JAGTERS SE AFRIKAANS
As tienjarige skoolseun het ek een maal vleis geskryf as “flys”. Op daardie stadium het die spelling baie min vir my beteken, slegs die smaak en kwantiteit was belangrik. Deesdae wanneer ek Facebook oopmaak en mense se plasings op jagterswebwerwe lees, is dit asof iemand my met ’n vurk in die oog steek. Swak spelling en taalgebruik kom natuurlik nie net onder ons jagters voor nie, maar ’n mens sou verwag dat jagters meer kultuurgebonde is (as die vaal metromannetjies wat nie lief is vir die bos nie) en dus ook meer vir ons taal sou omgee. Ons taal is net so inheems aan Afrika soos die kremetartboom en die olifant, net so mooi soos die troupant en loerie, net so beskrywend soos die name van die trapsuutjies en die toktokkie.
Kan ons mense nie meer spel nie, of gee ons net nie meer om nie? Leestekens is maar skaars en selfs hoofletters en punte word uitgelaat. Soms kan ’n mens met die beste bedoelings nie ontsyfer wat ’n medejagter op ’n webwerf probeer sê nie. Mense praat van “kryt” as hulle kruit bedoel, “petroon” in plaas van patroon (of rondte as jy in die SAW was), “waardeur” in plaas van waardeer en nog vele meer onooglikhede waarvoor my laerskooljuffrou my velle sou aftrek.
Ons het so ’n mooi taal, met sulke mooi beskrywende woorde. Swartwitpens is tog ’n baie mooier woord as sable en bastergemsbok as roan. In stede van knaldemper word silencer gebruik. En hoekom van ’n eenin-tien twist praat as jy dit net sowel ’n draai kan noem? Die luiste van als is wanneer iemand kudu in plaas koedoe skryf. Toegegee, scope is ’n bietjie korter om te sê en te skryf as teleskoop, so ook die as matrys, maar kan ’n mens werklik so lui wees eerder as om trots op jou mooi taal te wees?
Vir my is ons taal wonderskoon. Ek geniet Koos Barnard, Herman Jonker en ander skrywers se artikels in die SA JAGTER/HUNTER terdeë. Julle dra nog ons taal hoog met julle keurige gebruik daarvan. Hou so aan manne – sonder julle word ons mooi taal afgewater tot ’n aaklige gebrabbel.
Groete uit St Louis, HENDRIK KRUGER