SA Jagter Hunter

IN MY VISIER

-

Plesier, sê die woordeboek, is ’n gevoel van vreugde. Daarby wil ek voeg dat vreugde ’n innige genot is wat daglank ’n glimlag op jou gesig laat. Jag en informele of formele skyfskiet laat baie van ons se harte sing. Om met ons skietgoed besig te wees, bring ’n diepe vreugde. Ek wil amper sê dit maak die lewe die moeite werd.

En gode sy dank, daar is sommer ’n swetterjoe­l jag- en skietdissi­plines waarvan ons kan kies. Ons jag en skiet met boë, handwapens, voorlaaier­s, haelgewere en moderne senterslag­gewere. Party manne en dames hou van stap en bekruip... hulle probeer so na as moontlik aan die wild kom voordat hulle die sneller druk. Ander weer probeer hul skietafsta­nde rek. Windlees en ballistiek­e programme is dié manne se Bybel. Sommiges glo ’n geweer moet in die klassieke Engelse styl gebou wees, terwyl ander se sannas weer soos iets uit Star Wars moet lyk.

Daar is manne wat belangstel in grootkalib­er-gewere. Dit gee hulle oneindige plesier as dié kanonne die nerwe van hul skouers aftrap. Ander ouens weer, hou van platskiet-kalibers en groot knaldemper­s. Sommiges hou van jakkalsjag, ander skiet graag springbokk­e of koedoes en dié wat dit kan bekostig, loop graag op buffelspor­e.

Ghongskiet kry deesdae groot aftrek. Daarvoor word groot, swaar roere gebou, toegerus met teleskope wat die Hubble skoon laat skaam kry oor sy swak oog. Jaggeweers­kiet laat baie se tone omkrul van plesier en diegene wat lief is vir lê en skiet, glo Bisley is net die regte medisyne vir enige tipe blues. En so kan ek aangaan.

Ek vind dit wel soms moeilik om ander mense se voorkeure te verstaan... soos dié van die klong wat anderdag met my oudste seun gesels. Hy vertel hoe lekker hy gejag het. Toe my seun vra hoe so, toe vertel hy hoe hy in die boogskuili­ng gesit het met ’n yskoue bier in die vuis, iPod-musiek in die ore en iPad op die skoot... sodat hy YouTube kan kyk en games kan speel so tussen die musiek deur. Toe my seun vra hoekom hy al die goed saam karwei jagveld toe, antwoord die klong dat hy mos darem sy jag wil geniet, dis waarom hy jag.

Nou ja, hoe verskillen­d ons voorkeure ook al is, daar is een ding wat ons saambind... ons liefde vir skietgoed. Maak nie saak of dit ’n boog of ’n windbuks is, ’n swartkruit-sanna of ’n haelgeweer, ’n moderne senterslag-jaggeweer of ’n handwapen nie. Skiet wil ons skiet.

Die allerbelan­grikste ding is dus om ons voorreg om skietgoed te mag besit, te alle tye te beskerm. Dit beteken dat ons daardie skietgoed wettig moet gebruik en ook binne die ander vereistes van die wet moet bly, hoe moeilik of onbillik dit soms mag voorkom. Dit beteken ook dat ons jag en sportskiet só moet beoefen dat ons nie die algemene publiek rede sal gee om ons die voorreg te wil ontsê om skietgoed te mag besit nie.

Ons almal hoef nie op dieselfde manier te jag of van dieselfde sportskiet­dissipline­s te hou nie. Elke diertjie het sy plesiertji­e, sê hulle mos, maar dink asseblief voor jy doen. En dink asseblief hoe en waar jy oor jou jag of skietsport spog (veral op sosiale media). Ons moet ambassadeu­rs vir jag en sportskiet wees. Slegs dan sal ons die voorreg om skietgoed te mag besit, kan beskerm.

Om jou skietding wettig te gebruik, is nie genoeg nie. Jy moet dit ook só gebruik dat jy nie die sam samelewing wat alreeds teen wapens en vuurwapens gekant is, nog méér teen jou laat draai n nie.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa