DOOIERUS – EKO-ONVRIENDELIK
Maar solank hy die natuur respekteer en in lyn met bewaringsobjektiewe jag, is jag vir die pot in alle opsigte ‘eko.’
Miskien is dit omdat dit Maandag is. Miskien is dit die bloedigheid wat oor ’n mens kom wanneer die Boland so ongenadiglik warm raak in Februarie. Miskien is dit sommer ’n algemene moerigheid van gees wat posvat as ’n mens leef in ’n wêreld waar die absurde maklik die standaard raak. Of dalk is ek maar net vir myself kwaad omdat ek dit gewaag het om die koerant te lees. Hoe ook al, feit is ek is vanoggend hoogs ekoonvriendelik.
Hier staan dit: R69.99 vir ’n ‘eko-vriendelike’ blompot. Van plastiek! Die eko-vriendelikheid van dié stukkie ongewenste rommel dan nou kwansuis te danke daaraan dat dit deels uit herwinde plastiek gemaak is?
Eko-vriendelik sou wees om in die eerste plek nooit die ding te gemaak het nie. Gebruik eerder ’n blik of een of ander houer wat in elk geval klaar weggegooi is. Daar’s hope en hope van die goed!
En dan hierdie ‘eko-slim’ skootrekenaar van Takealot. ’n Rekenaar! Hoe, selfs in die naam van hoogheilige Mammon, kom hulle daarby uit om iets wat só nywerheidsintensief is om te vervaardig, en boonop alles van arseen tot zirkon bevat, hoegenaamd in dieselfde asem te noem as ‘eko’?!
Die voorvoegsel ‘eko’, met sy oorsprong in ‘ekologies’, is veronderstel om te verwys na iets wat te doen het met omgewingsof natuurvriendelikheid. Rofweg dieselfde as ‘groen’ sou ’n mens wou sê, maar ‘groen’ is ook al so holrug gery dat selfs die toksiese petrol wat jy in jou kar gooi deesdae groen is.
Eko-speelgoed, eko-verf, ekohorlosies, eko-motors, eko, eko, eko. Alles is deesdae eko. Selfs ’n watertenk, hondehalsband of ’n haarborsel, alles van 100% eko-vyandelike polimeer gemaak, word bemark met ’n ‘eko’pluimpie. Het ons in ons malle materialisme by ’n punt gekom waar die waarheid nou glad nie meer tel nie en enige gerieflike etiket om ’n ding gehang kan word, al is dit blatant vals? Want iets wat ’n rapsie minder skadelik is as rampspoedig is per slot van sake nog lank nie ‘eko’ nie!
Wat kan sulke misleiding anders wees as blatante bedrog? En waar eindig dit? Want groenbedrog kan veel meer skadelik raak as net ’n misleidende naam of etiket. Dink maar net aan Volkswagen se berugte dieselgate- skandaal, toe 11 miljoen voertuie vervaardig is met elektronika wat spesifiek ontwerp is om emissiewette op ’n bedrieglike wyse te omseil.
Is daar hoegenaamd iets in mensehande wat werklik eerlik ‘eko’ is? Wel, as jy ’n komposhoop in jou agterplaas sou aanhou om daardie nuwe eko-pot mee te vul, kan dit seker ’n paar punte tel. So ook as jy iets inheems en eetbaar in die pot sou plant in plaas van eksotiese varings of magic mushrooms of iets. En dan jag, natuurlik.
Jag – solank die jagter liggies trap en eet wat hy skiet – val vierkant in die kraal van ’n ekologiegerigte leefwyse. Vergelyk dit maar net met die industriële produksie van ander vleis- en kossoorte. Die natuurlike proses waarvolgens wild leef het ’n veel kleiner omgewingsvoetspoor. Ons kap mos nie natuur uit om wild te produseer nie en ons besoedel nie die omgewing met allerhande chemikalieë en prosesse en afval nie. Dit verg ook nie brandstowwe of addisionele energie of medisynes om ’n bok groot te maak nie. Wildsvleis is natuurlik en suiwer organies. Daarby is wild ’n belangrike skakel in die natuurlike ekologie – van saadverspreiding en plantbeheer tot by die rol wat selfs mis in ’n groter natuurprentjie speel.
Sou die jagter egter die veld vertrap met sy voertuie, of sy rommel agterlaat, of hom vergryp aan dierelewens of vuurmaakhout, of blindelings materieel vermors, is dit natuurlik ’n ander storie. Maar solank hy die natuur respekteer en in lyn met bewaringsobjektiewe jag, is jag vir die pot in alle opsigte ‘eko.’ En tog praat niemand van eko-jag nie! (Tensy hulle verwys na die twyfelagtige praktyk van ’n renoster met ’n verdowingspyl jag sodat dieselfde dier weer en weer verkoop kan word, en nie net een keer soos wanneer jy dit met ’n koeël skiet nie).
Waarvan ons wel hoor, is ekotoerisme, want dit word deur Groenes van die dakke af geskreeu as ’n alternatief vir jag om die rekening te betaal vir bokke se verblyf.
Nie dat dit ’n slegte gedagte is nie. Dit sou gaaf wees as ’n toeris bereid sou wees om ’n bok se volle prys te betaal net om ’n foto van hom te kan neem. En boere in die afgeleë Karoo en Kalahari sal seker maar te bly wees as hulle daardie ou plaashuis heeljaar kan verhuur en nie net in die jagseisoen nie. Maar wat dan van dinge soos getallebeheer en veldbestuur en die omgewingsimpak van toerisme? Skuus, ek bedoel eko-toerisme.
Nie dat dit veel anders is as gewone toerisme nie. Soos dit vir my lyk dra eko-toeriste ook maar die nuutste eko-skoene en eko-sonbrille, en hulle gebruik eko-slim kameras en rekenaars, en hulle daag met eko-vliegtuie en eko-toerbusse op by ekolodges waar hulle ‘eko’ tot die ekologie van die omgewing uiteindelik so verdraai is dat die hele eko-sirkus ekologies aanbeweeg na die volgende eko-utopia. Eko, ja. ’n Mens raak skoon gatvol vir al die leuens rondom eko. Want uiteindelik het hulle meer te doen met die ‘eko’ in ekonomie as die ‘eko’ in eko-logie.