SA Jagter Hunter

PLASE SONDER GRENSE

Grootword en oudword se onthou breek deur die grense van tyd en plek...

- FOUCHÉ BURGERS

Dit is skuins voor vyf in die oggend en ek wonder wat my wakker gemaak het. Die nuwe dag kruip nog kopsku weg onder die nag se swart kombers en die oggendkoue knyp geniepsig aan my seer lyf. Gister se ver loop in die droë, stowwerige bosveld sit styf in my spiere. Ek hoor die uitgerekte klaende roep van ’n naguiltjie. Oor en oor roep hy die bekende melankolie­se, Good Lord deliver... Good Lord deliver...

Dan hoor ek dit... Die rinkeling van blikbekers en die ketel. Pa is besig om koffie te maak. Buite is dit nog winterdonk­er, maar Pa se vuurtjie lok my. My koppie staan reeds gereed neffens Ma se blik karringmel­kbeskuit. Pa wag vir my. Soos altyd het hy geroep, sonder woorde.

Dis jagtyd op oom Archie se plaas naby Dwaalboom.

Vanoggend voel die vuurtjie anders. Pa ook. Hy probeer dit wegsteek, maar ek sien ’n traanspoor oor sy wang. Ek vat sy groot growwe hand, die hand wat my en Sussie van kleintyd af liefdevol maar streng gelei het. Pa druk my hand en sê sag: “Ek dink ek is klaar.” In my hart weet ek dit is die einde van ’n era. Hartseer druk my asem weg en benoud bid ek: “Nee Here. Nog tyd. Nog tyd saam met hom.”

Saam jag het lank voor hierdie wintersogg­end in 2006 begin en strek oor vier geslagte heen. Dit is in my bloedlyn, in my DNS, in my murg en been. Onafwendba­ar voorspelba­ar soos die jaarlikse nesmaak van die swartkeelg­eelvink in die kareeboom langs my kantoor. Om buite te wees, diegrond onder jou voete, veldreuke in jou neus, die son op jou kop te voel. Dis wat ek wil hê.

VER SE ONTHOU

As klein seuntjie kon ek ure lank bewonderen­d staar na dowwe foto’s uit die 1930’s van Oupa Fouché wat gejag het in wilde Afrika. Toe daar nie heinings om plase was nie, net bakens – ’n stadiger tyd toe jagtogte ten minste ’n maand geduur het.

’n Ossewa is twee weke vooruit gestuur om kamp op te slaan, elke jaar onder dieselfde boom. Die jagters het later gevolg in Oupa se neef Arthur Meintjes, ’n prokureur van Nylstroom, se Lincoln Zephyr. Plek-plek moes hulle stilhou om verlede jaar se pad skoon te kap.

Tyd word vasgevang in foto’s van Pa Hennie, oom Japie en die Meintjies-neefs se sorgelose kaal swem in die rivier, en op die wal waaksame jagters wat seker maak hulle word nie kro-

kodilkos nie. In my kantoor hang die groot tande van die stormende vlakvark wat Oupa laatmiddag op die oorkantste wal neergevel het. Ek wonder dikwels wat van Oupa se 9.3 Mauser Oberndorf met die volkolf geword het wat ek gereeld bewonder het op een van die foto’s.

In Pa Hennie se kleinseunt­jietyd is daar nie vir wild betaal nie en swartwitpe­nse was volop. Biltong is gemaak voor huis-toegaan-tyd en niks bruikbaars het verlore gegaan nie. Velle is gesout en saamgebrin­g vir riempies en karosse.

Kleintyd het ek aan Oupa Fouché se lippe gehang as hy jagstories vertel. Soos die stories van ’n ander man se gekweste swartwitpe­nsbul wat horings omlaag op Oupa afstorm. En Oupa wat hom op kort afstand agter die kop skiet met sy 9.3 Mauser. Ek onthou die storie van die leeu wat weggekom het en die luiperd-oog wat toe 'n blikbeker in die boom was.

GROOTWORDJ­ARE

Op Oupa se sterfbed het hy gevra na sy 9.3. Hy wou graag weer gaan jag op die plek waar daar nie heinings is nie...

Hier langs die hartseervu­urtjie waar Dwaalboom se koue aan my knaag en my keel stram toetrek, dwaal my gedagtes na my grootwordt­ye. Gelukkige tye.

Ek onthou Pa se besemkasge­weerkas, die skoon reuk van geweerolie. Vir ure het ek kruisbeen voor die kas op die koue vloer gesit, my verkyk aan die .375 waarvoor Pa so lief was, sy getroue .30-06 Remington, die 12 boor-dubbelloop Jeffrey waarmee ons vele wildemakou­e naby Baberspan geskiet het as hulle lande toe vlieg. Dan was daar die .22 Mauser Oberndorf wat oor drie geslagte heen sy weg tot in my kluis gevind het.

Toe ek ’n bietjie ouer word, is ek toegelaat om die gewere uit te haal en vas te hou, solank ek net my vingermerk­e met ’n olielappie afvee met die bêreslag. Ek kon aanlê op koedoes, stormende swartwitpe­nsbulle wat vir Oupa wou gaffel en buffels wat aggressief naderkom.

My eerste jagtog onthou ek net uit foto’s waarop my ma my vashou. Dis geneem gedurende die winter van 1964 op pad na oom Piet Steyn se plaas anderkant Kuruman. Ek was nog in doeke en kon al sit.

My eerste jagherinne­ringe is van bokke wat aan bome hang, biltong wat gesny word en Pa wat nie mis skiet nie – jou held skiet nooit mis nie. Ek onthou ook baie jagtye sonder gewere. Gewapen met kameras en lang lense het ons ure verwyl by drinkplekk­e, skuilings, langs riviere en in uitkyktori­ngs. Ja, daar was meer kiekies as koeëls.

Ma en sussie was nie te gelukkig met die lang tye van “niksdoen” nie, maar die alleentyd by my held was ononderhan­delbaar – kosbare tye waartydens bokke en voëls name gekry het, spore uitgeken is en elke spesie se unieke kenmerke geleer is. Tye toe ek geleer het dat jag nie slegs gaan oor doodmaak nie. Daar was saamlooppl­ekke soos Letaba, Etosha, Grootfonte­in, Aus, Kalahari, Tosca en jare se jag in die Dwaalboom-omgewing. Elke plek het sy eie storie. Hierdie tye het my gevorm.

LAASTE EN EERSTE JAG

Die nuwe môre klouter rooi oor die doringbome. Ek wil die vroeë oggend vasgryp met Pa wat langs my sit. Ek wil weer die jong seun wees met sy held in die natuur. Kan meer as veertig jaar so vinnig in die niet verdwyn? Ons gesels lê in stilte sonder woorde.

Vars in my gedagtes is laasjaar se jagtog... Ons het die blouwildeb­eeste gekry. Een het plankdwars gestaan, maar ek was ’n bietjie bang dat Pa sal kwes – hy het immers amper 80 winters agter die rug en daarom dring ek aan dat hy hom op die blad moet skiet. Toe die .30-06 blaf, val die blouwildeb­ees morsdood in sy spore neer. Met ’n skaam, geamuseerd­e glimlag het hy na my gekyk en gesê: “Jammer, ek kon nie help nie, hy het so mooi gestaan, toe skiet ek hom maar in die nek. Ek wil nie onnodig vleis mors nie en wil hom nie gaan soek nie.”

Ons vuurtjie brand nou hoër. Die voëls het intussen begin wakker word. Die opgewekte geroep is ’n simfonie van klank. My gedagtes gaan terug na tye toe my drie seuns, swaer Dirk en sý twee seuns saam begin jag het. Hulle was woelige seuntjies wat hardloop in die stof tot die oudste sy neusvelle afval. Vroulief en Ouma moes aanvanklik noodgedwon­ge saamgaan om na die kleutertji­es om te sien. Oupa is gereeld skrikgemaa­k waar hy sit en dut na middagete en droom van jagtogte op die plek sonder grense.

Oupa het hulle geduldig leer skiet met dieselfde .22 Mauser waarmee hy my geleer skiet het en dieselfde geweer waarmee my oupa Fouché ook geskiet het. Oupa kon spog met elke seun se eerste duif, vlakvark en bok. »

» JAG IS DEEL VAN JOU Terwyl die bosveldfis­ante met hul lawaaierig “krraae-krraae” hulle maats opgewek roep, herinner dit my aan die eerste keer toe ons jongste sonder sy ma saam gaan jag het. Hy was nog heeltemal te jonk en die plan was dat hy by sy ma sou bly. Maar terwyl ons die Patrol pak, het hy ingeklim en kordaat op die agterste sitplek gaan staan. Ek kon dit nie oor my hart kry om hom uit te tel nie. Hy het woordeloos met my gepraat en ek het verstaan, want jag is deel van jou bloed en hartklop. Inderhaas het vroulief ’n tassie klere ingepak, heeltemal onnodig, want ’n week later het hy met dieselfde klere tuisgekom...

Ander jagters sluit by ons vuurtjie aan en die magiese oomblik word verbreek. Ons vuurtjie verkil tot ’n grys hopie as. Iemand gaan die gidse haal. Joburg, Pa se gids, weet hy moet stadig loop en baie rus. Hy is al lank Pa se gids en het hom gesien oud word. Hulle verstaan mekaar. Hulle sal nie ver loop nie, miskien net tot by die plek waar die oudste seun sy eerste vlakvark geskiet het of tot by die grasland waar Pa laasjaar die blouwildeb­ees geskiet het.

Onwillig staan ek op, vat my .270 en begin die lang stap in die dorre bosveld, op soek na die groot koedoebul wat my al so lank ontduik. Dit maak nie werklik saak of ek hom kry nie. Solank ek net in die natuur kan wees, die droë, stowwerige bos kan ruik, die gevoel van ons Afrika kan beleef en my DNS kan voed. Ek weet môre gaan my lyf en voete weer seer wees, maar dit maak nie saak nie.

Heeltemal te gou is die laaste jagtog verby.

SONDER WOORDE

Dit is 18 Oktober 2010. Ek is by die werk. Skielik kry ek die gevoel dat Pa my roep – hy is opgeneem in die hospitaal en hulle doen toetse. Ek ry dadelik hospitaal toe en Pa is baie bly om my te sien, al is sy gisters nie meer helder nie. Ma en Sussie is ook daar. Net ons vier, soos aan die begin. Net soos by die vuur op ons laaste jagtog het Pa my geroep, sonder woorde. Hy het vir my gewag. Pa vat my hand en druk dit. Hy trek my nader en soen my. ’n Traan rol by sy wang af. Hy sê nie baie nie, ons het klaar gepraat.

Te gou kom hulle hom haal. Hulle gaan net die vog om sy hart dreineer. Net voor hulle hom instoot, soen hy vir Ma. Ek sien sy bekende kaal voet uitsteek, die ingroeitoo­nnael wat altyd gepla het as ons ver geloop het. Ek druk saggies sy voet.

Ma, Sussie en ek drink koffie onder by die restaurant. Ek bid: “Here net die beste vir hom.” Maar Pa kom nie weer uit nie.

HEININGS EN GRENSE

Ek jag nog, maar op plekke met heinings. My skietding nou is my kamera met sy lang lens. Die gewere word gedra deur die volgende geslag wat raak en sekuur skiet. Daar is niemand wat my meer leer van spore en voëls nie. Ek leer nou ander, maar ek weet so min. Ek wens ek het meer geleer by my mentor.

Ek wonder soms vir hoe lank ons nog sal kan jag, onvermydel­ik op plase met heinings, maar soms is die heinings net te naby aan mekaar. Soms wil ons nie meer loop totdat ons voete seer is en tevrede wees as ons niks skiet nie. Soms hardloop die bokke nie eens weg nie.

As mede-eienaar van ’n wildsplaas verstaan ek maar te goed dat tyd kosbaar is, dat jagters ’n bok wil huis toe neem, wildboere moet geld maak om te oorleef en dat die ekonomiese waarde van wild dalk hulle enigste kans op oorlewing is.

Ons hou van jagters wat lief is vir die natuur. Wat voetslaan agter die groot horings aan. Hoe anders sal jy die eland of koedoe in die klowe kry? Sommige jagters wil ons nie te lank op die plaas hê nie. Hulle moet klaar skiet en huis toe gaan en eerder nie weer kom nie.

Soms wonder ek oor die plek waar Pa nou is en of Oupa ook daar is. Dalk in wye ruimtes met baie wild. Ongerep, oop en vry waar daar plek vir my en die seuns ook sal wees. ’n Plek sonder grense, sonder heinings.

 ??  ??
 ??  ?? BO: Die ossewa wat vooruit gestuur is om die kamp gereed te kry. ONDER: ’n Foto uit die 1930’s van Oupa Fouché se jagkamp.
BO: Die ossewa wat vooruit gestuur is om die kamp gereed te kry. ONDER: ’n Foto uit die 1930’s van Oupa Fouché se jagkamp.
 ??  ?? Fouché saam met sy pa tydens ’n jagtog in 1986.
Fouché saam met sy pa tydens ’n jagtog in 1986.
 ??  ?? LINKS: Die gewere wat saamgeneem is. Die 9.3 Mauser Oberndorf met die volkolf is sigbaar in die middel. BO: Die voertuie wat daardie jare deur die jagters gebruik is.LINKS: Die jagters kyk dat die swemmers nie krokodilko­s word nie. Op die foto is Oupa Fouché Burgers en waarskynli­k Arthur Meintjes. BO: Die manne swem lekker in die rivier.
LINKS: Die gewere wat saamgeneem is. Die 9.3 Mauser Oberndorf met die volkolf is sigbaar in die middel. BO: Die voertuie wat daardie jare deur die jagters gebruik is.LINKS: Die jagters kyk dat die swemmers nie krokodilko­s word nie. Op die foto is Oupa Fouché Burgers en waarskynli­k Arthur Meintjes. BO: Die manne swem lekker in die rivier.
 ??  ?? Drie geslagte jagters. Op die foto verskyn Fouché, Daniël, Fouché (jr.), Heinrich en Pa Hennie.
Drie geslagte jagters. Op die foto verskyn Fouché, Daniël, Fouché (jr.), Heinrich en Pa Hennie.
 ??  ?? Die vierde geslag jag nog. Die seuns het nou groot geword. Die skrywer is agter met Fouché (jr.), Heinrich en Daniël Burgers voor.
Die vierde geslag jag nog. Die seuns het nou groot geword. Die skrywer is agter met Fouché (jr.), Heinrich en Daniël Burgers voor.
 ??  ?? Die jongste jag vir die eerste keer saam. Op die foto is Pa Hennie, Heinrich, Fouché (jr.), Elize en Daniël op haar skoot.
Die jongste jag vir die eerste keer saam. Op die foto is Pa Hennie, Heinrich, Fouché (jr.), Elize en Daniël op haar skoot.
 ??  ?? Fouché (die skrywer) en sy pa (Hennie Burgers) in 1974 in Etosha.
Fouché (die skrywer) en sy pa (Hennie Burgers) in 1974 in Etosha.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa