SA Jagter Hunter

MOOLMANSHO­EK SE JAG

’n Jubeljaar het gelei tot ’n jubeljag...

- LOURENS SCHEEPERS

Waar sal ek met die verhaal begin? Ek sien dis deesdae gewild onder skrywers om met hul stories by die halfpadmer­k weg te spring, ’n stuk te vertel net om dan hulself te onderbreek en terug te spring na die begin toe. Dit alles vir effek, drama, uitstelteg­niek, of so iets. Ek het nie daardie tipe skryfvermo­ë nie so ek sal maar begin by die begin...

2019 was my jubeljaar. Wel, eintlik my en my vrou se jubeljaar. Ons het altwee 50 jaar oud geword en sommer verskeie uitstappie­s vir ons verjaardae beplan, solank dit net nie by die huis was nie. So het my vrou vir my ’n jag gereël! (Nee, jy kan haar nie kry nie. Ek ruil haar vir niks in die lewe nie, nie eens jou nuwe Land Cruiser nie!). Die jag sou op Moolmansho­ek plaasvind ’n paar maande voor my eintlike verjaardag. En daar was so ’n spesiale ietsie ekstra by; ek sou die jagtog te perd doen!

Natuurlik gaan daar onmiddelli­k ’n klompie vrae deur ’n mens se gedagtes: Skiet jy van die perd af soos wat cowboys die Amerikaans­e buffels geskiet het? Kan ek nog perd ry? Het hulle ’n perd wat my entjie-oordie-honderd-kilogram-lyf sal kan dra sonder om erge kreungelui­de te maak, of het hulle dalk gewigsbepe­rkings vir voornemend­e ruiters?

Maar voor ek voortgaan, kom ek antwoord sommer nou al dié vrae. ’n Mens skiet nie van ’n perd af nie. Jy ry met die perd om die wild te soek, of soos op hierdie plaas met sy volop wild, ry jy om die wild deur te kyk en dan beplan jy jou jag sodra jy

die teikenbok geïdentifi­seer het. Jy los die perd op ’n geleë plek en loop en bekruip verder. Ja, ek kán toe nog perdry – dit was soos fietsry vir my wat op ’n plaas grootgewor­d het en as kind baie perd gery het. En hulle hét toe ’n perd wat my kon dra; ’n boerperd – ’n lekker sterk en gewillige ras wat baie goed opgelei was vir die roetes op hierdie plaas.

DIE JAGVOORBER­EIDING BEGIN

’n Groot deel van die lekker van jag is die voorbereid­ing en opgewonde afwagting. Ek het sommer dadelik my dieet aangepas, want my vrou het die mense op die plaas laat weet dat ek so honderd kilogram weeg, dus moes ek ongeveer tien verloor om te keer dat sy nie ’n leuenaar is nie. Ek het ook begin oefen deur stadig teen ’n 15°-helling te stap om die bekruip-loopspiere te oefen, asook op die masjien in die gimnasium waar jy sit en jou bene herhaaldel­ik toeknyp. Dit was om my te help voorberei vir die perdry, want ek kon onthou hoe as kind my lieste

INSETSEL: Die roete na Moolmansho­ek vanaf Potchefstr­oom.

LINKS ONDER: Moolmansho­ek en die plekke waar Lourens wild bekruip het.

so seer was van perdry dat ek skaars kon loop.

Verder het ek my gewere begin inskiet. Ek het ’n dikloop.300 Win Mag, wat ek laai met 180gr Frontier-monometaal­koeëls en 71.5gr-kruit sodat die koeël die loop teen 2 900vps verlaat. Die geweer is op 180m ge-zero. Saam met die groot Zeiss-teleskoop en knaldemper weeg dié geweer te veel en is dit te lomp om ’n hele dag in die bos rond te dra, daarom is dit my platskiete­r vir vlaktejag.

My tweede geweer is ’n SteyrMannl­icher Scout .308. Dis ’n lekker ligte en baie kompakte geweer. Ek laai dit met 220grsagte­puntkoeëls en 34gr-kruit sodat die koeël die loop teen 2 075vps verlaat. Ja, só swaar en só stadig. Dit sorg vir min vleisskade en onstuitbar­e momentum; d.w.s. penetrasie. Dit het hulp van my broer geverg om hierdie spesiale lading, wat nie »

LINKS: Die Moolmansho­ekomgewing soos dit op Google Earth aangedui word.

» in die Somchem-boekie beskryf word nie, veilig te ontwikkel. Die kombinasie van ’n swaar, stadige koeël en ligte, kompakte geweer maak dit ideaal vir bosveldjag oor kort afstande. Dis die tipe jag wat ek die meeste geniet. Ek wil die bok bekruip en nie graag skote verder as 100m neem nie. Ek het dan ook die geweer op 100m ingestel. Verby 100m val die koeël vinnig en is die koeëlbaan baie krom. Op 170m is die trefpunt reeds 20cm laer as die mikpunt en moet ’n mens duidelik kompenseer. Ek verkies die eenvoudige “op-mik”-kompensasi­e. Ek het ’n klein tabelletji­e, wat die koeëlbaan beskryf, aan die geweerkolf geplak waar ek kan seker maak hoeveel kompensasi­e nodig is vir ’n gemete afstand.

Op Moolmansho­ek aangekom, het die PH net haar oë gerol toe ek die .300 uithaal. Dit sou nooit in die cowboy- tipe geweersak wat aan die saal vas is, pas nie en sal waarskynli­k die perd van balans af trek. So ek het met die naby-skieter gejag en sou dus op ’n manier die skietafsta­nde kort moes hou.

WAAR IS MOOLMANSHO­EK?

Op Google Earth kan ’n mens sien dat Moolmansho­ek in ’n bergagtige gebied is, naby aan die Lesotho-grens tussen Ficksburg en Clarens. Nader dorpies is Rosendal en Fouriesbur­g. Dis so amper vier ure se ry in ’n suidelike rigting vanaf my tuisdorp, Potchefstr­oom (heelwat stadiger as Google Maps se aanduiding, as gevolg van slaggate in die Kroonstad- Senekal- en Senekal-Ficksburg-paaie).

Moolmansho­ek lê in die hoefysterv­ormige vlakte langs die bergreeks wat Visierkerf, die tweede hoogste punt in die Vrystaat, insluit. Hoewel ek na ’n “vlakte” verwys, is die terrein ongelyk met verskeie klowe, hoogtes, laagtes, slote en stroompies. Daar is ook bosse, veral ouhout in die stroompies en slote, wat bekruipgel­eenthede bied. Die omgewing is egter steeds van so ’n aard dat ’n mens ver kan sien en ons het deurentyd groot troppe wild gewaar.

’n Mens kry nooit die gevoel (soos op sommige plase waar ek al gejag het) dat daar min wild is nie. Die diere is ook redelik mak vir die perde omdat daar nie van die perde af geskiet word nie. Dit was dus heerlik om naby die troppe elande, swartwilde­beeste, gemsbokke, rooihartbe­este, volstruise, springbokk­e, blesbokke en sebras te kom. Kort voor my besoek het goeie reën in die omgewing geval, dus was die plaas nat en verskeie nie-standhoude­nde stroompies en watervalle­tjies het gevloei. Ek het gereeld wanneer ons ’n stroompie kruis, van die perd se rug afgeklim en met bakhande die heerlike water geskep om te drink. Dit was dus nie nodig om water saam te dra nie.

Ons het op die eerste dag so skuins voor nege-uur op die plaas aangekom. Mafi, ’n lid van die familie wat die plaas besit, het ons kom ontmoet met vriendelik­e gasvryheid. Ons het sommer dadelik geweet dat ons lekker op Moolmansho­ek gaan kuier. Die profession­ele jagter, Ancois (laat die “Fr” voor Francois weg) het ons ook kom groet. Sy was reeds aan my vrou bekend van die dae toe sy perde ingebreek het op ’n plaas naby Potch en na my vrou moes kom vir fisioterap­ie.

Ons is sommer dadelik skietbaan toe (’n hele ent en twee hekke weg van die opstal) vir ’n paar proefskote, want ek wou so gou moontlik met die jag begin. Die goeie voorbereid­ing in ag genome het die skote met die .308 nie so goed gelyk as wat ek verwag het nie. Ons was egter tevrede dat dit goed genoeg was. Dis nogal strydig met my persoonlik­e siening in die lewe, dat “goed genoeg” nie altyd goed genoeg is nie. Maar ek was gretig om met die jag te begin. Ons is terug opstal toe waar die perde gereed gestaan het.

’N SPRINGBOK AAN DIE HAAK

Ek was redelik seker dat ek nog sou kon perdry, maar was tog verlig toe ek nie ongemaklik voel met die opklimslag nie. Eclipse, my perd vir die jag, was rustig en is as ’n roeteperd opgelei, dus het hy die PH se perd gemaklik gevolg sonder veel insette van my af. Agter my het ons touleier gevolg. Ek was op daardie stadium nog nie seker wat sy rol in die jag sou wees nie, maar met die eerste afklim het ek gesien dat hy daar is om die perde op te pas terwyl jagter en PH die prooi bekruip.

Ons het koers gekies in ’n noordooste­like rigting na die grasvlakte­s anderkant die eerste stroompie (en moeras) waar dit gewemel het van troppe wild. Ek was opgewonde om al die diere te sien, maar met die min dekking beskikbaar, het ek gewonder hoe ons gaan bekruip en skiet. Ek het natuurlik ook gewonder hoekom ons nie dadelik dekking soek om met ’n bekruipaks­ie te begin nie. In die bosveld is ek gewoond om min bokke te sien en te begin bekruip sodra ek die eerste bok gewaar.

Ons het tot aan die voet van die berg in die noordelike deel van die plaas gery. Hier was die terrein ongelyk met bosagtige dele wat dekking gebied het. Ons het ’n teeltrop rooihartbe­este saam met ’n alleenlope­rspringbok bekruip, maar kon nie ’n skoot inkry nie. Nadat die bokke later die hasepad gekies het, het ons beplan om na ’n ander deel van die plaas te beweeg, maar sommer gou weer ’n alleenlope­rspringbok­kie raakgeloop. »

» Ons het agter ’n bos gestop en die touleier het die perde weggelei. Met geen verdere dekking nie het ek besluit om van daar af aan te lê. Met die afstand gemeet op 175m het ek vir ’n oomblik gewonder of dit nie te ver is vir my kortskiete­r nie, maar daar waar ek platgelê het, met dooierus oor die ingeboude tweepootji­e, was my skietposis­ie so stewig dat ek besluit het om wel te skiet. Ek het gou my tabel gelees en vasgestel dat ek 20cm moet opmik. Ek het op die “skoffie” aangelê in lyn met die blad en die sneller stadig gedruk.

Tot my teleurstel­ling het die rammetjie nie neergesak nie, maar agter ’n klipperige rantjie verdwyn. Ek het gebukkend vorentoe beweeg en na 100m by ’n knikkie in die rantjie die rammetjie verras en op 35m vinnig uit die vuis die doodskoot gegee. Die eerste skoot was toe te laag en ek sien gou ek het die diepte van my rammetjie se bors-totskouer oorskat en het net sowat 15cm hoog aangelê. Ons het gou ’n paar selfoonfot­o’s geneem. Ek neem foto’s vir die herinnerin­ge en voldoen dus nie altyd aan die riglyne vir ’n trofee-tipe foto nie. Vroulief het ons laat belowe dat ons ook die perd in die foto’s sal kry, want dit is die nuwigheid gekoppel aan hierdie jag wat ons graag wil onthou.

Die swak skoot het my selfvertro­ue ietwat geskud en ek het besluit om nie verder op dié dag te jag nie. Ek het gevra dat ons teruggaan skietbaan toe en het ’n verstellin­g aan die teleskoop gemaak. Ek het ook besluit om nie weer so ’n ver skoot te skiet nie. Die res van die middag is ek en my vrou bederf met Moolmansho­ek se gasvryheid en ’n heerlike ete.

BEKRUIP ’N HARTBEES

Dag twee het luilekker begin, g’n se donkeropst­anery en met slegs koffie en beskuit veld toe nie. Ná ’n heerlike ontbyt het ons kort voor nege-uur eers die perde bestyg en in die rigting gery waar ons die vorige dag ’n troppie hartbeesbu­lle gewaar het. Hulle was sowaar toe weer in dieselfde omgewing! Ons het lekker ver van hulle af gstop en ons jag beplan. ’n Beboste knoets sou saam met ’n sloot die perfekte dekking bied om die perde te los en dan te voet windop nader te beweeg.

Hierdie benadering het fantasties gewerk en binne 30 minute kon ons drie van die bulle in die troppie deur die bosse beloer. Hulle was onbewus van ons teenwoordi­gheid en ek het besluit om op my maag nader te seil. Ongeveer 130m van die bokke af het ek agter die laaste struik bly lê. Die gras was te lank vir lê en skiet en ek het op my boude gaan sit, maar die ingeboude tweepoot was nie lank genoeg om dooierus in die sitposisie te bied nie. Ek het ’n droë mikstok langs die struik gekry, dit onder my regterbeen ingedruk sodat dit oor my linkerbeen druk en lekker stewige dooierus bied. Ancois het gevra of ek gemaklik genoeg voel en ek het haar gevra om te bevestig dat ek na ’n bul kyk. Die bok het skuins na my toe gestaan, ’n posisie wat dit vir die boogjagter moeilik maak omdat die hart agter die bladbeen weggesteek is, maar vir die geweer wel ’n skoot bied. Die 220gr-koeël het deur die harde been van die blad gegaan asof dit ’n vuurhoutji­e is, deur die hart en longe getonnel en is agter die verste blad uit. Die pragtige bul was binne sekondes dood en ek was verlig en verheug. Dis nou hoe ek daarvan hou om te jag!

EN OOK ’N BLESBOK

Dit was nog vroeg en Ancois het my aangepor om ook ’n blesbok te jag. Ek het in my jong dae saam met my pa blesbokke op die Vrystaatse vlaktes voorgesit. Dit was vir my nie so lekker soos stapjag in die bosveld nie en ek was dus ’n bietjie skepties. Maar sy het duidelik gesien ek hou van bekruip en het iets spesifieks in gedagte gehad.

Ons het met die perde na ’n ander deel van die plaas gery waar ons van ’n hoogte af kon kyk na ’n deel met die bynaam Serengeti. Daar was ’n trop swartwilde­beeste en twee alleenlope­rblesbokra­mme onder in die vlakte. Een van die ramme was presies waar Ancois gehoop het die bokke sal staan. Ons het die jag beplan en ek was baie opgewonde. Die perde het ons teen die skuinste afgeneem tot in ’n digte bos. Vandaar het ons in ’n begroeide erosiesloo­t gestap tot waar ons moes begin kruip sodat die swartwilde­beeste ons nie gewaar nie. Ancois het op haar hurke gesitloop, iets wat ek jare gelede in die weermag kon doen wanneer ons peleton gestraf is met treintjiel­oop, maar nou my jubeljaar sou kortknip as ek dit probeer.

Die sloot het al hoe vlakker geword. Gelukkig het ek my knieskerms aangesit vir die dag se jag. Die laaste 50m was baie stadig met afwisselen­d kruip en seil om nie bo die vlak sloot uit te steek nie. By die eindpunt was ons net meer as 100m van die bok af. Die ram het gaan lê en ek kon nie deur die gras ’n skoot inkry nie. Ek het nog 20m nader geseil tot by die knikkie en vandaar kon ek met goeie dooierus die blesbok in die nek skiet. Hy is net daar op die plek dood. Ek en my PH het ’n oomblik vir mekaar gekyk en sonder woorde vir mekaar gesê hoe lekker hierdie jag was.

So is die jag verby en kon ek en my vrou nog vakansie hou voor ons die volgende dag terug is huis toe. Ons het ’n pragtige selfryroet­e teen die voet van die berge gedoen, in die bergpoele onder ’n watervalle­tjie geswem, Boesmantek­eninge bekyk en ons kuier afgesluit met ’n spesiale aandete.

Dankie, my vrou vir hierdie wonderlike geskenk. Dankie, Ancois dat jy gehelp het om die geleenthei­d spesiaal te maak en ook aan die personeel van Moolmansho­ek vir julle vriendelik­e diens en bederf.

Ek is ook dankbaar dat die Here my die lewenskrag en gesondheid bied om die pragtige natuur wat Hy aan die mens toevertrou, te kan beleef en benut. En Pa, ek sou graag hierdie storie vir Pa wou vertel.

 ??  ?? Lourens het dié rooihartbe­es met sy kort maar dik horings, op dag twee platgetrek. By hom is die perd Eclipse.
Lourens het dié rooihartbe­es met sy kort maar dik horings, op dag twee platgetrek. By hom is die perd Eclipse.
 ??  ?? Lourens het op sy laaste jagdag dié blesbok suksesvol gejag. By hom is Ancois, die profession­ele jagter.
Lourens het op sy laaste jagdag dié blesbok suksesvol gejag. By hom is Ancois, die profession­ele jagter.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Die springbokr­ammetjie wat Lourens op die eerste dag geskiet het.
Die springbokr­ammetjie wat Lourens op die eerste dag geskiet het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa