SA Jagter Hunter

DIE SEBRA EN DIE .500 NE

Dié meneer-kaliber vat nie nonsens nie, dis verseker!

-

JACQUES DE BEER

Ek lees in die aand Bybel en dan ontspan ek in die katel met ’n SA JAGTER/ HUNTER-tydskrif, hetsy ’n nuwe een of een uit my argiewe. Dis heel interessan­t om ’n baie ou een deur te blaai en sommer na toeka se jagpryse te kyk.

Terwyl ek een aand ’n ou tydskrif deurblaai, kom ek op ’n sebra-artikel af en ek sien dadelik in my geestesoog hoe ek agter ’n gawe sebra aan is, sommer met my .500 Nitro Expresspis­tool. Dié knaap lanseer ’n 440gr- of 570gr-koeël met ’n skouspelag­tige vertoning van geraas en terugskop. Die lading het ek effe verlaag vir beter hanteerbaa­rheid – nie enige man se koppie tee nie, dis verseker!

Toe ek ’n sebra te jag kry in Vredefort, op Lapa Palesa, het ek op 440gr Bertram-koeëls besluit en dit uit Pretoria laat koerier. Alhoewel ek toe op daardie stadium nog nie baie met die .500 geskiet het nie (om nie eens van jag te praat nie) moes ek heelwat tyd op die skiet- baan spandeer om dié monster gewoond te raak. Op lange laas het ons mekaar tog gevind, of liewer, so op ’n manier!

Tot op 100 meter groepeer die pistool baie goed met dié koeëls. Ek het hom toegerus met ’n Vortex Razor Red Dot wat die skok baie goed hanteer. Die rooi kolletjie het ’n hele paar verstellin­gs in grootte (wat ook tot op 100 meter heel goed werk vir my).

Die jagdag het aangebreek en ek het die pad gevat om my sebra te gaan haal. Daar aangekom, na die afpakkery, is ek met my bakkie deur die plaas om te kyk waar die sebras loop. Na ’n lang gesoek kry ek ’n trop opgespoor en deur my verkyker het ’n groot merrie met ’n witterige gesig my oog gevang. Sy was ouerig, maar moddervet. Haar pragtige vel was sonder letsels en merke – ’n ideale kandidaat. (’n Hings se vel het nogal heelwat bytmerke wat nie

sal deug nie omdat ek juis die vel wil laat looi.)

Vir my eie gemoedsrus wou ek graag die skietafsta­nd op maksimum 50 meter hou. Ek was wel vertroud met die akkuraathe­id van die wapen en my skietvermo­ë, maar die knaap se terugslag, of soos die Engelsman sê, recoil, is aan die ongeskikte kant en dit kon maklik my skoot belemmer. Ek was egter bekommerd oor die rusteloosh­eid van die sebras en het getwyfel of ek naby genoeg aan so ’n wilde trop sou kon kom.

Vroeg die volgende oggend is ek, uitgedos in my ghillie- pak, te voet van die kamp af om sodoende die wild so min as moontlik te versteur. Ek het die pad gevat met die .500 Nitro Express-pasmaakpis­tool aan my sy en vyf patrone in my sak. Op daardie stadium het die .500 ’n lang loop gehad (wat ek onlangs tot 14 duim verkort het).

MOEILIKE TERREIN

Ek het oor die eerste koppie gestap – nogal ’n uitdaging weens die klomp los klippe wat begin rol sodra jy met jou volle gewig daarop trap. Aan die ander kant het dit effe makliker gegaan omdat daar meer vaste, groot rotse was. Ek het ’n trop sebras aan die voet van die koppie gesien waar hulle staan en wag het vir die eerste sonstrale om hul verskyning te maak. Ek het stadig gevorder tot so 120m van die trop af. Aan my linkerkant het ’n troppie jong elande onrustig rondgestaa­n en toe die windjie effens swaai, het ’n senuagtige elandkoei op volle vaart, met sebras en al, die kloof ingehardlo­op. Jy kon die pote teen die los klippe tot baie ver hoor. Ek kon nie kans kry om te sien of die witgesigme­rrie ook in die trop was nie.

Ek was redelik moedeloos, want dit het ver bekruip en baie inspanning geverg om te vorder tot waar ek was. Die sebras het ver gehardloop en die terrein word nie makliker nie. Dit het ’n paar ure geneem om stadig oor baie rowwe terrein te beweeg. Toe sien ek dat ek tot redelik naby aan die kamp gevorder

het. Steeds was geen sebra in sig nie en die son het begin warm raak. Ek het begin wonder of ek ooit ’n sebra aan die haak sou kry. Hulle was net te geslepe en het die rowwe terrein baie goed tot hulle voordeel gebruik.

Terug by die kamp het ek vinnig ’n laatontbyt geniet en rustig verkeer tot ek weer kans gesien het vir die rowwe klippe. Gou was die jaglus egter terug en ek het weer begin planne beraam. Ek het ’n vermoede gehad dat ek die sebras op die oper grasvlakte­s sou kry en het besluit om met my vierwielmo­torfiets (wat ek altyd saamneem) oor die rowwe terrein en koppe te ry tot naby aan die laaste kop. Vandaar kon ek te voet verder. Sodoende sou ek gouer naby aan die sebras kon kom indien hul wel op die oper vlaktes was.

Ek het my sleepwaent­jie saamgeslee­p, net ingeval my plan sou werk (dan kon ek sommer self die sebra laai). By die laaste kop het ek my motorfiets onder ’n groot doringboom gelos en te voet verder gegaan. Dit was maar weer ’n gesukkel tot so halfpad teen die koppie af. Maar my vermoede was reg: Die sebras het onveilig gevoel tussen die koppe waar hulle sig beperk was en het die ooptes opgesoek. Ek het die windrigtin­g vasgestel en toe begin met die uitvoering van my plan.

KRUIP NADER AAN DIE SEBRAS

Ek wou (met die wind in gedagte) afbeweeg na ’n kolletjie dig- »

» te bos wat neffens die sebras was. Dit het weereens bloedsweet gekos om sonder enige gebreekte enkels of ’n wapen met ’n nare letsel tot daar te vorder.

Na ’n ewigheid het ek die bos uiteindeli­k bereik. Die wind was skuins van agter en ek het verwag dat die trop jong elande wat steeds naby die sebras was my enige oomblik sou ruik… en ek wou graag nóg nader aan hulle kom. Die ongeveer 100 meter was nog te ver na my sin. Ek wou nie ’n kans waag nie, want die elande was nie rustig nie. Doodstil sit en wag en hoop op geluk was nou my voorland. Dalk sou die sebras effens nader beweeg.

Na ’n hele ruk se wag in die skadu van ’n boom het die wind begin sterker waai en ek was bang dat dit my kans op sukses in die wiele kon ry. Toe waag ek maar ’n kans en begin bitter stadig op my sitvlak nader beweeg. Ek het goed gevorder, ’n jong doringboom­pie was my einddoel vanwaar ek ’n skoot kon waag.

Op dié stadium het my hart vinniger begin klop en die senuwees het begin knaag. Ek moes beweeg oor ’n klein stukkie grasveld met min dekking, maar kon toe sowaar die boompie ongesiens haal. (Op ’n stadium het dit gevoel asof die boompie saam met my beweeg en ek nooit daar gaan uitkom nie!) Die sebras en die elande was nou bymekaar en die lawwe elandvers was sowaar weer op die kant van die trop sebras – amper soos ’n wafferse brandwagbo­bbejaan.

“My” merrie was wel daar in die sebratrop, die afstand so 60, dalk 65 meter. Meteens kyk die jong elandvers onrustig, kop omhoog, in my rigting. As sy vermoed iets is nie pluis nie, sal sy spore maak. Ek dog die lewe verlaat my lyf net daar. Ek het dadelik probeer vasstel waar die merrie in die trop staan en of ’n skoot moontlik sou wees, want hierdie tydbom kon enige oomblik ontplof – letterlik en figuurlik!

MY GELUK DRAAI SKIELIK

Meteens stap “my” merrie reguit na die elandvers aan die kant van die trop. Met dié kyk die elandvers weg van my na die sebra wat op haar afstap. Ek het die kans met albei hande aangegryp en stadig op my knieë afgesak, die .500 skuins oor ’n tak gestut. Terwyl die sebra rustig aanstap, het ek die kolletjie reg op haar blad geplant. Toe sy vir ’n sekonde stop, het ek die sneller gedruk.

Alle hel het losgebars toe die monster se knal teen die klowe uit weergalm. In alle rigtings het sebras en elande gehardloop, met klippe wat spat. Toe al wat leef en beef die rante uit is, met stof wat nog hang, staan ek op... my hart nog in overdrive.

Ek moes eers ’n paar keer diep asemhaal om rustig te raak, want dit was ’n adrenalien­belaaide oomblik. Ek kon hoor toe die 440gr-koeël tref en dit het vir my geklink na ’n goeie skoot. Ek het ’n paar minute gewag en begin stap tot waar die sebra gestaan het. Presies 50 meter. Ek was verlig dat dit nie verder was as wat ek gedink het dit is nie. Op die plek waar die sebra gestaan het, kon ek aan haar wegsprings­pore sien dat sy moeilik beweeg. Ek het in die rigting begin stap waarin die trop gehardloop het. Skaars ’n paar treë, of ek word begroet met ’n bloedspoor soos wat ek in my lewe nog nie gesien het nie.

Daar was geen moontlikhe­id dat ek hierdie spoor kon verloor nie. Dit het letterlik gelyk soos ’n tuinslang wat bloed gespuit het en die merrie het skaars 30m gelê vanwaar sy die skoot ontvang het. Dadelik kon ek sien die .500 NE is nie een wat nonsens vat nie. Die wond was groot en het baie gebloei. Ek was baie opgewonde, maar gedaan. Dié sebrajag was harde werk.

Nadat ek die rigting vasgestel het waar my motorfiets staan, het ek daarheen begin aanstap. Gelukkig was dit nie te ver nie. Ek het wel gesukkel om met die fiets by die sebra te kom, want sy het op ’n moeilike plek gelê. Met ’n bakkie sou dit onmoontlik gewees het om haar te bereik. Ek het haar gou op die wa gesleep met die katrol en slagplek toe gevat, ’n paar kilometer verder op die ander plaas.

TEVREDE MET DIE RESULTAAT

Dit was ’n pragtige dier en sy was spekvet. Die slagters het vinnig die vel afgeslag en versorg en gou was die vleis veilig in die koelkamer. Ek was baie bly dat ek my eerste sebra met my .500 kon plattrek. Die vorige dier was ’n elandbul en ek het begin wonder wat die ou grote volgende op sy kerfstok gaan sit.

Dié wapen het my hart gou gewen al is hy nou nie van die gemaklikst­e jagmaats nie – sy terugslag bly iets om aan gewoond te raak. Tog doen hy elke keer sy werk baie goed en bring die vleis koelkamer toe. Dit is en bly altyd lekker om so nou en dan met grofgeskut te jag.

As ek ’n voorstel kan maak, sal ek aanbeveel dat jy (die leser) as voornemend­e handwapenj­agter ’n kleiner kaliber aanskaf as jy skrikkerig is vir harde terugskop. Anders gaan jy nie lekker jag nie. Koop vir jou ’n .357 of .44 Magnum met aanvaarbar­e terugslag en jy sal baie lekker tye in die veld geniet.

Die handwapenj­agte het my op wonderlike roetes en na plase gevat met eindelose stories en wonderlike mense. Ook het die handwapens baie aandag getrek oor die jare en ’n paar mense skepties laat kyk na die kort lope. Nietemin was almal na elke jagtog oortuig en baie beïndruk met die vermoë van my handwapens. Hulle kan eties en suksesvol dood, mits die regte kaliber vir die regte wild gebruik word en deur ’n ervare jagter hanteer word. Selfs op langer afstande het my handwapens suksesvol wild doodgeskie­t met ’n enkele skoot as ek die regte wapen en kaliber gebruik.

Doen jou huiswerk, lees na oor die regte koeëls en ladings en spandeer baie tyd op die skietbaan voor jy ’n jagtog aanpak. Met ’n handwapen sal jy wonderlike tye beleef.

 ??  ??
 ??  ?? So lyk my .500NE enkelaksie-pistool met die Vortex Red Dot sight op waarmee ek die sebra geskiet het. Die patrone van links na regs is: .357 Magnum met 195gr-loodkoeël, .500 S&W met 300gr-koeël en die .500 Nitro met ’n 570gr-koeël.
So lyk my .500NE enkelaksie-pistool met die Vortex Red Dot sight op waarmee ek die sebra geskiet het. Die patrone van links na regs is: .357 Magnum met 195gr-loodkoeël, .500 S&W met 300gr-koeël en die .500 Nitro met ’n 570gr-koeël.
 ??  ?? Op die foto links sit Jacques de Beer, die skrywer, by die sebramerri­e wat hy geskiet het.
Op die foto links sit Jacques de Beer, die skrywer, by die sebramerri­e wat hy geskiet het.
 ??  ?? Met my kwadfiets en sleepwa, toegerus met ’ n wen-as, is dit maklik om groot diere manalleen te laai.
Met my kwadfiets en sleepwa, toegerus met ’ n wen-as, is dit maklik om groot diere manalleen te laai.
 ??  ?? So lyk die sebra aan die haak in die slagkamer.
So lyk die sebra aan die haak in die slagkamer.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa