SA Jagter Hunter

POLKA WORD 12

Wanneer jou jagmaat verjaar, verdien sy ’n viering.

-

KOBUS DE KOCK

Op die sesde Junie 2018 het my ou jagmaat twaalf jaar oud geword. Ek het daarvan vergeet, sleg gevoel en iets spesiaals probeer reël om te vergoed. Sy is nou al stokdoof en dit is moeilik om enigiets anders as ganse of eende oor haar te jag. Ek kan haar nie meer stop as sy te ver vooruit trek nie, of van rigting laat ver- ander as sy in die verkeerde koers soek nie. Maar die ouderdom ten spyt, is Polka nog net so entoesiast­ies soos altyd. Wanneer ek die skietkar pak, is sy reg langs my. Sy kan nie meer inspring nie, ek moet haar optel en insit. Soos met my geweer en ammunisie, kan ek nie sonder haar gaan jag nie en sy laat dit in elk geval nie toe nie.

Dis hoe dit gekom het dat ek

langs die dam sit en dink, terwyl Polka seker maak die snippe is nie te ontspanne in die moerasgron­d langs die riete nie. Ek het haar maar laat rondloop, dis mos haar verjaarsda­g en die ganse gee nie regtig om nie. Wildemakou­e is ook so nuuskierig, dat hulle dikwels kom kyk wat loop hier rond. Volgens Peter Scott is ganse se oë nie baie goed in swak lig nie en dis waarvoor ons wag... die ganse wat teen laaste lig gaan inkom. Ek het in die verlede al alles by hierdie dam probeer, maar die blessitse ganse volg hulle eie koppe. Een dag werk die poppe mooi, die volgende keer glad nie. Die beste is eenvoudig om te wag tot laatmiddag en om dan onder ’n vluglyn in te kom en een of twee te skiet voordat dit té donker raak.

KWES IN SWAK LIG

Afgesien van die moontlikhe­id dat jy die verkeerde goed in die swak lig gaan skiet, is die grootste probleem om die voëls te herwin. ’n Mens verloor hulle maklik, want die honde kan hulle nie meer sien nie, veral as hulle diep in die dam val of gekwes buite bereik swem. Ek lees nou onlangs ’n artikel deur wyle dr. Lucas Potgieter, waarin hy beweer haelgewere kwes meer as enige ander wapen. Ek dink hy is reg.

Die ergste wat ek nog beleef het, was toe een van my maats se golden aangestap gekom het met ’n afvlerkgan­s. Die vlerk was al sleg verrot en sy was maer en baie verswak. Volgens die boer was daar twee weke vóór ons besoek laas mense daar. Dié gans moes ongeloofli­ke pyn verduur het. Waar was die rooikatte, otters, jakkalse en muishonde?

’n Mens kan nie té versigtig wees nie. Wag maar tot die ganse goed binne skietafsta­nd is. Beoefen selfbeheer­sing en kies jou skote versigtig. Maar dit gebeur mos nie altyd nie, want jy wag en wag en kry net een kans. Jou lus word te groot en jy laat waai in die hoop dat jou mog’t troffe-skoot iets sal tref, jy weet mos, daardie skoot wat jy self oor verbaas is wanneer dit iets laat val. Maar die meeste van die tyd kwes jy net met só ’n skoot.

Die volgende oomblik het ’n paar snippe uit die riete opgevlieg. Dié goedjies het ’n reputasie as ’n baie moeilike teiken, omdat hulle in vlug blitsig heen en weer swenk. Hulle is in Europa, saam met woodcock, ’n gewilde voël om te jag en word blykbaar met binnegoed en al opgevreet. Dis so ’n klein dingetjie dat ek jare gelede al besluit het om nie my skietkuns op hulle toets nie en ek het nog nooit eens probeer nie. Later teen skemer sal hulle begin trommel. Trommel is die Afri- kaans vir drumming sê Roberts se veldgids. Dis vir my ’n mooi woord, net so mooi soos die geluid self. Dit word gemaak deur wind wat hulle vlerkvere laat “trommel”.

TWEE IN DIE WATER

Ek het oor al hierdie dinge gesit en dink toe die kolganse vinnig en lekker naby, skuins van agter af oor my skouer inkom. Ek kon die wind oor hulle vlerke »

Maar daar dryf die twee ganse toe en Polka was op pad om die eerste een te gaan haal.

» hoor fluit. Daar was nie eintlik tyd om te dink nie. Ek het opgestaan, geskiet en instinktie­f deurgevolg soos dit hoort. En daar val twee morsdood in die water! Ek was nogal verbaas. Kollies kan ’n bliksem wees as jy dinge verkeerd kry. Dikwels kort daar ’n tweede skoot of selfs ’n derde om die hond te help dat hulle nie te ver hoef te swem nie. Op die water is ’n gewonde gans maar ’n klein teiken wat meer onder die water is as bo, en die korrels bons van die water af weg. Dit raak morsig.

Maar daar dryf die twee ganse toe en Polka was op pad om die eerste een te gaan haal. Die lig was nog sterk genoeg en sy het hulle gesien val. My jagmaat is nie meer so vinnig soos in haar fleur nie, maar sy is steeds doelgerig. Polka moes ver swem, maar toe sy terug is met die eerste kollie kon ek haar weer uitstuur met die swaai van my arm. My aanmoedigi­ng het effe benoud in my eie ore weerklink, want dit het vinnig begin donker raak en die ou girl was tydsaam. Maar ek was onnodig bekommerd. Sy het ook die tweede een uitgesleep wal toe.

Dit was reeds pikdonker toe ons terugstap skietkar toe. Gelukkig het ek ’n flitsie in my skouersak wat ek altyd byderhand hou spesifiek vir as die donker ons oorval. My kar was naby die middel van ’n spilpunt geparkeer, ver genoeg weg om nie die ganse te pla nie. Ek was seker diep in gedagte toe ek die middag daar gestop het, want ek het nie die tekens gesien nie. As ek mooi gekyk het, sou ek opgelet het dat daar koeie wei. Dis ’n groot melkplaas wat hoop om mettertyd ’n duisend koeie te melk. Met my en Polka se aankoms die middag was die “tannies” in die melkstal, maar hulle spore het daar gelê, ’n pappery van modder net waar jy kyk. Ek het net nie twee en twee bymekaar gesit nie.

Nou met ons terugkoms het die tantes vir ons gewag. Drie honderd en vyftig van hulle, 350 vars en vrolike pas gemelkte Jerseys, lus vir ’n ou hond se partytjie. Al wat die koeie geskei het van my en Polka was ’n enkele dun en papperige elektriese draadjie. Iewers sou ek moes in, tussen die lot deur. Julle kan my maar glo, ’n klomp oë wat glimmend in die flits se liggie al langs die draad op saam met jou stap, is moer intimidere­nd. En êrens agterlangs hoor jy die res van die kudde ook aangestorm kom om te sien wat hulle maters so interessee­r. Polka het besef hier is moeilikhei­d en styf teen haar oubaas se bene bly stap.

BEDREIGING IN DIE DONKER

Toe stap ek maar, daar was geen ander genade nie. Iewers was daar ’n draadjie wat die spilpunt in twee verdeel, miskien kon ek daar af. Ek het bly dink aan die storie in Die Burger van ’n trop kwaai koeie wat in Oostenryk ’n vrou en haar hond doodgetrap het en daar was maar net 20 van hulle! Nou donder hier 350 groot bruin Jerseys al langs die draad op saam met my en Polka!

’n Geweer oor die skouer, twee kollies in die een hand, ’n skouersak vol patrone en ’n hond wat al onder jou voete is terwyl jy oor ’n stuk ongelyke landery stap, maak ’n mens nogal moeg. Heel bo teen die pad waar ek ingekom het, het ek die skeiding gekry en besluit om van my bagasie neer te sit en sodoende my gewig te verminder, want ek wou vinnig kon beweeg as ek sou moes. Steeds het die koeie se glimmende oë ons gevolg al langs die skeiding af tot in die middel waar die skietkar was.

Daar aangekom, sien ek dat my karretjie aan die verkeerde kant van die draad staan. Ek het dus geen keuse gehad nie ek sou tussen al daai mal goed moes deur met Polka in my arms en modder net waar jy kyk. Die laaste paar treë het ek in tale met die tantes geraas, probeer diknek maak asof ek die baas is en hulle vertel dat hulle die pad moet vat voor ek Polka in die bak kon stop en uiteindeli­k veilig agter die stuurwiel kon inklim.

Maar toe is ek gedisoriën­teerd. Ek was dan nou aan die verkeerde kant van die draad. Met die inkom was ek aan die anderkant, of het ek my verbeel? Iewers sou ek weer moes uit, ’n “hek” vind wat nie sou byt nie. Ek het in die verlede al dikwels op my gat gaan sit by só ’n draad terwyl die ander manne hulle vrek lag. Blikskotte­ls! Ek is dus maar altyd versigtig vir ’n elektriese heining. As daai ding jou een maal geskop het, vergeet jy dit nie sommer nie.

Dit het ’n lang aand geword. Die skietkarre­tjie het al slingerend tussen die koeie deur gesoek na ’n hek en die plek waar ek die kolganse en my geweer gelos het. Ek het gewonder wat die boer sou dink as hy die dwalende ligte by die spilpunt sien. Ná ’n gesoek het ek dit uiteindeli­k opgespoor.

“Dankie Oubaas, dit was ’n lekker verjaarsda­g. Dankie dat jy so sterk is en my so mooi teen daardie monsters beskerm het en nie eens bang was nie,” het Polka gesê, voordat sy tussen haar ganse op haar kombers agter in die bak omgedop en aan die slaap geraak het.

Net ’n hond kan dit vir jou sê... as sy maar geweet het.

Lood in die lug! * Met die ter perse gaan van dié artikel het Kobus de Kock ons in kennis gestel dat Polka in Januarie 2019 gesterf het.

 ??  ?? Voëlvlei naby Bredasdorp, 2009.
Voëlvlei naby Bredasdorp, 2009.
 ??  ?? was sy vyf jaar oud. Polka in haar fleur in 2011.Hier
was sy vyf jaar oud. Polka in haar fleur in 2011.Hier
 ??  ?? Rietpoel naby Caledon in 2010. Polka is nog jonk.
Rietpoel naby Caledon in 2010. Polka is nog jonk.
 ??  ?? Polka pas tarentale en kolganse op. Dié foto is in 2010 geneem naby Bredasdorp.
Polka pas tarentale en kolganse op. Dié foto is in 2010 geneem naby Bredasdorp.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa