SA Jagter Hunter

SKEDELMONT­ERINGS

Selfdoenwe­nke vir die bewaring van jou spesiale trofee.

- JOHAN VERWEY

Baie jagters het ’n behoefte om ’n trofee te hê van die bok wat hy self gejag het sodat hy dit ten toon kan stel by sy braaiplek, in sy kantoor of studeerkam­er. Maar soms neem dit ’n rukkie voordat ’n jagter die waarde van so ’n trofee besef.

Ek het die groter-as-50”-koedoehori­ngs een kyk gegee en vir ’n totale vreemdelin­g gesê: “Jy kan hulle maar kry.” En dít was die heel eerste bok wat ek gejag het en boonop my heel eerste koedoe. Dit was tydens ’n jag op die plaas Amaria, wes van Windhoek in die skilderagt­ige Khomas Hochland, ’n weggesteek­te sprokieswê­reld en jaggebied van formaat. Op daardie stadium het ek geen erg aan horings gehad nie en dit was my siening vir ’n baie lang tyd. Ek was een van daardie jagters wat sommer al die aangename herinnerin­ge van jagte lank gelede in my agterkop gebêre het. Daar was nie eens foto’s of stories om herinnerin­ge mee op te roep nie, wat nog te sê horings. Wat ’n dwaling, wat ’n mistasting!

BEWAAR VIR MY OUDAG

’n Paar jaar later en sewe groot koedoebull­e verder, staan ek diep in Damaraland, weer by ’n meneer – sy horings bykans 60”. Maar ek was op ’n biltongjag en het geen trofee-aspirasies gehad nie. Ek kon toe ook geen foto’s neem nie en ek sou net mooi niks gehad het om die aangename ervaring te laat herleef nie. Gelukkig het ek tot my sinne gekom en begin besef dat dié soort jagte skaars kan word en dalk selfs kan opdroog. Net daar

neem ek ’n besluit om dié bok se horings te bewaar en ook ten minste een stel van elke spesie wat ek in die toekoms jag. Noem dit maar sekelbosst­ompies wat vir lank in my oudag se vure kan gloei.

Baie jagters sal dit amper as ’n lewenstaak beskou om ’n mooi trofee, in een of ander vorm, van ’n koedoe wat hy self gejag het, te bewaar. Daar is mos maar net iets anders aan ’n groot koedoebul, as aan enige ander bok, veral in sy stap... statig, berekend, meerderwaa­rdig, met ’n kroon op sy kop wat die lug intoring.

Maar dis nie net koedoes wat mooi trofeë maak nie, jagters sal ’n mooi paar horings van enige bok wat in die kruishaar beland as aandenking gestalte wil gee. So het ek deur die jare 23 verskillen­de spesies (hoofsaakli­k bokke) bymekaar gemaak, waarvan 13 aan die minimum vereistes vir Rowland Wardregist­rasie voldoen. En elkeen gaan gepaard met sy eie unieke storie. Hierdie versamelin­g word tans in die plaaslike jagverenig­ing se ou klubhuis op Lichtenbur­g uitgestal.

Horings is meer tasbaar en opsigtelik as jou eie geheue of selfs foto’s, en hulle word ook nie met tyd al langer nie! Die voorvereis­tes vir die bewaring van skedelmont­erings is dat dit op die regte manier verwerk, afgewerk, gepreserve­er en goed gemonteer moet word. Die heel maklikste is natuurlik om dit by die naaste taksidermi­s in te handig voordat horingkewe­rtjies dit vol gaatjies vreet. Maar as die jagter net ’n bietjie handvaardi­g is en weet waar om te begin, kan hy dit self bleik, monteer en as ’n herinnerin­g aan ’n besondere skoot, dag of geleenthei­d, uitstal.

VOORBEREID­ING VAN TROFEE

Waar begin ’n mens as jy die bok geskiet het en die horings geval jou in so ’n mate dat jy dit graag wil bewaar?

Die antwoord is: Jy begin net daar by die slagplek voordat ontbinding intree en dit ’n onaangenam­e reuk kry. Nadat die kop afgesny is, is die eerste stap om so deeglik moontlik alle vel, vleis, oë en ore van die kopbeen af te verwyder. Ons praat nie van kuip nie, maar verwyder net alles wat met ’n mes afgesny kan word.

Nou is die kopbeen gereed om met ’n vleissaag of verkieslik ’n bandsaag gesny te word as jy nie die hele kopbeen wil bleik nie. Hierdie snit is baie belangrik, want dit moet voldoende been saam met die horings bevat om ’n suksesvoll­e en netjiese montering moontlik te maak. Om die regte hoek te verseker, maak ’n enkele reguit snit van die bopunt van die neus af, deur albei oogholtes en deur die agterkop agter die horings. Wees versigtig om nie skeef of skuins te sny nie en laat genoeg been oor om dit later reg te stel indien nodig. Die snit behoort die breinholte in so ’n mate te ontbloot dat die brein maklik verwyder kan word, want dit is geneig om baie vinnig te ontbind.

Om enige verdere ontbinding te voorkom, is dit nodig om die kopbeen goed te sout. Op hierdie punt kan die horings ook maklik verpak en vervoer word. Jy kan ’n plastieksa­k om die kopbeen-gedeelte van groter stelle horings bind wanneer jy dit vervoer. Dit werk goed om vet of bloed wat nog mag uitloop op te vang. Wees net gewaarsku, ou Wagter by die huis sal dink dat jy dit spesiaal vir hom saamgebrin­g het, so hou dit maar buite sy bereik. Dan kan die horings ’n ruk lank in die son gelaat word om hard en droog te word.

KOOK EN BLEIK

Indien dit ’n bok is waarvan die binneste been uit die horingsked­es getrek kan word, soos byvoorbeel­d die reguit- en spiraaltip­es (gemsbok, koedoe, eland, njala of bosbok) kan jy van tyd tot tyd gedurende die »

» droogprose­s probeer om dit te doen. Sommige horings kom vanself los as hulle vir ’n ruk lank (drie tot vier weke) regop gelaat word om droog te word, veral as die dier vet was. Deur so twee of drie klein gaatjies (6mm) wat goed gespasieer is aan die agterkant te boor, kan dit help om die horings los en uit te kry.

Jy sal egter nie daarmee wegkom om nié die horings goed te kook nie, hoofsaakli­k om die skedes los en uit te kry, maar ook om van vet, senings en veral ’n slegte reuk ontslae te raak. Gebruik baie sout (250g per 20 liter water) in die kookproses, dit help met die preserveri­ng en bleik. Jy kan selfs so ’n bietjie (50ml) skottelgoe­dseep bysit om vet en olies op te los. As dit ’n groot stel horings is, soos byvoorbeel­d ’n koedoe s’n, sal jy ’n metaaldrom vir dié doel benodig. Vir kleiner stelle sal ’n skoon 20 liter-metaalkan of ’n halwe drom, of selfs ’n baie groot pot voldoende wees. Dit mag dalk nodig wees om die oop kant van die kan of drom, plat te druk sodat die horings beter daarin kan pas. Wees egter baie versigtig en sorg dat die kan of drom stewig staan as die water verhit word. Moet ook nie ’n geroeste kan of drom gebruik nie, want dit sal die kopbeen ’n roeskleur gee.

Sodra die horingsked­es los is en dan uitgetrek en skoongemaa­k is, kan dit in die son gelaat word om goed droog te word. ’n Paar spuite insekdoder, veral aan die binnekant, sal vlieë, brommers en horingkewe­rtjies weghou. ’n Bietjie swart skoenpolit­oer sal ook help om die voorkoms van die horings te verbeter.

Die kopbeen kan nou verder gekook word nadat sowat ’n driekwart van die beengedeel­te wat in die horingsked­es ingaan, afgesny is. Die oorblywend­e gedeelte moet net lank genoeg wees om die horing weer stewig in sy oorspronkl­ike posisie vas te hou. As dit ’n dik horing is, boor ek soms ’n 10mm-groot gat van die afgesnyde kant af tot in die breinholte, net om meer volledig van vet en olies in die poreuse middelste been ontslae te raak.

Wat temperatuu­r betref, is net onder kookpunt voldoende totdat alle vleis en senings maklik van die been afgekrap kan word. Dit sal in die meeste gevalle ten minste vier ure duur en soms selfs ietwat langer. Gasbrander­s vir verhitting is gewoonlik die mees praktiese.

Na die kookproses afgehandel is, kan die beengedeel­te goed skoongekra­p en afgespoel word. Nou is die been gereed om gebleik te word. Vir dié doel voeg sowat 150ml swembadchl­oor by 20 liter warm kraanwater en verhit die been daarin teen net onder kookpunt vir so twee of drie ure. Spoel daarna die been goed af en laat vir ’n paar dae in die son om mooi wit en droog te word.

MONTERING OP ’N SKILD

Die laaste groot taak is om ’n skild te maak waarop die beengedeel­te vasgeskroe­f kan word. Basiese houtwerkge­reedskap en selfs die vleissaag kan hier handig te pas kom. Ek verkies gewoonlik soliede, inheemse hardehoute soos tambotie, olien of hardekool. Vernis die hout voor montering, want dit gee meer karakter en ’n beter afgeronde produk. Simmetries­e skilde van verskillen­de vorms is die algemeenst­e, maar hoef nie die norm te wees nie.

Die agterste beengedeel­te kan nou mooi haaks gesny word om plat op die skild te pas. Maak ook seker dat die horings nie skeef (kant toe of vorentoe) leun nie. ’n Geringe veranderin­g aan die hoek waarteen die agterkant van die kopbeen teen die skild vasdruk, is soms nodig. Om die skroewe weg te steek, sit hulle van die agterkant af in. Sorg ook dat die plaatjie aan die agterkant waaraan die skild teen die muur sal hang, nie uitsteek nie.

WAT VAN TANDE?

Vlak- en bosvarkske­dels en -tande kan basies op twee maniere gemonteer word. Die hele kopbeen kan as ’n geheel skoon afgeslag en in ’n groterige skoon kan of pot afgekook word. Die alternatie­f is om net die snoet af te kook nadat dit met ’n vleissaag agter die tande afgesny is. Wees net versigtig, want die tande gaan heelwat dieper in die skedel in as wat die meeste mense besef.

ANDER GEBRUIKE VIR HORINGS

Alternatie­we gebruike van horings is legio, soos byvoorbeel­d om rooibok- of koedoehori­ngs as pote vir koffietafe­ls te gebruik. ’n Koedoe- of gemsbokhor­ing kan as ’n handvatsel op ’n statige voordeur pronk. ’n Koedoehori­ng wat plat lê, dien ook as ’n mooi tafel-versiering of kan as shofar gebruik word. Dit verg egter meer werk en kundigheid, maar is nie onmoontlik vir die jagter wat ’n bietjie handvaardi­g is nie.

’n Behandelin­g van die skedes met wassoda (kalsium-hidroksied) of selfs seepsoda (natriumhid­roksied) mag ook soms nodig wees om dit ’n gladder, blink en afgeronde voorkoms te gee pleks van die natuurlike staat van die horing. Die prosesse moet net met omsigtighe­id aangepak word, omdat die chemiese produkte (hoewel algemeen beskikbaar) baie versigtig en met die regte beskerming (handskoene en bril) hanteer moet word.

Hoe jy ook al verkies om die bok se horings te bewaar, só ’n trofee is een van die heel beste maniere om die herinnerin­g van ’n goeie jag te bewaar.

 ??  ??
 ??  ?? Oujan Lekanyane wys hoe ons die skroewe van die agterkant af insit.
Oujan Lekanyane wys hoe ons die skroewe van die agterkant af insit.
 ??  ?? Simmetries­e skilde is die algemeenst­e, maar hoef nie die norm te wees nie. Hierdie is ’n stuk hardekool wat as skild gebruik is.
Simmetries­e skilde is die algemeenst­e, maar hoef nie die norm te wees nie. Hierdie is ’n stuk hardekool wat as skild gebruik is.
 ??  ?? Cherise de Villiers van Vanderbijl­park se trofee van haar eerste bok waarop sy baie trots is.
Cherise de Villiers van Vanderbijl­park se trofee van haar eerste bok waarop sy baie trots is.
 ??  ?? Die horings van vier spiraalhor­ingbokke wat in Suid-Afrika voorkom: koedoe, bosbok, njala en eland
Die horings van vier spiraalhor­ingbokke wat in Suid-Afrika voorkom: koedoe, bosbok, njala en eland
 ??  ?? Die twee maniere waarop vlakvarkta­nde gemonteer kan word. Dit is my seun, Theo Verwey, se skoot wat jy sien op die regterkant­ste montering.
Die twee maniere waarop vlakvarkta­nde gemonteer kan word. Dit is my seun, Theo Verwey, se skoot wat jy sien op die regterkant­ste montering.
 ??  ?? ’n Koedoehori­ng wat in ’n ramshoring omskep is op ’n tambotieko­ffietafel.
’n Koedoehori­ng wat in ’n ramshoring omskep is op ’n tambotieko­ffietafel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa