SA Jagter Hunter

HOEKOM JAG EK?

As ek in die veld is, kan ek werklik luister...

-

JACO GOOSEN

Ek is ’n seun van Suid-Afrika, ’n kaalvoet-Kalahariki­nd. In my bors klop ’n hart in ritme met dié van my oupa en sy oupa en al die oupas voor hom. Hulle is die legendes wat hierdie land mak gemaak het met niks meer nie as harde werk, ’n wil van yster, genade en liefde van God en ’n roer in die regterhand. Dit is ook hoe ek grootgewor­d het. As kind van God, met die veld in my hart en ’n roer in my hand.

Jag was my eerste ware liefde en selfs vandag is dit deel van my, van wie en wat ek is. Dit is in my bloed en in my beendere. Ek is van kleins af geleer om die veld te respekteer en lief te hê, om net te jag wat ek beplan om te eet en wanneer ek wel ’n lewe neem, om dit so vinnig en pynloos moontlik te doen. Ek is geleer dat om te kan jag en om in die veld te mag wees nie my reg is nie, maar ’n voorreg. En hiermee saam kom die verantwoor­delikheid om hierdie gawe nooit te misbruik nie en om my kinders te leer en op te voed dat hulle dieselfde met hul kinders kan doen. So word hierdie voorreg bewaar vir toekomstig­e geslagte – ’n voorreg wat ontvang is uit die genade en liefde van ons Hemelse Vader.

Maar hoekom roep die jagveld ons so gereeld? Hoekom roep die diep blou see ander op dieselfde manier as hul harte eers aan die wye waters behoort? Hoekom sê ons so moeilik, “Nee”? Vra ’n duisend jagters hierdie vraag en jy sal naby aan ’n duisend verskillen­de antwoorde kry. Almal begin baie ywerig met verduideli­kings en redes wat ’n halfuur later eindig met iets waarop hulle nie pre- sies hul vingers kan plaas nie. Dit is asof die antwoord voor die hand liggend is totdat hulle regtig begin dink daaroor. My gevolgtrek­king is dat dit verskillen­d is vir elkeen van ons al oorvleuel groot gedeeltes van ons stories.

HOEKOM EK JAG

So, hoekom jag ék? Net soos wat ’n jagter ’n paar ekstra patrone in ’n baadjiesak saam met hom veld toe dra, het ek hierdie vraag vir baie jare lank en op verskeie jagtogte saam met my gedra. Ek het dit gereeld uit die sak gehaal en rondgerol in my hand soos ’n spoelklipp­ie totdat ek later elke kurwe en kontoer geken het soos my eie. Een aand om ’n kampvuur saam met ’n goeie vriend het ek weer die klippie uitgehaal en terwyl ek verlore geraak het in die vlamme het ek dit, soos ouder gewoonte, in my hand begin rondrol sonder om enigiets te ver-

wag, maar skielik was die antwoord daar, in die fluisterin­g van die vlamme... Wel, mý antwoord in elk geval, want soos ek reeds gesê het... dit is verskillen­d vir elkeen.

My antwoord was eenvoudig dit: “Sodat jy kan luister”. “Waarna moet ek luister?” was natuurlik my volgende vraag al het ek nie regtig ’n antwoord verwag nie. Ek was gereed om weer hierdie nuwe klippie in my sak terug te sit toe ek onverwags wel ’n antwoord kry, maar om hierdie antwoord te verduideli­k, moet ek baie ver teruggaan, tot heel aan die begin, om presies te wees.

“In die begin het God die hemel en die aarde geskape. Die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloe­d, en die Gees van God het gesweef oor die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.”

Ses verse en ses dae begin met hierdie woorde: “En God het gesê...” Die sesde dag sluit weer af met: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.”

Daar is ’n spreekwoor­d wat lui: “Die pen is magtiger as die swaard”, maar dit is nie heeltemal waar nie. Dit is nie die pen waarin die krag lê nie, maar in die woorde wat die pen op papier vasbind. Woorde is magtiger as wat die meeste mense ooit kan besef en die kragtigste wapens wat hulle ooit sal besit, al is dit soms onwetend.

Woorde is wat God gebruik het om die hemele en die aarde en elke lewende wese daarin en daarop te skep. Met woorde het God die magtige riviere gekerf uit die klipfondas­ie van die aarde en elke berg en woud en woestyn gevorm lank voor tyd begin het. Met woorde het Hy die eerste lewensasem geblaas in elke dier en vis en voël en insek. Woorde is waarmee Hy my en jou uit klei gevorm het na Sy beeld en Sy gelykenis en binne ons elkeen ’n lewendige en ewige siel. Prinse van die aarde het hy ons gemaak met die voorreg en ongeloofli­ke verantwoor­delikheid om te heers oor die res van Sy magtige skeppingsw­erke.

EWIGHEID SWAARDE VAN DIE WOORD

Dit het ons eeue en millennium­s en honderde geslagte geneem, maar die mens het amper volkome vergeet hiervan. Vergeet van ons voorreg. Vergeet van ons opdrag. Vergeet van die woorde. Vergeet hoe om te luister.

Hierdie woorde het nooit weggegaan nie, dit is God se skeppingsw­oorde en sal vir ewig voortleef in elke sandkorrel, elke druppel water en elke blaar aan elke boom. Dié woorde fluis- ter soms saggies in die wind, ander kere donder en bliksem dit in onweerswol­ke voor ’n storm. Dit leef voort in die reuk van reën op warm grond, die smaak van soet, ryp vrugte. Ons sien die woorde wink in die vlamme van ’n kampvuur en ons hoor hoe dit stadig, ritmies die tyd aftel in die hartklop van ons geliefdes. Dit pols en bruis deur die are van elke lewende wese op, onder of bo die aarde. Hierdie woorde woon in die oë van ons kinders voordat hul onskuld gesteel word deur ’n wêreld wat te veel geraas maak en hopeloos te vinnig draai.

In die ou en stil plekke van die wêreld, waar tyd nog nie afgemeet word deur ’n horlosie nie maar deur die posisie van die son. Waar paaie nog nie iets op Google Maps is nie, maar spore in die sand en waar gesels iets is wat ’n mens saans om die kampvuur doen en nie getikte woorde op ’n foon is nie. Op hierdie plekke lê die woorde nog onversteur­d, soos ’n dik misbank oor die see. Hierdie plekke is kosbaar en heilig en magies en hou ’n onbeskryfl­ike bekoring in al verstaan min mense hoekom hulle dit voel. Dit is in die sand van die Kalahari, in die klip van die Karoo, in die ruigtes van die Bosveld. Dit trek ons aan, want op hierdie plekke kan ons die naaste aan ons Skepper wees, hier voel ons siele tuis al onthou ons nie altyd hoekom nie. Hier is dié woorde op hul duidelikst­e.

LUISTER MET JOU SIEL

Wanneer jy luister met jou siel, in plaas van jou ore. Wanneer jy jou mond toe en jou verstand oopmaak. Wanneer jy nie meer buite in die wêreld nie, maar binne jouself begin soek. Wanneer jy luister, wérklik luister, sal jy hierdie woorde nog hoor en innig liefkry. Volledige, onvoorwaar­delike liefde, sonder om volledig te verstaan, want alle goeie dinge word gebore uit liefde, en liefde word gebore uit genade, en genade is ’n groot gawe van God.

Wanneer ek in die veld is, tussen God se skeppingsw­erke en die res van die wêreld verdof totdat ek alleen is met net my gedagtes en herinnerin­ge, dan eers kan ek werklik luister, dan eers kan ek die woorde begin hoor en al is hierdie woorde nie in mensetale nie, verstaan my siel dit, want uit hierdie woorde is hy (my siel) geskep. Dit is in hierdie oomblikke waar my siel rus vind en my verbeeldin­g vlerke kry. Dit is hier waar ’n wêreld met oneindige moontlikhe­de en wonderwerk­e gebore word – ’n vars doudruppel­wêreld.

Luister...

 ??  ?? MAART 2019 Dis wanneer ek in stilte in die wye veld sit dat my siel waarlik luister.
MAART 2019 Dis wanneer ek in stilte in die wye veld sit dat my siel waarlik luister.
 ??  ?? Jag is meer as net die skiet van ’n bok. Dis ook die samesyn met medejagter­s en vriende rondom die vuur en dinge soos ontbyt in die veld.
Jag is meer as net die skiet van ’n bok. Dis ook die samesyn met medejagter­s en vriende rondom die vuur en dinge soos ontbyt in die veld.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS EN REGS: Iets vir die pot of ’n mooi trofee sluit ’n jag volmaak af. Ek gebruik dikwels my kwadfiets om diere te herwin.
LINKS EN REGS: Iets vir die pot of ’n mooi trofee sluit ’n jag volmaak af. Ek gebruik dikwels my kwadfiets om diere te herwin.
 ??  ?? FOTO BO: ’n Mooi boom is ’n sieraad van die veld – een van die dinge wat my oneindig plesier verskaf om na te kyk.
FOTO BO: ’n Mooi boom is ’n sieraad van die veld – een van die dinge wat my oneindig plesier verskaf om na te kyk.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa