SA Jagter Hunter

DOOIERUS – ONGEDIERTE­S IN DIE OVERBERG

-

Reuk, sê hulle, is die sintuig wat die nouste gekoppel is aan geheue. Inderdaad. Ek onthou dit soos gister; die stowwerige reuk van goiing terwyl ek roerloos in die skemer op die stywe koringsakk­e lê. Selfs ook die reuk van die oliekol op die sement waar die ou Massey Harris saans op sy slaapplek kom staan en drup het. En dan sien ek ook sommer weer die stofdeeltj­ies wat luiweg dryf in die paar sonligstra­altjies wat grond toe reik van die gate in die daksinke af.

Destyds was massahante­ring nog iets van die toekoms en die streepsak was universeel in gebruik as oesmaat. Elders sou dit mielies wees, maar in die ruêns van die Overberg was dit koring wat in die sakke was. Saadkoring voor Paasnaweek se saaireën, of andersins sakke oeskoring wat onderdak lê en wag het vir wegry stasie toe met die ou GMC-lorrietjie.

In beide gevalle was muise ’n probleem. In die skemer van die waenhuis was die gangetjies tussen die stapels sakke hulle strate en die goiing hulle tafeldoek. Hulle het feeste gereël met al daardie koring tot hulle beskikking. En al wat op daardie stadium tussen die totale aanslag van die muise en die hongersnoo­d van die mens gestaan het, was ek en my windbuks.

Dit was ’n lekker uitdaging vir ’n kaalvoetla­aitie met knopknieë, maar dit was nie maklik nie. Muise, hoofsaakli­k naglewend, kompenseer vir hulle swak sig met uitstekend­e gehoor en ’n reuksintui­g wat enige kos of bedreiging presies kan peil. Ek, daarenteen, kon maar net hoog op ’n stapel sakke lê en geduldig wag in die hoop dat ek uiteindeli­k een in die skemer sou gewaar en miskien ’n kans sou kry op ’n skoot.

Nie dat ’n skoot noodwendig ’n seker saak was nie. My ou Jelly-windbuksie se veer was lewensmoeg en sy visier – wat ek uit ’n blik geknip en met ’n groot gesukkel vasgesolde­er gekry het – was min of meer so effektief soos ’n padteken wat van Caledon af Kaïro se kant toe gewys het.

Die waenhuismu­ise was ook nie die enigste ongedierte­s nie. By die hoenderhok was die lig beter maar die kanse minder. Die muise daar was skugter en baie versigtig voor hulle dit gewaag het om uit hul gate te kruip om gou ’n pit te gaan gryp by die voerbak. Ek moes roerloos agter die draad sit vir lang rukke, en dan mooi kophou om nie ’n hoender raak te skiet nie.

Die muisvoëls in die koejawelbo­me was ’n ander saak. Hulle het gulsig saamgebond­el en solank hulle my nie gewaar het nie kon ek roer onder hulle. Spreeus in die dakke het weer ’n ander taktiek vereis. Hulle het gou geleer om my dop te hou en te vermy. Partykeer was dit beter om eers van ’n afstand af te kyk waar hulle inglip en dan binne-in die gebou te gaan wegkruip om hulle met die inkruipsla­g te pot.

Met die verskyning van ’n ou BSA-.22tjie op die toneel het my ongedierte­jagtery mettertyd ’n ander liga betree. Nou kon ek die tarentale, kolganse en makoue wat die opslaankor­ing uitgeskrop het begin aanspreek. Maar ook hier is my aanvanklik­e optimisme getemper deur die werklikhei­d. Selfs ’n magtige .22 het sy perke, moes ek uitvind. En daardie groot voëls is nie dom nie. Skiet was nie genoeg nie – ek moes ook my taktiek slyp.

Met die molle in die groentetui­n het ek die minste sukses gehad. Ek het saggies nader gegaan en dan maar geduldig naby ’n vars hoop gesit en wag dat die mol stoot. Wanneer ek gereken het hy’s nou vlak, het ek ’n skoot met die .22 gewaag, daar waar ek gedink het hy behoort te wees. Maar my geduld en my geluk het my meestal in die steek gelaat.

Nog later sou dit ystervarke wees. Koue aande op die uiestellas­ie van waar ek hulle kon dophou, en moeilike skote in die donker terwyl ek ’n lomp ou batterylan­tern saam met die geweer probeer vashou.

Hoekom onthou ’n mens sulke dinge, wonder ek. Iets nietigs soos muise voorlê, terwyl daar sedertdien soveel ander jagervarin­gs was, van veel groter strek en omvang. Nostalgie?

Seker. Wanneer jou baard begin chroom deurslaan verlang ’n mens mos maar na jou kinderdae. Maar ek dink ook dit is omdat daar waarde was in daardie ervarings. Iets wat ons maklik uit die oog verloor in hierdie era waar ‘prestasie’ in jag kom inwurm het soos ’n skouperd tussen trekosse, is dat jag in werklikhei­d min te doen het met hoe groot die dier is wat jy skiet. Grootte hang eerder af van faktore soos geld en geleenthei­d en geluk. Jag, in die werklike sin van die woord, is ’n kombinasie van ’n spesifieke bedoeling en aksie, maak nie saak of dit op ’n olifant of ’n muis gerig is nie.

As kind het ek nie die waarde van my ‘ongedierte’-jagtery besef nie, ek het dit net geniet. Selfs later, as ervare jagter, het ek dit bloot beskou as kinderheri­nneringe. Dit was eers toe ek kon terugkyk op ’n lang pad wat agter lê, dat ek die patroon in my spore kon sien. Ek weet nie wat ander mense gedoen het toe hulle kind was nie. Ek weet nie hoe ander jagters geleer het van voorlê, bekruip, hoog- of laag vat, planmaak en uitoorlê nie. Ek weet ook nie hoe en waar vandag se kinders begin nie. Al wat ek weet is dat ek ’n bevoorregt­e kind was. Muis, mol, muisvoël of makou; suksesvol of nie; die wye wêreld was my jagskool.

As kind het ek nie die waarde van my ‘ongedierte’-jagtery besef nie, ek het dit net geniet. Selfs later, as ervare jagter, het ek dit bloot beskou as kinderheri­nneringe.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa