DOOIERUS – PASOP VIR DIE GELUKKE
Vroeër jare, toe wild nog wild was en die parlement mak, was ‘teëspoed’ ’n algemene woord. “Darem goed gery?” sou iemand vra wanneer jy by ’n bestemming aankom. “Nie teëspoed gehad langs die pad nie?”
Dit was natuurlik deels omdat dit destyds goeie maniere was om besorg te wees oor jou medemens, maar dit was ook ’n tyd toe teenspoed nog algemeen was. Die paaie was smal en vol bulte en die ou karre was vol nukke. Dit was ’n algemene gesig om ’n voertuig langs die pad te sien staan met die enjinkap oop of een wiel in die lug. Oorverhitting was een van die grootste probleme, veral op ’n warm dag teen ’n lang steilte met ’n ou Gypsey aan die sleephaak. Daai tyd was verkoelingstelsels mos nog nie onder druk nie en die ou ses- en agtsilinders se water het gou begin kook. Of ’n band – toe nog die onbetroubare ou cross ply’s – sou bars, of die waaierband sou die gees gee, of daar is gestop vir iemand wat karsiek het.
Beter tegnologie en paaie het dinge sedertdien ’n bietjie uitgestryk en ’n stukkende motor langs die pad is nou ’n skaarser gesig. Teenspoed is egter nog steeds met ons. Deesdae skuil dit net eerder agter ’n blou lig of dit bespring jou wanneer jy in jou eie oprit stilhou.
Ook in die jagveld is dinge deesdae anders. Pap wiele as gevolg van dorings of stokke gebeur steeds, maar origens is ons moderne Cruisers grootliks sonder skete. En waar die bos in die ou dae ’n lewensgevaarlike plek kon wees, is dinge nou makker. Daardie jare moes hulle jou dwars oor ’n perd laai en geweerolie in die tandgate gooi as ’n leeu jou gebyt het. Deesdae se leeus byt net teen betaling (verkieslik in US dollar) en as dit wel gebeur hoef jy maar net jou foontjie uit jou hempsak te haal en kort voor lank fladder ’n reddingshelikopter neer. Maar teenspoed in die breër sin het nie verdwyn uit die jagveld nie. Aikôna.
Nie goed gegaan met sy eer- ste jag van die seisoen nie, vertel ’n kêrel nou die dag. (Sy naam sal ek om verstaanbare redes nie noem nie.) Teenspoed gehad. ’n Lelike ongeluk oorgekom, sommer die eerste agtermiddag daar in die kamp. Sy hand so verbrand dat hy nie eens aan ’n geweer se sneller kon vat nie. “Wat het dan gebeur,” vra ek. “Jong, ek het ’n stomp opgetel wat uit die vuur gerol het, om hom weer terug te gooi, en toe brand hy vir my so. My vingers, hier oor hulle punte, sommer lelik. In die sonlig het dit mos nou nie gelyk of hy warm is nie – jy sien mos nie ’n kool in die dag nie.”
Teenspoed, ja. Meer as dit: ’n Ongeluk, volgens hom. Seker nie reg van my nie, maar so ’n slag sukkel ek om simpatie bymekaar te skraap. As iets jou onverwags oorkom, uit die bloute, heel toevallig en per abuis, noem ons dit ’n ongeluk. Maar wat moet ’n mens dit dan noem as een of ander gatslag jou tref, maar dit was eintlik voorspelbaar? ’n Geluk?
Aan sulke gelukke ontbreek die jagveld glad nie. Versigtigheid is iets waarvan ’n mens genoeg moet inpak as jy daai kant toe gaan, want seerkry sit en wag in die mik van elke derde doringboom.
Dit kon byvoorbeeld net sowel die rooster se einagottaringetjie gewees het wat daai man gebrand het, of daar kon ’n warm skerpioen op die stomp se punt gesit het, of hy kon kaalvoet in ’n kool getrap het wat uit die vuur geskiet het. Of selfs sonbrand. Daar kan sekerlik geen witmens in sonnige SuidAfrika wees wat sonbrand nie ken nie, maar steeds is daar elke jaar manne wat rooi verbrand by die kamp aankom na ’n dag se jag.
Buite in die veld lê die potensiële gelukke nog dikker gesaai. Die stomme man kon skeefgetrap het op ’n los klip en sy skar- niere verstuit het, of ’n doring kon hom in die oog gesteek het, of hy kon sy juwele aan ’n doringdraad opgehang het met die deurklimslag. Die kans dat ’n ongedierte hom sou opvreet, is skraal deesdae, maar ’n mfezi of ’n rinkhals kon hom gespoeg het, ’n adder onder ’n bos kon hom gepik het, ’n by kon hom gesteek het, ’n hondsdol jakkals kon hom gebyt het, en ’n bosluis sou hom waarskynlik gebyt het.
Daar was ook seker ’n kans dat hy homself kon raaksny met sy eie mes terwyl hy pens uithaal of slag. Of dat hy met sy bakkie in ’n erdvarkgat kon ry, of dat hy oor ’n skilpad kon struikel, of straks paraffien in sy glas kon gooi in plaas van jenewer. Van die tragiese gebeure wat nalatigheid met vuurwapens oor ’n mens kan bring wil ek liewer nie eens praat nie.
As ’n mens mooi daaroor dink (wat natuurlik juis is wat ontbreek het in hierdie geval) kan die meeste sulke gebeure voorkom, of minstens vermy, word. Oop oë en gesonde verstand is wat dit verg om heel te bly in die bos, met hier en daar ’n helpende hand van die geluksengel. Vir die nalatige en voortvarende jagter lê teenspoed egter op loer soos ’n honger luislang langs ’n wildpaadjie wat water toe lei. Pyn gaan jy pyn as jy nie kophou in Afrika se bos nie!
Miskien was daardie kêrel se werklike geluk dus eintlik die feit dat die teenspoed hom sommer al met die intrapslag getref het. Want dit was waarskynlik ’n goeie ding dat ’n ou soos hy nie verder gejag het nie.
As iets jou onverwags oorkom, uit die bloute, heel toevallig en per abuis, noem ons dit ’n ongeluk.