.
JAGRYKDOM EN VOORREGTE
Ons is terug lodge toe en het gesels oor Ernie se ervaring as jagter en handwapenjagter in Suid-Afrika. Ernie wil ’n groep handwapenjagters Suid-Afrika toe bring, maar na sy ondervinding besef hy dat hy die groep eers moet voorberei vir SuidAfrikaanse jagtoestande. Die Amerikaners (volgens hom) is nie gewoond om so ver te voet te stap soos by Big Water Safaris nie. Jagters moet stapfiks wees om by te bly. Ernie het ook met ons gedeel dat die meeste plase kleiner is in Amerika as hier en hulle lok meestal diere met voer en pille tydens voorsitjagte. Gidse wat jou vergesel, was baie vreemd vir hom. Hulle jag gewoonlik alleen in die VSA.
Handwapenjagters probeer so na as moontlik aan ’n dier kom vir ’n perfekte skoot, maar in Suid-Afrika se oop vlaktes moet jy ook leer om skote van 100m en verder te neem. Ernie gebruik ekstra toerusting soos skietstokke en tweepote (bipods). Handwapenjagters moet hier vinnig kan skiet en net een goeie skietstok vir enige posisie gebruik. In Amerika het jy genoeg tyd om die regte gereedskap te kies as jy vanuit ’n skuiling skiet. Handwapenjagters in Suid-Afrika gebruik glad nie skuilings nie en jag te voet, net soos enige geweerjagter.
Volgens my het die Amerikaner hom baie goed van sy taak gekwyt en sy ervaring as langafstandskut was hier sy redding. Ernie is ’n uitmuntende skut wat ’n hele klomp wild suksesvol kon jag. Selfs met beperkte tyd het hy ’n blouwildebees, waterbok, blesbok, koedoe, eland, springbok, vlakvark en selfs ’n jakkals platgetrek.
Volgens Ernie moet ons ewig dankbaar wees vir ons mooi jagvelde waar ons kan jag wanneer ons wil met so ’n groot verskeidenheid wild tot ons beskikking. Die VSA het net ’n paar spesies waaruit jy kan kies en jy moet eers aansoek doen vir TAGS (en dalk kan jy dan elke derde jaar gaan jag mits jy ’n TAG kan kry). Ons is regtig bederf met al ons geleenthede en spesies en ons besef dit eers as ’n medejagter wat nie so bevoorreg is nie, ons inlig daaroor. Ons moet ons wildlewerykdom bewaar, want dis kosbaar en ’n voorreg om te geniet.
Dit was vir my wonderlik om my vriend te ontmoet op mý speelveld, en ons wedersydse respek en liefde vir die natuur te deel. Dis ongelooflik hoe jagters uit verskillende wêrelde presies dieselfde ervarings geniet – dit is in ’n jagter se bloed.
Met die groetslag het ons op ’n Suid-Afrikaanse handwapenjag saam met ’n paar nuwe Amerikaanse jagvriende ooreengekom. Ek is ’n Amerikaanse bisonjag belowe (naas ’n buffeljag ’n groot droom van my).
“Geniet, bewaar en waardeer dit wat julle hier het, dit is kosbaar,” was die boodskap van Ernie Bishop. My vriend kon nie uitgepraat raak oor sy ervaring by Big Water Safaris nie. Hulle het sy jagtog ’n belewenis gemaak en my ’n kans op ’n onvergeetlike jagtog gegee saam met ’n goeie vriend.
Met die groetslag het ons op ’n Suid-Afrikaanse handwapenjag saam met ’n paar nuwe Amerikaanse jagvriende ooreengekom.