BEK-EN-KLOUSEER
BOETIE KIRCHNER
Bek-en-klouseer is ’n hoogs aansteeklike (en soms noodlottige) virussiekte wat deur spleethoewige diere opgedoen kan word. Die virus kom regdeur die wêreld voor en hou ’n baie groot gevaar in vir diereproduksie. Hoewel baie lande reeds vir etlike jare vry is van bek-en-klouseer, bly dit ’n groot bron van kommer en word streng biosekuriteitsmaatreëls in plek gestel om uitbrekings te vermy. Die mens is normaalweg nie vatbaar vir die bek-enklouseervirus nie en dit moenie verwar word met hand-voet-en-mondsiekte wat wel by mense voorkom nie.
SIMPTOME EN HERKOMS
Die simptome van bek-en-klouseer sluit onder andere in dat die dier ’n hoë koors het, en sere en/of blasies in die
bek kry, wat oormatige slymerige speekselafskeiding tot gevolg het. Sere en blase tussen die kloue kom ook voor en kan bars en lei tot kruppelheid. Besmette diere verloor hulle eetlus as gevolg van die sere en verloor vinnig kondisie. Diere wat byvoorbeeld gemelk word, toon dan ook ’n skerp afname in melkproduksie.
Alhoewel sekere spesies meer weerstandig is, byvoorbeeld sekere wildspesies, en dus nie die siektesimptome wys nie, mag die virus in hierdie dier voortleef en dus tot ’n mate besmetlik wees. Hoewel die meeste diere uiteindelik herstel van bek-enklouseer, lei dit tot inflammasie van die hartspier en uiteindelik die dood, veral by jonger en swak diere. Sommige besmette diere toon egter geen simptome nie, maar kan wel die siekte oordra aan ander diere.
Anders as die huidige Corona-virus is die bek-en-klouseervirus reeds eeue lank aan ons bekend. Die geskiedenis van bek-en-klouseer strek so ver terug as 1780, toe waarnemings aangeteken is deur ’n mnr. Le Vailant dat sy beeste se pote erg opgeswel het en hul hoewe selfs in sekere gevalle afgeval het.
Inwoners van die ou Transvaal en Oranje-Vrystaat het in die 1800’s aangeteken dat só ’n siekte vir ’n aansienlike tydperk voorgekom het, maar daar was in daardie jare sekere tipes bloutong wat ook vir bek-en-klouseer aangesien kon word.
Die presiese herkoms van bek-en-klouseer is onbekend, maar daar staan geskryf dat dit die eerste keer in Masjonaland (in die suidooste van Zimbabwe) aangemeld is.
In 1931 het die virus weer in dié streek uitgebreek en vermoedelik na Suid-Afrika versprei. Die uitbraak van die virus is bevestig met behulp van eksperimentele inentings deur verskeie dierekundiges en die bek-enklouseer-navorsingskomitee van 1937. Mnre. De Kock, Rossiter en Albertyn het in 1946-47 aangeteken dat die virus ensoöties geraak het onder sekere wildspesies en daarvandaan versprei na vee.
LANDSWYE VERBOD
Met die uitbreek van bek-enklouseer in November 2019 in die Molemole-omgewing in Limpopo het die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery sekere voorsorgmaatreëls in plek gestel wat uiteindelik gelei het tot ’n landswye verbod wat handel oor die bymekaarbring van alle spleethoewige diere wat afkomstig is van meer as een eiendom, en dan die verdere verspreiding van sulke diere binne ’n periode van 28 dae. Dit sluit byvoorbeeld veilings in. Die kennisgewing is op 4 Desember 2019 in die Staatskoerant gepubliseer. Die invloed van die verbod het verrykende finansiële gevolge vir die landbousektor ingehou.
Die minister van landbou, Thoko Didiza, het op 17 Februarie 2020 die verbod op die bymekaarbring van spleethoewige diere opgehef, maar onder streng voorwaardes. In haar verklaring beklemtoon sy dat, alhoewel die verbod gelig is, dit steeds nie noodwendig veilig is om sulke diere bymekaar te bring nie, en persone moet alles in hul vermoë doen om te verseker dat hoërisiko-diere nie geskuif word nie.
Die minister het ook eienaars en bestuurders van lewende hawe daaraan herinner dat hulle volgens seksie 11 van die Dieregesondheidswet van 1984 alle moontlike stappe moet neem om te voorkom dat diere besmet raak met enige dieresiektes en parasiete, en ook die verspreiding daarvan moet verhoed.
Sy sê verder ook in die mediaverklaring dat die bek-en-klouseer-epidemie nog nie verby is nie, alhoewel dit blyk dat die aanvanklike verspreiding daarvan suksesvol beperk is. Sy sê ook dat daar nog ’n lang pad voorlê voordat die einde van die uitbraak aangekondig kan word, en nóg ’n langer pad voordat die internasionale bek-enklouseervrye status her-ingestel gaan word.
Van die beheermaatreëls wat suksesvol gebruik is, was die bevel om geaffekteerde eiendomme onder kwarantyn te plaas en te verseker dat geen diere so ’n eiendom binnekom of verlaat nie. Dit het verseker dat die verspreiding van die virus beperk is. In totaal is 18 eiendomme geïdentifiseer waar diere positief getoets het vir dié siekte. Die meeste van die eiendomme is kommersiële beesplase, wat verskeie voerkrale insluit. Gelukkig is die meerderheid van dié eiendomme goed omhein en die diere voldoende gemerk om hulle individueel te kon uitken. Danksy bogenoemde voorsorg, was noodbeheermaatreëls soos byvoorbeeld nood-inentings, diere van kant maak, en padblokkades, nie nodig om die verspreiding te beperk nie.
INVLOED OP JAGTER EN WILDBOER
Dr. Leana Janse van Rensburg, staatsveearts by die Direktoraat Dieregesondheid se Siektebeheer, het as antwoord op ’n vraag oor hoe die uitbraak van bek-enklouseer die jagter beïnvloed, die volgende beklemtoon: Jagters mag wildskarkasse vervoer (met die nodige dokumentasie, byvoorbeeld jaglisensies, ens.) vanaf plase en/of areas wat nie tans onder kwarantyn is nie.
Dit is aanbeveel dat die jagters by die plaaslike staatsveeartskantoor uitvind of die plaas waar hulle gaan jag onder beperkings is of in ’n area geleë is wat onder beperking is, voordat hulle gaan jag.
Dus is daar nie ernstige beperkings op die vervoer van wildskarkasse wat nié afkomstig is van bek-en-klouseerbesmette eiendom nie. Eiendomme wat onder kwarantyn geplaas is, sal »
» ten volle bewus wees van die beperkings wat op hulle van toepassing is en as die grondeienaar nie bewus is van enige kwarantynmaatreëls nie, behoort dit veilig te wees om daar te gaan jag.
VERSPREIDING VOORKOM
Dr. Tertuis Bergh, ’n onafhanklike vleisinspeksiekonsultant, deel die volgende raad om te verseker dat jagters help om die verspreiding van bek-en-klouseer te beperk:
Bek-en-klouseer is hoogs aansteeklik en enige spleethoewige dier kan dit deur kontak met besmette diere of -produkte optel. Dit beteken dus dat veral plase direk aangrensend aan kwarantyn-plase moontlik alreeds ’n besmetting het deurdat wild kontak gehad het met die virus. Alhoewel sekere spesies meer weerstandig is en dus nie die siekte wys nie, mag die virus in die dier voortlewe en dus tot ’n mate besmetlik wees. Die virus is nie aansteeklik vir mense nie. (Soos reeds genoem.) Die kook van die vleis sal wel die virus vernietig.
VERANTWOORDELIKE VOORSORG
Voor jou jagtog: Maak seker waar die kwarantyn van toepassing is. Die staatsveeartskantoor van die area sal oor hierdie inligting beskik. In dié areas sal daar geen beweging van diere of vleisprodukte toegelaat word nie.
In gebiede aangrensend aan kwarantynareas sal die beweging van diere wel toegelaat word maar, soos verduidelik, is verantwoordelike optrede nodig om te verseker dat potensiële besmette produkte so hanteer word dat verdere verspreiding nie sal kan plaasvind nie.
Karkasse en produkte: Die beken-klouseervirus is ’n hoogs sensitiewe virus wat slegs effektief in lewende diere kan oorleef. Die virus kan egter vir ’n paar dae in produkte oorleef, veral dié wat koel en nat is en wat nie ’n daling in PH-vlakke ondergaan nie. Koppe, pote, velle en die ru-afval (ingewande) ondergaan meer geredelik ’n daling in PH-vlakke en is dus produkte wat liefs op die plaas gelos moet word.
Karkasse van gesonde diere ondergaan ’n daling in PH-vlakke na ongeveer 12 uur en die vleis sal dus nie maklik besmet wees nie. Neem egter kennis dat ’n dier wat ’n siekte onder lede het, of koors het, die virus langer en makliker sal laat oorleef. Die bene (beenmurg) en limfkliere in die karkas se PH-vlakke daal egter nie teen dieselfde tempo nie en mag dus potensieel die virus vir ’n paar dae kan huisves.
Die verwerking en vervoer van wildsvleis: Die volgende verantwoordelike stappe word voorgestel om te neem:
• Slag en ontwei die dier sodat die koppe, pote, velle en pense op die plaas kan agterbly;
• Hang die karkas in die yskas (nie vrieskas nie) vir minstens 12 uur indien moontlik;
• Ontbeen die karkas en verwyder die groot limfknope, indien moontlik, ook op die jagplaas;
• Asbogenoemde nie moontlik is nie, sorg dat die wegdoen van die bene en limfkliere só gedoen word dat dit nie in kosafval beland wat dalk aan varke gevoer kan word nie;
• Indien die ontbening van so ’n aard is dat daar benevleis is, kook dit so spoedig moontlik dat die virus vernietig word;
• Afval en gemorsvleis (bloederige vleis) moet ook so gou moontlik gekook word as dit vir honde gevoer gaan word. Die “jag” vir ’n geskikte jagplek kan soms veel moeiliker wees as die fisiese jag van ’n bok. Bly ingelig om ’n verantwoordelike jagtog te kan beplan in die lig van die bek-en-klouuitbraak, vermy die slaggate en geniet die jag!