BLOED IN DIE STRATE…
JOHAN VAN WYK
Toe pres. Cyril Ramaphosa op 23 Maart die nasionale staat van inperking afgekondig het in ’n poging om die verspreiding van die Covid-19-virus (oftewel die Coronavirus) onder beheer te kry, het die wêreld vir die jagindustrie in Suider-Afrika onherroeplik verander.
LAASTE HOOP VIR DIE 2020JAGSEISOEN
Tot en met 23 Maart het nie net jagplaaseienaars en jagondernemers nog hoop gehad dat die 2020-jagseisoen op een of ander wyse sou kon voortgaan nie, maar diegene wat reeds jagte bespreek en deposito’s betaal het, het geglo dat hulle sal kan gaan jag. Vir oorsese jagters wat Afrika gedurende die 2020-seisoen wou besoek, het dinge egter voor die staat van inperking hier aangekondig is, alreeds kritieke afmetings aangeneem.
In lande soos Italië en Spanje het groot gedeeltes van die bevolking toe reeds in afsondering geleef en die gesondheidstelsels in hierdie lande het as gevolg van die groot getalle mense wat met die virus besmet was, kop bo water probeer hou. In die VSA, wat onlangs as die episentrum van besmettingsgevalle wêreldwyd gekroon is, is die situasie ernstiger as ooit.
Die meerderheid oorsese jagters wat Afrika besoek, is van die VSA afkomstig, en die beperkings wat op internasionale reisigers ingestel is sedert die ontstaan van die pandemie, hou katastrofiese gevolge vir ons jagindustrie in. Kliënte wat reeds maande of selfs jare gelede jagte in Afrika bespreek het, moet nou noodgedwonge hierdie jagte kanselleer of uitstel, wat op sy beurt weer baie ernstige gevolge vir jagondernemings en professionele jagters tot gevolg het. Een bekende Noord-Kaapse jagondernemer het aan my genoem dat net mooi al sy jagte vir
die seisoen (saam met oorsese kliënte) gekanselleer is, en dat hy waarskynlik nie gaan kan bekostig om sy personeel tot na Junie in diens te hou nie. Ek vermoed hy is nie die enigste jagondernemer wat homself in só ’n situasie bevind nie.
DIE WAARDEKETTING VAN JAG
As ons vlugtig na die waardeketting van die jagindustrie kyk, dan is dit duidelik dat dit nie net jagplaaseienaars en jagondernemers is wat onder die Corona-virus deurloop nie. Elke jagplaaseienaar en jagondernemer het personeel soos gidse, spoorsnyers, slagters en ander werkers in diens. Soos met enige besigheid, is gesonde kontantvloei, tesame met wins, ’n voorvereiste vir sukses, en die huidige krisis het effektief die einde van kontantvloei vir baie werkgewers in die jagindustrie beteken. Die vrees is dus dat getroue werknemers wat al vir jare direk by die jagindustrie betrokke is, die wesenlike gevaar loop om hulle werk te verloor. Dieselfde geld uiteraard vir die wildteel en wildvangindustrieë: sonder die broodnodige dollars en rande wat deur jagters bygedra word, is daar nie meer ’n aanvraag na lewende wild nie.
Die waardeketting stop ongelukkig nie by jagplaaseienaars en jagondernemers nie. Professionele jagters, en selfs die gewone jagter het almal voetuie nodig waarmee hulle Afrika se bosse aandurf, asook gewere, ammunisie, teleskope, en ander noodsaaklike jagtoerusting. Dus bevind voertuighandelaars, geweerwinkels, en ander diensverskaffers en handelaars in die jag- en buitelewe-sektore hulle in dieselfde bootjie, alles te wyte aan die Coronavirus. Ook hier kan ons dus werksverliese en inperkings verwag, en ek sal ook nie te verbaas wees as baie handelaars in hierdie sektore net eenvoudig nie weer hulle deure oopmaak nie. Aanlynverkope maak tot ’n baie mindere mate op vir die verliese, maar dít is wat vyf weke sonder inkomste kan bewerkstellig. Tragies.
Selfs verder af met die ketting kan ons diegene wat meer gefokus is op die plaaslike jagter ook in dieselfde asem noem. Die meeste plaaslike biltongjagters maak van slaghuise gebruik om hul welverdiende wildsvleis elke jaar te bewerk. Alhoewel slagters as noodsaaklike voedselverskaffers geklassifiseer is in die huidige noodtoestand in Suid-Afrika en dus steeds kan handel dryf, was dit gewoonlik van April elke jaar duidelik dat die meeste slaghuise fluks besig is om hulle kliënte se wildsvleis te bewerk tot heerlike biltong, droëwors, en ander snitte geskik vir die tafel. Vanjaar is die slaghuise egter onheilspellend stil in hierdie opsig.
Baie besoekende jagters maak ook jaarliks van die geleentheid gebruik om, óf voor, óf na die afloop van ’n jag in Suid-Afrika, van die land se ander beroemde toerismebestemmings, soos byvoorbeeld die Nasionale Krugerwildtuin en die Wes-Kaapse wynroetes te besoek. Hierdie gewilde bestemmings is grotendeels gesluit as gevolg van die pandemie, dus is die ekonomiese druk ook hier groot. »
» BOTSWANA OOK ONDER DRUK
As ons die fokus verder noord skuif na sommige van ons buurlande, is dit duidelik dat hulle die impak van die Covid19pandemie ook geensins vrygespring het nie. In Botswana is die veelbesproke heropening van dié land se eerste amptelike jagseisoen sedert 2014 in gedrang as gevolg van reisinperkings. Verder het die afname in werksgeleenthede die druk op die land se renosterpopulasie as gevolg van stropers, ook merkbaar laat styg gedurende die afgelope maand of twee.
Die druk op China om baie strenger op te tree teen die onwettige handel in produkte soos renosterhoring, het ongelukkig geensins ’n afname in die vraag na sulke goedere teweeggebring nie. Die Botswanaweermag was veral die afgelope paar maande in verskeie skermutselings met stropers in die Okavango-delta betrokke. Op 11 Maart is ’n Botswana-soldaat dood in só ’n geveg met stropers op die baie bekende Chief’s Eiland in die delta.
BENARDE SITUASIE IN ZIMBABWE
In Zimbabwe is die situasie selfs erger. Dié land se natuurbewaringsowerhede is feitlik geheel en al afhanklik van fondse wat uit toerisme soos jag, verdien word. Die ineenstorting van die jag- en natuurlewe-toerismesektore as gevolg van Covid-19 (tesame met ’n staat van inperking wat op 30 Maart deur pres. Emmerson Mnangagwa afgekondig is) impliseer dus dat die natuurbewaringsowerhede in dié land oor feitlik geen inkomste en dus geen fondse beskik om belangrike take soos anti-stropingspatrollies, die pomp van water, en die instandhouding van paaie en ander infrastruktuur, te kan behartig nie.
In baie gedeeltes van Zimbabwe word gejag op grond wat tradisioneel aan die plaaslike bevolking behoort het. Hierdie tradisionele bewoners is grootliks afhanklik van die inkomste wat uit jag in hulle areas gegenereer word vir hulle daaglikse benodigdhede soos kos en water, en daar heers geen twyfel dat die skielike gebrek aan inkomste in areas soos hierdie tot ’n grootskaalse eskalasie in wildstroping sal ly.
Baie mense wat normaalweg in stedelike gebiede van Zimbabwe woon, het ook met die aanvang van die krisistydperk uitgewyk na landelike gebiede. As gevolg van die erge droogte in Zimbabwe in die onlangse verlede is daar egter nie genoeg kos in baie van die landelike gebiede nie, en die noodwendige gevolg is ’n toename in stroping vir sogenaamde “bush meat”. Die Coronavirus het Zimbabwe dus tot op die randjie van ’n ekonomiese afgrond gelei, en is ook terselfdertyd ’n enorme bedreiging vir die oorblywende wildlewe van dié land.
DIE PAD VORENTOE
Dit is nie moontlik, op hierdie stadium, om die pad vorentoe, en meer belangrik, die einde van die Covid-19-krisis, te voorspel nie. Wat wel soos ’n paal bo water uitstaan is dat die jagindustrie in Afrika onherroeplik deur die pandemie verander is. Afhangende van hoe lank die situasie gaan voortduur, is dit waarskynlik onafwendbaar dat sommige ondernemers en plase om finansiële redes sal ondergaan, en die rippeleffek daarvan sal vir baie mense tragiese gevolge inhou.
Indien die verspreiding van die virus egter op een of ander manier in die komende maande onder beheer gekry kan word, sal daar egter wel ’n sprankie hoop wees vir die jagindustrie. Jagte kan uitgeskuif word na latere datums, en verskeie Botswana-gebaseerde, professionele jagondernemers het reeds dié land se regering versoek om die amptelike jagseisoen na Oktober of selfs Desember te verleng.
In Suid-Afrika, met die jagindustrie wat oorwegend in privaatbeheer is, is ’n verlenging van die jagseisoen dalk ook iets wat sterk oorweeg behoort te word, veral uit die oogpunt van plaaslike jagters wat oorwegend sogenaamde biltongjagters is, en ook in die lig van die onsekerheid van wanneer reisbeperkings vir besoekende oorsese jagters opgehef sal word. Baie jagplase het ongetwyfeld groot getalle wild op hierdie stadium, en hierdie wild se getalle sal op een of ander manier verminder moet word ten einde ander nadelige gevolge soos oorbeweiding en vrektes later in die jaar te voorkom.
Die geleentheid om broodnodige inkomste te genereer, al is dit later in die jagseisoen, sal ook ongetwyfeld vir beide jagondernemers en grondeienaars ’n baie welkome finansiële inspuiting wees wat hulle in staat sal stel om die gevolge van Covid-19 te oorleef.
ROL VAN DIE REGERING
Dit is baie opmerklik dat die Suid-Afrikaanse regering tot dusver feitlik nie ’n woord gerep het wat direkte finansiële hulp aan die plaaslike jagindustrie aanbetref nie. Dit is wel so dat daar noodreddingsfondse in die lewe geoep is, onder andere as gevolg van ruimskootse skenkings deur die Rupert-familie en andere, maar geen van hierdie fondse is na my wete direk geoormerk vir die jagindustrie nie.
Hierdie toedrag van sake is ’n bron tot kommer, veral in die lig van die feit dat die jagindustrie
’n groot werkverskaffer is aan veral voorheen agtergeblewe persone in minder ontwikkelde areas van ons land. Sou hierdie persone hul werk en inkomste verloor, en noodwendig hiermee saam hulle vermoë om vir hul gesinne te sorg, mag die sosiale impak van hierdie werksverliese dalk vir baie lank nog gevoel word, veral in landelike gebiede waar die nood reeds erg druk.
Die regering erken nie graag die belangrike rol wat die jag- en wildbedryf in Suid-Afrika speel nie. Met die uitbraak van Covid19 het die tyd dalk aangebreek om hierdie situasie te verander, en moet daar daadwerklik na hulp vir hierdie belangrike industrie gekyk word. Miskien is ’n finansiële reddingsboei, of selfs net ’n effense verslapping in die maatreëls wat die handel van klein ondernemings soos geweerwinkels aanbetref, nie op hierdie stadium ’n slegte idee nie. Inteendeel, dit mag dalk vir baie van dié klein ondernemings die verskil tussen sink of swem in die volgende paar maande beteken.
Covid-19 se impak sal vir nog lank met ons wees, selfs lank nadat die verspreiding van die virus onder beheer gekry is. ’n Mens kan net die hoop uitspreek dat die ligpunt aan die einde van die tonnel vroeër eerder as later sigbaar sal wees, en dat die jagindustrie gou weer sy voete sal vind.