SA Jagter Hunter

GEMSBOK TEEN DIE ROOIDUIN

Hierdie jag wa s’ n“kaggelvuur wyntjie” uit die Namib.

-

NICO STARBUCK

Ek het die .30-06 teen ’n droë kameeldori­ng gehou vir dooierus. Die afstand het 187m gemeet na waar die bul effens skuins weg van my gestaan het. My asemhaling was rustig toe ek saggies die sneller druk.

Met die knal van die skoot was daar egter geen reaksie by die gemsbok nie; geen sprong of teken dat hy wil hardloop nie. Ek het nie gehoor of die skoot ’n treffer was nie, maar ek kon ook nie glo dat dit mis was nie. Ek het vinnig oorgehaal om ’n opvolgskoo­t te skiet, maar ’n bruin hand het saggies aan my arm gevat en ’n kalm stem het gesê: “Moenie nog skiet nie, hy is dood”. Ek het deur die teleskoop na die gemsbokbul gekyk. Hy het ’n paar tree vorentoe gegee en amper grasieus gaan lê, vir oulaas sy kop gelig en toe was hy stil.

ELKE JAG ’N HERINNERIN­G

Elke jagtog is, of behoort ’n unieke ervaring te wees. Die plekke waar ek al gejag het en die mense by wie, en saam met wie ek gejag het, het almal blywende indrukke op my gelaat. Soms is daar minder goeie herinnerin­ge, maar die meeste is soos kaggelvuur wyntjie s wat jy kan koester. Van my mooiste herinnerin­ge is in die Karoo gemaak – ’n plek wat my na aan die hart lê. Maar die Swartrante, wat ook soms die voor-Namib genoem word, sal altyd vir my ’n spesiale plek bly.

Namibië was my eerste keuse toe ek ’n gemsbok in sy natuurlike omgewing wou jag. So beland ek toe op die 25 000 hektaar-plaas van Herr Kleine in die Swartrante. Kort na my aankoms het ek my geweer gaan inskiet en toe Herr Kleine my daarna die sonsonderg­ang oor die Namib gaan wys, het ek dadelik my hart op die plek verloor. Op pad terug na die plaasopsta­l het ons eers by een van sy veeposte omgery en nadat Hannes, die veewagter, vertel het van ’n troppie gemsbokke daar naby, kon ek nie anders as om mooi te vra of ek by dié veepos kan oorslaap nie. Ná ’n bietjie oortuiging het Herr Kleine uiteindeli­k ingestem, mits Hannes as gids optree. Hannes was ook in radioverbi­nding met die opstal en sou laat weet as ek iets geskiet het. Ek is toe saam met Herr Kleine terug opstal toe om my bakkie te gaan haal.

’N AAND IN DIE VELD

My gids was ’n stil man wat min gepraat het. Sy bynaam, Ligloop, het hom goed gepas, hoewel dit meer lyk of hy in die veld sweef as loop. Hannes se skerm was ’n stewige klipgooi van ’n waterkrip af. Langs die skerm

was ’n groentetui­n waar hy dit reggekry het om nie net patats te kweek nie, maar hy het ook ’n lemoenboom gehad wat oortrek was met die mooiste, soetste lemoene.

Hannes het my sy skerm aangebied, maar ek wou nie inbreuk maak op sy privaathei­d nie en het my slaapsak voor ’n paar bosse oopgerol. Ek het wel sy vuurtjie met hom gedeel en saam geëet aan patats wat onder die as gebak is, en roosterbro­od. My keteltjie het ’n paar keer gefluit om koffietyd aan te kondig en toe dit begin koud word, het ek al nader aan die vuurtjie gesit. Hier pak jy nie reusevure nie, want hout is skaars en word spaarsaam gebruik. Hannes het na my slaapsak gekyk wat daar eenkant lê en op sy stil manier gesê: “Hy sal maar moet nader staan”. Ek het gretig van sy aanbod gebruik gemaak en die slaapsak tot langs die vuurtjie geskuif en ingekruip. Hannes het ook onder sy slaapgoed in verdwyn. Ek het nog lank na die sterre gekyk en na die vreemde naggeluide geluister. Dit was ’n wêreld wat ek nie geken het nie en ek was bang dat ek iets sou mis terwyl ek slaap. Die kole het geleidelik al flouer gebrand en die koue het gebyt. Ek het my kop toegetrek en gewens dat Hannes meer wou praat. Daar was so baie wat ek wou weet. Eindelik het die slaap gewen en ek het eers wakker geword toe Hannes begin roer aan die vorige aand se kole.

REG VIR DIE NUWE DAG

Dit was nog nie behoorlik lig nie en die luggie was koud. Ek het in my slaapsak gelê en gekyk wat Hannes doen. Die paar rooi kole onder die as het gou ’n handjievol stokkies aan die brand gesteek. Dit was net genoeg om die eerste koffiewate­r te kook. Ontbyt saam met die koffie was die vorige aand se roosterbro­od en ’n blikkie worsies uit my voorraad het dit mooi afgerond.

Hannes was duidelik haastig. Die son was nog nie op nie toe hy begin rigting kry woestyn toe. Sy “nie te ver nie” was ’n stywe twee ure se stap en die son was al goed op toe ons langs ’n droë kameeldori­ngboom stop. Weereens het ek besef dat daar nie woorde is om Hannes se stap te beskryf nie, dis asof sy voete skaars die grond raak. Hannes het verduideli­k dat ons rustig kan sit en wag. Die Swartrante het daardie jaar goeie reën gehad en die gras het plek-plek heuphoogte gestaan. Daar was dus genoeg kos en die gemsbokke het nie baie rondgetrek nie. Die troppie was al vir ’n paar dae daar en die kanse was goed dat hulle op dié dag ook in die omgewing sou wees.

Ek het die wêreld om ons bekyk. Voor ons was ’n groot rooiduin waarvan die voet omtrent so 200m van ons af was. Regs was ’n klompie bosse waarvan ek die naam nie geken het nie en na links het die rante afgeplat na die begin van die Namib-woestyn. My gedagtes het ver paaie geloop, maar Hannes se sagte geskud aan my skouer het my teruggebri­ng na die werklikhei­d. Voor ons het ’n klein troppie van vyf gemsbokke rustig om die duin beweeg. Die bul het heel agter geloop en kort-kort vasgesteek. Ek het afgeskuife­l tot in die lê-posisie, gewag tot die bul weer gaan staan en toe die sneller gedruk.

’N PERFEKTE DOODSKOOT

“Dit was ’n mooi skoot,” was Hannes se enigste kommentaar. Ek het niks gesê nie, ek kon sweer dit was mis. Ons het vorentoe geloop tot waar die gemsbok gelê het. Die skoot was inderdaad presies waar ek gemik het – ’n perfekte hartskoot. Ek kon egter steeds nie verstaan hoekom die bul nie op die skoot gereageer het nie. En so asof hy my gedagtes kon lees, het Hannes op sy bedaarde manier gesê: “Hy was dadelik dood, hy het dit net nie geweet nie”.

Ek het my kamera uit my rugsak gehaal en vir Hannes ’n blitskursu­s gegee sodat hy ’n foto van my by die gemsbok kon neem. Toe ek die geweer teen die bul staanmaak, het Hannes vorentoe geloop en die geweer weggevat. Ek het hom laat begaan toe hy sê: “Sonder die geweer”. Hy het Herr Kleine per radio laat weet dat ons ’n gemsbok het en ek het myself gemaklik gemaak in die rooi sand om vir die bakkie te wag.

Ek het ’n geselsie met Hannes aangeknoop en hy het geredelik saam gesels. Ek kon hoor hy is ’n veldmens wat geen erg aan dorpe het nie. Wat hy nodig het bring Herr Kleine vir hom, verder voorsien sy groentetui­n en die veld. Wat my altyd sal bybly is sy opmerking oor die skepping: “Toe die Groot Vader alles gemaak het, was daar ’n kaal stukkie aarde oor met niks op nie. Hy het toe ’n knippie van al die mooi op die aarde gevat en dit hier gestrooi. Net mense wat kan sien, sien dit raak”. “Maar almal kan dit sien,” het ek geantwoord. “Nee,” het hy gesê, “die meeste mense kyk, maar hulle sien nie.” En hiermee het hy die gesprek afgesluit en opgestaan toe die dreuning van ’n voertuig hoorbaar word. Herr Kleine was reeds by die veepos toe Hannes hom oor die radio geroep het, vandaar sy vroeë aankoms. Ons het nie die gemsbok se pens uitgehaal nie, omdat daar reeds ’n las met roofdiere was en hulle nie nóg wou lok nie. Met ’n paar ekstra helpende hande het ons die bok vinnig gelaai en koers gekies opstal toe.

EEN VAN DIE MOOISTES

Hierdie was een van die mooiste gemsbokke wat ek nog ooit geskiet het. Die karkas het 112kg aan die haak geweeg met ’n duim vet oor die heupe. Een fout wat ek in al my jare van jag gemaak het, was om nie genoeg foto’s te neem nie. En tydens hierdie jag het ek die belangriks­te foto nie geneem nie en dit is die posisie vanwaar ek geskiet het. Gelukkig het ek ’n foto op die internet gekry wat feitlik ’n replika was van die droë boom en die rooi duin in die agtergrond. Om die onbekende fotograaf nie te na te kom nie het ek ’n skildery van die skietposis­ie gemaak. Dit het my ook weer aan Hannes se woorde laat dink, “... jy moet sien, nie net kyk nie”.

Ek het nog ’n week lank by Herr Kleine gebly tot die biltong en droëwors reg was. Die gemsbok se vleis is aangevul deur ’n mooi koedoebul. Hierdie jag was beslis een van die kaggelvuur­wyntjies wat ek vir jare nog gaan koester. Terug by die huis het ek ’n lemoen geëet, een wat gepluk was op die rand van die Namib-woestyn.

“Nee,” het hy gesê, “die meeste mense kyk, maar hulle sien nie.”

 ??  ??
 ??  ?? Hier sit die skrywer by die mooi gemsbokbul waarvan hy in die storie vertel. Hy het sy .30-06 gebruik tydens hierdie jag.
Hier sit die skrywer by die mooi gemsbokbul waarvan hy in die storie vertel. Hy het sy .30-06 gebruik tydens hierdie jag.
 ??  ?? Die skildery wat Nico geverf het van die omgewing waarin hy die gemsbok geskiet het.
Die skildery wat Nico geverf het van die omgewing waarin hy die gemsbok geskiet het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa