OP DIE PLATTE VAN JOU POTE
Opgedra aan Danie Steyn.
DAWIE STRAUSS
Die troppie gemsbokke se spore het ons al vir ’n hele ent gevolg. Dit was seker die maklikste spoorsny denkbaar. Kalaharisand, duin-op en duin-af. Voordat ons ’n duin oorsteek, het ons eers versigtig daar- oor geloer, ons silhoeëtte verberg deur bossies, gras of bome bo-op die duin.
Die trop was skielik reg onder ons in die duinstraat. Danie was alleen bo-op die rug van die duin, ingewurm in ’n boskasie
om ’n goeie skoot te kry op ’n mooi bul. Ek en Willem, die gids, het ’n entjie ondertoe gelê en wag. Elke kort-kort wou Willem ook oor die duin loer en dan moes ek hom met handgebare berispe om stil te lê. Uit die hoek van my oog het ek gesien dat Willem weer boontoe kruip. My geduld was al redelik op en met my voorvinger mooi in sy gordel se lussie gehaak en ’n harde pluk daaraan, het Willem so ’n paar meter teen die duin afgeskuif. Oomblikke later het Danie se skoot geklap en sy bul was plat.
JAG KALAHARIGEMSBOKKE TEVOET
Vroeër die oggend van 7 Junie 2004 was dit my beurt om gemsbokke te soek op Rietfontein, die Kalahariplaas van Floors en Elmie Nel in die Koës-distrik in Namibië. Dit het baie oorreding van Danie gekos om Floors te oortuig dat ons gemsbokke te voet mag jag. Hy het naderhand teësinnig ingestem, met ’n besliste voorwaarde dat, sou ons kwes, ons die dier self moes kry.
Willem was ’n plaaswerker wat ons sou wys in watter kamp ons gemsbokke moes soek. Na sowat ’n uur in die kamp (sonder dat ons enige tekens van gemsbokke of spore gewaar het) het Willem besef dat ons eintlik in die naburige kamp moes jag.
Op pad daarheen het Danie byna dadelik die gemsbokke in ’n straat gewaar. Ons het eers weg van die trop af beweeg om ’n groot duin tussen hulle en ons te kry. Van agter ’n witgatboom, op die kruin van die duin, het ons hulle bespied. Hulle het wei-wei in die straat op beweeg en sowat 600 meter van ons tot stilstand gekom. Sommiges het gaan lê en ander het rustig rondgestaan. Dit was duidelik dat hulle nie gou iewers heen sou beweeg nie.
Die enigste opsie was om te bekruip en dit sou nie maklik wees nie, want daar was baie min skuiling. Ek is eers op my sitvlak teen die duin af waar ’n droë boom effens skuiling verskaf het. Daarvandaan het ek hurkend straat-op bekruip. ’n Lae duin het my gelukkig uit die sig van die gemsbokke gehou. Die duin het egter platgeloop en toe was lae driedorings my enigste skuiling. Op my maag het ek nader gekruip. En daar tussen die driedorings het my .30-06 besluit om sand te vreet! Terwyl ek my tussen die dorings deurgewurm het, is die geweerloop lekker diep in die sand ingedruk. Wat ’n penarie! Lêend op my rug het ek die slot uitgehaal en deur die loop geloer, gelukkig was die loop droog en met behulp van ’n grashalm en ’n paar blase, was die loop skoon.
Die bokke het nou almal gelê. Versigtig het ek nader gekruip, ’n koei het my gewaar, opgestaan en stip na my gekyk. Om doodstil te lê was nou al opsie. Na ’n paar minute (wat soos ’n uur gevoel het) het sy weer rustig geraak. Dit was nog te ver vir ’n seker skoot en al kruipend het ek die distansie probeer verklein. Die koei het my weer gesien en toe draai die geluk in my rigting...
Sy kon die kruipende ding nie eien nie en het besluit om ondersoek in te stel. Die hele trop het opgestaan en haar dopgehou. ’n Jong bulletjie het haar proesend probeer verhinder om nader te kom. Sy was nou so 40 meter weg en ek het plat op my sitvlak stelling ingeneem... toe die jong bul padgee, het ek haar in die kuiltjie geskiet. Sy het geval, maar dadelik weer opgestaan en weggehol. ’n Dubbelstamboompie ’n entjie van my af het ’n goeie dooierus gebied en Floors se waarskuwing dat ons ons eie kwesbokke moes herwin, het my laat seker maak van my skoot. Toe die koei gaan »
» staan, klap die doodskoot.
Die gemsbokkoei was ’n pragtige dier met 39 duim-horings. Die volgende dag het ek ’n trofeespringbokram met 16½ duimhorings van die bakkie af geskiet. In my lapa waar ek albei horings uitstal, bewonder besoekers altyd die springboktrofee. Maar my gemsboktrofee het egter vir my duisendvoudig meer waarde.
JAGHERINNERINGE BLY VIR EWIG
Die gebeure van daardie dag, alhoewel nou baie jare later, lê nog so vars in my geheue dat, as ek my oë toemaak, ek steeds die Kalahari kan voel en ruik. Die gewaarwording en gevoel in my toe Danie my daar langs die gemsbok met ’n handdruk gelukwens, was absoluut onbeskryflik, onvergeetlik.
Ek en Danie het verskeie kere saam gejag, en in die artikel, Parakar (wat in November 2014 in SA JAGTER/HUNTER verskyn het) word ons laaste saamjag beskryf. Na ’n beroerte kon Danie nie meer loop nie en met behulp van ’n spesiaal-gemaakte karretjie was hy op ’n manier weer op die platte van sy pote.
In April 2018 het hy in Satara in die Krugerwildtuin opgewonde vertel van ’n jagtog op ’n plaas in die Belfastdistrik wat spesiaal voorsiening maak vir gestremde jagters.
Hier het hy weer met ’n spesiale elektriese karretjie in die terrein (waar die slag van Dalmanutha, of Berg-en-dal, in die voormalige Oos-Transvaal van 21 tot 27 Augustus 1900 plaasgevind het) gejag. Met hierdie geveg tydens die Anglo-Boereoorlog het die ZARP’s, alhoewel die Boere die geveg verloor het, as helde uit die stryd getree omdat hulle tot die bittereinde hul posisies behou het.
Ek haal die Engelse skrywer, Sir Arthur Conan Doyle aan: “Bayonettes glitter as infantry double across the plain. The Boers stand up in their trenches emptying their rifles to the last moment. But they are doomed. The majority break and fly, some on horseback some on foot. Time shrapnel is burst with beautiful and most accurate precision over the fugitive band that breaks across the railway line. Men on foot and man on horses caught in that hail are seen to stumble and fall.”
Danie se oupa, generaal Chris H Muller was tydens die oorlog in baie gevegte hier betrokke. Hy het as korporaal in die oorlog begin en is volgens Wikipedia vinnig bevorder, veral oor sy uitmuntende kennis van vuurwapens. Dit is seker waarvandaan Danie sy liefde vir vuurwapens geërf het. Danie kon nie glo dat ’n mens te perd deur hierdie wêreld se enorme ronde klippe kon jaag nie.
MY INSPIRASIE EN HULP
Danie was vir baie insette op my jagpad verantwoordelik. Hy het my aangespoor om by SA Jagters aan te sluit, my vir die eerste keer aan handlaai of herlaai voorgestel en my help soek na herlaaitoerusting (en dit saam met vriend Roelie gekoop by die Aim Show). Hierdie herlaaitoerusting gebruik ek steeds tot vandag toe.
In my grootwordwêreld in die Vrystaat het ons van die bakkie af blesbokke geskiet. Danie, wat in die bosveld van die Hoedspruit-omgewing grootgeword het, was egter absoluut oortuig daarvan dat daar net een manier van jag is en dit is op die platte van jou pote. Hierdie passie om te voet te jag, deel ek ook.
Toe ek in 2006 voorberei het om in die Zambezivallei buffels te gaan jag en hom om raad gevra het, was sy antwoord: “Skiet jou koeie”. Dis wat ek toe gedoen het. Ek het tussen die beeste in die veld ingestap en met droë skote teen verskillende hoeke op die koeie geoefen.
Danie, Roelie Jordaan, Gert Schoeman en Ben Jansen het gehelp om ’n skietbaan op my plaas in die Clocolandistrik te bou. ’n Paar jaar later het Morkel Venter, AJ van Rooyen en Hennie Vermaak bygekom en toe bou ons die skietbaan op Ellerbeck. Danie het ’n reuserol gespeel in die bou van die skietbaan, akkreditering daarvan en die reël van die jaarlikse nasionale skietdae.
In die laaste tyd het ek agtergekom dat die berge al hoe hoër word, die bulte steiler, die trappe moeiliker, die klippe ronder, die stroompies breër en ou Moeder Aarde meer wankelrig. Dit het my laat besef dat ek nie vir altyd sal kan loop en jag nie, maar dat ek later dalk sal moet sit en jag vanuit ’n voorsitplek. Maar hier geld een voorwaarde: nooit, maar nooit by ’n watergat nie. Totdat ek nie meer kán nie, sal ek probeer om, soos my vriend my geleer het, op die platte van my pote te jag. * Danie Steyn (20 April 1948 – 4 Mei 2018) is ’n paar dae na sy 70ste verjaardag oorlede.