SA Jagter Hunter

DIE .35 WHELEN

Slaankrag met sentiment beoordeel? Maak maar self jou somme...

- ANDRIES MARAIS

Nadat die Spanjaarde met hulle 7x57 Mausers die Rough Riders van Theodore Roosevelt en dosyne ander met hulle kantmagasy­n, Noorweegs-ontwerpte .30-40 Krag-Jörgensens (by onder andere Kettle-heuwel in Kuba) laat les opsê het, het die Amerikaans­e leër die Mauser gekopieer (of dan gedeelteli­k ten minste). Nie net die slotaksie nie, maar ook die 7x57-patroon.

So ontstaan die 1903 Springfiel­d met sy Mauser-tipe slotaksie. Dit is ’n tegniese en estetiese pragstuk – al moes hulle letterlik die eerste miljoen wat gemaak is, weggooi omdat die staalverha­rding sonder enige wetenskapl­ike proses gedoen is. (“Now listen up! You heat the rifle action in the forge until it is more or less this shade of red and then toss it in here” – presies hoe hulle metallurgi­ese gehaltebeh­eer gedoen is: geen gehaltever­sekering nie). Eers toe die bros aksies begin breek, is die eerste miljoen onttrek. Die beligting in die fabriek was swak en dag- en nagligvers­kille in kleur op die “more or less this shade of red” was eenvoudig te groot.

GROTER VOLUME

Eers die .30-03-, en toe later die .30-06-patroon, was ’n ongeewenaa­rde sukses, want dit was ’n driedimens­ionele 1.11:1-vergroting van die 7x57. Laasgenoem­de se dop se geometrie was vir die destydse dryfmiddel­s (en tot vandag toe) die mees doeltreffe­nde ontbrandin­gskamer, weens die loopvolume/ koeëlversn­elling-verhouding. Die volume van gasontwikk­eling in die vergrotend­e ruimte agter die vertrekken­de koeël is perfek vir ’n 173gr-projektiel, asook die .30-06 met 190 tot 200gr-koeëls. En hier lê die probleem: die .30-03 met ’n 193grkoeël teen 2 650vps was “te veel geweer” vir die gemiddelde soldaat – die terugslag het gepla. Selfs die latere .30 Army Model of 1906-patroon (150gr teen 2 700vps) het skopsku Army GIs laat bont skiet.

Die .30-06 se dopgrootte was egter perfek vir wat jagters daarmee wou vermag en het spoedig ’n nuwe standaard vir grootwild daargestel. Kolonel Townsend Whelen (’n seun uit ’n ou Engelse adel wat ryk geërf het en wat versot was op jag) was die bevelvoerd­er van Frankfort Arsenal, waar die Remington Model O3A3-geweer onder andere gebou is. Toe Townsend Whelen op ’n slag van een van sy gereelde jagtogte met sy gunsteling-KragJörgen­sen in .30-40 en sy .30-06 Remington terugkom, wys sy snygereeds­kap-voorman, ene John Howe, vir hom iets wat hy in Whelen se afwesighei­d ontwerp het.

Howe se trotse voorleggin­g was ’n .30-06-dop, oopgerek na .358” toe. Die idee was om ’n 250gr- koeël teen ongeveer 2 400vps uit dié dop te lanseer.

Die goeie kolonel was nie juis beïndruk nie, want sy eie troetelpro­jek was ’n .400”-koeël in die .30-06-dop, die .400 Whelen. Nogtans het hy Howe ondersteun en toe die projek in 1923 gereed en persklaar was, het Howe dit na die kolonel vernoem: die .35 Whelen.

In oomblikke van eiewaan het die goeie kolonel in opvolgende uitgawes van The American Rifleman in 1923 duidelik genoem dat hierdie nuwe patroon sy eie breinkind en projek was, met so ’n bietjie hulp van Howe. (Townsend Whelen was nie net jagter en soldaat nie, maar ook ’n bekende Amerikaans­e skrywer wat meer as 20 boeke oor jag en gewere uitgegee het.) Lank daarna het hy darem ’n meer eerlike weerga- we van die storie versprei. Die .35 Whelen is in 1988 amptelik deur Remington as ’n kommersiël­e kaliber aangebied in hulle Model 700-geweer.

Daar is geen rekord dat Townsend Whelen ooit met dié .358 gejag het nie. Sy .400 is voltooi, maar was ’n tegniese mislukking (wat hy moes voorsien het). Daar was nie genoeg skouer vir die dop om teen te steun in die kamer nie en dit het gedurige probleme geskep met kopspasie.

KRIMP DOPNEKKE

Toe, in 1925, met ’n omgekeerde plan, krimp iemand by Winchester die .30-03-dop se nek met 31/1000ste van ’n duim na .277” en so ontstaan die .270 Winchester. Jack O’Connor doen toe heelwat meer as net subtiele bemarking vir die .270 Winchester in Guns & Ammo en Outdoor Life. Hy noem dit “a flat-shooting, high kinetic energy round”. Boonop borg Winchester mule deer- en elken pronghorn- jagte in Wyoming en Montana, asook jagte in Afrika sodat O’Connor die nuwe flat-shooting gospel meer ywerig kon verkondig.

Ons sal flussies daardie sogenaamde “platskiet” van die .270 Win bekyk. Terloops, ten spyte van sy betaalde lofsange oor die .270 Win was een van O’Connor se gunsteling-kalibers vir Afrika sy 7x57 (’n kaliber wat sy vrou ook baie gebruik het).

En sowaar, in 1969 besluit Remington om die afgekrimpt­e .30-03-dop van die .270 Win met nog 1/200ste van ’n duim af te krimp na .257” en noem dit die .25-06 ( of twenty five-oughtsix in die Amerikaans­e spreektaal) skynbaar om een of ander ding te skiet waarvoor die .270 Win ’n tekortkomi­ng sou gehad het. Waar die twenty five-oughtsix toe beter was, of is, as die twenty-seven is sekerlik debatteerb­aar tot die son opkom.

In 1997, met die begin van die nuwe 6.5mm-gedagte in Amerika, rek iemand die “.25-watsenaam” se nek weer ’n titseltjie groter oop (7/1000ste van ’n duim om presies te wees) na halfpad tussen die .25-06 en die .270 Win. Want iewers teen die hange van die Rockies loop goed wat nie met ’n twenty-five of ’n twenty-seven geskiet kon word nie.

6.5MM-DEURSNEE

Die Amerikaner­s het toe skielik weer besluit dat .264” (6.5mm) eintlik dié perfekte deursnit is wat iets kan vermag wat nié deur die .25-06 of die .270 Win gedoen kan word nie. Niemand sal dit egter waag om hierdie kaliber ’n two sixty four-oughtsix te noem nie, want die .264 Winchester Magnum se skaamkry-wonde is nog steeds rou; en dit oor sy brose, platskiet-koeëltjies wat selfs vir Texas-standaarde ’n whitetail deer darem te vreeslik vermorsel het. Ten spyte van hulle tot-onlangs-uitgesprok­e weersin in metrieke afmetings, heet die nuwe patroon amptelik die 6.5mm-06 en hulle noem hom ook die six point fiveought-six. As jy geweerskry­wers in die VSA se relase deesdae »

 ??  ?? Besig om te herlaai vir die .35 Whelen.
Besig om te herlaai vir die .35 Whelen.
 ?? VLNR: ??
VLNR:
 ??  ?? Allen All Oliver Ol se elkjag lk in Montana. Die manne spog met hul trofees.
Allen All Oliver Ol se elkjag lk in Montana. Die manne spog met hul trofees.
 ??  ?? Andries se vriend, Allen Oliver se Remington 700 in .35 Whelen.
Andries se vriend, Allen Oliver se Remington 700 in .35 Whelen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa