JAG MET 'N HOUTBOOG
Tradisionele wapens hou romantiek in wat jagters bekoor.
Om met ’n boog te jag, is nie altyd maklik nie en om jou prooi met ’n houtboog plat te trek, verg nie net geduld nie, maar ook vaardigheid en geluk. Wanneer ek van ’n houtboog praat, bedoel ek ’n tradisionele boog en nie ’n kragboog of compound nie. Ek praat van ’n boog soortgelyk aan dié wat Robin Hood mee geskiet het en die boë waarmee die Engelse langboogskuts die Franse in die middeleeue pakgegee het.
Die meeste boë waarmee vandag se tradisionele skuts oefen en jag word egter nie net van hout gemaak nie, maar van laminasies van hout, veselglas en soms ook koolstof. Dié boë skiet ’n pyl vinniger as boë wat net van hout gemaak is en is ook meer duursaam.
Sommige tradisionele boogskuts verkies egter om boë te skiet wat net van natuurlike materiaal gemaak is, soos hout, bamboes en sening. Dit verg baie vaardigheid om só ’n houtboog te bou, want die plank of stomp waarvan die boog gemaak word, moet in der waarheid “ge
leer” word, om te buig. Dit word gedoen deur die hout op ’n spesifieke wyse weg te skraap en die boog versigtig en stap vir stap te vorm en te buig totdat dit ’n D-vorm aanneem wanneer dit gesnaar en gespan is.
Die langboë en kromboë waarmee die meeste tradisionele jagters vandag suksesvol jag, word van die rak af gekoop of by ’n spesifieke boogmaker bestel. Daar is ten minste vier boogmakers in Suid-Afrika wat boë van ’n hoë gehalte bou. Van die bekende boogmaatskappye wat kragboë vervaardig soos Mathews, Hoyt, Bowtech en PSE het ook tradisionele boë beskikbaar, hoewel hulle reekse van dié soort boë baie kleiner is as hul kragboogreekse.
’n Mens kan nooit oor langer afstande so akkuraat met ’n langboog of kromboog skiet as wat ’n mens met ’n kragboog kan doen nie. ’n Kragboog het ’n visierstelsel, terwyl ’n tradisionele boog gewoonlik nie met só ’n stelsel gebruik word nie. Kragboë gebruik nokke of “katrolle” om die meeste trekspanning van die boog in die kabels te stoor en sodoende kan die skut die boog langer vashou om sekuur met sy visiere te mik. ’n Kragboog is baie akkuraat en in die hande van ’n geoefende skut kan teikens oor meer as ’n 100 meter in die kol getref word.
EN AFSTAND
Met tradisionele boë skiet ’n mens grootliks op gevoel, maar met genoeg oefening kan ’n skut baie akkuraat daarmee skiet – akkuraat genoeg om eties daarmee te jag. Die tradisionele boogskut moet egter sy beperkings ken en daarvolgens die afstand bepaal waaroor hy met sekerheid ’n bok kan plattrek. Die maksimum jagafstand moet ’n afstand wees waar hy keer op keer die kol op ’n teiken tref en nie waar hy net die helfte van die tyd, of selfs 90 persent van die tyd, die kol tref nie.
Die tegniek wat gebruik word om met ’n tradisionele boog te mik, is baie kontroversieel en moeilik om te omskryf. Sommige skuts skiet “instinktief” en ander gebruik die een of ander verwysingstegniek om mee te mik, soos die voorpunt van die pyl. Selfs kundiges verskil oor presies hoe dit werk of gedoen moet word. Jy leer dit aan deur dit te doen – en dan verstaan jy.
Die werkbare jagafstand vir die gemiddelde houtboogjagter is nie verder nie as 15 tot 25 meter. Om só naby aan ’n bok te kom, verg ’n besonderse goeie bekruiptegniek of baie geluk. Ek het al baie kere die een loop-enbekruippoging na ’n ander verbrou. Dan gebeur dit dat ek in die skadu van ’n boom staan en sien hoe ’n bok nader loop. Die wind waai reg en omdat ek doodstil staan en ’n ghillie-oorpak aan het, sien die bok my nie. Al wat ek dan moet doen, is om die pyl in die snaar te haak, ongesiens die boog op te lig, te span en te skiet. Selfs dít word maklik verbrou.
Dit is baie makliker om die bok in te wag. Die boogjagter kan die paadjies waarin die bokke loop, bestudeer en ’n plek kies waar verskillende paadjies met baie spore bymekaar kom. Dan moet die boogjagter homself goed versteek en wag. Daar moet natuurlik vooraf seker gemaak word dat die boog maklik gespan kan word sonder om teen iets te stamp. Die geringste geluid sal die bok die hasepad laat kies. Die jagter kan ook in ’n boom klim. Koedoes kyk soms op en sal die jagter sien indien hy nie spesiale klere dra nie, maar die meeste ander bokke steur hulle net aan wat op die horisontale vlak voor hulle gebeur.
TE VOET JAG OF INWAG
In die VSA word die meeste jag op bokke vanuit boomstoele »
» gedoen. Dit werk ook goed in ons land. Die jagter moet seker maak hy sit stewig in die boom of die boomstoel. Baie boogjagters het al baie seergekry of selfs hulle lewe verloor nadat hulle uit ’n boom geval het. Die meeste boomstoele het ’n harnas waaraan die jagter vasgemaak word om te keer dat hy uit die boom val indien hy aan die slaap raak. Baie boogjagters jag uit skuilings op die grond.
Om vir ure lank vir ’n bok te sit en wag, kan nogal vervelig raak. Dit is baie meer opwindend om te voet te jag en ook baie meer uitdagend. ’n Jagter wat ’n bok met sy houtboog te voet wil jag, moet goed voorberei. Dit help indien jagklere in ’n reukwerende middel gewas word en nie saam met ander klere gestoor word nie. Daar is spuitmiddels waarmee die hele lyf gespuit kan word om sodoende reuk soveel moontlik te verdoesel. Sommige kundiges reken egter dit is glad nie moontlik om diere só te fnuik nie. Hulle reuksintuig is net té goed. Hou dus maar by die ou reëls en probeer om wind-af van ’n prooi te bly.
’n Ghilliepak of leafy suit kan ook help om jou minder na ’n mens en meer na ’n boompie of ’n bos te laat lyk. Maak ook seker dat daar nie loshangende goedjies aan die klere of toerusting is wat geraas kan maak of aan takke kan haak nie. Wanneer jy só naby aan ’n dier moet kom, moet jy geruisloos wees en so stadig moontlik beweeg.
ENIGE WILDGROOTTE
Alles in die veld kan met ’n houtboog gejag word – ook grootwild. Die boog moet net die pyl vinnig genoeg kan versnel sodat dit die dier diep genoeg deurboor om die hart en albei longe te tref. Hoe groter die dier wat gejag word, hoe hoër moet die trekkrag van die boog wees en hoe swaarder die pyl.
Omdat ’n houtboog nie die pyl met dieselfde krag of spoed as ’n kragboog skiet nie, is meer trekkrag nodig om ’n spesieke dier te jag. ’n Kragboog met ’n trekkrag van 50 pond sal waarskynlik net soveel of selfs meer energie vrystel as ’n langboog met ’n trekkrag van 70 pond.
Moenie dink hoër pylsnelheid lewer noodwendig “beter” resultate nie. Inteendeel, skootplasing bly die belangrikste. Selfs kinetiese energie is nie ’n goeie maatstaf van boë se werkverrigting nie. Boë dood deur bloedverlies vanaf die direkte wond. Daar is geen sekondêre weefselskade nie – en daarom is die vermoë om te penetreer van belang en nie die “skok” of “slag” van die pyl nie.
Houtboogjag is nie die maklikste roete om te neem nie. Dit is gewis die “smal paadjie”. ’n Mens sou vra waarom iemand hoegenaamd met ’n tradisionele boog sal wil jag. Dit is baie moeilik om te verduidelik, omdat dit nie iets is wat logies verantwoordbaar is nie. ’n Mens hou van tradisioneel skiet of jy hou nie daarvan nie. Tradisionele boogskiet is deel van ’n lewenswyse en ’n romantiek wat net deur die ervaring daarvan begryp kan word.
GEEN WEDLOOP OF MEDEDINGING
Een van die tradisionele boog se voordele is dat jy nie aan ’n tegnologiewedloop deelneem nie. ’n Tradisionele boog kan in dié opsig met ’n geweer vergelyk word. Jy koop jou geweer en jy hou dit vir die res van jou lewe. Jy koop miskien later ander kalibers by, maar jou .308 of .30-06 bly modern – dit is nie nodig om dit ’n paar jaar later met ’n nuwe, vinniger model te vervang nie. Jou tradisionele boog “verouder” ook nooit nie.
Die genoegdoening wat ’n jagter ervaar wanneer hy ’n bok met ’n houtboog plattrek, is groot. Hiervan kan ek uit ervaring getuig. Ek het ’n klomp diere met ’n kragboog, ’n houtboog, ’n geweer en ’n voorlaaier gejag. Jag bly jag, ongeag die wapen waarmee jy jag. Elke jagwapen het sy voordele en nadele, ’n eie manier van jag wat daarmee saamgaan – en elkeen kan sorg vir wonderlike ervarings.
Vir my is jag te voet, met ’n houtboog, die moeilikste en dus is die gevoel van genoegdoening wanneer ek suksesvol is, ook die grootste. Mense verskil egter en nie almal sal of hoef dit soortgelyk te ervaar nie. ’n Ander jagter mag dit dalk baie meer uitdagend vind om ’n bok oor ’n lang afstand met ’n geweer of selfs ’n boog plat te trek.
SKAF EEN AAN
Indien jy belangstel om ’n houtboog aan te skaf, is dit wys om ’n boog te koop met ’n trekkrag wat jy baas kan raak. Moenie ’n té swaar boog kies nie, want dan gaan jy van die begin af ’n verkeerde styl aanleer of jouself beseer. Jy hoef nie ’n boog te kies wat jy baie maklik kan trek nie, net een wat ’n bietjie inspanning verg, want jou spiere gaan gou aanpas. Die boog wat jy nou maklik trek, sal vir jou “pap” voel. Jy moet werk om die boog te span, maar dit moet gewis nie enigsins voel asof jy spiere gaan skeur nie.
’n Gemiddelde trekkrag wat mans maklik kan baasraak, is 50 pond en vir vroue is dit 40 pond. Kinders skiet gewoonlik maklik met boë tussen 25 tot 35 pond. Ek wil amper nie dié maatstawwe daarstel nie, want mense verskil baie en só ook die trekkrag wat hulle kan baasraak. Sterk manne kan baie kere nie ’n boog met ’n trekkrag van 50 pond trek nie, bloot omdat die werk nie regtig deur die armspiere gedoen word nie, maar deur spiere by die skouerblaaie in die middel van die rug. Die spiere word oor die algemeen nie baie gebruik nie, maar gewoonlik goed ontwikkel by mense wat boogskiet. Indien jy twyfel, koop eerder ’n boog wat té lig is as een wat té swaar is. Jy kan eerder op ’n latere stadium ’n swaarder boog aankoop en die huidige boog weer verkoop of vir iemand anders gee om mee te begin.
Boogskiet is groot pret en om ’n teiken met ’n houtboog keer op keer te tref, is ’n wonderlike ervaring. Kom, probeer dit gerus en word só deel van ’n klein groepie boogskuts en boogjagters in die land.