ALGEMENE GEWEERSLAGGATE, EN HOE OM HULLE TE VERMY
Baie jagters, veral diegene wat nuut is tot dié wonderlike tydverdryf, maak soms foute wat hulle duur te staan kom. In baie gevalle speel die noodlot ’n rol en kom ’n mens te laat agter dat iets skeefgeloop het, maar in ander gevalle is die foute heel ooglopend en ook maklik om reg te stel.
Met ’n bietjie moeite en voorafkennis kan baie van die onderhoudsprobleme egter vermy word. In die hoop dat ek dalk iemand anders kan help om sy roer sonder terugslag of ellende aan die skiet te hou, kom ons kyk na ’n paar algemene slaggate:
KOLF-INSTANDHOUDING
Baie gewere, veral dié wat gemaak is vir swaarder kalibers, loop soms deur onder die lastigheid van ’n gekraakte kolf. Die eerste teken van ’n gekraakte kolf is in baie gevalle ’n drastiese afname in akkuraatheid, maar as die hout regtig sleg gekraak is, veral deur die pistoolgreep waar die inlaatwerk vir die aksie begin, kan ’n mens die kraak duidelik sien. In baie ernstige gevalle moet die kolf selfs vervang word.
Daar is ’n paar redes hoekom houtkolwe kraak. Die eerste rede is swak inlaatwerk wat die loop en aksie toelaat om binne-in die kolf te skuif elke keer as daar met die geweer geskiet word, en sodoende die hout met momentum laat kraak. ’n Ander rede is dat die skut nalaat om die borgskroewe behoorlik vas te draai.
Substandaard-inlaatwerk is gewoonlik redelik maklik om onopsigtelik reg te stel deur middel van glasveselpakking in korrekte areas, soos om die terugskopnok van die aksie. Brno/ CZ-swaarkalibergewere het ’n welverdiende reputasie dat hulle waarde vir geld bied, maar sommige van die gewere wat gedurende sekere eras vervaardig is, se houtkolwe het ongelukkig ook met reëlmaat gekraak as gevolg van swak inlaatwerk. Baie Suid-Afrikaanse geweersmede is dus goed vertroud met die versterking van Brno/CZ-kolwe.
Daar is diegene wat om tradisionele redes nie van pakking met glasvesel of ’n ander soortgelyke middel hou nie. So ’n modifikasie sal byvoorbeeld die oorspronklikheid (en dus die versamelaarswaarde) van so ’n duur geweer negatief beïnvloed.
Met “gewone” gewere is dit egter, na my mening, ’n goeie idee om ’n paar rand aan hierdie modifikasie te spandeer ter wille van gemoedsrus. Ander metodes om die kolf te versterk, is die aanbring van addisionele staal- of koperversterkers soos
kruisboute (cross-bolts) om die kolf te versterk. Dit, saam met glasveselpakking om die terugskopnok, verseker dat ’n houtkolf baie skote kan weerstaan.
Borgskroewe is ’n klein, dog belangrike detail. As die skroewe nie behoorlik vasgedraai is nie, lê die loop en aksie vir alle praktiese doeleinde los in die kolf en ’n kraak of twee is die onafwendbare gevolg na slegs ’n paar skote. Oefen dus jou armspiere op jou geweer se borgskroewe en maak seker dat hulle te alle tye behoorlik vasgedraai is.
Alhoewel kolwe van glasvesel en ander sintetiese materiale gewoonlik sterker en meer stabiel as houtkolwe is, kan hulle ook tot ’n mate aan dieselfde kwale ly. Ek het al sintetiese kolwe gesien wat krom getrek het en selfs gekraak het as gevolg van terugskop of te min versterking, so vir die beste resultate moet sulke kolwe ook maar liefs ordentlik gepak word.
’n Gekraakte kolf kan jou groot hoofbrekens besorg. Ek het jare gelede ’n .30-06 besit wat een goeie dag besluit het om elke dan en wan ’n skoot so ses of sewe duim links te gooi. Dit het nie elke keer gebeur nie en die probleem was feitlik onmoontlik om op die skietbaan te repliseer, maar toe ek eendag ’n blouwildebees amper mis geskiet het, het ek die geweer uitmekaar gehaal en die kolf se binnegoed mooi bekyk. Die hout het ’n haarlynkrakie (moeilik sigbaar) reg deur die terugskopnok gehad – ’n definitiewe probleem. Dit was maklik om reg te stel en die geweer het homself hierna weer gedra soos hy moes. Tog sal die krakie en die gekweste blouwildebees my vir lank nog bybly.
TELESKOOPMONTERINGS
Teleskoopmonterings is een van die belangrikste faktore om in ag te neem. Ek het al meermale gesien hoe skuts in ’n duur geweer en teleskoop belê maar dan letterlik die goedkoopste teleskoopmonterings gebruik. Die uiteinde van so ’n “besparing” is dat die monterings een of ander tyd die gees gee en die jagter dan beter monterings moet aanskaf, iets wat hy eintlik van die begin af moes gedoen het.
’n Groot bohaai word soms gemaak van die feit dat sekere monterings horisontaal verstelbaar is. Dit is ’n pluspunt wat ek nog nooit heeltemal kon begryp nie aangesien die enigste kere dat ek ’n teleskoop drasties na links of regs moes verstel nadat dit op ’n geweer gemonteer is, gewoonlik toegeskryf kon word aan tapgate wat skeef geboor is, of aksies wat nie behoorlik afgewerk is nie. In die era waarin ons leef, word probleme met fabrieksgewere deesdae baie selde ondervind. As jy egter sou verkies om horisontaal-verstelbare monterings te gebruik, maak dan seker jy gebruik die beste monterings wat beskikbaar is.
My keuse van montering bestaan uit ’n basis wat stewig aan die geweer vasgeskroef word, tesame met ’n ring wat dan direk op die basis gemonteer word om die teleskoop stewig in posisie te hou. ’n Goeie voorbeeld van so ’n tipe montering is dié wat deur Warne, Talley en ander vervaardigers bemark word. Hierdie tipe monterings vertoon netjies, is sterk en maklik om te monteer. Dit is beslis ’n faktor wat veral vir swaarkalibergewere voordelig is.
SEEPGLADDE SNELLERS
Daar is vandag ’n groot verskeidenheid plaasvervanger-snellermeganismes op die mark. Baie van hierdie snellers is gerig op die teikenskietmark waar die doelwit die beste akkuraatheid moontlik is, en baie skuts glo dan ook dat die snellers wat deur die meeste geweervervaardigers gebruik word, nie aldag die mas opkom nie.
Die beginner op soek na sy eerste jaggeweer behoort myns insiens nie hoofpyne te ontwikkel oor die sneller van sy jaggeweer nie. En ’n bekwame geweersmid kan, met behulp van basiese gereedskap en ’n trekskaal die sneller van die meeste fabrikate maklik verstel totdat dit mooi lig en glad afgaan.
Die snellers van sommige ouer gewere kan egter probleme gee. Daar is steeds groot hoeveelhede ou Lee-Enfield en M95/98 Mauser-gewere van militêre oorsprong in gebruik in Suid-Afrika en hierdie gewere se snellers was meer vir oorlog as vir jag ontwerp. Veral die standaard-Mauser-sneller kan somtyds ongemaklik wees om te gebruik as gevolg van ’n swaar aftrek met ellelange natrek daarby. Vir so ’n geweer is ’n plaasvervanger-sneller ’n goeie idee, maar dis weereens nie nodig om te veel geld te spandeer nie.
Goeie plaasvervanger-snellers vir die ouer gewere hier genoem, word in Suid-Afrika vervaardig en hulle is meestal meer bekos- »
» tigbaar as die ingevoerde alternatiewe. Vir die geleentheidsjagter wat sy bekostigbare werksgeweer wil opgradeer, is so ’n plaasvervanger-sneller al wat nodig is. Kompetisieskuts het ander behoeftes en belê eerder in duurder ingevoerde alternatiewe. Uiteraard verskil behoeftes.
TELESKOPE TE KIES EN KEUR
Die wêreld van optiese toerusting, en teleskope in die besonder, toon dinamiese groei. Daar verskyn voortdurend nuwe produkte op die mark met allerlei funksies en eienskappe wat wonderlik klink. In die meeste gevalle volg die prys van hierdie produkte egter dieselfde pad en moet ’n mens gewoonlik van ’n groot hoeveelheid swaarverdiende geld afstand doen ten einde die beste produkte van vervaardigers soos Leupold, Zeiss en Swarovski (om net ’n paar name te noem) op jou geweer te kan monteer.
Dit het my al dikwels opgeval dat baie jagters waarskynlik heeltemal te “veel” teleskoop op hulle gewere monteer. Gewere in ’n goedkoper prysklas is dikwels toegerus met teleskope wat waarskynlik drie keer meer gekos het as die geweer self. Alhoewel elke persoon self kan kies watter tipe teleskoop hy wil aanskaf, moet ek onwillekeurig die afleiding maak dat baie teleskope aan niksvermoedende jagters verkoop word deur verkoopsmanne wat baie dankbaar is vir die kommissie wat hulle uit die transaksie verdien en nie noodwendig aan die koper se behoeftes aandag skenk nie.
Vir langafstandskuts (soos die F-klas Bisley-skuts) is ’n 20x-vergroting-teleskoop ’n noodsaaklikheid, maar ek is nie oortuig dat die jagter wat een of twee keer per jaar gaan jag soveel vergroting nodig het nie. Fokus eerder op minder vergroting, maar goeie kwaliteit en gaan jag liewer met die geld wat andersins aan ’n duur teleskoop met oortollige funksies of vergroting spandeer sou word.
HOU DINGE SKOON!
Dit is soms verbysterend hoe nalatig sommige mense kan wees om hulle gewere se lope behoorlik skoon te maak. Met gereelde gebruik bou enige geweer se loop ’n koper- en koolstofneerslag op en dié neerslae kan baie nadelig vir ’n geweer se akkuraatheid wees.
Daar is verskeie uitstekende skoonmaakmiddels beskikbaar en dit is raadsaam om jou geweer se loop gereeld ordentlik skoon te maak. Alhoewel gewere temperamenteel kan wees wat ammunisie aanbetref, en nie altyd ewe goed groepeer nie, is ’n skoon loop gewoonlik ook ’n groot bydraende faktor as dit kom by goeie akkuraatheid.
Wat haelgewere betref, is dit raadsaam om die geweer se kamers na gebruik behoorlik skoon te maak. Baie haelgewere, veral dié wat uit vroeër jare dateer, het dikwels geroeste kamers as gevolg van sweterige hande tydens die laaiproses. Met verloop van tyd is geroeste kamers vir seker die gevolg.
Om hierdie moontlike probleem te voorkom, gebruik ek ’n olielappie, draai dit om my pinkie en vee my haelgewere se kamers behoorlik uit nadat ek die geweer gebruik het. ’n Hele paar roeswerende middels is beskikbaar wat uitstekend werk om geweerkamers mee te behandel. ’n Haelgeweer met geroeste kamers is nie net ’n moontlike veiligheidsrisiko nie, maar is ook heelwat minder werd, sou mens die wapen later van die hand wou sit.
HOU DINGE DOP
Die laaste ding wat soms baie help om geweer-ellende te voorkom, is om so dan en wan net behoorlik na jou geweer te kyk. Gaan die kolf mooi na en haal die geweer ten minste een keer per jaar voor die jagseisoen uitmekaar. Dis die beste manier om ’n gekraakte kolf of ’n weggesteekte roeskol op te spoor en voorsorg is, soos die gesegde lui, beter as nasorg.