’N HARTSGEWEER
’n Liefde vir jag en die natuur word gewoonlik saam met ’n spesiale geweer van geslag tot geslag oorgedra.
Elke familie wat spore in die jagveld laat, het sekerlik ’n storie oor ’n spesifieke geweer wat van een generasie na die volgende oorgedra word. Die familie ken die geweer en al die kinders leer daarmee jag. Dit is van só ’n geweer – in hierdie geval ’n Voere .30-06 – waarvan ek in dié storie wil vertel. Ek het met hom gejag en al drie my kinders het hulle eerste bokke met dié geweer platgetrek.
In Suid-Afrika is jag nie net ’n sport of, soos die “groenes” beweer, ’n rede om dood te maak nie. Nee, dis ’n kultuur wat diep gewortel is in ons voorgeslagte en wat met respek vir die natuur en die diere wat jy skiet, saam met etiese reëls van geslag tot geslag oorgedra word. Ons oupas het ons pa’s geleer, en hulle het op hulle beurt vir ons geleer; nou leer ons ons kinders. Die liefde vir die veld en die natuur wat ons by ons kinders kweek, bou bande en skep geleenthede vir gesprekke wanneer daar gepraat moet word oor dinge wat op geen ander geleentheid gepraat sal word nie.
Kinders wat saam met hul pa’s begin jag, word nie sommer net toegerus met ’n geweer, teleskoop en patrone waarna ’n duur kursus bespreek word om die beste afrigting te verseker nie. Hulle speel nie skoolwedstryde wat ligawedstryde word om later provinsiaal mee te ding nie. Hierdie kinders leer die kuns van jag deur middel van tyd, trane, blydskap en baie geduld. Hulle gebruik ’n geleende geweer waarvoor hulle so lief raak dat hulle later met geen ander geweer wil skiet nie. En mettertyd word so ’n geweer oorgedra aan hulle en daardie geweer bly hul eerste liefde, al skaf hulle ander duurder en meer moderne gewere aan.
EENDAG OP ’N VEILING
In die 1960’s en ’70’s het Natuurbewaring, of Fauna en Flora soos ons hulle toe genoem het, veilings gehou waar gekonfiskeerde vuurwapens, visstokke, bote en selfs voertuie van mense wat tydens jag- of hengelekspedisies aan die verkeerde kant van die gereg was, verkoop is.
Een aand in 1972 lig Pa ons om die eetkamertafel in dat hy die volgende dag na so ’n veiling in Pretoria gaan. Hy wou vir hom ’n ordentlike jaggeweer gaan koop sodat hy ’n bietjie kan opgradeer van sy ou kommando .303. Terselfdertyd wou hy ook uitkyk vir ’n .22-geweer vir my en my broer. Ek was so elf jaar oud en my broer twee jaar ouer. Ons het altyd onder toesig met Oupa of Ma se broer, oom Boeta, se .22-gewere geskiet, maar die gedagte aan ons eie geweer het my daardie aand
heerlik laat slaap. Daar was geen beter geskenk vir ’n plaasseuntjie as sy eie geweer nie.
So gebeur dit toe ook. Met sy tuiskoms die volgende aand kondig Pa aan dat sy aankope suksesvol was. Hy het ’n Voere .30-06 vir R85 gekoop en daarmee saam vir ons ’n enkelskootRemington .22-geweer vir ’n volle R5. ’n Week later gaan haal Pa die lisensies by die plaaslike polisiestasie op Belfast en kon hy die gewere gaan haal. Hierdie was die begin van baie lekker skoolvakansies op Oupa en Ouma se plaas, Oshoek, tussen Dullstroom en Lydenburg. Gewapen met ons eie geweer kon ek en my broer gewoonlik nie wag om daar uit te kom nie. Dis hier waar ek later my eerste bok, ’n duikerram, met dié geweertjie platgetrek het.
PA SE JAGGEWEER
Maar terug na die .30-06. ’n Jaar nadat Pa die geweer aangeskaf het, oortuig ’n vriend hom om ’n teleskoop op te sit. Teen die geweldige bedrag van R115 pryk daar toe ’n Weaver K4 Wide-Angle 1”-teleskoop op die Voere. Dié kombinasie het die geweer in ’n pragstuk omskep. Pa koop toe ook ’n pak 220gr Winchester Silvertip-patrone en hy het volgehou dat hy nog eendag daarmee ’n buffel gaan skiet. Dit gebeur ongelukkig nooit en in 1992, toe Pa baie siek was aan kanker, het ek die nuwe eienaar van die geweer geword.
Ek is vandag nog in besit van een van die patrone uit die oorspronklike pakkie. Pa het die geweer saam met die pak Winchester Silvertips geleen aan ’n vriend wat gesê het dat hy ’n geleentheid het om ’n blouwildebees te gaan jag. Met die vriend se terugkoms het hy vir my pa die boksie, met een patroon in, teruggegee. Toe ek later jare weer aan die voorval dink, het ek gehoop die ander skote was mis, anders sou hulle daardie wildebees moes smelt.
Ek het baie tyd met die Voere in die jagveld deurgebring en hy het nooit teleurgestel nie. Die Weaver is ook nooit, maar nooit, her-ingestel nie. Ons drie het jaar na jaar kolskote op 100m geskiet. Pa is graf toe. Seker nog steeds omgekrap oor dr. Lucas Potgieter se stelling jare terug in Landbouweekblad se “Boer en sy Roer” dat ’n Voere onakkuraat skiet omdat die loop se wanddikte te dun is. Ek onthou hoeka hoe geïrriteerd Pa soms was met die doktor se oordrewe klem op die tegniese eienskappe van gewere en patrone, en die kritiek op sy Voere.
In 1993 is ek met die Voere na Rhino Lodge naby Standerton om ’n swartwildebees te gaan jag. Die oggend met die inskiet sê die eienaar van die plaas dat ek ’n paar duim moet opstel omdat ek met 180-greiners skiet en vanweë die oop terrein waarop die skietafstand so 300m is. Ek sê toe ek gaan nie opstel nie, maar sal kompenseer met die mikkery, en siedaar, op langafstand skiet ek die grootste swartwildebees (horinggewys) in Rhino Lodge se bestaan, aldus die oorspronklike eienaar.
Op baie bosveldjagte doen die getroue roer sy reputasie gestand, en koedoes, blouwildebeeste, elande, rooibokke en vele meer val voor hom. Hy vergesel my op jagte na Namibië, Zimbabwe, Botswana en Mosambiek en laat my nooit in die steek nie. Verder is die geweer relatief lig en het hy, sonder noemenswaardige ongemak, heeldag oor my skouer gehang.
TYD VIR VERANDERING
Nou ja, my jare loop ook aan. My oë is nie meer so skerp nie en die Weaver is minder helder. My seun, wat ook ’n SA Jagterslid is en saam met wie ek aan skietdae deelneem, het my oorreed om ’n nuwe teleskoop op die Voere te sit. So gebeur dit toe dat ons in Junie 2019, ná 46 jaar se diens, die Weaver afhaal. Ek het amper so ’n klammigheid hier in my oë gekry omdat ons paaie moes skei.
In die Weaver se plek pryk nou ’n baie lekker glashelder Leupold VX1 3-9x50-teleskoop wat baie geskik is vir stapjag in die Bosveld of Kalahari – die tipe jag wat ek bo alle ander vorme verkies. Ek het al die voorreg beleef om buffels en selfs olifant te jag, maar as jy my vra wat ek die meeste van hou, is dit nog steeds om ’n lekker diknekrooibokram te probeer uitoorlê tussen sekelbos of in rooibos- en knoppiesdoringveld.
So sal ek, solank as wat ek die voorreg het, met die ou Voere spore in die jagveld wil trap.