SA Jagter Hunter

DEUR KOOS MARAIS

DIE LAASTE ELAND

-

Koos Marais is reeds baie lank ’n lid van SA Jagters en ook die man wat ons tydskrif SA JAGTER/HUNTER in Mei 1985 gestig en as die eerste redakteur opgetree het. Destyds het SA JAGTER/HUNTER natuurlik anders daar uitgesien en was dit eintlik meer ’n lywige nuusbrief van die SAJWV as ’n tydskrif.

Koos Marais is ’n gesoute jagter, maar alles loop nie noodwendig altyd reg in die jagveld nie en soms ry die ongeluk jou werklik bloots. In sy boek, Die Laaste Eland, vertel Koos die storie van drie jaar se elandjagte. Jagte wat nie so suksesvol afgeloop het as wat die skrywer beplan het nie. Die leser stap saam met Koos Marais op die kwesspoor van elandkoeie en staan saam met hom verdwaas by ’n geskiete elandbul wat eintlik ’n koei moes wees.

Maar die avonture agter elande aan is nie al wat Marais in die boek neergepen het nie. Hy gesels ook lekker oor jaggewere en vertel hoe hy aan sy geliefde .375 H&H-geweer gekom het, een wat deur die bekende Hendrik Swanepoel gebou is en wat eers aan Nico van Rooyen behoort het.

Koos skryf ook oor etiek, jag- tegnieke, die gebruik van sekere tipes koeëls en hy filosofeer oor jag en oor hoekom ons jag. Dan raak hy ook ’n ander teer sakie aan, die een van ouderdom en die feit dat hy besef dat hy een of ander tyd sal moet ophou jag. Jy kan nie meer so ver stap nie en jy sukkel om die geweer so stil soos voorheen te hou. Moet hy maar oorslaan na bakkieskie­t toe of liewer op die ouetehuis se stoep gaan sit met ’n koerant? Daar is deurlopend verwysings na die ouderdom en die vraag oor hoe lank hy nog sal kan volhou om dit te doen waarvoor ons almal so lief is.

Dis ’n boeiende boek waarin Koos Marais jou op allerhande afdraaipaa­djies neem terwyl hy vertel hoe hulle op die kwesspore van ’n eland stap. Hy eindig die boek van 137 bladsye met die gedagte dat hy nie eintlik weet wanneer hy sy laaste eland sal skiet nie. Daar is foute wat reggemaak moet word, want jy wil jou laaste elandjag reg afsluit. Maar selfs al gebeur dit sal die bos steeds roep en dan swaai jy maar weer die geweer oor jou skouer. * Die Laaste Eland is beskikbaar by Safari Outdoor asook Upper Case (in Menlyn) en kos R240.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa