DIE RAM IN DIE RIETE
“... net een horing en ’n oor was sigbaar in die riete...”
KOOS BARNARD
Ek het groot geword in die oper dele van die ou Suidwes-Afrika en ook lank in die Noord-Kaap gebly waar die vaalbos op plekke wel dig groei, maar waar daar veel meer ooptes as ruie bos is. Toe ek in 1997 Natal toe trek, het ek ’n kultuurskok beleef omdat dele van dié provinsie uit digte kusbos bestaan en jy soms baie moeilik daar jag... as jy nie gewoond is aan daardie tipe terrein nie.
Natal bestaan egter nie net uit digte “woude” nie. Groot dele van die provinsie het net sulke mooi ooptes waar ek as jagter myself meer tuis voel. Sedert 2013 bly ek in Pretoria en het die afgelope vyf jaar maar weinig in Natal gejag, daarom was dit vir my lekker om weer in Junie 2018 die pad na die “groen” provinsie toe te vat.
Hierdie keer sou ek op ’n plek jag wat veel oper terrein het as byvoorbeeld die Umkomaasvallei naby Durban. My bestemming was Madaka waar Izak Kirsten, die eienaar, Wow Africa Safaris bedryf. Dié eiendom is 2 500ha groot, geleë tussen Louwsburg en Vryheiden grens aan die Ithalawildreservaat.
Dis ’n pragtige plek met gemengde terrein – dele herinner sterk aan die Serengeti met grasvlaktes en platkroonbome. Dan is daar ’n plato bo-op ’n berg wat net uit grasveld bestaan. Verder is daar oop en digte bosveld, diep klowe, riviere en vleie. Dit is werklik ’n pragtige plek met volop wild. Die meeste tipes vlaktewild kom op Madaka voor, van steenbok tot buffel. Ek was hier in my element, want jy kan op vele plekke op hoë terrein met die verkyker gaan sit en soek na wild en dan van daar af jou bekruiproete beplan. Soos julle uit die foto’s kan aflei, is die terrein en plantegroei van so ’n aard dat ’n stapjagter lekker kan bekruip.
OP DIE SPOOR VAN ’N RIETBOK
Die hoofdoel van my besoek was om ’n rietbok te jag, ’n spesie waarvan ek nog min bokke geskiet het. Alhoewel rietbokke vroeër jare blykbaar oor veel groter dele van ons land voorgekom het, tot sover as Swellendam in die Wes-Kaap, is hul verspreiding deesdae baie beperk, met KwaZulu-Natal een van die min provinsies waar hulle nog in redelike groot getalle voorkom. Rietbokke was veral volop in die Drakensbergse »
» voetheuwels, maar is reeds teen 1970 op die rooidatalys vir bedreigde spesies geplaas en hul getalle het sedertdien stadig toegeneem. Die enkele grootste bron verantwoordelik vir die afname in rietbokgetalle is die fragmentering en vernietiging van vleilande, ’n gespesialiseerde habitat noodsaaklik vir rietbokke se oorlewing.
Sedert 1990 is klein teelgroepe van reservate in KwaZuluNatal geneem en hervestig in gebiede waar hul voorheen voorgekom het. Vandag is die rietbok nie meer ’n krities bedreigde spesie nie, maar hul getalle is steeds laag. Daar is egter verskeie jagplase met genoegsame getalle waar hierdie diere volhoubaar gejag kan word.
HABITAT EN GEWOONTES
Soos die naam aandui, verkies rietbokke ’n habitat waar riete voorkom. Lang gras (van 90cm tot 2m hoog) in waterryke gebiede is ook ’n vereiste en daar is bevind dat waar rietbokke so ’n toevlugsoord kry, hulle selde meer as 200m daarvandaan sal wegbeweeg.
Jag jy dus rietbokke, is die regte plekke om te soek, vleie, moerasagtige gebiede en lae golwende terrein met lang gras naby aan riviere of rivierlope en panne. Hulle beweeg selde meer as ’n paar honderd meter weg van standhoudende water af en drink daagliks. Alhoewel hulle lief is vir water, waag rietbokke dit nie sommer in water wat dieper is as so 20cm nie.
Rietbokke is lig- tot grysbruin van kleur en smelt baie goed saam met veral droë wintergras. Hul geneigdheid om juis in lang gras te skuil veroorsaak dat hulle soms baie moeilik opgespoor word. In plaas van dadelik vlug, sal rietbokke eerder hul koppe tot laag op die grond laat sak, stil bly lê en hoop hulle word nie opgemerk nie. Dan sal hulle op die laaste oomblik opspring en vlug. Dis natuurlik tot hulle nadeel waar honde deur sommige plaaslike inwoners gebruik word om diere te jag. Rietbokke maak alarm deur skril te fluit, amper nes ’n rooiribbok.
Hierdie bokke is meer aktief in die nag, van laatmiddag tot ’n uur of twee na sonop, en dit is dus die beste tye om hulle te jag. Gedurende die middel van die dag rus hulle, soos genoem, in lang gras en word moeiliker opgespoor. Rietbokke is nogal lief om vaste roetes te volg vanaf hulle skuilplekke na water toe of waar hulle wei en daarom is dit dikwels maklik om sekere individue op te spoor of hul bewegings te volg. Word ’n mooi ram dus in ’n area opgemerk, is dit gewoonlik nie te moeilik om hom weer op te spoor nie.
Slegs die ramme het horings. Hulle is lankerig en buig effens vorentoe, byna net soos ’n rooiribbok s’n. Rietbokke is natuurlik net groter as rooiribbokke, hulle horings is heelwat langer en hulle deel nie dieselfde habitat nie. Verder is rietbokke se voorbene aan die voorkant donkerkleurig en rooiribbokke s’n nie. Ek onderskei maar hier tussen die twee spesies aangesien die rooiribbok se Engelse naam mountain reedbuck is en mense wat nie die twee spesies goed ken nie, hulle soms met mekaar verwar. Soos genoem, is rietbokke groter, die ramme staan ongeveer 1.05m hoog by die skouer en weeg tot soveel as 70kg op die hoef.
’n Mooi verteenwoordigende rietbokram se horings sal ongeveer 12” (30cm) lank wees. Die rekordlengte is 19¼” (48.9cm) en die kwalifiserende lengte vir die Rowland Ward-rekordboek 14” (35.56cm). Die rekordbok is juis in KwaZulu-Natal in die High Flats-area geskiet.
SÓ JAG JY HOM
Hoewel lang skote soms moontlik is, word rietbokke in die algemeen nie sommer oor afstande van verder as 250m geskiet nie – dis nie nodig nie. (Ek het my eerste een op ongeveer 100m met ’n .375 H&H met oop visiere geskiet.) Enige kaliber vanaf ’n .243 Win, gelaai met 100gr-koeëls, is dus geskik. Ek het my Blaser in .270 Win gebruik, gelaai met 130gr-koeëls wat die loop teen 2 700vps verlaat. Ek gebruik my Blaser al hoe meer omdat dit ’n kort, ligte geweer is wat baie lekker dra (op 59-jarige ouderdom rem swaar gewere deesdae hard aan my skouer). Ek probeer ook my ou .30-06 se loop so ’n bietjie
spaar, want hy stap al aan in jare en ek sien nie kans vir die schlep om ’n nuwe loop te laat lisensieer nie.
Na ’n lekker aand om ’n doringboomvuur op die hoof- lodge se stoep, is ek op die eerste jagdag reeds voor sonop veld toe. Ek het gemik vir ’n oop vlei waardeur ’n klein stroompie vloei. Dit lê in ’n vou of vlak kloof tussen ’n berg aan die een kant en hoë heuwels aan die ander kant. Dié plek het vir my die vorige middag, toe ons die plaas binnegekom het, na die ideale plek gelyk waar rietbokke sal hou.
Die vlei met sy lang gras en rietagtige plantegroei word omring deur grasveld aan die voetheuwels van die berge. Aan die bo- en onderkant van die vlei groei bome op die walle van die stroompie.
Toe die eerste sonstrale die kloof begin kielie, het ek reeds op ’n hoë knop sowat 600m van die vlei af gesit en met my verkyker die omgewing gefynkam. Hoog op die berg bokant die vlei het ’n familie rooiribbokke die eerste lekseltjies son se warmte probeer benut. Aan die bokant van die vlei, waar die veld vroeër gebrand het, het ek ’n handjievol sebras en »
hartbeeste opgemerk. Net links van die vlei het ’n rooibokram deur die gras aangestap na ’n platkroonboom toe en ver regs, op die kruin van ’n hoë berg, het ek drie koedoebulle se silhoeëtte gesien.
Ek het op die vlei gekonsentreer en met die Leica so goed as moontlik elke stukkie daarvan deurgekyk... niks! Na so 20 minute het ek weer op die veld rondom my begin fokus. In die verte was daar blouwildebeeste en rooibokke asook ’n njalabul. Die sebras en hartbeeste van vroeër het ook effens aanbeweeg. Ek het weer my aandag op die vlei gevestig. En skielik... nadat ek skaars vyf minute met die verkyker gesoek het, sien ek ’n rietbokram se kop bo die riete uitsteek. Hy was naby die onderent van die vlei. Terwyl ek hom dophou, het hy ’n paar keer verdwyn en weer verskyn. Dit was duidelik dat hy stadig maar seker na die bokant van die vlei beweeg het.
Ombinne skietafstandtekom, sou dit my beste opsie wees om eers effens skuins weg van die vlei af te beweeg en dan die skouer van die berg (regs van die vlei vanwaar ek gesit het) as skuiling te gebruik. Met die geweer oor my skouer, het ek weggespring en so vinnig as moontlik beweeg. Die gras was plek-plek baie lank, amper 2m hoog en ek het onthou dat Izak my die vorige aand gewaarsku het dat dit dalk glad nie so maklik sal wees om ’n rietbok onder skoot te kry nie. Wel, as ek net ongesiens agter die skouer van die berg kon kom, sou ek maklik tot reg bo die vlei kon beweeg en my hoë posisie sou my hopelik in staat stel om die rietbok tussen die riete en lang gras te sien.
MOEILIKE TERREIN
Die terrein was effens moeiliker as verwag en dit het my ’n goeie
20 minute geneem om te kom waar ek oor die vlei kon kyk. Ek het plat op ’n gerieflike klip gaan sit en met die lang gras wat uitstekende skuiling bied, weer die vlei stelselmatig begin deursoek. Niks! Seker nog 15 minute het verby gegaan voor ek beweging skuins regs onder my gesien het... ’n rietbokooi, nee twee ooie. Na nog ’n paar minute spoor ek toe die ram op, verder regs van my, redelik naby aan die bokant van die vlei. Net sy een horing en ’n oor was sigbaar in die riete. Hoe de duiwel kry ’n medium-grootte bok dit reg om so goed in riete te verdwyn?
Die ooie het intussen uit die vlei beweeg en reg onder my aan die voet van die berg in die lang gras begin aanstap na die bopunt van die vlei toe. Die ram was goed oor die 200m weg en ek het besluit om nader te beweeg om sodoende ’n oop skoot te probeer kry. Dus is ek weer versigtig oor die bergskouer en op in ’n vlak klofie wat amper parallel met die vlei loop. Na sowat 150m het ek weer oor die skouer geklim en versigtig teen die helling afgesak. Van die ooie was daar nou geen teken nie en die ram het die vlei intussen aan sy bokant verlaat en in ’n tweespoorpad gestaan wat aan die bokant van die vlei verbyloop.
Dit was ’n jong ram met horings van so ongeveer 10” lank, maar ek het besluit om hom te skiet want ek is nie ’n trofeejagter nie en ons wou ook die vleis gebruik vir resepte vir die tydskrif (sien Eunia Barnard se rietboktjops in hierdie uitgawe). ’n Jong ram se vleis sou beter smaak as dié van ’n trofeebok.
Voor ek egter kon regmaak om te skiet, het iets die ram laat skrik en hy klim toe die rant bokant die vlei teen ’n stywe draf uit. Na ongeveer 150m het hy vasgesteek en die wêreld rondom hom staan en betrag. Die ram was nou oor die 300m weg en ek het besluit om maar te wag en te kyk wat hy doen.
Na seker ’n halfuur se staan en ginnegaap daar in die oggendson het die rietbok skielik weer in die rigting van die vlei gedraai en nader begin stap. Ek het die .270 Blaser gespan en opgewonde, met die geweer oor die skietstokke, gewag. Die ram het die paadjie gekruis, na my linkerkant gedraai en reguit na ’n deel van die vlei gestap wat amper reg onder my gelê het. Voor hy die rietgedeelte bereik het, het hy in die lang gras gestop en ek het vinnig na die afstandmeter gereik... 145m.
Ek het die Swarovski se kruishaar laag op sy linkerskouer geplaas net daar waar die nek en bors bymekaar aansluit. Die ram het effens weggedraai van my af en toe weer skuins terug in my rigting. Voor hy weer kon beweeg, het ek die sneller gedruk. Met die terugskop van die geweer het ek die bok vir ’n sekonde uit die oog verloor, maar die duidelike trefslag van die Sierra-koeël gehoor. Toe ek opkyk, sien ek hoe die ram na links probeer hardloop, maar sy bene wou hom nie dra nie... hy het gesteier en stadig in die lang gras omgekantel.
VOLOP WILD
Oor die volgende twee dae het ek ook ’n rooibok en blouwildebees geskiet en sommer net tyd in die veld spandeer om die natuur en wild te geniet en foto’s te neem. Daar is beslis geen tekort aan wild op Madaka nie en oral is pragtige klowe en stroompies wat stappers kan verken. Hierdie plek is ’n ware juweel. Boogjagters is ook welkom – daar is ’n hele aantal boogskuilings vir diegene wat die snaar bo die sneller verkies.
Soos te verwagte, is die hooflodge, akkommodasiegeriewe, en die slaggeriewe topklas. Izak bedryf ook ’n slaghuis op die eiendom – dis goed toegerus en lewer puik diens. Behalwe vir Madaka self, het Izak ook konsessies op baie ander eiendomme en kan hy jagters bied presies wat hulle wil hê.
Ons het baie lekker saam met Izak en sy vrou Lientjie gekuier. Hulle is gasvrye mense wat diens van hoogstaande gehalte lewer. Alhoewel Wow Africa hoofsaaklik op trofeejag konsentreer, sal hulle in 2019 ook biltongjagpakkette beskikbaar stel. Hierdie is ’n onderneming wat ons beslis met die grootste vrymoedigheid aanbeveel. * Vir meer inligting oor Wow Africa Safaris, kontak Izak Kirsten by 083-378-4986 of e-pos wow@wowafrica.com .