SA Jagter Hunter

NEGATIEWE BERIGTE OOR JAGTERS

-

Daar word elke jaar vele negatiewe berigte oor jagters in koerante en op sosiale media geplaas. Die mees onlangse geval is dié van sogenaamde “dronk” jagters wat “met glase drank in die hand” ’n olifant in ’n reservaat aangrensen­d aan die Krugerwild­tuin geskiet het. Dit het na bewering 13 skote geneem om die dier te dood.

Een van die dae is dit weer jagseisoen en daarom maan ons jagters om asseblief met oorleg op te tree. Die groenes sal met graagte verdraaide feite aan die media voorhou om jag te probeer stop, maar hulle is nie jag se enigste vyande nie. Sommige jagters is self daarvoor verantwoor­delik dat mense wêreldwyd daarteen gekant raak.

Berei asseblief goed voor (oe- fen gereeld op die skietbaan om akkuraat te skiet). Dink tweemaal voor jy ’n skoot neem, maak nie saak of dit op kortafstan­d in die Bosveld of langer afstande in oop terrein is nie.

Wees te alle tye bewus daarvan dat die beeld wat jagters na buite uitdra moet kan getuig van deernis vir die diere wat ons jag, verantwoor­delike en korrekte optrede, respek vir die natuur en wildboere se eiendom en dat drank en kruit nie goed meng nie.

Dink twee maal voordat julle video’s van jagtogte versprei op sosiale media. Dis seker een van die grootste euwels wat jag in ’n slegte lig stel, want mense plaas soms die mees onvanpaste materiaal wat jag en die voortgeset­te besit van vuurwapens in gevaar stel. Kom ons dink voor ons doen!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa