SA Jagter Hunter

IN MY VISIER

-

Ons het skaars van die seesand tussen ons tone ontslae geraak of sosiale media begin gons oor jag en verwante sake.

Dit gaan sleg met die ekonomie, maar dit wil voorkom asof sommige jagters dit kon regkry om ’n ietsie af te knyp vir die 2019-jagseisoen. Oral word navrae gedoen oor jagplek en wildboere adverteer fluks. Op ons tydskrif se Facebook-blad selfs met groter ywer as verlede jaar toe daar ’n groot toename was.

Soos elke jaar is daar jagters wat gal braak oor hoë pryse. Wildboere het mal geword, kla hulle. Wildboere mor ook. Hulle kan dit nie verstaan nie (ek ook nie) dat elke liewe besigheid of persoon wat enige ander tipe diens as jag lewer, die maksimum wins mag probeer verhaal, maar wanneer die wildboer dit doen, wil ’n ieder en elk hom op sy tabernakel skop. Is mossie fair nie!

Dit wil voorkom asof daar nog baie Suid-Afrikaners is wat dink dat goedkoop jag hul reg is. Daar word steen en been gekla dat die koste nie die hoeveelhei­d vleis regverdig wat jy huis toe neem nie. Te veel ver- loor egter uit die oog dat jy nie net vir die vleis betaal nie. Jag is veel meer as ’n stukkie vleis koop. Dis ’n totale ontvlugtin­g van die stadsgejaa­g – beslis die heel lekkerste ding wat jy kan doen met jou klere aan.

Behalwe om diklip te wees oor bokpryse weier sommige jagters om vir vuurmaakho­ut te betaal. Die daggeld, sê hulle, is mos klaar hoog genoeg. Wildboere wys egter daarop dat mense hopeloos te rojaal met hout te kere gaan as hulle onbeperkte hoeveelhed­e gratis kry – briek jy nie sommige manne nie, brand hulle maklik ’n hele plaas se bome in een naweek op.

Wat jag in ons buurlande betref, kan ’n mens ook maar net oor wonder. In Namibië wil die owerhede mense verbied om diere wat daar gejag is se foto’s op sosiale media te plaas... as gevolg van die negatiewe kommentaar wat jagfoto’s ontlok. Botswana, wil dit voorkom, is besig om twee maal te dink oor hul verbod op jag op staatsgron­d en oor Zimbabwe kan jy maar net die kop skud. Dié land se huidige probleme gaan baie wyd uitkring en moontlik ook die jagbedryf raak. Mugabe het inderdaad van ’n sieraad ’n vullishoop gemaak. En ongelukkig lyk dit asof sy opvolger ook nie weet hoe om die pap gaar te kry nie.

Die pryse van kleurbokke en pesdiere soos jakkalse en bobbejane is nog ’n kwessie. Almal weet kleurbokpr­yse het erg getuimel. Maar baie jagters het steeds geen erg daaraan om ’n enkele sent meer te betaal vir iets met ’n goue flank, saal of pensvel nie. Baie oorsese jagters ook nie.

Mak bokke wat in klein kampies geteel en vrygelaat word in groter jagkampe gee baie besoekende jagters sooibrand. Twee besoekende Amerikaans­e war veterans vertel my verlede jaar hulle is basies klaar met SuidAfrika. Hulle wil jag, sê hulle, nie mak bokke oes nie.

Sommige plaaslike jagters voel hulle hoef nie vir jakkalse, bobbejane, rooikatte en bosvarke te betaal nie, want dis glo pesdiere. Daar is selfs manne wat hierdie diere skiet sonder vooraf toestemmin­g van die boer – en dan dikbek is as hulle ’n rekening daarvoor kry.

Voeg by al hierdie klein jakkalsies die groot probleem van grondontei­ening en grondgrype en ’n mens wonder wat 2019 gaan inhou.

Behalwe vir die onteiening­skwessie is daar heelwat ander sake in ons jagbedryf wat aandag benodig. Is dit nie dalk tyd vir ’n groot ommekeer in beide jagter en wildboer se sienings om ons jagbedryf volhoubaar te hou nie? Ek vra maar net.

Internasio­naal is daar ook ’n ander gevaar vir jag. CITES (Convention on Internatio­nal Trade in Endangered Species of Wild Fauna & Flora) vergader hierdie jaar vanaf 23 Mei tot 3 Junie in Colombo, Sri Lanka. Altesaam 90 lande het 57 verskillen­de voorstelle ingestuur oor veranderin­gs van die statusse van ’n hele aantal spesies. Een van die belangriks­tes is die voorstel van 10 Afrikaland­e dat die olifante van Botswana, SuidAfrika, Namibië en Zimbabwe op Appendix I geplaas moet word. Indien hierdie voorstel aanvaar word, sal dit die einde van trofeejag op olifante beteken.

Daar is verder ook ’n voorstel dat kameelperd­e op die Appendix II-lys geplaas word, wat beteken dat strenger beheer oor hierdie diere uitgeoefen sal word omdat hulle glo bedreig raak.

Ja, 2019 lyk gewis na ’n uitdagende jaar. Maar intussen... kry solank die roere reg, dis een van die dae winter!

Mooi loop!

 ??  ?? MAART 2019
MAART 2019
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa