FOREL- EN VLIEGHENGEL IN SUID-AFRIKA
Forelle fassineer Suid-Afrikaanse hengelaars al vir 130 jaar.
GERHARD DELPORT
Die forel is nie ’n inheemse vis nie en moes dus na SuidAfria ingevoer word. Die eerste invoerprojekte is reeds in 1875 deur sowel Natalse as Kaapse hengelentoesiaste geloods. Hierdie pogings het egter misluk. Teen 1880 het ’n groep hengelaars wat daarvan oortuig was dat die skoon, koue waters van die twee provinsies se riviere wel geskik is vir forel, weer besluit om foreleiers in te voer.
PIONIERSWERK
Twee van die baanbrekers met die projek was John Parker van Yorkshire (’n boer van die Howick-distrik in Natal) en Lachlan McLean die algemene bestuurder van die Union-Castlelyn in Kaapstad. Parker het in 1889 ’n besending van Skotland ontvang met 10 000 Atlantiese salmeiers, 30 000 bruinforeleiers en 10 000 rooiforeleiers. Die salm en rooiforelle was nie ’n sukses nie maar die bruinforelle wel, en 6 000 klein vissies is in die Mooi-, Boesmans- en Umgeniriviere vrygelaat in 1891.
Daar is egter eers in 1896 bevind dat hierdie riviere goeie forelbevolkings bevat. Die destydse Natalse regering het ’n aktiewe rol gespeel en ’n visteelstasie is op John Parker se plaas opgerig. In 1926 is ’n gedenksteen met ’n sonwyser op die oewer van die Mooirivier opgerig in die Nottingham-distrik, met die volgende woorde daarop gegraveer: “Erected to the memory of John Clark Par- ker by lovers of the Gentle Art of Trout Fishing. By his untiring efforts trout were first introduced in Natal in 1884 thereby giving much pleasure to many persons.”
Lachlan McLean het dieselfde gedoen vir die Kaapprovinsie en in 1894 is ’n forelteelstasie by Jonkershoek opgerig. Later is nog een by Pirie in King William’s Town gevestig. Beide dié teelstasies was besonder suksesvol en miljoene viseiers is van hulle af versprei na die »
» res van Suid-Afrika en selfs die destydse Rhodesië (Zimbabwe). Die Berg- en Lourensriviere was bekend vir mooi reënboog- én bruinforel. In die Ceres- en Worcester-distrikte was die Heksrivier, Holsloot- en Smalblaarriviere alom bekend as van die bestes om vir forel te gaan hengel.
Forelle het mettertyd ook na ander dele van die land versprei en in die 1940’s was riviere soos die Tsitsa en Mooi in die Maclear-distrik in die OosKaap bekend vir besondere groot forelle.
UITBREIDING NAANDERPROVINSIES
Reeds in 1903 het Lord Milner, Sir Percy Fitzpatrick en ene D.C. Greig besluit om forelle in die Transvaalprovinsie te vestig en daarvoor het hulle vis vanaf die Jonkershoekteelstasie gebruik. ’n Klein teelstasie sou in Doornfontein, Johannesburg opgerig word. Ook in 1903 is die Transvaalse Forel-Akklimatiseringsgenootskap gestig en hulle het ’n teelstasie in die Mooirivier naby Potchefstroom gevestig. Vanaf 1903 tot 1911 is forel vanaf hierdie teelstasie in ’n aantal riviere vrygelaat. Die fo- relle het egter nie in dié omgewing geaard nie en daar is toe daarmee gestaak.
F.C. Braun van Lydenburg het egter op sy eie besluit om foreleiers vanaf die Kaap in te voer en hy het daarin geslaag om vis in sy klein teelstasie groot genoeg te kry sodat hulle in die omliggende strome vrygelaat kon word – die Sterkspruit-, Potspruit-, Krokodilen Sabieriviere.
Die Lydenburgse teelstasie het by Braun oorgeneem en was verantwoordelik vir die teel en voorsiening van miljoene forelle in die Oos- en Noord-Transvaal. Dorpe soos Lydenburg, Dullstroom, Belfast, Machadodorp en Waterval Boven het bekend geword as gebiede waar vlieghengelaars hulself terdeë kon geniet.
DIE HENGELTOERUSTING
Met die geskiedenis van die vestiging van forelle afgehandel, kom ons kyk ’n bietjie na basiese hengeltoerusting. Soos met enige sport of stokperdjie is die regte toerusting baie belangrik vir forelhengel. Vlieghengel is die enigste wettige manier om vir forel te hengel en dit het verskeie komponente wat bepreek moet word.
Net soos met enige ander tipe hengel, gebruik die vlieghengelaar ook ’n visstok, katrol en lyn, maar sy toerusting is gespesialiseerd. Die visstok is ontwerp om ’n spesiale vislyn te kan gooi. Onthou dat vlieghengelaars nie soos oewerhengelaars ’n sinker saam met die aas in die water gooi nie. Die vlieghengelaar gebruik ’n sogenaamde vlieglyn om die klein, ligte kunsvliegie in die water te gooi. Hierdie kunsvliegies word van vere of hare gemaak om insekte of klein vissies voor te stel.
DIE STOK
Ou pionierhengelaars het destyds stokke van gesplete bamboes gebruik wat so 9½ tot 10vt
lank was. Soos tegnologie oor die jare verbeter het, het die gesplete bamboesstokke plek gemaak vir veselglasstokke wat ligter en veel sterker is. Soms het die bamboesstokke geknak as jy ’n groot forel aan die lyn het.
In die vroeë 1970’s het die veselglasstokke kompetisie begin kry – grafietstokke is toe bekend gestel. Gedurende daardie jare was ’n Fenwick-grafietstok beskou as van die beste op die mark en moes hengelaars bereid wees om ’n volle R250 te hoes vir so ’n stok.
Met vlieghengel is dit baie belangrik dat die stok, katrol en vlieglyn balanseer om die sweepslagaksie waarmee die lyn en kunsvlieg uitgeskiet word, die beste te bemeester en so die meeste genot uit die sport te kry.
DIE KATROL
Vir forel is ’n katrol wat sowat 90m se agterslag saam met die vlieglyn kan hou, meer as voldoende. Ons gaan nie nodig hê om ’n forel met die katrol te baklei soos wat ons met ons groter vars- en soutwaterspesies doen nie. Dis belangrik om die katrol skoon en geolie te hou om te verseker dat daar nie drama langs die water ontstaan nie.
DIE LYN
Die lyn bestaan uit drie dele, naamlik die agterslag, vlieglyn en voorslag. Agterslae word meestal gemaak van dacron of braid en is ongeveer 90m lank. Dit word gebruik as jou vlieglyn, wat sowat 30m lank is, reeds uitgekatrol is wanneer ’n groot vis byvoorbeeld die hoek gryp en daarmee “hardloop”. Die vlieglyn self is die middelste gedeelte van die totale lyn en het ’n sekere gewig. Dis die vlieglyn se gewig wat jou in staat stel om die vlieg uit te gooi.
Die voorslag is die laaste gedeelte van die lyn en word aan die vlieglyn gebind. Dis dunner en ligter as die vlieglyn self en verskaf die finale “flick” wat die kunsvlieg uitrol en op die water laat beland. Omdat die voorslag dunner is as die vlieglyn self, verhoed dit ook dat die visse dit sien, daarvoor skrik en dus nie die kunsvlieg gryp nie. Vroeër jare (in die 1940’s) is na die voorslag as die katderm verwys.
Voorslae wat reeds opgemaak is, kan gekoop word, of die hengelaar kan sy eie maak deur verskillende diktes nylonlyn aanmekaar te knoop (die voorslag bestaan uit verskillende lengtes lyn wat al dunner word tot by die punt waar die kunsvlieg vasgemaak word). Die standaardlengte van ’n voorslag is so 9vt (ongeveer die lengte van die stok) maar bedrewe hengelaars kan ’n voorslag van tot 15vt sonder probleme gebruik.
VERSKILLENDE LYNDIKTES
Net soos die verskillende geweerkalibers spesifieke aanwendings het, word vlieglyne van verskillende gewigte gebruik om die beste resultate te behaal. Vlieglyne van sekere gewigte word gewoonlik met stokke gebruik wat vir spesifieke vlieglyne ontwerp is.
Vandag word daar nie meer verwys na die gewig van die stok nie, maar wel na die nommer van die vlieglyn wat gebruik kan word vir ’n spesifieke stok. ’n Nommer 3- tot 4-vlieglyn is ideaal vir hengel in strome, ’n nommer 5 of 6 vir hengel van die wal af en vir groot visse soos baber en tiervis kan tot en met ’n nommer 9 aangeskaf word om hierdie ou grotes te boelie.
’n Nommer 1-lyn se gewig is 60gr en die ideale vlieggrootte wat gebruik word, is 16-28 (hierdie laaste getalle verwys na die hoekgrootte). ’n Nommer 4-lyn weeg 120gr en die ideale vlieggrootte daarvoor is 10-28 terwyl ’n nommer 6-lyn se gewig 160gr is en die ideale vlieggrootte daarvoor is 4-16. Die gewig van ’n nommer 9-lyn is 240gr en die ideale vlieggrootte daarmee is 2/0-8.
Dit is baie belangrik dat die lyn en die stok reg moet balanseer. Dus kan jy nie ’n nommer 7-lyn gebruik op ’n nommer 5stok nie, dit gaan veroorsaak dat die hengelaar die vlieg “swak aanbied” in die water. ’n Nommer 5-grafietstok kan ’n nommer 5- of 6-lyn gemaklik hanteer.
Vlieglyne het ongelooflik »
» ontwikkel saam met die tegnologie, maar daar is steeds basies drie tipes: die dubbel-afgespitste lyn ( double taper); boepenslyn ( weight forward) en gelykdikte lyn ( level).
Vlieglyne verskil ook in die sin dat sommiges dryf terwyl ander weer teen spesifieke tempo’s sink. Die sinktempo word bepaal deur die hoeveelheid duime wat die lyn sink per sekonde ( density per inch). In Suider-Afrikaanse vars waters vir forel word daar meestal van ’n lyn gebruik gemaak wat baie stadig sink – sowat 1.5 duim per sekonde (dis bekend as ’n intermediate line). Soms word sinklyne wat 3 duim per sekonde sink gebruik (DI3) en daar is wel damme in die land waar hengelaars ’n 5 of 7 duim per sekonde-sinktempo benodig om in diep water te hengel. (Dis veral kompeterende hengelaars wat die 5 tot 7 duim per sekonde-lyne gebruik om die vlieg vinniger by die vis uit te kry wat diep swem).
Dryflyne word oor die algemeen gebruik in strome waar daar vir forel gehengel word, maar wel ook in damme wanneer die forelle op die oppervlakte vreet en die hengelaar besluit om klein, drywende vliegies uit te gooi.
KUNSVLIEË
Kunsvlieë word gewoonlik van hare en/of veertjies gemaak om insekte en vissies na te boots en kan in drie groepe geklassifiseer word: droë vlieë, nat vlieë en nimfe of larwes.
Droë of drywende kunsvlieë is ’n nabootsing van insekte wat op die wateroppervlakte dryf. Van ’n sprinkaan tot muggies word nageboots. Vliegies wat baie goed werk en bekend is, is die DDD, Elkhair Caddis en die Parachute Adams. Hierdie vliegies is meestal klein en word gewoonlik met hoekgroottes van 12-16 gebruik.
Sinkende of nat vlieë is nabootsers van insekte en ander lewe wat in die water onder die oppervlak gevind word. Dit wissel van klein vissies, varswaterslakkies, bloedsuiers tot naal- dekokernimfe. Die sinkvlieë is dié tipes wat meestal gebruik word as jy forel hengel, want hulle vreet veel meer onder die wateroppervlakte as op die oppervlak. Hierdie vlieë word op hoekgroottes van nommer 4 tot 12 gebruik. Baie bekende en effektiewe nat vlieë in Suid-Afrika is Mrs Simpson, Walkerskiller, Redeye Damsel en Papa Roach, om net ’n paar te noem.
Nimfe of larwes is vlieë wat die verskillende lewensstadia van waterinsekte soos steenvlieë naboots tussen die larwe en volwasse stadiums. Dié insekte word onder die wateroppervlakte aangetref en is meestal klein. ’n Hengelaar kan langs die stroom begin om klippe in die forelstroom om te keer en te kyk watter tipe insekte hy vind. So sal hy dan gou kan sien watter tipe nimfe/larwes hy moet probeer naboots.
PRAGTIGE NATUURSKOON
Die forelhengelaar met sy vlieggerei bevind hom gereeld in een of ander bergagtige gebied waar kristalhelder waterstrome hulle oorsprong het. Daar is die natuurskoon pragtig en die hengelaar kan rustig aanstap na sy stroom of dam waar hy homself dan versigtig wegsteek. Dis om te verseker hy word nie deur die forelle gesien wat naby die kant op en af swem op soek na iets te ete nie.
Dit neem gewoonlik nie lank nie of die hengelaar word meegevoer deur die klank van voëls rondom hom, dalk die vinnige verskyning van ’n nat otter langs die stroom of ’n rietbok wat rustig aan die oorkant van die dam staan en vreet.
Forelvang en vlieghengel in die algemeen gaan oor baie meer as net die vang van ’n vis. Die pragtige bergstrome is plekke waar jy van die gejaagde stadslewe ontsnap en vir ’n ruk lank net stil en rustig kan raak in die natuur rondom jou en ook in jou eie gedagtes. Daar langs die water word jou stres weggestreel en wanneer jy teen donker terugkeer na jou kampeerplek of huis toe, sal jy moeg, maar gelukkig wees.