SA Jagter Hunter

DOOIERUS – KATBOS EN KAMBRO

-

Mis. Dis wat jy ruik. Nat skaap- en bokmis. En nat grond en nat hond en jou nat hoed en natuurlik; die onmiskenba­re geur van nat karoobossi­es.

Dis iets wat ’n mens nooit vergeet nie; die reuk van Karooveld as die eerste reën begin val na ’n tyd van droogte. Dis ’n aromatiese soetkruid-bossiereuk wat die lug vul met lewensvreu­gde en belofte, want dis ’n alomwelkom­teken: Nou is daar hoop!

Jy sien sommer die vreugde wanneer ’n springbokk­ie drafdraf vassteek, sy wit pronk oopblom, en dan baldadig op stywe beentjies wegbons. Jy asem die betowerend­e aroma in, jy luister hoe die bui neersis op die veld, en jy juig saam met die boer wat met oop arms, gesig hemelwaart­s, in die reën staan.

Maar jag in die reën? “Ons jag het uitgereën,” is iets wat ’n mens soms hoor. Of, “dit het aan die reën geraak, toe’s die veld te nat vir die bakkie.”

Rêrig? Kyk, as daar sneeu op die Swartberge of die Maluti’s lê, is nat klere die laaste ding wat jy nodig het, maar ’n reëndag in die veld hoef nie ’n teleurstel­ling te wees nie. Reën het ook sy voordele.

Eerstens is daar die spore. Met al die ou spore doodgereën, lees die veld soos ’n varsgedruk­te koerant. Enige spoornuus is duidelik sigbaar en uiteraard vars, so dis waarskynli­k relevant.

Dan is daar ook die bokke se gedrag wat anders is. Met druppels in hul oë, en miskien ook die vaal van ’n reënbui wat hul sig belemmer, sien hulle nie so goed nie. Reën gaan gewoonlik gepaard met wind, wat ook die bokke se gehoor benadeel. As hulle koud kry sal hulle miskien ook meer beskutte terrein opsoek en dan minder rondbeweeg. Hierdie faktore beteken nie noodwendig die diere is minder waaksaam nie, maar dit gee vir die wakker jagter ’n paar ekstra kaarte in sy hand.

En dan is daar natuurlik die anderse skoonheid van die omgewing wanneer die natuur se waters breek. Dalk ’n reënboog vir die feetjies, of ’n skouspelag­tige storm wat uit die berge eggo, of die pragtige gesig van druppels wat saamkronke­l en lopies wat begin vloei, of ’n bruisende waterval wat oor ’n rant tuimel waar twee ure tevore nog net dorheid was.

Jag is ’n winterding en die grootste deel van ons land kry in die somer reën, so ’n mens dink nie altyd aan voorbereid wees op moontlike reën nie. Maar dinge kan lastig, en selfs gevaarlik raak as die reën jou op ’n koue dag buite vang.

Beteken dit ’n mens moet ’n sambreel, reënbaadji­e en rubberstew­els inpak vir ’n jag? Net as jy Augustusma­and gaan eende skiet in die Boland. Vir ’n gewone bokjag is daar ’n veel eenvoudige­r plan.

Die nederige swart (jy kry ook groenes) plastiek-vullissak is die jagter se sakpas onweersvri­end. Goedkoop, lig, klein, en só veelsydig. Sny gate vir jou kop en arms en jy het ’n reënkous vir jou lyf. Of sny hom eenkant oop en dra hom soos ’n poncho oor jou kop. Of span hom oor ’n paar takke vir ’n skuiling. Of skep hom vol lug en knoop hom toe vir ’n dryfding as jy diep water moet deur. Water dra, heuning uithaal, braailewer­s uit die sand hou, skadu prakseer, ’n wond toebind of ’n been spalk: ’n swartsak is ’n handige ding om in jou sak te hê.

OK, dis als goed en wel om jou lyf droog te hou, maar wat van die geweer? As jou roer van plank en yster is, en jou deernis vir hom van gansdonsie­s en pienk hartjies, moet jy só ’n slag miskien maar eerder voor die kaggel in die huis bly. Vlekvrye staal en ’n sintetiese kolf is natuurlik aan te beveel, maar hou ook in gedagte dat die ou Boereoorlo­g-Mausers die elemente onbeskermd moes trotseer. Soldate word nie uitgereik met sambrele nie, maar wel met geweerolie!

Daar is egter ’n baie belangrike aspek om te onthou wanneer jy in die reën jag: hou die binnekant van daardie kamer en geweerloop droog! ’n Nat geweer kan steeds skiet (hoewel ek een keer ’n weiering gehad het toe die slot só vol water was dat die slagpen nie hard genoeg kon slaan om die slagdop te laat afgaan nie) maar water in die loop kan ’n roer se moer gevaarlik laat strip.

In reënweer loop ’n mens dus maar met jou geweerloop ondertoe en jy probeer die aksiegedee­lte onder jou baadjie se pant verskans. Daar is egter ook ’n ander praktiese oplossing, weereens goedkoop en maklik. ’n Kondoom oor die loop se punt hou nie net die loop droog as jy in die reën jag nie, dit kan ook stof uithou of keer dat stukkies tak of bas in die loop val wanneer jy deur bosse beweeg. En as dinge dan skielik op aksie afstuur, skiet jy sommer met kondoom en al. Daai tjoepie skrik hom kaiings voor die koeël nog kans kry om hom behoorlik te klap.

Só ’n reënplan is egter nie sonder risiko nie. As Mammie ’n kondoom in jou jagbroek se sak kry gaan die poppe dans, Pappie. En verduideli­k gaan nie help nie. Nie as jy twee weke weg was en die TV het niks gesê van reën in die Bosveld nie.

Jy kan miskien probeer om hierdie rubriek vir haar te wys, maar nog steeds... Sterkte!

In reënweer loop ’n mens dus maar met jou geweerloop ondertoe en jy probeer die aksiegedee­lte onder jou baadjie se pant verskans.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa