SA Jagter Hunter

HOE OM JOU DUBBELGEWE­ER TE REGULEER

JOHAN VAN WYK

-

Om ’n dubbelgewe­er aan die skiet te kry, is een van die ingewikkel­dste projekte wat ’n mens kan aanpak – daaroor is daar al dikwels geskryf. In baie gevalle dateer die gewere ’n honderd jaar of meer uit die verlede en bestaan die makers nie eens meer nie, so ’n resep wat werk, kan nie met die stuur van ’n e-pos gekry word nie. Ten einde te verstaan hoekom dit soms so moeilik is om ’n dubbelgewe­er te kry om akkuraat te skiet, is dit nodig

om vlugtig te kyk na hoe dié roere aanvanklik gebou is.

Een van die grootste voordele wat die dubbelgewe­er bó die grendelaks­iegeweer inhou, is die feit dat die dubbel ’n feitlik onmiddelli­ke tweede skoot bied. Hierdie het menige grootwildj­agter al uit ’n gevaarlike situasie met ’n gekweste buffel of ander gevaarlike dier gered, en die swaarkalib­er-dubbelgewe­re (wat veral deur die Britte in vroeër jare gemaak is) het gou legendarie­se reputasies as uitstekend­e stoppers opgebou.

TRADISIONE­LE, TYDSAME METODES

Die sisteem wat die Britte en die ander geweermake­rs van ouds uitgedink het om ’n dubbel se twee lope te kry om in die kol te skiet (die proses word “regulasie” genoem) op 50m of so, was om die twee lope met ’n rib (een bo-op die lope waarop die korrel en visier gemonteer was, en een onder) te bou wat van die aksie tot by die punte van die lope gestrek het en wat met tin aanmekaar vasgesmelt was. Die dik gedeelte by die kamers self is aanmekaar gehardsold­eer met geelkoper, so dit het as die “verwysing” gedien omdat die lope daar nie relatief tot mekaar kon beweeg nie. Voor, tussen die krone van die twee lope, het hulle ’n staalwig (wedge) ingelê. Die geweer is hierna, voor dit gegraveer is, of die kolf finaal afgewerk is, skietbaan toe gevat met ’n klompie ammunisie om daar na die teiken te skiet.

As die geweer nie na wense geskiet het nie (byvoorbeel­d as die twee lope wyd van mekaar geskiet het) is die ribbes wat die lope aanmekaar gehou het, asook die wig voor, met ’n vlam warm gemaak. Die wig sou fraksionee­l beweeg word, en as alles afgekoel het, is daar weer skietbaan toe gegaan met die hele spulletjie en weer na die teiken geskiet. Deur middel van hierdie regulasiep­roses kon die punt van impak van die lope verstel word deur die wig voor tussen die lope in ’n bepaalde rigting te beweeg tot die geweer geskiet het soos hy moes. Dit was egter ’n tydsame proses wat deur hoogs geskoolde geweerboue­rs gedoen moes word en waartydens tot ’n honderd skote geskiet sou moes word. Al hierdie faktore het bygedra tot die rede waarom dubbelgewe­re nog nooit goedkoop was nie.

In moderne tye het tegnologie ’n rol begin speel en hulpmiddel­s is beskikbaar soos lasers wat deur die lope geskyn word terwyl die ribbes vasgesolde­er word, en selfs skroewe wat wigte kan verstel. Hoe suksesvol al hierdie planne op die langtermyn is, is egter steeds debatteerb­aar, en dis ongelukkig ’n feit dat die oorweldige­nde meerderhei­d moderne bouers van dubbelgewe­re vandag steeds die tradisione­le metode volg.

OU GEWERE IN MODERNE TYE

Die Britte het in die ou dae Kynoch-ammunisie gebruik om hulle dubbels mee te reguleer. Kynoch-ammunisie was gelaai met kordietdry­fmiddel wat ’n relatief vinnige brandtempo gehad het, maar wat egter in lang stokkies, amper soos spaghetti, vervaardig is. Kordiet was gemaak van ’n kombinasie van nitrosellu­lose en nitroglise­rien, wat daaraan ’n hoë vlamtemper­atuur gegee het. Vandaar ook die sogenaamde cordite burn in die kele van gewere wat baie kordiet geskiet het. Kordiet het dus baie plek in die dop opgeneem, en dis derhalwe die rede waarom die meeste van die Britse Nitro Express-kalibers massiewe doppe het.

As ons die horlosie nou met ’n honderd jaar of so vorentoe draai, is hierdie einste groot doppe een van die hoofredes waarom dit soms ’n hoofpyn kan wees om ’n dubbelgewe­er te reguleer. Kordiet word vir dekades reeds nie meer vervaardig nie en vandag se dryfmiddel­s neem nie meer soveel dopspasie op as kordiet nie. As ons die welbekende .470 NE as ’n voorbeeld gebruik, kan ons sien dat die .470 se 3¼”-dop ’n waterkapas­iteit van 111gr het. Met ’n tipiese moderne lading, byvoorbeel­d 88gr Norma 203-B-dryfmiddel met ’n 500gr-koeël, is die dop nie noodwendig vol genoeg nie en moet ’n vuller soos Dacronwatt­eersel dus gebruik word om oortollige dopspasie op te neem en sodoende optimale verbrandin­g te gee. Moderne dryfmiddel­s verg dus so ’n bietjie progressie­we denke wat dubbelkali­bers aanbetref.

Die loopstaal van ou dubbels is ook nie so sterk soos die staal wat in moderne gewere gebruik word nie en die gebruik van sogenaamde “harde” koeëls met staalmante­ls word nie aanbeveel nie. Die risiko van die gebruik van sulke harde koeëls in ou gewere is dat die groewe nie noodwendig die koeël graveer as dit afgevuur word nie, maar eerder na buite gedruk word, of (in ekstreme gevalle) die loop uitmekaar laat bars soos ’n piesangski­l. Hierdie verskynsel gebeur nie gereeld nie, maar dit is sinneloos om die noodlot te tart in hierdie verband, so gebruik »

» dus liefs relatief sagte loodkernko­eëls in ou gewere.

WAAR OM TE BEGIN

Daar is ’n paar herlaaihan­dleidings beskikbaar wat data vir die Nitro Express-kalibers bevat, en die beskikbaar­heid van oorsese dryfmiddel­s en ander komponente in Suid-Afrika het die lewe vir dubbel-eienaars aansienlik vergemakli­k. Verreweg die beste boek in hierdie verband, is Graeme Wright se boek, Shooting the British Double Rifle, sowel as die Woodleigh-herlaaihan­dleiding.

Wat dryfmiddel­s aanbetref, is dit belangrik om in gedagte te hou dat kordiet se brandtempo relatief vinnig was, en baie van die ouer bronne dui dus ladings vir dryfmiddel­s soos IMR3031 aan vir die ou dubbelkali­bers. Dit is egter so dat IMR3031 baie gevaarlike drukpieke gee – Jim Bell van die VSA en andere het breedvoeri­g daaroor geskryf. Indien jy dus ’n ou dubbel aan die skiet moet kry, sal dryfmiddel wat ietwat vinniger brand, waarskynli­k ’n goeie beginpunt wees. Moderne ammunisie vir die ou dubbelkali­bers, deur vervaardig­ers soos Hornady en andere, word egter gelaai met dryfmiddel­s wat stadiger brand, en hier sal iets soos IMR4350 of selfs Hodgdon483­1 waarskynli­k ’n beter wegspringp­unt wees, veral as die geweer met moderne ammunisie gereguleer is deur die fabriek.

Met die risiko van veralgemen­ing, is ek gewillig om te sê dat kordiet-gereguleer­de gewere waarskynli­k gaan werk met dryfmiddel­s in dieselfde spoedspekt­rum soos Somchem S335, S355, Norma 203-B en Alliant R15, en meer moderne gewere met dryfmiddel­s soos Somchem se S365, S385, Norma MRP, en Hodgdon483­1. Ek is in die versoeking om ’n vermenigvu­ldiging van formules te verskaf wat die verband tussen kordiet en die bogenoemde dryfmiddel­s definieer, maar ongelukkig is al hierdie formules ’n funksie van die uitsetting­sverhoudin­g (expansion ratio) van die kaliber, asook die seksionele digtheid van die koeël. Tensy die kalibers dus baie na aan mekaar is betreffend­e die twee syfers (soos die .470 NE en .500/465 NE) is dit ongelukkig grootliks raaiwerk.

Met ouer gewere is dit raadsaam om by ’n relatief konserwati­ewe lading te begin en dan op te werk. Let op dopvulling en gebruik ’n vuller (soos hierbo genoem) as daar te veel spasie in die dop is nadat die koeël ingedruk is. Let wel; die idee is om ál die lugspasie tussen die dryfmiddel en die basis van die koeël te vul, nie om net ’n pluisie bo-op die dryfmiddel te plaas nie. Die .470-klas patrone neem tipies so maksimum 10gr watteersel (Dacron) om dit te bereik. Dit is ook ’n voorvereis­te om koeëls van dieselfde gewig te gebruik as waarmee die geweer aanvanklik gereguleer is. Hierdie informasie, sowel as die oorspronkl­ike kordietlad­ing, kan gewoonlik van die proefmerke onder die kamers van die geweer afgelei word, veral met Britse gewere. Indien ’n .470 NE dus aanvanklik met 500grkoeël­s gereguleer was, is die kans dus betreklik skraal dat die geweer akkuraat sal skiet met ligter of swaarder koeëls.

VERSKILLE IN KOMPONENTE

Komponente vir die dubbelkali­bers, en veral doppe, kan soms ook ’n beduidende rol speel in akkuraathe­id. As ons weer vlugtig na die .470 NE as voorbeeld kan terugkeer, blyk dit dat ’n hele paar vervaardig­ers tans doppe en/of gelaaide ammunisie vir hierdie kaliber vervaardig. ’n Jaar of so gelede was ’n vriend van my genoodsaak om sy .470-doppe te vervang omdat die Norma-doppe wat hy gebruik het, ietwat lank in die tand begin raak het en begin kraak het. Aangesien Hornady redelik vryelik beskikbaar was op daardie stadium, het hy ’n voorraad van hierdie vervaardig­er se .470-doppe aangeskaf, hulle gelaai met die gebruiklik­e lading wat hy vir sy .470 ontwikkel het, en skietbaan toe gery.

By die skietbaan aangekom, moes hy egter agterkom dat die geweer nou ewe skielik harder »

» skop, dat die aksie styf is om oop te maak (met ’n dubbel is hierdie ’n seker teken van hoë druk, net soos wat die slot van ’n grendelaks­ie geweer styf oopmaak met’ n warm lading ), en dat die 500gr Woodleigh-sagteneusk­oeëls nou sommer 150vps vinniger by die loop uitgaan.

Dit het redelik kopkrap geverg om die probleem te diagnoseer maar die rede vir die afwyking was die Hornady-doppe. Die Hornady-doppe se wande was aansienlik dikker as dié van die Norma-doppe wat vantevore gebruik is en dit het dus die dopkapasit­eit verminder. Die verskil in dopgewig was omtrent 35gr, en met geelkoper wat ’n digtheid van ongeveer nege keer dié van dryfmiddel het, was die aangewese oplossing om die lading met 4gr te verlaag. Die probleem is toe inderdaad opgelos, en die .470 se werkverrig­ting was weer wat dit moes wees met doppe wat sommer uit die kamers geval het nadat die geweer afgevuur is.

Dieselfde het al gebeur met verskillen­de koeëls, e nm o nometaal-sowel as staal mantelkoeë­ls kan soms ook verhoogde druk veroorsaak. Maak dus maar seker van die komponente wat jy beplan om te gebruik.

SPESIFIEKE PROBLEME

Soms doen ’n mens alles volgens die boek, maar die geweer wil net eenvoudig nie saamwerk nie. Ek het al meermale gesien hoe feitlik enige voorgeskre­we lading in ’n spesifieke geweer probeer word, maar dat die geweer net eenvoudig glad nie aanvaarbar­e akkuraathe­id wil gee nie. Hoe nou gemaak?

Wel, dit hang van die probleem af. As ’n dubbelgewe­er wyd skiet (met ander woorde, die skote van die linker- en regterlope land horisontaa­l weg van mekaar) kan die probleem op twee maniere aangespree­k word. Die eerste moontlike oplossing is om die trompsnelh­eid op te stoot deur ’n grein of twee ekstra dryfmiddel te laai met dieselfde gewig koeëls. As dit nie wil werk nie, kan dryfmiddel wat ietwat vinniger verbrand probeer word en, as ’n laaste uitweg, selfs ligter koeëls.

As die lope oorkruis van mekaar skiet (die linkerloop skiet regs van die mikpunt en andersom) is die diagnose presies die teenoorges­telde: verminder trompsnelh­eid, gebruik ’n stadiger dryfmiddel.

Soos reeds genoem, is die eerste teken van oormatige druk in ’n dubbel as die geweer swaar oopmaak nadat dit afgevuur is. Aangesien die meeste van die dubbelkali­bers teen betreklik matige kamerdruk funksionee­r (gewoonlik in die omgewing van 30 000psi) is dit raadsaam om trompsnelh­eid dienooreen­komstig matig te hou ten einde skade aan die geweer te vermy. ’n Chronograa­f is ook ’n onontbeerl­ike stukkie toerusting ten einde drukproble­me te vermy en nie in die donker rond te tas nie.

SKIETBAAN TOE

Op die skietbaan is daar een of twee dinge wat ook in gedagte gehou moet word. Die eerste is dat die meeste swaarkalib­er dubbel s gewoonlik op 50 m gereguleer word, end i tis dus sinneloos om te begin op 100m en die geweer aanvanklik op hierdie afstand aan die skiet te probeer kry. Dieselfde geld ook vir kort afstande, en die feit dat ’n dubbelgewe­er byvoorbeel­d op 20m mooi skiet, sê ongelukkig nie veel oor die geweer se vermoëns op langer afstande nie.

Terugskop is iets wat nie almal ewe goed hanteer nie maar met die prys van swaarkalib­erkomponen­te is dit wel ’n goeie idee om hiervoor voorsorg te tref. Indien nodig, gebruik ’n addisionel­e skopkussin­g om die houe (op die skouer en die beursie) ligter te maak.

Ten einde te kan bepaal waar elke loop skiet, is goeie notas ’n voorvereis­te. Maak seker waar elke skoot op die teiken geland het en maak dan planne van daar af. Dis soms nie altyd so maklik om te sien as ’n dubbel se lope oorkruis van mekaar skiet nie, veral as dit nie met baie is nie, en gereelde besoeke by die teiken is dus een van die dinge wat ’n mens aan gewoond gaan moet raak tydens die regulering­sproses. Merk die gate duidelik vir toekomstig­e verwysing. Ek gebruik ’n swart koukie-pen en merk die gate met “L1” of “R2”, afhangende van welke loop afgevuur is en die hoeveelste skote deur die teiken is.

Na al die moeite gee dit ’n mens soms baie satisfaksi­e om ’n dubbelgewe­er te kry om die skote van albei lope in ’n twee- of drieduimgr­oepering te kry. Dit vergelyk nie met die akkuraathe­id van ’n vlakteroer wat vir springboks­kiet op langafstan­d bedoel is nie, maar dit is, soos die Amerikaans­e geweerskry­wer Craig Boddington een keer geskryf het, “minute-of-grapefruit”. Vir ’ n dubbel is dit goed genoeg!

 ??  ??
 ??  ?? BO: Hier kan die wig (wedge) voor tussen die lope van ’n dubbelgewe­er duidelik gesien word.
ONDER: Hierdie groepering is aanvaarbar­e akkuraathe­id vir ’n dubbelgewe­er. Let op hoe die verskillen­de skote duidelik op die teiken gemerk is. Foto: Keith Dennison Thomas.
BO: Hier kan die wig (wedge) voor tussen die lope van ’n dubbelgewe­er duidelik gesien word. ONDER: Hierdie groepering is aanvaarbar­e akkuraathe­id vir ’n dubbelgewe­er. Let op hoe die verskillen­de skote duidelik op die teiken gemerk is. Foto: Keith Dennison Thomas.
 ??  ?? Dit is belangrik om te voorkom dat ’n dubbelloop­geweer se lope nie direk aan die skietbank of -rus raak tydens die regulering­sproses nie. Let op hoe hierdie skut se linkerhand tussen die lope en die skietrus is.
Dit is belangrik om te voorkom dat ’n dubbelloop­geweer se lope nie direk aan die skietbank of -rus raak tydens die regulering­sproses nie. Let op hoe hierdie skut se linkerhand tussen die lope en die skietrus is.
 ??  ?? BO: Die Britse geweerboue­r, Keith Thomas, se werksopset vir die regulering van dubbelgewe­re. Let op hoe die voorkant van die lope met die gasvlam verhit word ten einde die staalwig (en sodoende die punt van impak van die koeëls) te kan verstel. Foto: Keith Dennison Thomas.
REGS BO: Hierdie .303-patroon is gedurende die Tweede Wêreldoorl­og deur PMP met kordiet gelaai. Let op hoe die kordiet in lang stokkies, amper soos spaghetti, vervaardig is. Kordiet het baie plek binne-in ’n dop opgeneem, vandaar die groot doppe van die meeste van die tradisione­le dubbelgewe­er-kalibers.
BO: Die Britse geweerboue­r, Keith Thomas, se werksopset vir die regulering van dubbelgewe­re. Let op hoe die voorkant van die lope met die gasvlam verhit word ten einde die staalwig (en sodoende die punt van impak van die koeëls) te kan verstel. Foto: Keith Dennison Thomas. REGS BO: Hierdie .303-patroon is gedurende die Tweede Wêreldoorl­og deur PMP met kordiet gelaai. Let op hoe die kordiet in lang stokkies, amper soos spaghetti, vervaardig is. Kordiet het baie plek binne-in ’n dop opgeneem, vandaar die groot doppe van die meeste van die tradisione­le dubbelgewe­er-kalibers.
 ??  ??
 ??  ?? Die proefmerke van dubbelgewe­re is dikwels ’n goeie bron van informasie aangaande die lading waarmee die geweer aanvanklik gereguleer is. Hierdie proefmerke is dié van ’n Westley Richards .303 wat uit 1902 dateer. Omdat die .303 destyds die Britse militêre kaliber was, is die woorde “Nitro
Proved” in plaas van die gebruiklik­e “Nitro
Proof” onder die lope ingepons.
Die proefmerke van dubbelgewe­re is dikwels ’n goeie bron van informasie aangaande die lading waarmee die geweer aanvanklik gereguleer is. Hierdie proefmerke is dié van ’n Westley Richards .303 wat uit 1902 dateer. Omdat die .303 destyds die Britse militêre kaliber was, is die woorde “Nitro Proved” in plaas van die gebruiklik­e “Nitro Proof” onder die lope ingepons.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa