DIE HARTBEES, ONS VLUGVOETIGE VLAKTEBOK
KOOS BARNARD
Die Kaapse of rooihartbees (Alcelaphus buselaphus caama) was vroeër volop regoor Namibië, suidelike Angola, die Kalahari van Botswana en die Noord-Kaap, asook ander droë dele van ons land. Hierdie bokke is egter in die verlede straf gejag en daarom het hul getalle afgeneem. Vandag is hulle gelukkig weer redelik volop en word feitlik regoor ons land aangetref, grootliks weens hervestiging deur wildboere.
Waar ek in die ou SuidwesAfrika grootgeword het, was hulle regtig volop maar my pa het verkies om eerder koedoes en springbokke te skiet – behalwe toe hy plaasbestuurder was op ’n eiendom met geweldig
baie hartbeeste en dié bokke gereeld geskiet is as vleisrantsoene vir die plaaswerkers. Ek het egter nooit die geleentheid gekry om as jongman in my geboorteland hartbeeste te jag nie en het eers in my laat twintigs my eerste een in die NoordKaap geskiet.
In Oktober 2019 het ek Mynhard Herholdt (die eienaar van die Noord-Kaapse Beroepsjagskool) se plaas besoek wat aan die Vanderkloofdam grens, en daar ’n mooi ou bul gejag. Dié eiendom is naby die dorpie Petrusville. Maar voor ek daarvan vertel, kom ons gesels eers in die algemeen oor hartbeeste. MEER OOR HARTBEESTE
Hierdie rooikleurige bokke is deel van ’n groter familie Alcelaphini- bokke wat nie juis indrukwekkende horings het nie en almal half “snaaks” gebou is. Dink maar aan die blesbok, bontebok, tsessebe, topi en al die ander soorte hartbeeste (daar is altesaam nege subspesies). Hulle het almal lang, smal koppe, gepunte ore en so ’n half dommerige, hartseer uitdrukking op hul gesigte (miskien voer ek my verbeelding nou ’n bietjie te ver). Verder het hulle bene, en hul skowwe staan hoër as hul boude. Soms lyk dit amper vir my of hierdie familie uit ’n klomp losstaande onderdele opgebou is wat nie eintlik veronderel was om bymekaar te pas nie. En tog is die rooihartbees op sonderlinge manier vir my ooi... veral as hy begin gallop. Die bokke van hierdie familie tel onder die vinnigstes in Afrika en begin hulle eers hardloop, kan hulle aanhou en aanhou. Ons rooihartbees is bekend vir sy groot uithouvermoë.
My pa was toentertyd (vroeë 1950’s) ’n plaasbestuurder op Karamba in die ou Suidwes. Dié plaas het gewemel van hartbeeste en hy vertel hoe hy een oggend ’n baie jong kalf met die perd wou aankeer en vang om hom mak te maak. Hy het die »
» kalf met baie moeite in die regte rigting gedwing maar die hartbesie wou eenvoudig nie flou raak nie. Grootkoos is herwaarts en derwaarts deur die veld agter die hartbees aan, maar moes uiteindelik tou opgooi want sy perd was later te flou om by die bok by te hou.
Blykbaar kry die hartbees sy naam van die eertydse Nederlandse koloniste in Suid-Afrika wat met die woord “hart” verwys het na dié bok se groot uithouvermoë. In Afrikaans praat ons ook van ’n mens of ’n dier wat ’n “groot hart het” as ons na veggees verwys.
Die enigste lede van die Alcelaphus- familie wat vir ons plaaslike jagters van belang is, is die blesbok, bontebok, tsessebe en die rooihartbees. Bontebokke en tsessebes is duur en selfs die hartbees is nie so vreeslik bekostigbaar as jy sy prys vergelyk met sy gewig nie. Tog is die hartbees belangrik as jagspesie in Suid-Afrika, Namibië en Botswana. Hulle is nie die gewildste biltong/vleisbokke nie, want hul vleis is nie vir almal ewe lekker nie. Maar smaak verskil en daar is wel mense wat baie van hartbeesvleis hou. As ek een vir vleis moet skiet, sal dit vroeg in die jaar wees wanneer die gras nog jonk en groen is. Hartbeeste is hoofsaaklik graseters.
Rooihartbeeste staan omtrent 1.2m hoog by die skouer en die bulle weeg so 150 tot 170kg op die hoef. Koeie is effens ligter. Beide bulle en koeie het horings wat eers opwaarts groei, dan vorentoe draai en dan weer skerp na agter. Dis nogal moeilik om tussen die geslagte te onderskei as jy nie ’n ervare jagter is nie. Koeie is gewoonlik ligter van kleur as bulle en hul horings is dunner, veral by die basisse. Bulle (veral die volwasse diere) kan maklik uitgeken word aan die penisknop op die maag (as die gras nie te lank is nie). Dan is die bulle natuurlik ook stewiger gebou met dikker nekke.
Omdat hierdie diere oper wêreld verkies, is hulle gewoonlik nie te moeilik om op te spoor nie. Gaan sit iewers op hoë grond en soek oor die veld met jou verkyker. Hul rooi lywe is baie maklik om op te tel. As dit warm is, soek hulle soos enige dier, skaduplekke op en bosse of bome aan die soom van panne. Die rande van grasvlaktes is ook gewilde rusplekke.
Hartbeeste kan nogal gebiedsgebonde raak en dus is dit moontlik om hulle voor te sit by gewilde rusplekke. Soos die meeste vlaktebokke, is hul sintuie baie goed ontwikkel, alhoewel sommige glo hul sig is nie waffers nie. Moet jou egter nie om die bos laat lei dat hierdie diere veronderstel is om “nie baie goeie sig” te hê nie. Wat wel die geval is, is dat jy veral laatmiddag daarin kan slaag om hartbeeste suksesvol te bekruip. Soms sal hulle jou staan en aanstaar asof hulle nie weet wat jy is nie. Moet net nie glo dat hul sig swak is nie, want dis nie waar nie. Ek het gevind dat hul gehoor ongelooflik goed is en hul reuksintuig ook.
Hartbeeste vorm kleinerige troppies van so 10 tot 30 diere en is hoofsaaklik daglewend. Hulle wei meestal gedurende die koeler dele van die dag en
rus as dit warm is. Gedurende paartyd raak die bulle erg territorial en veg soms verbete ondermekaar om die harems koeie te behou in hul gebied. Bulle vorm soms troppies en by geleentheid sal jy ook alleenloperbulle kry. Waar water beskikbaar is, drink hartbeeste gereeld maar hulle kan lank sonder water klaarkom in die droë streke. Hulle is nogal lief vir sout- en minerale lekke en word dikwels by sulke plekke aangetref. AFGELEË BOSKAMP
Op Mynhard se plaas het ek verkies om in sy boskamp te bly waar sy studente soms tyd spandeer vir veldopleiding. Die kamp bestaan uit ’n paar tente wat in ’n lap soetdorings opgeslaan is so 200m van die Vanderkloofdam se waterkant af. Daar is ook ’n kombuistent met ’n vrieskas wat aangedryf word deur sonpanele en ’n “lesingsaal” – ’n groot tent wat gemaklik 20 mense kan akkommodeer. Water kry jy uit ’n tenk wat vol gepomp moet word. Dan is daar ’n kouewater-bosstort en ’n toilet met ’n “uitsig” – darem ’n spoeltoilet moet ek byvoeg, jy moet net elke keer sy tenkie volmaak om dit te kan trek.
Ek het alleen in die kamp gebly en sommer agter in my bakkie geslaap, want vandaar kan jy die sterre mooier sien as vanuit die tente. In die een tent is daar ’n tweerigtingradio en ek het elke aand vir Mynhard gekontak om te laat weet dat ek die dag oorleef het. Om te kom waar die hartbeeste loop, moes ek elke dag bergklim en dis erg klipperig. Jou grootste vyand as jy alleen is, is dus nie wilde diere nie maar dat jy kan val en jou been breek of ander ernstige beserings opdoen. Gedurende die dag het ek ook ’n klein handradio gedra.
Die eiendom (6 000ha groot) bestaan uit ’n baie groot grasvlakte en ’n bergreeks met ’n plato bo-op van sowat 2 000ha en dis op hierdie plato waar daar baie wild loop. Op die grasvlakte is dit so oop dat jy ’n veldmuis kilometers ver kan sien aankom, so dis nie altyd moontlik om daar wild te bekruip nie, tensy jy baie jagtyd tot jou beskikking het.
Omdat die berg en plato slegs enkele honderde meters van die kamp af is, het ek sommer elke oggend te voet uit die kamp begin jag. Dit neem sowat 45 minute tot ’n uur se klim om bo-op die plato te kom. Op pad boontoe kom jy soms koedoes en ander wild teë, maar ek was op soek na ’n hartbeesbul en ’n springbokram. Ek het soms wel die ander wildsbokke bekruip en verskeie koedoes, blouwildebeeste en waterbokke “geskiet”. Dis vir my lekker om wild te bekruip en met droogvuur (dry firing) ’n bok te “skiet”.
Van die kamp af is daar ’n kloof wat jy kan volg tot in ’n hoë nek tussen twee berge. In die nek is ’n gronddam en skuins links daarvandaan (so ’n paar honderd meter) ’n windpomp en gronddammetjie waar die wild gereeld drink. Die dag toe ek die hartbees geskiet het, het ek eers die kloof vir ’n hele ent gevolg en toe teen die linkerkantse berghang uitgeklim tot ek bo-op die plato was. Reg op die rand van die plato het ek ’n koedoebul verras en ons het lang sekondes vir mekaar staan en kyk. Deur die geweerteleskoop kon ek sien dat hy van my bewus was, maar my blykbaar nie positief geïdentifiseer het nie. Na ’n rukkie het hy omgedraai en stadig tussen die bosse uit oor die vlakte begin wegstap.
Ek het my aandag by ander wild bepaal. Verder weg was daar ’n trop bobbejane, ook volstruise en ’n klompie blesbokke. Ek het in die skadu van ’n kareebos gaan staan en verder gesoek met die verkyker. Na seker goed 20 minute het ek in die wasigheid van die lugspieëling ’n lyntjie bokke op die horison sien verskyn. Oomblikke later kon ek sien dat dit hartbeeste was. Hulle het doelgerig na regs gepyl en ek was seker dat hulle na die drinkplek toe aan’t stap was. Ek was nog ver van dié drinkplek af en weens die bobbejane se teenwoordigheid (met hul uiters goeie sig) het ek kortom gedraai en is weer teen die hang af, die kloof in. OMPAD OM HARTBEESTE TE FNUIK
Ek wou klooflangs stap tot by die gronddam in die nekkie en daarvandaan nader aan die drinkplek beweeg. Op pad na die nek toe moes ek koedoes en blouwildebeeste ontduik en dit het my veel langer geneem om die gronddam te bereik as wat ek gehoop het.
Vanaf die gronddam het ek koers gekies windpomp toe. Sou die hartbeeste ooit nog daar wees? Ek het baie stadig beweeg en later plat op my boude gaan sit en stadig vorentoe geskuif. Die platovlakte het later in sig gekom en ek het dadelik blouwildebeeste en blesbokke aan my regterkant gewaar. Van die hartbeeste was daar geen teken nie. My hart het tot in my skoene gesink... al die moeite verniet!
Ek het egter steeds stadig vorentoe geskuif en kort-kort gestop om die omgewing deur my verkyker te bespied. Skuinsregs, agter die windpomp was »
» daar ’n effense lopie met laer grond en toe ek weer daar soek, sien ek ’n hartbees se horings bo die gras uitsteek. Ek het nog nader beweeg met slegs twee yl bossies voor my as skuiling. Eens by hulle, kon ek die gebied regs van die windpomp beter bespied. Daar het nie minder nie as sewe hartbeeste gelê. Hulle moes klaar gedrink het en toe besluit het om ’n middagrussie te geniet. Van vyf bokke was net die koppe sigbaar en hulle was oor die 300m ver.
Die geweer wat ek gebruik het, was ’n Blaser in .30-06, toegerus met ’n Blaser-teleskoop met 7x vaste vergroting. Nie die ideale teleskoop vir lang skote en klein teikens nie. Ek was in elk geval nie van plan om sulke lang skote te neem nie. Die ammunisie wat ek gebruik het, was Norma se nuwe Bondstrike-fabriekspatrone, gelaai met 180grkoeëls. Terloops, pasop maar as jy na ’n hartbees se kop skiet, want die horings groei uit ’n verlenging ( pedicle) van die kopbeen, en tref die skoot effens te hoog naby die horingbasis, skiet jy bo-oor die brein. Die bok sal soos ’n klip val, net om ’n paar oomblikke later op te spring en die pad te vat. DIE REGTE KALIBER
Ek glo enige van die 6.5-kalibers wat in die 6.5x55 se klas val, is kragtig genoeg vir hartbeeste, maar dis beter om ’n groter kaliber te gebruik. Weens hartbeeste se voorliefde vir oop terrein, word jy dikwels gedwing om lang skote te neem en dis dan dat ’n kragtiger kaliber met ’n plat koeëltrajek baie handig is. Waar hulle in oop terrein gejag word, sou ek die .270 of 7x64 as minimum aanbeveel en ’n .300 Win Mag of enige .30-kaliber in dieselfde klas. Sou jy jou skote tot 200m beperk, is die 6.5x55 en soortgelyke kalibers goed genoeg.
Die son was warm en die hartbeeste glad nie haastig om te beweeg nie. Vanweë die yl skuiling kon ek nie nader gaan nie, so wag was my enigste uitweg.
Na bykans twee ure het die bokke, asof op bevel, opgestaan en amper reguit in my rigting begin beweeg. Ek het net bly geraak toe die voorste een, ’n ou bul, skielik links wegswaai en doelgerig aanstap. Hulle is verby die gronddammetjie en windpomp en het oor ’n kaal stuk grond koers gekies na ’n bosserige deel toe. Teen hierdie tyd het ek plat op my maag gelê, my verkyker reeds afgehaal en dit as rus gebruik. Soos die bul aanstap het ek gemerk dat hy kruppel is, maar hy wou nie stop nie.
Iets het gelukkig sy aandag getrek en hy het skielik vierspoor en plankdwars vasgesteek en na die bosse voor hom gestaar. Ek het gou die afstand gemeet... 186m. Met die Blaser op my verkyker gestut, het ek laag op die bul se blad aangelê. Toe die skoot klap, het hy dwarsweg weggespring maar dadelik gestruikel en skaars 10m vanwaar hy die skoot ontvang het, neergeslaan.
Toe ek by hom kom, het ek die oorsaak van sy kruppel linkervoorbeen gesien. Die bul moes sy knie vroeër gebreek of erg beseer het, want dit was stokstyf en wou byna glad nie buig nie (sien foto). Dit was ’n ou bul en dus die regte een om te skiet. Die 180gr-Bondstrike is reg deur die hart, het die lyf ten volle gepenetreer en die uitgangswond het getoon dat die koeël mooi omgeklink het. ’N HERBESOEK WERD
Ek het gou sy pens uitgehaal en toe vir Mynhard-hulle oor die radio geroep. Die herwinningsvoertuig was elders besig en dit sou amper twee ure duur voordat hulle my en die bok kon kom oplaai. Ek het dus die laatmiddag daar bo-op die plato spandeer, foto’s geneem en wild met die verkyker bestudeer tot ek die 4x4 hoor dreun het.
Mynhard se plaas is baie mooi en daar is volop wild. Dis ’n plek wat ek met groot vrymoedigheid sal aanbeveel en waarnatoe ek baie graag sal wil terugkeer vir nog ’n solo-jag. * Vir meer inligting oor die Noord-Kaapse Beroepsjagskool en Mynhard Herholdt se jagonderneming, kontak hom by 083-262-1891 of per e-pos by mhhs@mweb.co.za